Nuusflits – 13 Julie 2020


Onseker en onvoorspelbaar. Ek vermoed jy ken dié realiteite deesdae van binne en buite. Te midde van allerlei verliese – werklik én ge-antisipeerd –  hoop ek dit gaan goed met jou. Hier in Kobe is ons genadiglik nog gesond en aan die gang.

VIDEO
Ons beplande besoek aan SA is uitgestel na 2021, DV. Omdat ons nie nou in persoon dit kan doen nie, deel ek ‘n 5-minute video as terugvoer oor ons werk en lewe hier. Dit is net voor die aanvang van die pandemie saamgestel. Indien moontlik, kan jy dit gerus verder deel, asseblief. In julle gemeente se aanlyn erediens of dalk via WhatsApp met andere. Kliek op die video hierbo of besoek: https://vimeo.com/437267979  

VLOEDE en COVID-19
Die afgelope week het daar op party plekke in Japan binne 2 dae 500mm reën neergestort. Op baie plekke het riviere oorstroom en groot skade en lewensverlies veroorsaak. Kumamoto, wat ‘n paar jaar gelede deur ‘n groot aardbewing getref is, was o.a. weer een van die ergste geteisterde gebiede.  Lees hier meer. Dit gebeur te midde van Covid-19 infeksies wat ook ‘n tweede vlaag stygings toon. ‘n Slegte kombinasie, wat op groot skaal ontwrig. Bid asb. ook saam met ons vir uitkoms in hierdie uitdagings.

Rysland in die Japannese platteland

Na ‘n lang jaar van werk, breuk ons binnekort vir ons jaarlikse verlof. Geen “ideale” tyd daarvoor nie, maar ook nodig …

Baie seën en sterkte in hierdie tyd!
Ons is biddend in hart en gedagte deurentyd by julle.

In verbondenheid, in Christus.
Stéphan, Carina en gesin

GEBEDSVERSOEKE

  • Vir reddingswerkers en vir dié wat getref is deur vloede in Japan.
  • Dank die Here vir Sy sorg en vir ons gesondheid t.m.v. Covid-19. 
  • Bid vir ontvanklikheid in ons buurt vir die hervat van bedieninge by Kita Kobe gemeente (kinder-fokus). 
  • Vir Elmar en Nadine Du Rand se Japannese taalstudies en Nadine se pa se herstel (hy is steeds in die hospitaal).
  • Gys en Linda Olivier se werk as Engelse onderwysers in Kochi.
  • KRTS se studente wat landwyd uitgeplaas is vir gemeente-werk in Jul-Aug.
  • Missie Japan se bestuur – almal word diep geraak deur Covid-19 uitdagings.
  • Vir rus en herstel tydens ons verlof by die sendeling-oord naby Sendai, 13 Jul – 7 Aug.

2020-05-27 Pinkster-nuusflits

Groete uit Kobe, wat dag-vir-dag ontvou in ‘n heldergroen lushof, met ryslande wat oral in ons omgewing beplant word.  

Dit gaan goed met ons, diep bewus van die Here se sorg en ons totale afhanklikheid van Hom. Ons is ook opnuut in verwondering oor die werk van die Heilige Gees in menselewens. Soos die rysplanter hierbo is dit asof die Gees ons een vir een sorgvuldig plant en versorg. Daaroor vertel ek graag meer in hierdie nuusflits …

Kyk gerus na die kort video – kliek hier.
En lees asb. die getuienis hieronder van ds. Junyo Akaishi, ‘n kollega-vriend wat saam met my klasgee by KRTS. Dis ‘n getuienis met die oog op Pinkster – ideaal vir gebruik in digitale eredienste. 

Baie dankie vir elkeen wat dit kan deel. Kontak my gerus as jy dit afsonderlik in WhatsApp-formaat wil ontvang. 

Ons gebedsversoeke volg hieronder. Onthou ons asseblief ook in jou gebede.

Seën met Pinkster!
Stéphan, Carina en kinders 

In verwondering oor die Lewe (en die Gees) 

Die wêreld van Beethoven se strykkwartet – nádat hy sy negende simfonie en Missa Solemnis geskryf het, m.a.w. vandat hy Opera 27 gekomponeer het tot kort voor sy dood op 56-jarige ouderdom – het my aangegryp en gevange geneem. Ek wou meer as net sy bladmusiek ken, ek wou ook sy musiekteorie navors. Verder wou ek Beethoven se eie briewe lees, meer nog, ek wou sy gespreksboeke bestudeer wat geskryf is ná sy gehoorverlies. Ek het sonder aarseling gekies om Duitste letterkunde op universiteit te gaan studeer. Maar ná dit alles het net die verwondering vir die raaiselagtige meesterstuk self oorgebly. Ek was oortuig dat my lewe sinloos is, buiten om my eie kunswerke by sy komposisies te voeg. Maar ek het geen musikale vermoë gehad nie. Die enigste “instrument” wat ek kon gebruik, was Japannees. Daar was geen ander weg vir my om op Beethoven se laaste musiekwerke te reageer, as deur die saamvlans van (Japannese) woorde nie.

Daarom het ek begin gedigte skryf. Ek het hedendaagse Franse en Engelse gedigte nagevors, maar wat telkemale soos ‘n paal bo water voor my kom verskyn het, was die naam van die digter Paul Celan. Hy was ‘n Jood wat sy lewensmaat, alle familie en uiteindelik sy lewe in Auschwitz verloor het. In sy gedigte, wat uiting gee aan die uiterstes van die menslike siel, verskyn Joodse godsdienstige sowel as Jiddisje taal (‘n Duitse dialek van o.a. Hebreeus wat deur Jode in konsentrasiekampe gebruik is). Ek het in Tokio‘n sinagoge gaan opsoek waar Jode van regoor die wêreld bymekaar kom. Daar het ek in aanraking gekom met die verskynsel van mense wat God aanbid en dié keer ‘n ander (tweede) tipe verwondering beleef as met Beethoven. Ek was diep onder die indruk: hiérdie is mense se skeppingsdoel! Ek het hulle dadelik dadelik diep leer ken en was gedetermineerd om in hulle moedertaal vir hulle gedigte te skryf. Ek kon egter nie in Japan self Jiddisj aanleer nie, maar is met ‘n beurs uit Israel befonds om as uitruilstudent in Jerusalem te gaan studeer.

By die Hebreeuse universiteit het ek Jiddisje literatuur deeglik onder die knie gekry, terwyl ek Japannese literatuur daar aangebied het. Na‘n paar jaar daar het ek op ‘n dag by die universiteit se boekwinkel op ‘n Hebreeuse vertaling van die Bybelse Nuwe Testament afgekom, wat as deel van die leermateriaal opgestapel gelê het.  

