Nuusflits 5 Mei 2021

Pinkster is om die draai en ‘n nuwe seisoen het aangebreek in die natuur. ‘n Paar openbare vakansiedae hier het ons help asem skep (lees: kamp). Gister was juis Natuurdag en vandag vier ons KinderdagLees gerus hieronder meer daaroor. 

Onlangse gebeure
Covid-19 se vierde vlaag infeksies is aan die toesak op Japan en ‘n nuwe noodtoestand is aangekondig vir sekere provinsies, insluitend waar ons woon. Ons eie buurt is gelukkig nie in die middestad van Kobe nie, maar ons bly waaksaam en versigtig.

Intussen gaan ons werk en bedieninge relatief normaal voort. Ons is veral dankbaar vir ‘n bietjie meer interaksies as in die vorige (winter)maande waar die isolasie van inperkinge soms swaar was. Die foto’s hieronder vertel die stories van wat onder andere hier gebeur het die afgelope maand of wat.

Verstom deur ondersteuning
Met hierdie nuusflits wil ons graag ons diep waardering deel, vir elkeen wat gereageer het op ons vorige versoek i.t.v. die spesiale projek rondom ons deputasie tyd. Binne ‘n paar weke het verskeie ondersteuners meer as R100 000 asook ‘n motor (kosteloos) geborg. Ons loof die Here vir sy fantastiese sorg en voorsiening en vir vriende se oop harte en hande! Nou is die basiese kostes rondom reis, verblyf, PCR toetse ens. ten dele gedek. Ons vertrou vir volgehoue ondersteuning in die tyd wat kom.

Deputasie planne
Ons vlieg DV op 10 Junie uit Osaka en sal daarna vir 5 maande in SA wees. Die doel van ons besoek is hoofsaaklik: terugvoer aan ondersteuners, besoeke aan gemeentes en individue, strategiese beplanning en visionering saam met Missie Japan leiers, rus en kuiertyd saam met familie en vriende, asook  studieverlof. Omdat daar soveel veranderlikes en onsekerhede is rondom internasionale reise t.m.v. die pandemie, kan ons nie vooraf finale besoek reëlings tref nie. Maar, ek sal tydens ons eerste 10-14 dae van afsondering, kontak maak met almal ons afsprake vas te knoop.  

Bid asb. saam met ons vir als wat voorlê – sien gebedsversoeke hieronder.

Mag vanjaar se Pinkstertyd jou opnuut inspireer tot ‘n dieper, Geesvervulde lewe.

Vrede en vreugde,
Stéphan, Carina, Annlie, Cornelius, Lodewyk en Stephan

Doop geleentheid by RCJ Kita Kobe gemeente
RCJ Westelike Ringsbyeenkoms
Carina onthaal vroue by ons huis
Carina lei Treasure Hunters by Sondagskool
Kamptyd!

KINDERDAG KULTUURBROKKIE

Vandag (5 Mei) is Kinderdag, ‘n nasionale vakansiedag in Japan. In hierdie tyd word kinders se geluk en gesondheid gevier en hulle uniekheid en persoonlikhede gerespekteer. Kinders is immers een van ‘n nasie se grootste bates. Orals rondom ons wapper “visvlae”.Die swart karpverteenwoordig die pa, die rooi karp verteenwoordig die ma, en die ander kleure wapper vir elke kind, met ‘n unieke kleur en posisie in verhouding tot hulle ouderdom en posisie in die gesin.

Die vlae simboliseer (energieke en sterk) karpe wat moedig stroomop swem.Met die bedoeling dat veral seuns ook moedig en sterk sal leef … “En wat van die dogters?”, vra jy dalk saam met my. Kinderdag was oorspronklik nét seuntjies-dag. Dogtertjies het wel hul eie dag (genaamd Hinamatsuri – of poppe dag – op 3 Maart). Dit het in 1948 ‘n meer gender-vriendelike Kinderdag geword, wat die waarde en krag van albei geslagte vier. 

Op die foto’s hieronder is ons kinders by (en in!) die vlae en voor die tradisionele uitstallings wat met die feeste gepaard gaan – binne en buite Japannese se huise – o.a. saam met ons Japannese onderwyseres me. Kitagawa, by haar huis.

Ons dank die Here vir ons onvoorspelbare en onvervangbare kinders – wat ‘n seën!

By ons kinders se Japannese onderwyseres aan huis
Pret met Koinobori vlae
Kinderdag onder Koinobori vlae

GEBEDSVERSOEKE
Vra asb. vir die Here se leiding vir:

  • Ons besoek aan RCJ Tokushima gemeente op 16 Mei, om Elmar en Nadine Du Rand aan die gemeente voor te stel.  
  • Baie ekstra preekbeurte en vol klasgee program vir Stéphan, vergaderings t.w.v. RCJ sinode se pastorale en diakonale werk.
  • Carina se voltydse tuisskool onderrig t.m.v. voortgaande Japannese studies, haar bedieninge by RCJ Kita Kobe gemeente ens.  
  • Voorbereidings vir ons koms na SA, gesondheid en krag, dat vlugte sal plaasvind soos beplan.
  • Ons kinders se aanpassing in SA, hulle groei en verhoudinge met maats en met God. 
  • Ons rol in die toerusting en bemoeding van lidmate en kerkleiers in die RCJ, ook t.w.v. getuieniswerk midde-in die voorslepende pandemie en baie inperkings in kerklike aktiwiteite.

Getuienisflits 14 April 2021

Stop. Kyk. Kyk stip. Staar …

Die afgelope weke rondom Paasfees het ons almal hanami (letterlik: blomkyk) geniet. Dis ‘n tradisie so oud soos die berge in Japan. Om die nuwe lewe wat die Sakura bloeisels (ná die lang winter) bring, stip te bekyk en waardeer.

Daarmee saam het ons op Goeie Vrydag – wat ook die openingsdag van KRTS se nuwe akademiese jaar was – drie nuwe studente verwelkom. Vandag deel ek die direkte getuienis van een van hulle, Masashi Toyoda, met sy toestemming. Wees saam met ons bly oor die nuwe lewe wat die Opgestane Here vir hom laat blom het – nog mooier as die Sakura! Soos die Here Lydia (vir Paulus se woorde, Hand.16:14) ontvanklik gemaak het, het Hy ook Masashi se hart oop gemaak vir sy Woord.

Hou die spasie dop vir meer inligting – in ‘n volgende nuusflits – oor hoe ons deputasie projek vorder, en hoe wonderlik die Here voorsien deur ondersteuners wat hulle harte en hande oopmaak om ons besoek te laat realiseer.

Vrede en vreugde, 
Stéphan, Carina en gesin

NS: op die foto hieronder is Masashi in die middel, tussen ds. Tsuneishi (deur wie hy gedoop is), en sy vrou van RCJ Osaka gemeente. 


Masashi Toyoda (29 jr.) se getuienis oor sy roeping en oorgawe aan God
 

Ek is gebore en het groot geword in ‘n nie-Christen huis, waarin daar feitlik niks bekend was van die Bybel, God of die Christelike geloof nie. Ek het van Jesus te wete gekom deur die vak “Christelike Kultuur” te neem terwyl ek op universiteit was (dit was nie ‘n Christelike Universiteit nie, maar ‘n teologie dosent het die vak aangebied as deel van die algemene kurrikulum). Vaagweg beskryf het ek voor daardie tyd nie ‘n idee gehad wat die doel van my lewe was nie en gereeld leeg gevoel. “Wat is regtig belangrik en waar?”, is wat ek myself afgevra het. Maar deur die klasse het my eng wêreld(beeld) radikaal verander. Die inhoud wat die dosent gedeel het – bv. oor ons as mense se sonde (vanuit Genesis), die gelykenis van die barmhartige Samaritaan, die mensbeeld in die Romeine brief ens. – het my oortuig, “dit wat hiér geskryf is, is waar en eg”. Dit was regtig soos skille wat van my oë af geval het. 

Daarna het ek self begin om die Bybel te lees en bestudeer. Ek het afgestudeer en begin werk, maar al het ek kennis van die Bybel verkry, het ek nog nie heeltemal verstaan wat dit beteken om in God te glo nie. Die Here het my gelei na ‘n kerk, spesifiek na die RCJ Osaka gemeente (in my omgewing). Ek het vir die eerste keer ‘n preek gehoor, en hoe gelowiges sing. Dit het ‘n groot impak op my gemaak om te beleef hoe dit is tussen mense wat regtig in God glo, en dit was ‘n vreugde om dit wat ek op my eie geleer het, nou te kon deel met hulle. Die ervaring het gemaak dat ek elke week begin kerk toe gaan het. Aanvanklik het ek nie ‘n beslissende bekering beleef nie, maar deur elke week se erediens, en deur die Here se uitwys van my sonde en die oortuiging dat ek nie sonder God kan leef nie, het ek God se leiding ervaar en is ek ná ‘n jaar gedoop. 

Ek was gevul met diep dankbaarheid vir die geloof wat die Here my geskenk het, want ek het besef die Here het my gebede verhoor toe ek nog nie eers werklik gebid het nie … regdeur die vae leegheid wat in my hart was tydens my universiteitsdae, wat niks anders was as die versugtinge van ‘n “hert wat smag na water”, soos die Psalmis getuig nie. Die oortuiging het gegroei in my hart dat ek dié dankbaarheid en blydskap wat ek beleef het ten beste kan uitleef deur myself heelhartig aan God te wy en aan die uitdra van die goeie nuus (evangelie). Daar was ‘n paar dinge wat aanleiding gegee het tot die volledige toewyding aan die Here.

Die eerste keer wat ek besef het wat dit beteken om my heelhartig toe te wy en beskikbaar te stel vir God, was by die vierings-geleentheid net nadat ek gedoop is. ‘n Man het vir my Calvyn se Institusie (1536 weergawe) as geskenk gegee met die volgende woorde: “Ek hoop dat jy iemand sal word wat die inhoud hiervan kan verduidelik en oordra.” Ek het op daardie stadium nie regtig verstaan wat hy bedoel het nie, maar bewus geword dat daar ook ‘n pad is van volle oorgawe (m.a.w. voltydse diens aan God as kerkleier). Die volgende ding wat gebeur het, was ‘n jaar later by ‘n spesiale evangelisasie byeenkoms by die kerk waar die spreker onder andere vir my gesê het: “As jy klaarmaak met jou huidige werk, kom na die kweekskool”. Sy woorde het in hart gebly en ek het dit herhaaldelik bly bedink en begin bid: “Here, as dit U wil is, roep my (vir U diens).” Maar ek het nog nie heeltemaal verstaan wat ‘roeping’ beteken nie, en drie jaar het verby gegaan. 

Toe gebeur die derde en beslissende ding, toe ek verplaas is na Tokyo a.g.v. my werk. Daar het ek toe begin inskakel by RCJ Tokyo Bay gemeente. Die predikant, ds. Taka Ashida het vir my gevra: “Hoe wil jy die een aardse lewe wat jy ontvang het, aan die Here offer?” Ek was verstom deur dié direkte vraag waarvan ek nie kon ontvlug nie. Ek het hom nie op daardie dag dadelik geantwoord nie, maar in my hart was ek sterk oortuig en vervul met die behoefte om na die kweekskool te gaan. Ook in my gebede was my versugting daarna: “Here, as dit U wil is dat ek myself volledig aan U moet toewy, maak dit vir my glashelder.” Toe my (maatskappy) werk is beëindig is, het ek gedink: “As hierdie ook deel van die Here se roeping is, kom ek klop aan die deur”. Ek het met ons leraar (ds. Ashida) gaan gesels. Dit was eintlik ná die sperdatums reeds verby was vir aansoeke by KRTS, maar hulle het my tegemoet gekom en as buitengewone student aanvaar wat alle vakke kan neem.

Ek besef om by die kweekskool te studeer is ‘n harde pad wat baie opoffering vra. Maar, deur die leerproses hoop ek om myself as sondaar grondig te leer ken, my verhouding met Jesus te verdiep en uiteindelik bruikbaar te wees vir die kerk. As die Here wil, sal ek ná die eerste jaar oorskakel en as gewone student voortgaan. As ek daarna uiteindelik die (4-jaar) kursus voltooi en as leraar beroep word, weet ek die pad is steil in die kerk, met baie uitdagende realiteite. Maar ek weet ook dat daar regtig baie mense is wat – soos ek in die verlede – (miskien selfs) onbewustelik soek en dors na God, “soos ‘n hert na water in dorre streke”. Daarom is ek nou oortuig daar is (vir my) niks meer kosbaar as om te kan deel wees van die werk om God se Woord uit te dra nie, soos Paulus aanhaal: ““Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring” (Rom. 10:15). Ek glo die Here sal my pad tree vir tree voorberei, daarom wil ek dit aan Hom toevertrou. 