As ek nou daaraan terugdink, is dit asof ‘n onsigbare Krag in my aan die werk was. Ek het die Bybel opgetel, sonder om verder te dink. My oog het by die Romeine brief vasgehaak. Die Messias het gekom, lees ek toe. Ek het jare lank as ‘n lid van die sinagoge geleef. Ek is selfs later besny, het God ‘as Jood’aanbid en het my voorgeneem om in Jerusalem by die Hebreeuse Universiteit my laaste asem uit te blaas, verál synde ek die Jode se hartstaal aangeleer het en daarin aangehou het om ter ere van Beethoven te bly dig (in Jiddisj). Maar nietemin, die Messias het reeds gekom! As dit waar is, het alles mos verander! Van die volgende dag af het ek by Golgota en Getsemane begin rondwandel. Vóórheen het die plekke vir my geen betekenis gedra nie. Tóg was die plekke tegelyk vir my oorbekend, maar ek kon glad nie begrip wat nou eintlik regtig daar plaasgevind het en verder … presies hoekom dít alles my siel só diep geraak het nie. Daarna het ek byna daagliks in die Church of the Holy Sepulchre se een hoek onopsigtelik gaan hurk. 

Die priester daar het my wel raakgesien en my op ‘n dag laat hoor, “ek sien jy kom gereeld hier, nê.” Uiteindelik het ons gesprekke gedraai rondom voorbereidings om gedoop te word. Ek sou in die Jordaan rivier gedoop word, maar op daardie Pinksterdag was daar ‘n vloed en daarom was dit te gevaarlik. Mense het die vorige dag selfs daar verdrink. Daarom is ek toe in die kerk gedoop en het ek daar ‘n lidmaat geword. Die Priester het met trane in sy oë oor my verhaal vol worsteling die volgende gesê: “Pinksterdag se viering is juis om die krag van God se Gees te herken in jou eie lewensverhaal”, en daarna my regterhand met albei sy hande so styf vasgedruk dat dit omtrent begin pyn het.   

Daarna het my vreugde om Japannese literatuur vir die Jode te onderrig skielik verdwyn. Die komposisie van my Jiddisje gedigte aan hulle het opgedroog. Ek het begeer om te Nuwe Testament te bestudeer, méér as om Beethoven se simfomieë of vriendskappe met Jiddisje na te jaag. My begeerte was om my lewe oor te gee aan die Messias wat gekom het!

My eienaardige getuienis het – sonder my medewete – die ore van die destydse dekaan van Kobe Gereformeerde Teologiese Kweekskool (KRTS) bereik. Al was ek eintlik nooit van plan om terug te keer na Japan nie, het ek ironies genoeg by KRTS ingeskryf.

Ek is tans ‘n leraar van die RCJ (Reformed Church in Japan). Dis my 56ste lewensjaar, dieselfde ouderdom waarin Beethoven gesterf het. Uiteindelik kon ek nie my eie kunswerke by sy komposisies voeg nie. Maar nóú leef ek saam met die Messias, in hierdie 56ste jaar van my lewe. Wat beteken hierdie vreemde verhaal van my nou eintlik? As dit ‘n kortverhaal genoem kan word, is dit maar lomp en minderwaardig. MAAR, as dit waar is wat die priester van die Jerusalem kerk gesê het, is dit inderdaad ‘n verhaal deur die krag van die Heilige Gees! 

Ek onthou pal dat ek ‘n derde verwondering gegun is. Want die ‘Skrywer’ van my lewe is God self. Ek kan nie anders nie as om diep in my binneste te aanvaar: my 56-jarige verhaal (history) is Sy verhaal (“Hisstory) !

Ds. Junya Akaishi en sy vrou Megumi

Geskryf deur Ds. Junya Akaishi (vertaal deur Stéphan van der Watt)

Leraar van die RCJ Itami gemeente in Osaka, Japan

Deeltydse dosent in Hebreeus en Ou Testament by KRTS

GEBEDSVERSOEKE

DANK DIE HERE SAAM MET ONS VIR:

  • Ons gesondheid en voortgaande, betekenisvolle werk op ons tafels.
  • ‘n Geseënde Mei maand – ná begin van ons akademiese jaar vanaf April – t.m.v. die Covid-19 uitdagings.
  • Drie nuwe studente van Suid-Korea wat goed aanpas en vorder by KRTS.
  • Elmar Du Rand se ouers wat verlede week veilig kon terugkeer na SA, ná 6 weke langer as beplande verblyf in Japan.

VRA SAAM MET ONS VIR SY SORG EN GENADE VIR:

  • Ds. Akaishi en sy vrou Megumi se bediening by RCJ Itami gemeente.
  • Carina se gesondheid, tuisonderrig dagtake, omgee vir mense in ons omgewing ens.
  • Stéphan se klasgee, preke, Zoom-vergaderings as deel van die RCJ se sinodale- en ringswerk.
  • Ons kinders se groei (geestelik-emosioneel) en hulle vriendskappe hier. 
  • Elmar en Nadine Du Rand se Japannese taalstudies en bou van verhoudinge in Kobe en verder.
  • Gys en Linda Olivier se lewe en werk by SEIWA Christenskool in Kochi, Shikoku.

2020-05-15 SA Besoek uitgestel


Ek skryf die brief met gemengde gevoelens, oor ons beplande besoek aan Suid-Afrika.

Besoek uitgestel
Ons sou oor 3 weke vertrek het, maar a.g.v. die pandemie is daar by ’n onlangse vergadering van Missie Japan bestuur besluit dat dit vanjaar onmoontlik is. Lees asb. die amptelike brief van dr. Nico Mostert (Missie Japan sekretaris) hieronder.

Ons is natuurlik teleurgesteld want ons het lank uitgesien en beplan aan die drie-jaarlikse deputasie. Maar dis onafwendbaar en ons bly hoopvol dat ons kan herskeduleer vir 2021. Aanpasbaarheid, volharding en geduld: daaroor leer ons opnuut iets in dié tyd, saam met jou!

Belangrike versoek
Kan ek baie mooi vir almal met wie ons reeds afsprake gemaak het – vir gemeente besoeke: of julle wel op die beplande datum wat ek daar by julle sou kom draai, asseblief steeds 5 minute in die erediens (hetsy aanlyn of in die kerkgebou) kan oophou om ’n video te wys oor ons werk en lewe hier – as terugvoer aan julle gemeente? En dan gesels ons weer DV later vanjaar, oor 2021 se moontlikhede. 

Intussen hier …
Ons gedagtes en gebede is deurentyd by julle, ons geliefde susters en broers in Suid-Afrika. Met ons as gesin gaan dit goed verder. Heelwat meer van ons lewe en bediening gebeur nou virtueel (aanlyn), van vergaderings tot jeug-saamtrekke. Maar meeste klasse by KRTS gaan nog in persoon voort, met streng matreëls in plek om almal se gesondheid te probeer beskerm.

Ons waardeer jou volgehoue gebede en ondersteuning!

In verbondenheid.
Stéphan, Carina en kinders 
Vrydag-middag se pastorale sorg lesing by KRTS.
MISSIE JAPAN: NUUSBRIEF UIT DIE HOOFKANTOOR
Dit is skaars 2 maande terug dat ons julle hier vanuit die kantoor in Bloemfontein gegroet het waar ons toe aan die begin van die Covid-19 pandemie gestaan het. Toe reeds het ons besef dat hierdie pandemie ‘n groot invloed gaan hê op al die werksaamhede van Missie Japan vir 2020, die invloed van hierdie virus is ingrypend. 
Hierdie kort nuusbrief se doel is juis om u as ondersteuners op hoogte te bring van al die ingrypende verwikkelinge rakende ons 2020 beplanning. Een aspek van hierdie pandemie wat ons nou almal so stadig maar seker begin besef, is dat die pandemie niemand en niks ongeskonde laat nie! Almal, letterlik almal regoor die wêreld, is vasgevang in die dieselfde storm. Helaas bevind almal hulle nie in dieselfde bootjie nie, maar wel in die dieselfde storm. Dit impliseer dat nie almal se vermoë om hierdie storm te oorleef dieselfde is nie. 
Eerstens wil ons weereens julle almal bedank wat te midde van klomp uitdagings, fisies sowel as ekonomies, steeds getrou bly met julle ondersteuning van Missie Japan en ons werkers daar, Stéphan en Carina, Elmar en Nadine en ook Gys en Linda. Die wete dat julle as ondersteuners hier in Suid-Afrika sekere persoonlike opofferings maak sodat die werk daar in Japan kan voortgaan, lê swaar op hulle harte en dien ook as inspirasie vir hulle om die ontberinge daar in die oë te kyk. 
Binne hierdie storm kan ons keuse tussen ons betrokkenheid en hulpverlening nie wees “of” in Japan “of” plaaslike hulp nie. Oral is daar nood en daarom bly die kerk se roeping om oral tegelyk betrokke te wees (Lees maar gerus weer Hand 1:8). Ons wil u aanmoedig om nie ‘n roete van “of” te volg in u hulpverlening en ondersteuning nie d.w.s “of” Japan “of” plaaslike hulp nie. Die opsie is eerder ‘n biddende “en” waar ons met die middele beskikbaar (min of baie) plaaslik en by Japan betrokke sal bly en sal help waar ons kan. 
Tweedens deel ons mee dat die bestuur van Missie Japan einde April vergader het en sekere besluite geneem het in die lig van die effek van Covid-19 op die werk in Japan en ook 2020 se besoeke aan Suid-Afrika. In Junie was die beplanning naamlik, Stéphan-hulle as gesin se besoek aan Suid-Afrika sowel as ‘n besoek in Augustus van ‘n groep uit Japan (die diakonale studie groep). 
Beide besoeke is afgelas. Die besluite is soos volg: 
Decisions: 
(1) The Van Der Watt’s planned deputation for 2020 is postponed at this stage due to the current Covid-19 pandemic. 
(2) Their deputation is tentatively rescheduled for mid-March to mid-August 2021, meaning that their visit is also extended from 3-4 months as usual to 5 months. 
(3) All planned visits of Stéphan to congregations (June to September 2020) should still take place in video format as far as possible. 
(4) The meeting also takes note of Stéphan’s concern for his Father and Mother in South Africa. 
Stéphan hulle se besoek en die beplanning daar rondom was reeds in ‘n gevorderde stadium met besoeke aan gemeentes, universiteite hier plaaslik, individue asook persoonlike vakansie en rus saam met hulle families en geliefdes. Tans is daar geen vlugte na Suid-Afrika nie wat dit byna onmoontlik maak om te reis. Die goeie nuus is dat die reis agente die kaartjies kon uitstel/aanskuif vir latere gebruik. Die voorlopige beplanning is dan dat hulle as gesin einde Maart 2021 sal kom en dan ook vir ‘n langer periode hier sal wees vir besoeke en ook vir tyd saam met hulle onderskeie families. 
Hiermee wil ons tog u almal net herinner dat, indien moontlik, u wel die betrokke Sondag wat ‘n besoek aan u gemeente geskeduleer was, die geleentheid steeds sal gebruik as ‘n bewusmaking geleentheid vir Missie Japan. Dit kan geskied via ‘n kort video (wat ons sal voorsien) of via ‘n direkte Skype of Zoom inskakeling met Stéphan in Japan. Skakel gerus met Stéphan self om die geleentheid te beplan! Die beplanning vir die 2021 besoek sal later die jaar in aanvang neem. 
Ons het ook ‘n nuwe uitnodiging aan die diakonale groep gestuur vir ‘n moontlike besoek in 2021 soos dit in hulle beplanning kan inpas. 
Elmar en Nadine sal hopelik ook in 2021 Suid-Afrika besoek. Hierdie besoek sal heel waarskynlik in die 2de helfte van die jaar plaasvind. U is baie welkom om ook met hulle te skakel vir ‘n “elektroniese” besoek aan julle gemeente tydens ‘n video diens. Elmar se ouers is steeds gestrand in Japan. Hulle woon tans by die Kweekskool waar Elmar en Nadine woon en is gesond en maak die beste van ‘n baie onseker situasie. Hulle probeer hard om êrens op ‘n vlug plek te kry terug na Suid-Afrika. Ons vra u voorbidding in die verband vir hulle spoedige terug keer. 
Soos u kan sien, gaan die werk voort in Japan omdat die Here ‘n hart en ‘n liefde vir die mense van Japan in ons almal se harte kom plaas het. Ons doen vanuit die kantoor die nodige om te verseker dat die werk voortgaan, met u hulp en ondersteuning en met die nodige besparings waar moontlik te midde van wisselkoers fluktuasies. Die RCJ se diakonale kommissie het besluit om hulle hulp aan die Botshabelo (BCYCC) projek vir weerlose kinders, te verhoog te midde van hierdie krisis. Dit maak ‘n reuse verskil in ons hulp verlening in ‘n gemeenskap met min hulpbronne en dit vertel juis ook vir ons iets van ons wedersydse verbintenis aan mekaar tydens hierdie pandemie. 
Groete in Christus Jesus 

Nico Mostert 
(Sekretaris: Missie Japan)

Covid-19 Nuusflits (23 Apr 2020)

Ons is in ons harte en gedagtes in diep verbondenheid met jou in Suid-Afrika in hierdie uitdagende tyd.