(geskryf deur Masashi Toyoda, vertaal deur Stéphan van der Watt)
(krediet vir onderste foto’s aan Izumi Matsumura – Sakura (bo) en Boke (onder))

Nuusflits 24 Maart 2021

Groete uit Kobe, waar die eerste Sakura bloeisels groot belofte inhou vir die lente skouspel wat kom.

Die doel van hierdie nuusflits is om kortliks te deel oor onlangse gesprekke en besluite deur Missie Japan se leierskap, én om ‘n spesiale versoek te rig in die lig daarvan.

  • Ná lang maande van wag, stapels papierwerk en baie ekstra onkostes, het ons alle nodige paspoort hernuwings asook die nodige visums ontvang, vir ons as gesin. Baie dankie vir elkeen wat saam gebid het daarvoor!
  • A.g.v. die globale situasie rondom entstowwe en vertragings in inentings-skedules in Japan, is daar besluit dat ons nie onbepaald kan aanhou wag nie, maar so gou moontlik Suid-Afrika moet besoek.
  • Ná 4 jaar van werk in Japan, is die huidige plan om van vroeg Junie tot vroeg November vir 5 maande in SA te wees vir terugvoer aan ondersteuners, besoeke, rus, studieverlof ens.
  • Covid-19 se finansiële impak op Missie Japan is uitvoerig bespreek. Kortom: die verreikende effek van dalende bydraes en swak wisselkoerse (skerp dalende Rand-waarde) oor die afgelope jare, is nou dieper as ooit blootgelê. 
  • Gesprekke en planne oor die volhoubaarheid van Missie Japan se werk hier, is nou dringend nodig. Terselfdertyd is ons regtig dankbaar vir elkeen wat ons hande nie gelos het in die middel van die krisis nie.

Tyd sal leer of ons wel die langverwagte besoek sal kan uitvoer soos nou (vir die derde keer!) beplan word. Intussen werk ons volstoom voort hier, ter voorbereiding van die nuwe jaar wat 1 April begin. Die afgelope maande se deurlopende gebed van ons kinders aan die etenstafel is: “Here, as dit U wil is, laat ons hierdie jaar na SA kan gaan.” 

En nou vir die versoek, soos genoem: 

  • Ons gaan soms ‘n groot motor moet huur in SA, om as gesin saam te kan reis. 
  • Kort voor ons vertrek uit Japan, moet ons ‘n PCR-sertifikaat hê om te bewys dat al 6 van ons negatief getoets het vir die virus. Dit kos ongeveer R4000/persoon

In die lig van wat ek hierbo gedeel het rakende die finansiële knyptang, is dit moeilik vir Missie Japan om te begroot vir dié tipe addisionele kostes. Daarom neem ons vrymoedigheid om te vra of daar dalk individue / kleingroepe / gemeentes is, wat hierdie uitgawes as spesiale projek wil aanneem voor ons koms. Kontak ons gerus hieroor as jy/julle hierby wil betrokke wees.

Ons is diep dankbaar vir elkeen wat aanhou bydra, ons emosioneel dra en volhard in gebed, te midde van groot nood en uitdagings in eie midde.  

Geseënde Groot Lydensweek en Paasfees!
In Christus, ons opgestane Here.

Stéphan, Carina, Annlie, Cornelius, Lodewyk en Stephan


OLIVIERS NEEM AFSKEID

Op ‘n heel ander noot … ná 12 jaar van vrugbare bediening as Engelse onderwysers en sendelinge van Missie Japan, het Gys en Linda Olivier groot en moeilike besluite geneem oor hulle toekoms. Hulle is oortuig dat hulle tyd by Seiwa Christen-skool, en hulle amptelike band met Missie Japan en die RCJ Shikoku ring, om verskeie redes tot ‘n einde gekom het.
Ons het baie gesprekke met hulle gevoer hieroor die afgelope tyd en is hartseer om van hulle afskeid te neem. Terselfdertyd is ons saam met hulle bly oor die vooruitsig van ‘n nuwe hoofstuk in hulle lewens by ‘n skool in Sendai, Japan.

Ons kinders (hieronder saam met Linie en Johan) kon mekaar oor die naweek sien vir die eerste keer in ‘n lang tyd en het ‘n hond uit ‘n bos uit gespeel.
Dank saam met Missie Japan die Here vir die Olivier gesin se groot werk oor 12 jaar, en vra saam vir Sy seën op hulle nuwe pad.

Gys en Linda, met Linie en Johan

Nuusflits – 9 Maart 2021

Laasweek het ek die Nagtegaal weer hoor sing, ná ‘n lang winterbreuk. Dis altyd die helderste teken dat die lente nou begin aanbreek. Met die draai van die seisoen, ‘n paar gedagtes en gebedsversoeke tussen-in.

Graad gevang, nou bediening toe

Gegradueerdes by by KRTS se gradeplegtigheid (2 Maart 2021)

Verlede week was ons gradeplegtigheid by KRTS, ná ‘n buitengewone (akademiese) jaar wat ten einde geloop het. Die uniekheid en verskeidenheid van vanjaar se vyf afgestuurdes studente (voortaan leraars) is besonders. Hulle (op die foto hierbo) sluit in:

‘n Middeljarige man wat ‘n paar jaar gelede, ná mislukte besigheids-pogings en ‘n egskeiding wou selfmoord pleeg, maar toe weer geroep is en van nul af begin het by KRTS.

‘n Uitgetrede onderwyseres met drie volwasse kinders wat die laaste jare van haar lewe heelhartig wil wy aan bou van ‘n nuwe gemeente op die platteland. Ek het haar skripsie begelei wat gehandel het oor ‘n nuwe kategese program vir die RCJ.