Met hierdie nuusflits wil ek graag kortliks 2 dinge met jou deel:
1. ‘n Kort video (3 min.) oor ons situasie en uitdagings hier. Kliek hier.
2. ‘n Kort oordenking wat ek geskryf het oor die betekenis van die opstanding en Covid-19. Kliek hier. (kliek dan op Covid-19 Tools for Pastoral Care)

Baie dankie vir jou ondersteuning vir en meelewing!
Stéphan, Carina, Annlie, Cornelius, Lodewyk en Stephan

Covid-19 KRAG IN BROOSHEID (31 Maart 2020)

Sakura bloeisels voor ons huis

Ons is in die globale seisoen van Covid-19. By jou is die herfs aan die deurbreek, hier in Japan ontvou die lente uit ‘n sluimerende winter. Die Here wat die seisoene gemaak het, is nie skielik afwesig nie. In Sy voorsiening het Hy mos dié tyd ook bepaal (Pred. 3). Van die vroegste tye af moes mense krisistye soos dié deurleef. Ons vrese, onsekerhede en frustrasies gaan ook nie ongesiens verby nie. Aan God se regterhand is Jesus, wat opgevaar het en deur Sy opstandingskrag nou vir ons elkeen krag gee om in hierdie beproewing staande te bly. Dis mos nie net ‘n betekenislose rympie wat ons Sondae uit verveling opsê nie. Nee, dis ‘n diep waarheid waarin Christene krag en moed vind. 

Broosheid ontbloot
Ons is – soos met ‘n naelstring – aan God verbind. Broos en afhanklik. Dis vanuit hierdie realiteit wat ek ‘n paar gedagtes deel oor die dun, amper deursigtige vliesie tussen lewe en dood. Geen mens kon hierdie pandemie voorspel nie. Ons weet ook nie een hóé ingrypend dit oor die volgende maande en jare gaan uitkring nie. Ons hoef ook nie al die antwoorde te hê nie (skryf NT Wright elders)! Ons word herinner aan hoe onvoorspelbaar en onvervangbaar die lewe is wat ons uit die Skepper-God se liefdevolle hand ontvang. Dié wete laat ons nou nuut kyk na alles, ook na ons eie sterflikheid.  

Vlietend en Verganklik
Lydenstyd het ons opnuut in die sentrum van Christus se eie lyding geplaas. Ons Hoëpriester het intense medelye met ons swakhede en broosheid (Hebr. 4). Ons is verganklik. God wéét dat ons soos stof is (Ps. 39;103). Vanuit Japan sou ons ook kon sê dat ons soos Sakura (kersie) bloeisels is. Presies in hierdie laaste dae van Maart is die Sakura bome voor ons huis aan die bot. Jy kan nie anders as om net ‘n oomblik stil te staan en jou te vergaap aan die hemelse gesig nie. Net vir ‘n paar dae is die bloeisels oop, in volle glorie. Dis ontsettend mooi, maar binne ‘n oogwink verby! Vlietend. Momenteel.

Daar is ‘n Japannese woord – 潔い (isagiyoi) – wat o.a. vertaal kan word met  “rein, moedig, grasieus, manlikheid, sportmangees.” Destyds is die samurai tradisie – om in jou eie swaard te val as jy weet jou dood lê om die draai – hiermee vertaal. Want, só is daar gedink, wanneer dood onafwendbaar is, is dit nie goed (grasieus of braaf) om daaraan te probeer vaskleef nie (verwant aan die Boeddhistiese idee van dood). En dís waaraan sakura bloeisels Japannese mense herinner. Hulle vier dit gewoonlik in hulle hordes, in parke en langs riviere oraloor die land*. Maar vanjaar is dit anders. Die donker Covid-19 wolk hang vir baie mense net te laag oor die Sakura bome. Politieke leiers versoek ernstig: bly weg, kom kyk maar volgende jaar weer.    

Vir Christene is die lyding van hierdie lewe iets wat ons broos maak, maar nie laat boedel oorgee, omdat alles uiteindelik sinloos, leeg of futiel is nie. Die Psalms (o.a. 8 en 139) herinner ons aan die kosbaarheid van hierdie lewe. God wat ons stoflikheid ken, gun ons ook die lewe in oorvloed, met al die skoonheid daarvan ingesluit. Om te lewe is Christus, te sterwe is wins (Fill.1). Die lewe is tegelyk vol lyding en glorie, pyn en oorwinning.

Woordlose sugte

Ons troos is dat die Gees van Christus onophoudelik intree vir ons skepsels, ja vir die hele skepping, by God die Vader. Ons eie gesug in hierdie Covid-19 benoudheid, is nie sonder hoop en troos nie. Soos in barensnood, pynvol, maar verwagtend op die nuwe lewe wat kan deurbreek, sug die hele skepping nou. Die Gees pleit vír ons – want ons woorde is op – met woordelose versugtinge. (Rom. 8) En net so, woordloos, gaan die Sakura bloeisels een vir een oop, broos en beeldskoon.    

In verbondenheid 
Hierdie krisis is meer globaal as enige wêreldoorlog in die geskiedenis. Meer as ooit tevore is ons as één liggaam van Christus diep aan mekaar verbind. Ons ly saam en ons deel in mekaar se vreugdes (1 Kor 12). Kom ons dra mekaar in gebed en omgee. My gebed is, saam met Paulus, dat ons selfs diep vreugde sal vind in hierdie swaarkry, want ons weet dit kweek volharding, egtheid van geloof en hoop wat nie beskaam nie. God het immers sy liefde in ons harte uitgestort deur Sy Heilige Gees! (Rom.5)   

*Carina het ook destyds iets hieroor geskryf – lees dit hier

Gedagtes uit Kobe oor Covid-19 en bemoediging vir SA ondersteuners in afsondering

Japan se breër situasie
Dis amper 5 weke sedert Japan se regering ernstige matreëls begin instel het om Covid-19 te bekamp. Die sluiting van alle skole en allerhande ander kansellasies van groot byeenkomste was aanvanklik effektief en die lae vlakke van infektering het baie verstom, maar die vraag of dit op die lange duur genoeg sal wees. Lees hier meer. In die laaste week het Tokyo veral ‘n skerp styging in gevalle getoon, wat binnekort kan veroorsaak dat die regering ‘n nasionale krisis kan verklaar, strenger matreëls kan instel en ‘n tipe ‘lockdown’ vereis. Ons bly waaksaam want ons woon ook in ‘n gebied (reg langs Osaka) wat hoër vlakke van infeksies toon. Grondwetlik kan dit nie afgedwing word in Japan nie, maar staatsleiers maak aanspraak op elkeen om die versoeke van die regering na te kom. Die Japannese nasie se gehoorsaamheid aan reëls en eensgesindheid is welbekend, maar niemand weet of dit in hierdie onsigbare oorlog voldoende sal wees nie. Lees verder.  
 
Kerke in Japan
Omdat kerke se lidmaattal gemiddeld 30 is, is alle eredienste nog nie afgestel nie. Maar RCJ kerkgangers, soos baie ander kerke, is pro-aktief besig om soveel as moontlik te self-isoleer ten einde die virus te beveg. In Tokyo is het party kerke onlangs web-eredienste begin hou. Daar kleef reeds ‘n potensiële stigma aan kerke a.g.v. die groot uitbraak van infeksies onder ‘n Koreaanse sekte vroeër vanjaar (die 99% nie-Christen Japannese bevolking tref nie maklik onderskeid tussen sektes en kerke nie!). Die RCJ is daarom ook besig om baie ernstig te besin oor aksieplanne vir die afsienbare toekoms. Ek dien op twee van die RCJ sinode se kommittees – een wat by diakonale werk betrokke is; die ander een gefokus op pastorale sorg en begeleiding van leraars en kerklidmate rondom pastorale sorg. Ons is pal besig met gesprekke en die saamstel van material wat gemeentes kan help om met wysheid te onderskei wat nou prakties die beste weg vorentoe is.
 
Ons in Kobe
Op ‘n persoonlike vlak gaan dit met ons goed. Dit bly besig a.g.v. Covid-19 en verwante, onverwagse uitdagings. Ons huis het ook a.g.v. die skole se sluiting outomaties ‘n sentrale speelplek geword vir kinders uit ons buurt – vanweë die ligging daarvan as deel van KRTS se gronde. Ons bly self versigtig en waaksaam, maar ook realisties oor die aard van kinders. Punt is: hulle beweeg! Almal is tans darem nog gesond.
 
Wees asb. verseker dat ons daagliks bid vir julle, ons broers en susters in Suid-Afrika, asook vir die wêreldwye impak. Bid asb. ook vir ons (sien versoeke hieronder).
 
In diep verbondenheid.
Stéphan, Carina en kinders

‘n Ligter oomblik Noord van Kobe in die berge

Gebedsversoeke:

  • Die Covid-19 bekamping in Japan, ook vir die RCJ en ander kerke se getuienis en bedieninge in hierdie tyd.
  • Ons gesondheid as span – Van der Watts, Du Rands, Oliviers – lees ook hier nuus uit Missie Japan se SA kantoor. 
  • Wysheid rondom KRTS se nuwe akademiese jaar wat Vrydag, 3 April, begin.
  • Elmar Du Rand se ouers wat hier by KRTS gestrand is a.g.v. gekanselleerde vlugte ens.
  • Ons eie deputasie program (beplan vir Junie-Sept 2020) wat nou beïnvloed kan word deur die pandemie.

Vind hieronder twee opnames wat die afgelope maande vrygestel is:

  1. ‘n Gesprek (podcast) wat ek gevoer het in Engels (getiteld Reformations Conversation) met Dr. Karin Maag van die H. Henry Meeter Center for Calvin Studies wat handel oor pastorale sorg navorsing, die Reformasie, werk en lewe in Japan ens. – LUISTER HIER
  2. ‘n Radio uitsending (in Japannees) wat handel oor die Rugby Wêredbeker 2019, my roeping as predikant/sendeling en Nkosi Sikelel’ iAfrika – LUISTER HIER

Nuus uit Missie Japan Kantoor – 30 Maart 2020

 30 Maart 2020 

MISSIE JAPAN: NUUSBRIEF 

Ons groet julle uit die kantoor in Bloemfontein waar Covid-19 ‘n groot invloed het op al die werksaamhede van Vennote in Getuienis. Maar ja, hier is ons fokus Missie Japan en ons wil graag net almal op hoogte hou van al die verwikkelinge. 

Eerstens wil ons julle almal bedank wat te midde van klomp uitdagings, fisies sowel as ekonomies, steeds getrou bly met julle ondersteuning van Missie Japan en ons werkers daar, Stéphan en Carina, Elmar en Nadine en ook Gys en Linda. Die wete dat julle as ondersteuners hier in Suid-Afrika sekere persoonlike opofferings maak sodat die werk daar in Japan kan voortgaan, lê swaar op hulle harte en dien ook as inspirasie vir hulle om die ontberinge daar in die oë te kyk. Hierdie week se leesrooster Psalm is Ps 95. In vers 7 is daar iets opgesluit wat ek dink ons ook as Missie Japan (ondersteuners en werkers) elke dag beleef, naamlik: Hy is ons God en ons is sy volk, sy kudde, sy skape, deur sy hand versorg. Deur mense en wonderwerke sorg God vir elkeen! 

Tweedens is daar die effek van Covid-19 op die werk in Japan. Elkeen van die 3 gesinne vertel later in die nuusbrief hulle eie verhaal en belewenis van die werklikheid daar (wat nou ook op ons voordeur is). Ons dank die Here dat hulle ook hierdie krisis saam met die Japanese kan beleef en so die bedienings geleenthede kan aangryp wat in die krisis ontstaan. Elmar se ouers was vir die laaste 10dae op besoek in Japan en het, met die onlangse verwikkelinge in Suid-Afrika, nou ongelukkig gestrand gebly in Japan. Hulle woon tans steeds by die Kweekskool waar Elmar en Nadine woon en ons hoop dat hulle sodra die Suid-Afrikaanse lughawes weer oop maak, kan terugkeer na Suid-Afrika. Ons hoop dat hulle as gesin ook iets van God se nabyheid in hierdie krisis tyd te sal beleef. Ons bid vir hulle verdere aanbly in Japan asook hulle terugkeer proses met die uitdagings wat dit behels. 

Derdens lig ons u almal in dat die voorgenome besoek deur myself, Rikus Hattingh en Johann Winterbach onbepaald gekanselleer is. Ons het ‘n skrywe ontvang van die Reformed Church in Japan met ‘n versoek dat ons nie sal voortgaan met die besoek soos beplan nie. In die lig van hiervan het ons besluit om hulle versoek te eerbiedig en die besoek af te las. Op die huidige is dit baie moeilik om voorspellings te maak oor wanneer die wêreld weer iets van ‘n normaliteit sal beleef. Tot dan, sal ons via internet kontak hou en dringende sake hanteer soos hulle opduik. Ons kon versekering uitneem op die kaartjies wat maak dat Missie Japan netso ongeveer R6500 se verlies rapporteer op die kansellasie. 