‘n Koreaanse sendeling met ‘n passie vir kerkplanting, wat nie sy nuut gestigde gemeente kon verlaat tydens sy studies nie, nie maar pal vêr gependel het na Kobe, moes sy vrou alleen laat kraam in Korea. Hy kon (vier maande ná haar geboorte) nog nie sy dogter ontmoet nie, a.g.v. Covid-19 reis beperkings.  

‘n Jong man wie se pad by KRTS ‘n ekstra jaar moes insluit (5 jaar in totaal) vanweë sielkundige probleme en ander uitdagings op sy pad. Om ‘n klein bietjie by sy persoonlike groei deur worsteling betrokke te kon wees, was ‘n reuse voorreg.

‘n Leraar wat na 10 jaar in die bediening a.g.v. uitbranding die bediening moes verlaat om deur meer as twee jaar se studies en rus weer sy roeping moes terugvind.

Bid saam met ons vir hulle wat nou oppad is na gemeentes (een wag nog op ‘n beroeping) wat self swaar getref is deur Corona en sukkel om te oorleef. Mag hulle ‘n lewegewende verskil maak – te midde van hulle eie gebrokenheid – op die lang en eensame pad van kerklike bediening in Japan.

Ons groet ‘n afgestuurde student by KRTS

 3.11 Rampgebeure

Die wonde van die drie-dubbele ramp van 11 Maart 2011 (ook bekend as 3.11 in Japan) word oormôre in herinnering geroep. ‘n Dekade gelede het ek ‘n nood-flits so begin: “Ons is saam met ons broers en susters in Japan stomgeslaan. Maar ons glo hierdie krisis is ‘n geleentheid – veral vir die handjievol Christene (1%) in Japan – om op baie praktiese maniere die evangelie van Jesus Christus se hoop te deel. Sodat baie mense opnuut kan besef dat: al is hulle op die grond neergegooi, hulle nie vernietig is nie. (2 Kor. 4:9)” Ons was op verskeie maniere betrokke gewees by ramp slagoffers deur die jare.

https://japantoday.com/category/national/Tsunami-scars-linger-a-decade-later-in-Tohoku-region
‘n Verslae slagoffer kyk na die tsoenami se verwoesting by Onagawa

Daar is steeds, ná ‘n volle tien jaar, enkele vrywilligers (o.a. ‘n Koreaanse sendeling kollega) wat betrokke bly by ramp-geteisterdes. Bid saam met ons dat die getuienis van omgee en uitreik oor die langtermyn vrug sal dra.

Missie Japan vergadering

Vanmiddag het ons ZOOM vergadering met Missie Japan leiers in Suid-Afrika. Daar is gewigtige sake wat bespreek moet word, van finansiële uitdagings tot deputasie moontlikhede t.m.v. Covid-19 entstof vertragings ens. Bid asb. saam vir wysheid, leiding en kreatiewe idees in hierdie gesprekke.

Met diep waardering vir jou volgehoue betrokkenheid en ondersteuning.

Vrede en vreugde, 

Stéphan, Carina en gesin

Nuusflits – 3 Febr 2021

Onseker en onvoorspelbaar. Ek vermoed dis twee woorde en werklikhede waarmee jy ook onder andere worstel. Wees verseker van ons gebede en verbondenheid, met die tweede vlaag se sterk terugslag in SA in die afgelope weke. 

Jaar skop vroeg af teen stywe pas
Ons jaar se werk het op 4 Januarie hervat nadat ons in die kort Kersfees breuktyd met Jan Tuisbly se karretjie gery het. Intussen het ons betrokkenheid by KRTS en RCJ Kita Kobe gemeente ook onverpoos voortgegaan – hetsy in persoon of aanlyn – soos die foto’s hieronder getuig. 

Video om te deel
In die video – kliek hierbo – deel ek ‘n paar gedagtes oor die begin van die nuwe jaar, vanuit Kobe. Neem asb. vrymoedigheid om dit wyer te deel, en laat weet my gerus as jy dit liewer via WhatsApp wil ontvang.

Krisis as geleentheid
Die Corona krisis wys duidelik uit hoe interafhanklik ons mensdom is van mekaar, en terselfdertyd hoe diep verskeurd ons wêreld is, veral m.b.t. tot verkryging van entstowwe.

Maar, die krisis bring nie net nuwe gevare na ons voorstoep nie. Dit bied ook die geleentheid vir ons as gelowiges om diep oortuig te leef met die onverganglike, lewende hoop van Christus. Dis ‘n hoop wat nie deur wisselvallige omstandighede of selfs uiterste beproewing en dood, kan verwelk of verdun word nie. Dié unieke hoop bring ons voor die keuse om met vreugde te volhard in swaarkry. Ja, rotsvaste Christelike hoop  misken nooit ons verliese, trauma of teleurstelling nie, maar oorstyg dit wel verreweg! (Rom. 5:1-5).

Mag jy ook opnuut die veerkragtigheid ontvang, en deur hierdie krisis groei in geloof, om in jou broosheid en pyn weer en weer op te staan, al voel jy soms afgemat en platgeslaan.

Ons bly afhanklik van jou gebede en ondersteuning.
Baie dankie dat ons daarop kan reken in hierdie krisis-geleentheid!
 

Vrede en seën,
Stéphan, Carina, Annlie (13), Cornelius (11), Lodewyk (9) en Stephan (7).

GEBEDSVERSOEKE
DANK DIE HERE SAAM MET ONS VIR:
* Vyf KRTS studente wat binnekort gradueer en oppad is na gemeentes wat hulle werk broodnodig het.
* Gereelde, bemoedigende kontak met ondersteuners wat regtig ons welsyn op die hart dra.
* Carina se gesondheid t.m.v. voltydse tuisonderrig, huistake, omgee vir mense in ons gemeente ens.
* Stéphan se klasgee, preke, Zoom-vergaderings as deel van die RCJ se sinodale- en ringswerk.

VRA SAAM MET ONS VIR SY SORG EN GENADE VIR:
* Die verkryging van ons visum waarvoor ons reeds 3 maande wag.
* Wysheid en leiding, ook vir Missie Japan leiers, oor die tydperk van ons beplande deputasie besoek aan SA.
* Ons kinders se groei (geestelik-emosioneel) en hulle vriendskappe hier t.m.v. minder kontak a.g.v. Covid-19.
* Elmar en Nadine Du Rand se Japannese taalstudies.
* Gys en Linda Olivier se lewe en werk by SEIWA Christenskool in Kochi, Shikoku.