Vierdens is daar 2 besoeke op hande naamlik Stéphan hulle as gesin se besoek aan Suid-Afrika sowel as ‘n besoek van ‘n groep uit Japan aan ons hier. Beide besoeke gaan tans voort aangesien dit heelwat later in die jaar plaasvind. Stéphan hulle se besoek en die beplanning daar rondom is reeds in ‘n gevorderde stadium met besoeke aan gemeentes, universiteite hier plaaslik, individue asook persoonlike vakansie en rus saam met hulle families en geliefdes. Tydens hierdie besoek sal Stéphan ook saam met die groep uit Japan reis met verskeie besoeke wat beplan word vir hulle. Hiermee wil ons tog maar weer u almal net herinner dat dit NIE moontlik is dat hulle by u almal ‘n besoek kan aflê nie. U sal verstaan dat die tydsduur van hulle besoek en die groot afstande (en ook die feit dat daar net soveel Sondae is!) dit ‘n saak van onmoontlikheid maak. Elmar en Nadine sal hopelik volgende jaar ook Suid-Afrika besoek en sal dus ook gemeente besoeke doen by gemeentes wat dalk nie hierdie jaar besoek is nie. U is natuurlik altyd welkom om die kantoor te kontak sou u ‘n besoek van Missie Japan verlang wat dan gedoen sal word deur ‘n Missie Japan kommitee-lid naby aan u. 

Kom ons dink in ons voorbidding aan die mense van Japan asook ons werkers daar in hierdie tyd van ‘n wêreld krisis. En mag Ps 95:1-7 ons dra in hierdie tye! 

Dr. Nico Mostert 

(Sekretaris: Missie Japan) 

NUUS VAN DIE DU RANDS

Hier in Japan is die seisoen besig om van ‘n vaal en koue winter na ‘n sonskyn en helder lente te verander. Hierdie verandering in klimaat en natuur het verseker ‘n invloed op ons gemoedere en wil ons graag deel dat dit met ons goed gaan. Ons beplan om gedurende hierdie lenteseisoen elke mooi dag te benut deur meer aktiwiteite buite te doen. Ons vorder goed met ons taalstudies en die afgelope tyd begin ons woordeskat al hoe vinniger te groei. Gesprekke met ons Japannese vriende handel al hoe meer oor gevorderde onderwerpe as net die normale maklike daaglikse onderwerpe. Huidiglik is ons bediening baie gefokus op vriendskap-evangelisasie en in die proses bevorder dit ook ons taalvermoëns.  Ons is dankbaar teenoor die Here vir die kosbare mense wat hy oor ons pad stuur, asook die mense in Suid-Afrika wat ons ondersteun in ons roeping.

Elmar en Nadine

NUUS VAN DIE OLIVIERS

Beste vriende in Jesus. Dit gaan goed met ons hier in Japan; ons begin ‘n nuwe jaar met nuwe uitdagings; Linie begin in April met graad 1, Johan sal alleen wees sonder sy suster in die kleuterskool, Linda hoop om haar Kangaroo Kids-klas te groei, en my verantwoordelikhede sal eksponensieel groei hier by Seiwa, want ek sal nou verantwoordelik wees vir Organics saam met baie ander nuwe uitdagings. By ons kerk gaan dinge goed en ons het van tyd tot tyd nuwelinge. Hierdie week werk ons deur ons lentevakansie met studente wat nie klasse kon bywoon of hul toetse kon slaag nie. Studente getalle neem elke jaar toe en hierdie jaar sal ons ook weer ‘n redelike aantal ontvang. Ons besoekers uit Kalifornië het hul reis na Japan gekanselleer weens die coronavirus. Ons hier in Kochi was geseënd dat ons slegs 10-15 gevalle gehat het. Deur die genade van God gaan alles goed. Seëninge aan almal.

Gys, Linie, Johan en Linda

VIR NUUS VAN DIE VAN DER WATTS – kliek hier

Lydenstyd-flits 26 Febr 2020

‘n Japannese student by KRTS besig om Koreaanse besoekers te bedien.

Ek hoop dit gaan goed by jou op hierdie Aswoensdag.

Dit gons oral oor die Corona-virus, verál ook hier in Japan, en in naburige Korea. Heelwat groot sport byeenkomste is onlangs gekanselleer, en selfs die Tokyo Olimpiese Spele se voortgang kan blykbaar in die gedrang kom. Vandag is ons eie KRTS se twee-jaarlikse toer na ‘n kweekskool in Suid-Korea (wat in Maart sou plaasvind) ook van die baan af. Maar buiten al die gebeure, deel ek graag in die nuusflits meer oor die Japan-Korea verhoudinge in ons midde. Vandag se begin van lydenstyd het my hieraan herinner. 

Koreaanse invloed toenemend sterker in Japan
Ons het pas 4 nuwe studente gekeur wat in April (die begin van ons akademiese jaar) hulle teologiese studies hier gaan begin of voortsit. Almal van hulle is Koreane.

Toe ek twee jaar gelede ons Japannese studente kon vergesel na Korea vir ‘n kort besoek, het my oë opnuut oopgegaan vir die geskiedenis van onderdrukking en kolonisasie (1910-1945), van Japan teeoor Korea. Die boeiende uitstallings by die Independence Hall in Cheonan was gevul met grafiese beelde van afgryslike magsvergrype. En dis nie baie lank gelede nie …

Wanneer ek klasgee by KRTS is dit meestal vir Japannese studente, maar die afgelope jare het die Koreaanse invloed sterk toegeneem. Nie net in klasse of eredienste is dit waar nie, maar ook in ons eie huis kom speel daar amper daagliks – buiten Japannese maats – Koreaanse maats met ons kinders. Hulle is deel van die studente-families wat hier in die KRTS koshuis woon, en dis altyd fassinerend om te sien hoe die Koreaners en Suid-Afrikaners in Japannees kuier! Maar tussen die Koreane en Japannese is dit nie noodwendig altyd maklik om oor die weg te kom nie, gegewe hulle diep verdeelde, pyn-belaaide geskiedenis.

‘n Kerk wat taan in Korea?!
Daar is baie redes hoekom Christenskap en kerke begin swaar trek het in (Suid-)Korea die afgelope twee dekades –  . Toe ek in Cheonan was het ek eerstehands gehoor van die uitdagings van toenemende sekularisasie, druk op Christene om nie hulle geloof vryelik te deel nie, probleme rondom, sektes met messiasfigure, magsbehepte leraars wat mega-kerke tot ondergang gelei het ens. 