Kersfeesflits Des. 2020

Ons het ons planne gehad vir 2020, en hóé! Ons besoek aan Suid-Afrika was onder ander haarfyn uitgedink. Noodeloos om te sê, dinge het radikaal anders uitgewerk. Die Here het beter geweet en ons vooruit gegaan. 

Vanjaar was taai in vele opsigte en om uiteenlopende redes. Ek vermoed elke een wat hierdie stukkie lees, kan saampraat. Ons leer daaruit dat ons maar bitter broos is, en baie min weet of kan beheer. Ons is herinner aan die nabyheid van verlies en die dood. In Japan is die realiteit dat meer mense in Oktober vanjaar selfmoord gepleeg het, as wat gedurende die hele 2020 gesterf het aan Covid-19. Lees hier meer. Dit plaas dinge in perspektief en wys dat die nood veel dieper is, as wat die virus kan blootlê. Angs, wanhoop en ‘n gebrek aan lewenssin skuil in baie mense se lewens.

En tog is dit nie als donker nie. Carina skryf hier onder meer hieroor. Lees dit gerus en dink saam met ons na oor die wonder van Kersfees in Japan. 
Kyk ook na die kort video (kliek net op die PLAY knoppie) …


Ons as gesin se gedagtes en gebede was en is deurentyd by julle in Suid-Afrika. Met ons as gesin gaan dit goed, te midde van die uitdagings op ons tafel. Heelwat meer van ons lewe en bediening het vanjaar aanlyn gebeur, van vergaderings tot jeug-saamtrekke. Maar die meeste van ons werk by KRTS en Kita-Kobe gemeente kon in persoon voortgaan, met streng matreëls in plek om almal se gesondheid te probeer beskerm. As ons buite die huis is, is maskers nog al die pad ‘n gegewe. Japan se derde vlaag infeksies neem toe en niemand kan bekostig om net gewoonweg aan te gaan nie. Ons bly waaksaam.

Ons dink met diep dankbaarheid terug aan ‘n geseënde jaar, verál ook te danke aan ondersteuners soos jy wat ons bly dra en bemoedig. Mag jy in hierdie dae uit Christus se oorvloed genade op genade ontvang (Joh. 1:16)!

En dan gesels ons weer vroeg in die nuwe jaar oor 2021 se moontlike besoek.
Ons beplan om vir 5 maande in SA te wees, tussen April en September. 

Geseënde Advent en Kersfees, In Christus ons Here.
Stéphan, Carina, Annlie, Cornelius en Lodewyk

n JAPANNESE KERSFEES WONDER

Neuspunt. Vingerpunte. Tone. 
 
Dis die ekstreme dele van ons liggame wat yskoud vries en lank vat om te ontdooi hier in Kersfeestyd in Japan. Ons dwing onsself egter om van onder die warm sagte duvet uit te klim en dit te waag in die ysige, donker-winter buite die huis. Ná die aanvanklike pyn aan al die punte van ons lywe, kan ons diep teue inasem en ‘n vreemde vreugde vind in die stil winterkoue rondom ons
(veral as ons weer naby die huis kom!). 
 
Winters in Japan is koud. Miskien is dit meer die aanvoelbare temperatuur. Meestal is dit grys dae, kaal bome en ‘n skraal windjie – soveel anders as die koue oggende en nagte, maar sonnige dae van Suid-Afrika se winters in Junie/Julie. Anders as met huise in Suid-Afrika is moderne Japanese huise nie baie temperatuurvriendelik nie (baie vensters, glasskuifdeure en min insulasie). Miskien is die samurai gedagte ook in die argitek se kop, want hier moet ‘n mens vasbyt – somers en winters. Behalwe op die Noord-Oostelike eiland, Hokkaido, is daar meestal nie sentrale verhitting in huise nie, en gasstowe of lugversorgers hou kamers warm. Dus is die een kamer heerlik warm, maar sodra jy die deur oopmaak en gang afloop na ‘n ander kamer, loop jy jou vas in ‘n muur van koue. Gelukkig is daar klein, uiters gerieflike genadetjies. Hier is daar nie gehekelde toilet sitplekke as verwarming nie. Die toilet sitplekke word outomaties verwarm! 
 
Vir mense in die Suidelike Halfrond is die tradisionele warm see-vakansie eie aan Kesfees, vol lig en warmte en kokosneut sonskerm reuke. Die koue Kersfees van die Noord-lande val vreemd op die oor. Dis soos wanneer ons in die versengende somershitte van Julie/Augustus hier in Japan, drupnat van die sweet op Whatsapp Video call met ons ouers praat, en sien hoe hulle met warm truie en serpe en kombersies by kaggels sit. Ondenkbaar. Na ons ongemaklike somers omhels ons egter die winters. Kaneel geure, kerse, feetjieliggies in bome en by die voordeur, hot chocolate en koffie. Snoesige komberse op ons rusbanke. Vere duvets op ons beddens. Elke oggend kyk ons na ons temperatuurmetertjie en bestudeer ons wolkpatrone. Want miskien is vandag ‘n sneeudag! 
 
En nog een groot voorreg …
Die koue en donkerte maak dit vir ons maklik om iets wonderbaarlik te onthou. 
 
Destyds het God ‘n besondere donker tyd in die geskiedenis gekies om die antieke professie tot vervulling te bring. En die volk van waaruit die Verlosser gebore sou word, het gely. Herodes het hulle swaar belas en was wispelturig en wreed, soveel so dat hy elke seuntjiebaba voor die voet vermoor het. 
 
Maria was jonk, arm en ‘n Jood! En baie rondom haar het haar beskou as ‘n los meisie. Selfs Josef het ‘n engel nodig gehad om sy hart te verander. Hoogswanger en dodelik ongemaklik moes Maria met ‘n donkie na Betlehem. Geen skoon, steriele wit hospitaalmure en bed nie. Vuil en ongemaklik. Donker. God kies die onwaarskynlike donker tye en omstandighede om die lig te bring. In ‘n gehawende gehuggie… Híér skyn die helder ster en verklaar God dat die Koning van alle Konings gebore is … voor verdwaasde, ongeletterde skaapwagters. 
 
Ook in die somerKersfees van Suid-Afrika is dit donker en koud vir baie. Hier in Japan, maar ook daar in Suid-Afrika, lê die vrees en siektes en hartseer swaar op ons. Ons voel swak, onseker, bang en soms kwaad…Donker. Maar God kies aspris die donker. Binne ons ongemak en lyding verskyn die lig.
Immanuel. God is met ons. 
 
“Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is.” (Lukas 2: 10) … “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” (Matteus 28: 19,20)
 
Moenie bang wees nie, maar verkondig dit aan die hele wêreld…aan die Japannese…en in Afrika, Rusland, Nieu-Seeland en oraloor: God is met ons.

Nuusflits 11 Nov. 2020

MEER AS NET ‘N KLEUR:

Ontdek só die godsdiens en kultuur in Kyoto

Fushimi Inari Taisha, die hoof Shinto tempel in Kyoto se ingangspoort (torii)
Die oes-seisoen: dís hoe die herfs bekend staan in Japan. Kort voor die diep herfs verwinter, is ontelbare variasies van oranje, geel en rooi alomteenwoordig. Van die bome se blare tot by die suikersoet kaki (persimmon) vrugte wat oral wag om gepluk te word. Maar kleure is meer as net skakerings van lig. Dit verteenwoordig en beteken iets unieks vir Japannese mense. In dié nuusflits verken ons een daarvan: oranje.
 
Kyoto
Ons het onlangs ‘n tuisskool uitstappie na die kulturele hart van Japan geniet, na Kyoto, net ‘n uur en ‘n half van ons huis af. Die misterie van dié land se geskiedenis en godsdiens het ons opnuut getref. Bamboeswoude, kastele en tempels was onder andere deel van ons ontdekkingstog, insluitend Fushimi Inari Taisha. Dis die hooftempel uit meer as 30 000 ander Shinto tempels in die land, en is reeds in 711 n.C. gebou! Een inskrywing beskryf die god van die oes aan wie dié tempel gewy is, soos volg: “’n god wat ons voed en vir ons klere en huise gee en ons beskerm … van die keiser tot gewone mense … sodat almal gelukkig kan wees en oorvloed kan geniet” (http://inari.jp/en/saijin/)
 
Ingange word oorgange
Die helder oranje torii (ingangspoorte) is oorweldigend in statuur en getal. Hierdie ingange merk die oorgang tussen ons tydelike wêreld en die heilige woongebied van die gode. Die tog onderdeur die tonnels wat die tempel se ingangspoorte vorm, word beskou as ‘n ritueel van reiniging, ‘n belangrike element van Shintoïsme. Elke seisoen bring sy eie kleure en geure deur die jaar, maar nooit ontbreek daar aanbidders in oormaat hiér nie. 
  
In die Edo era (1603–1867) het die gode van die imposante tempel bekend geword vir hulle vermeende krag om suksesvolle besighede en vredevolle huishoudings te verseker. Vandag nog, selfs te midde van die Covid-19 pandemie, taan die toestroming van besoekers nie, maar kom mense juis vra om van die ongeluk daarvan beskerm te word. Wanneer aanbidders se wense vervul word, skenk baie invididue of maatskappye ‘n peperduur neon oranje torii, in ruil vir die gode se goedheid. Op dié manier het die ingange al langs die kronkelende tonnel paadjies teenaan die voet van die berg Inari, aangegroei tot ongeveer 10 000 – groot en klein – in gelid! 
 
Die taal van oranje 
Tradisie vereis dat die tempel se kleure en die torii altyd helder oranje geverf word (ook bekend as vermillion in Engels). Dié kleur – amper identities aan die onweerstaanbaar lekker kaki (vrug) bome rondom die tempel – is skynbaar in staat om bose magte af te weer, en word van ouds af gebruik vir Japannese paleise en tempels. Op dié manier kommunikeer die blote kleur van dié heiligdomme iets van die spiritualiteit van miljoene Japannese … en word die ingangspoorte ‘n spreekbuis vir aanbidders se dankbaarheid en hoop, vir welstand en leiding om uitdagings in die hier-en-nou te trotseer … 
 
Ek dink onwillekeurig aan die preek uit Kolossense 1:15-20 waarmee ek die afgelope dae worstel. En aan die Here van die Oes in Japan: Christus, unieke Middelaar tussen ons en God. Heerser oor elke mag en gesag. Almal se direkte Ingang tot die lewende God. Wie se rooi bloed aan die kruis versoening en vrede vir elkeen losgekoop het. Gratis.

Dis hierdie God aan wie Japan en al haar mense behoort. Nie aan die keiser of die Shinto son-god nie, al het miljoene Japannese dié goeie nuus nog nie gehoor of aangeneem nie. Hoe deel mens die evangelie in ‘n konteks soos dié? Respekvol. Geduldig. Kultureel ingelig en sensitief. Vrymoedig. Dis waarvoor ons ons hier beywer en toewy.

Baie dankie vir elkeen se volgehoue ondersteuning en gebede, dit dra ons!

Vrede en vreugde,
Stéphan, Carina en gesin

GEBEDSVERSOEKE
DANK DIE HERE SAAM MET ONS VIR:
* Missie Japan se onlangse jaarvergadering(s) via ZOOM.
* Volgehoue finansiële ondersteuners se bydraes t.m.v. krisistye.
* Geseënde kwartaal by KRTS t.m.v. Covid-19 inperkinge.
* Gesondheid t.m.v. genoeg werk en bedienings-verantwoordelikhede.

VRA SAAM MET ONS VIR SY SORG EN GENADE VIR:
* Paspoort en visum aansoeke wat bepalend is vir ons 2021 besoek aan SA. 
* Carina se gesondheid t.m.v. slaapsteurnis, tuisonderrig dagtake, gasvryheid ens.
* Stéphan se klasgee, preke, Zoom-vergaderings, RCJ se sinodale- en ringswerk.
* Ons kinders se groei (geestelik-emosioneel) en hulle vriendskappe hier.
* Elmar en Nadine Du Rand se Japannese taalstudies en beide se pa’s herstel ná ernstige operasies.
* Gys en Linda Olivier se lewe en werk by SEIWA Christenskool in Kochi, Shikoku.