Enersyds het ek gehoor van jong mense se apatie teenoor die kerk, maar andersyds ook beleef hoe honderde teologiese studente driftig uit-die-hart uit bid en baie dinamies hulle geloof uitleef. Op ‘n radikaal anderse manier as ons Japannese jeug, d.i. met ondubbelsinnige uitdrukking van emosie en openlike oorgawe aan God – iets van die charisma wat ‘balans’ bring in hulle meer rasionele en besadigde Japannese broers en susters se midde, hier in Kobe. In kort: die Japannese het die Koreane nodig!  

‘n Spiritualiteit wat vrugdra uit pyn

Verder het ek ook tydens die 2018 besoek kennis gemaak met ‘n groep kinders wat uit desperaatheid om te oorleef, van Noord-Korea gevlug het na Suid-Korea. Meeste van hulle het maande lank in die berge weggekruip en net-net oorleef met blare uit die veld. Die kweekskool wat ons besoek het, het daarom ’n skool begin, en sorg nou vir dié einste weeskinders, totdat hulle dalk eendag op hulle eie kan klaarkom en op ’n manier ’n nuwe lewe kan begin daar. Want as hulle ooit sou terugkeer, sal hulle nooit weer die lewenslig sien nie.

Ek sou nog veel meer kon vertel, maar volstaan eers hierby: die Suid-Koreaanse Christene en albei hierdie Koreaanse nasies kén lyding en pyn! Dis die harde grond waaruit hulle volhardende geloof en inspirerende toewyding aan God gebore is. Daar is geen nasie wat pro rata meer sendelinge as hulle uitstuur in die wêreld in nie. Dit spreek vanself!

Stuur my na plekke sonder kerke, asseblief
Een van die mooiste dinge wat ek sien gebeur by KRTS, asook in die wyer RCJ, is versoenende rol van Koreaanse sendelinge in Japan. Hulle blote teenwoordigheid en bereidheid om in Japan – hulle aartsvyand – te dien, is tekenend van Christus se versoening, vergifnis en genesing. Hulle tree op as bedienaars van die versoening. Want, daar is net een liggaam van Christus. Vandag – Aswoensdag – se leesrooster teks uit 2 Korintiërs 5:18-21, was daarom tydig. 

Dis t.w.v. die bediening van dié versoening wat een van ons nuwe jong studente na Japan gekom het, vertel hy opgewonde in die keurings-onderhoud laasweek. Hy, wat grootgeword in ‘n Koreaanse mega-gemeente met amper 20 000 lidmate, só sê hy, het diep bewus geword van hoe ‘oorbodig’ hy is. En dat die Here hom veel beter kan gebruik om kerkplanting te doen in Japan. Hy is pas getroud en hy en sy vrou het pas ingetrek in ‘n leë kerkgebou in Tokushima, op die Japannese platteland. Daar is geen lidmate in die gemeente nie. En dís soos hulle dit verkies, want, gaan hy voort: “as ons 10 gemeentes in ons leeftyd kan plant, sal ons baie bly wees.”  Hy en sy vrou beplan om albei in die week by ons te studeer en loseer en oor naweke die kerkplanting te begin uitbou.

En ek dink weer: dís die tipe geloofsmoed waarvan ons meer nodig het hier. Gekneusde en soms veragte bedienaars van die versoening, gedring deur Christus se liefde om ‘n lewegewende verskil te maak!

Dank saam met ons die Here, vir Sy roeping van hierdie studente. En bid saam met ons vir Sy leiding hoe om hulle toe te rus en te ondersteun om Sy roeping vir hulle uit te leef.  

Vrede en vreugde uit Kobe, 
Stéphan, Carina en kinders

NS: hierdie brief kan ook gelees word deur hier te kliek.

 Carina saam met een van ons afgestuurde Koreaanse studente en sy Japannese vrou.
Hulle bedien nou in Shikoku se platteland.

Nuusflits 29 Januarie 2020

Missie Japan Uitvoerende Bestuur – November 2019

Wintergroete uit Kobe!

Die draai van die jaar het met soveel spoed gekom en gegaan, dat ek nog nie behoorlik kon deel wat alles hier afgespeel het nie.

Missie Japan bestuur byeen
Die leiers van Missie Japan se bestuur was einde 2019 bymekaar vir ‘n belangrike jaarvergadering. Een van die groot nuwe skuiwe is dat Gideon van der Watt (dr.) uittree as sekretaris, en Nico Mostert (dr.) nou die pos beklee. Ons is uiters dankbaar vir die reuse rol wat Gideon deur twee dekades gespeel het, en sal hom baie mis! Bid saam met ons vir Nico en die res van die leiers vir die nuwe era wat nou aangebreek het, asseblief.

Missie Japan is baie bevoorreg om so ‘n span aan die stuur te hê. Die lede op die foto hierbo is van (agter) links na (voor) regs:
Gideon van der Watt, Tobie de Wet, Nico Mostert, Johann Winterbach, Danie Kleynhans, Rikus Hattingh, Pieter van Jaarsveld, Sarel van der Walt, Kovilan Moodley, Annalie de Wet, Victor Pillay, Karisma du Pisanie en Elsabé du Plessis.

Ander geleenthede  
Ek het die afgelope twee maande verskeie geleenthede gehad om in die wyer kerk te bemoedig en toe te rus, buiten vir dag-tot-dag onderrig, vergaderings en ander werk by KRTS. Intussen was Carina ook baie bedrywig met tuisonderrig, gasvryheidsbediening en lei sy ‘n tweetalige Sondagskool aanbieding (maandeliks). Haar stembande is die afgelope twee maande konstant problematies. Bid asb. saam vir haar hiervoor.

In beeld
Die foto’s hieronder vertel self die verhaal – sien die byskrifte. Lees asb. hieronder ook ons gebedsversoeke en bid saam. Ons maak staat op jou ondersteuning. Baie dankie daarvoor!

Vrede en vreugde,
Stéphan, Carina en gesin


2020-01-06 Nuwejaarsflits

1 Januarie 2020, naby ons huis

Mag 2020 vir jou ‘n diep, betekenisvolle jaar wees! 

Diepste identiteit
Ons almal het ons voornemens en prioriteite. Een van die rituele waaraan baie Japannese elke nuwejaars-oggend deelneem, is om die eerste sonsopkoms te aanskou. Dis verbind aan die Shinto godsdiens  – eie aan Japan – se verering van die songodin, Amaterasu Oomikami (letterlik: die groot godin wat die hemele verlig). Miljoene Japannese se diepste identiteit is hieraan verknoop. Met ander woorde hulle beskou hulleself as ‘kinders’ van die keiser, wat volgens oorlewering direk van die songodin afstam.