Nuusflits 7 Okt. 2020

HOU MOED!

元気を出しなさい!

Gedagtes oor die lewe uit Kobe se herfs

In hierdie nuusflits deel Carina haar ervaringe van die afgelope tyd. Ons gebedsversoeke volg aan die onderkant. Baie dankie dat jy saam bid en meeleef.

In verbondenheid, 
Stéphan

———————————————

Vroeg Oktober. Elke skemeraand wanneer ek gaan stap ruik ek die ongewone kombinasie van sojasous en soetpatats en miso (gegiste boontjies). In herfs-Japan is pers patats met hul ryk, geel binnekante soveel goedkoper – R10/elk in plaas van R20! 

Ek stap deesdae in die aande om myself ordentlik moeg te kry en ook om my malende gedagtes te beveg. Op een of ander manier het ek in ’n kringloop van slapeloosheid verval. Ek vermoed dit is jare van vinnig beweeg en ‘n te-veel-wil-doen mentaliteit, gekombineer met emosies wat deur ons almal in hierdie vreemde tyd bruis. Of dit kan iets heeltemal anders wees. Die mens is immers kompleks!

My Hoopstad vriendin gee raad dat mense wat geneig is om dinge ‘met die kop te voel’, juis eerder sensoriese hawens moet skep met ’n bepaalde, positiewe inhoud. In plaas van gedagtes wat spiraal na negatiwiteit of net doelloos kolk, kan jy eerder doelbewus dink aan ryk, vervullende herinneringe. So stil jy jou gedagtes en word jou liggaam rustig.

Terwyl ek hieroor nadink, ruik ek Japanese aandetes deur vensters se warm gloed. Ek ervaar dadelik diep vervulling. Net die inasem van geure voel soos om onder ’n sagte warm kombers in te krul en omvou te word met iets goeds enversorgend. Ek kies dit as my slaap-gedagte: warm rooi-oranje herinneringe wat flikker met sekuriteit en versorging, gevul met kosreuke.

My familie was nog altyd vir my ’n ekstra veilige hawe – waar ek versorging, volledige sekuriteit en betekenis ervaar het. Ek was een van daardie rare tieners wat ’n aandjie saam met familie verkies het. By die huis was ons fokus voorwaar op kos … maar ook op idees. En in daardie ruimte is twyfel en worsteling met idees nie veroordeel nie, maar aangemoedig. Geen wonder ek assosieer kosreuke van ander se potte as versorgend en betekenisvol nie.
Buiten vir my ouers se versorging op ’n fisiese en intellektuele vlak, het hulle radikale oorgawe aan God die rotsvasheid van my kinderjare onderstreep. God was en is die rots vir my ma en pa. Is dit nie waar dat ons in die mees intieme ruimtes mekaar die seerste kan maak, OF ’n erfenis van diep, lewegewende energie kan gee nie?

In Mere Christianity skryf CS Lewis van die vier kardinale deugde wat die hele wêreld deur die eeue as algemeen aanvaar het: Verstandigheid, Regverdigheid, Matigheid, en MOED.

MOED…

Nou die dag noem my ma dat sy sukkel om die Here te prys wanneer dit met haar goed gaan, want sy wonder of sy dit sal regkry om Hom te prys as dit regtig sleg gaan…as ’n groot storm oor haar kom. Ds. Nezu, ons tuisgemeente sepredikant, preek verlede Sondag uit Handelinge 27. In vers 13 lees ons van Paulus wat seil met ’n ligte bries, wat hulle help om vlot te vaar … maar dis nie lank nie, toe waai daar ’n stormwind en almal is in wanhoop. 

Is ons nie geneig om te dink dat die stil, rustige wind dieeen is wat ons werklik verdien nie … asof God ons dit skuld? Diep binne ons voel ons dit hoort so. Jona en Paulus het albei woeste storms in bote ervaar. Jona was die oorsaak van die storm en Paulus weer die lewensversekering van almal op sy boot. Maar die gemene faktor was in albei gevalle: God. Hy was in beheer van beide storms en beide lewens. 

Ek wonder ook of ek die Here sal kan prys wanneer die groot branders oor my sal spoel? Met net ’n effense sterker briesie en ek klou reeds klaend aan my maspaal vas. Ek weet net God kan my gees versterk. Mag ons almal versterk word sodat ons saam met Paulus met die grootste vertroue kan verklaar en ander om ons aanmoedig:
“Maar selfs in hierdie omstandighede vra ek julle:
Hou moed! 元気を出しなさい(Genki wo dashinasai). (Handelinge 27:22).

Carina Van der Watt

cvdwatt@gmail.com

Stephan eet patat

GEBEDSVERSOEKE
DANK DIE HERE SAAM MET ONS VIR:
* Gesondheid t.m.v. genoeg werk en bedienings-verantwoordelikhede.
* KRTS studente wat wag op beroepe na gemeentes, ander wat psigies-emosioneel swaar trek.
* Gereelde, bemoedigende kontak met ondersteuners wat regtig ons welsyn op die hart dra.

VRA SAAM MET ONS VIR SY SORG EN GENADE VIR:
* Missie Japan se jaarvergadering op 14-15 Oktober via ZOOM.
* Carina se gesondheid t.m.v. slapelose nagte, tuisonderrig dagtake, omgee vir mense in ons omgewing ens.
* Stéphan se klasgee, preke, Zoom-vergaderings as deel van die RCJ se sinodale- en ringswerk.
* Ons kinders se groei (geestelik-emosioneel) en hulle vriendskappe hier.
* Elmar en Nadine Du Rand se Japannese taalstudies en Nadine se pa se gesondheid (hy word vandag (7 Okt) ge-opereer).
* Gys en Linda Olivier se lewe en werk by SEIWA Christenskool in Kochi, Shikoku.

Diaconia en Missie Japan – September 2020

Die afgelope paar jaar het die vennootskap rakende diakonale projekte – tussen die NG Kerk familie in SA (NGKSA) en die Reformed Church in Japan (RCJ) – toenemend verdiep en uitgekring. Ons is regtig opgewonde en dankbaar hieroor en sien dit as ‘n sentrale dele van ons werk en roeping om die brûe oor en weer te versterk. Uiteindelik staan die verhoudinge en samewerking in diens van die mees weerlose mense in die onderskeie lande en gemeenskappe.