Hierdie selfverstaan van die Japannese nasie is een van die hoofredes waarom ‘n Christelike wêreldbeeld – wat die Drie-enige God as Skepper bely – hier so totáál en al lewensvreemd voorkom. As jy vanjaar weer die Japannese (rooi son) vlag iewers sien, dink hieraan. En bid saam dat die Here as magtige God, die groot koning oor al die gode, Homself aan nóg Japannese sal openbaar. Soos Psalm 95:4-6 helder getuig: “Die dieptes van die aarde behoort aan Hom, die kruine van die berge is Syne. Die see is Syne, Hy het dit gemaak; sy hande het die land gevorm. Kom ons val in eerbetoon voor Hom neer, kom ons buig, kom ons kniel voor die Here ons Skepper!” 

Gereed vir ‘n vroeë afskop
Ons akademiese kwartaal by KRTS open môre (7 Jan.) en ek is verantwoordelik vir die twee uur lange openingslesing. Dit sal handel oor die hedendaagse betekenis en relevansie van Martin Bucer en Johannes Calvyn se pastorale sorg en missionêre geesdrif. Ek sal jou gebede hiervoor opreg waardeer. Jy kan ook meeleef deur regstreeks saam te kyk en luister (6:30-8:30 SA tyd) by https://youtu.be/13gfo6X6EGQ

Ons prioriteite in 2020 (ook as gebedsversoeke):

  • Dieper afhanklikheid van God: vreugdevol, biddend en dankbaar 
  • Rustiger ritme: meer werk-rus balans, maar ook gasvry in diens van ander
  • Verdiepte verhoudings: t.w.v. die bedieninge wat hier aan ons toevertrou is
  • Volgehoue (taal)studie: doelgerig om die evangelie hier beter te kommunikeer
  • Betekenisvolle deputasie tyd in Suid-Afrika (vroeg Junie tot einde September) 

Vrede en seën, uit ‘n koue Kobe. 

Stéphan, Carina en kroos. 

Dankflits – Desember 2019

Ons Adventsboom in Kobe

Hierdie tyd van die jaar het min (Suid-Afrikaanse) mense nog lus of tyd vir e-pos lees. Ons doen graag vroeg in 2020 in meer detail verslag oor ons doen en late die afgelope tyd.

Ons adventsboom (foto bo)herinner ons aan die voorreg om met vreugde Christus se koms af te wag. Desember is ‘n baie bedrywige tyd hier, met baie ontmoetings. Dis opwindend, maar ook veeleisend.Ons sal jou gebede in hierdie tyd baie waardeer, veral vir Carina wat dié naweek twee kersfeees-geleenthede vir kinders sal lei. Ook vir vanaand (20 Des.) se Kerssangdiens.

Ons dink met diep dankbaarheid terug aan ‘n baie sinvolle en geseënde jaar, verál ook te danke aan ondersteuners soos jy. Mag jy in hierdie dae uit Christus se oorvloed genade op genade ontvang (Joh. 1:16)!

Met vrede en vreugde,

Stéphan, Carina, Annlie, Cornelius, Lodewyk en Stephan (jnr)

LEES ASB. DIE ONDERSTAANDE BRIEF UIT DIE MISSIE JAPAN KANTOOR
—————————————–

Beste ondersteuner, 
 
Hier aan die einde van 2019, wil Missie Japan kantoor graag vir al ons getroue ondersteuners hartlik bedank. Dankie vir die geldelike ondersteuning van ons sendelinge. Dankie vir julle opregte belangstelling. Maar ons is veral ook diep dankbaar vir julle volgehoue en getroue gebede. 
 
Die Here het die afgelope jaar weereens die werksaamhede van Missie Japan oorvloediglik geseën. Ons kon finansieël oorleef, te midde van al die uitdagings op soveel terreine in ons land. Dit gaan goed met die funksionering van Missie Japan; ons het onlangs weer ‘n baie sinvolle vergadering van die uitvoerende komitee gehad. Dit gaan goed met ons kerke se
verhouding met die Reformed Church in japan. En dit gaan baie goed met ons sendelinge in Japan!
 
Stéphan van der Watt doen ‘n geweldige groot werk; sy akademiese invloed as professor by die Kobe Gereformeerde Teologiese Seminarium strek al hoe wyer. Maar dis veral ook sy werk binne die kerk in Japan waaroor daar groot waardering is. Die gevaar is dat Stéphan dalk te hard werk, met te veel verantwoordelikhede, juis omdat hy so gewaardeer en vertrou word. Met Carina gaan dit ook goed. Sy speel ‘n al hoe belangriker rol in die tuisonderig van hul kinders, in ‘n nuwe bediening onder kinders met die lekker naam Treasure Hunters, en met ‘n deurlopende gasvryheidsbediening. Dit gaan ook goed met
hull pragtige kinders.
 
Met Elmar en Nadine du Rand gaan dit ook goed; hulle vorder fluks met hul taalstudie. Hulle woon by ook by die Seminarium in Kobe en skakel by die studentegemeenskap daar in. Hulle werk hard, maar hulle gaan ook deur ‘n baie moeilike fase van hulle daar-wees in Japan – die taalstudie is uitdagend, die aanpassing in die Japanese kultuur, die eensaamheid en verlange huis toe… hulle het ons gebede nou meer as ooit nodig. En met Gys en Linda Olivier en hulle twee kinders gaan dit ook baie goed. Hulle hou skool by ‘n Christenskool vir Meisies in die stad Kochi op die eiland Shikoku. Hulle werk word ook hoog op prys gestel deur die Japanese Christene.
 
DV volgende jaar kom doen die Van der Watt gesin weer tuis-besoeke in Suid-Afrika. Hulle sal kom rus, maar ook soveel gemeentes moontlik kom besoek. Ons sien uit daarna om hulle hier te ontvang! Missie Japan beplan om volgende jaar ook enkele afgevaardigdes na Japan te stuur en ons ontvang ook besoekers uit Japan – dit gaan weer ‘n vol jaar vol wedersydse
kontak wees.
 
Missie Japan verwelkom graag ook vir Dr Nico Mostert as die nuwe sekretaris van die kantoor. Mag hierdie Kersgety en die nuwe jaar vir elkeen van julle baie geseënd wees. En ons bid dat die Here sy hand oor hierdie hele onderneming van Missie Japan sal hou. Ons weet dat Hy wat ons roep, getrou sal wees, altyd en oral.
 
Vriendelike groete
Gideon van der Watt en Karisma du Pisanie
(Missie Japan kantoor)