Daar is te veel om oor te berig, maar lees gerus hier meer oor onlangse verwikkelinge in dié verband, soos vervat in die 11 September uitgawe van Vrydagnuus, die amptelike nuusbrief van die NG Kerk in Wes-Kaapland.

https://t.e2ma.net/webview/p44ugi/1614d2279c28b067a83147eb4e044386

Die bostaande inligting is verskaf deur Dr. Nioma Venter, Predikant in Sinodale Diens (PSD) van Diaconia – http://www.diaconia.co.za

Missie Japan werk nou saam met Diaconia, asook met die Vennote in Getuienis, onder leiding van Dr. Nico Mostert, as deel van die NG Kerk Vrystaat se bedieninge, waaronder Missie Japan resorteer – http://www.ngkerkvrystaat.co.za/oor-ons.php

LEES HIERONDER ‘N ONLANGSE BRIEF VAN DIE RCJ AAN DIACONIA

Predikant in Sinodale Diens: Diaconia Ds. Nioma Venter

Prys die vertroostende en bemoedigende Naam van ons Here, Jesus Christus

Ons is diep dankbaar vir die onlangse verslag wat u met ons gedeel het (op 3 Julie 2020), rakende die gesamentlike taakspan van die NGKSA en VGKSA se Diaconia respons op Covid-19, met uitvoerige verwysing na die oorhoofse strategie en uitkomste (getiteld: DIACONIA RESPONSE TO COVID-19 – THE FIRST 100 DAYS: OVERALL STRATEGY AND OUTCOMES).

Ons het daarná verneem van u eie Corona-virus infektering en die gepaardgaande hospitalisasie en kwarantyn. Hoe gaan dit nou met u gesondheid? Ons is opnuut en pynlik bewus van die bedreiging wat die Covid-19 pandemie inhou vir elkeen van ons, waar ons onsself ookal bevind. Ons bid vir die bewaring van u gesondheid en vir die werk wat aan u toevertrou is.

Deur u verslag te lees, is ‘n klein skrefie vir ons oopgemaak op die noodlenigingswerk en liefdesdiens wat deur veelvuldige, praktiese ondervinding en weldeurdagte intervensies op grondvlak oor jare opgebou is, vanuit die NGK-familie binne die Suid-Afrikaase samelewing. Dit blyk duidelik dat daar: (1) goed voorberei is om hierdie tipe diakonale werk op ‘n geïntegreerde en omvattende wyse aan te pak, in konsulterende samewerking met die SARK, plaaslike regerings- en nie-regerings-organisasies, ten einde inter-kerklike LEAN netwerke te vorm; (2) na aanleiding van die onderskeie streke se behoefte-bepalings resultate, uitvoering gegee kon word aan gepasde ondersteuning o.g.v. ‘n prioriteitslys. Dit het ons onder die indruk gelaat van hoe diep die NGK-familie se wortels lê binne die SA samelewing en dat hierdie noue verbintenis – wat tussen kerk en samelewing oor jare uitgebou is – deurslaggewend was vir die verrigting van dié werk.

Daarteenoor is die Covid-19 respons vanuit Japan, waar kerke se geskiedenis maar nog vlak lê en daar minder as 1% Christene is, meer toegespits op kwessies binne die kerk, as op ondersteuning in die samelewing na buite. In Japan bestaan meeste gemeentes uit ‘n gemiddeld van ongeveer 30 lidmate, en dié met 100-200 lidmate word as makro gemeentes beskou. Derhalwe was dit vir kerke in Japan onder hierdie omstandighede, eers van dringende belang om te besin hoe om die aanbiddings-gemeenskap te onderhou en lidmate se geloofslewe een-vir-een te ondersteun, terwyl Covid-19 (gewone) eredienste onmoontlik gemaak het.

Ons, as die Christelik Gereformeerde Kerk in Japan (RCJ) se Sinodale Diakonale Aksie Kommissie, se hoof werksaamhede is soos volg:

  1. Om die huidige realiteit kalm te benader en aanvaar; gemeentes te bemagtig met inligting t.w.v. dievoorkoming van Covid-19 infektering asook om hulle bewustheid te verskerp.
  2. Om, binne die inperkings en beproewinge wat Covid-19 meegebring het, gemeentes se geestelikeingesteldheid te versterk en bemoedig, ten einde werklik ‘n kerk te wees wat aanbidding sentraal tot dielewe verstaan.
  3. Om vanuit die onderskeie gemeentes, inligting rakende hulle huidige situasie en uitdagings te versamel enna die hele RCJ (ongeveer 140 gemeentes) te herlei.Rakende bg. 1 het ons vanaf begin Februarie tot begin Maart, drie keer inligting getiteld ‘Wees waaksaam oor Covid-19 infektering’ uitgestuur na gemeentes. Dit het die volgende kwessies gedek – praktiese voorsorgmatreëls om infektering te voorkom; wat om te doen in geval van infektering; reëlings t.o.v. begrafnisse; wenke t.o.v. skakeling met plaaslike regering en gemeenskaps-organisasies ens. – en het plaaslike gemeentes bedien met inligting en materiaal ten einde plaaslik onderskeidend te handel.

T.o.v. bg. 2 het ons aan die begin van April, kort voor die regering Japan se landswye noodtoestand verklaring uitgereik is, ‘n dokument uitgestuur getiteld ‘’n Geloofsgids hand-aan-hand met Covid-19 infeksie voorkomingsmatreëls’. Die gedagte daaragter was om gemeentes te bemagtig in die langtermyn uitdagings wat voortaan verwag word, om riglyne te bied en só die kerk toe rus om die hele gebeure as ‘geestelike stryd’, vanuit ‘n geloofsperspektief, aan te pak.

Rakende bg. 3 het ons vanaf Maart, weekliks of twee-weekliks, vanuit die onderskeie gemeentes inligting rakende hulle huidige situasie en uitdagings versamel, en waar nodig opsommings daarvan na die hele RCJ (ongeveer 140 gemeentes) herlei. Die inligtingstuk is getiteld: ‘Huidige situasie rakende Covid-19 infekterings- respons’ en ons is steeds besig met die uitstuur daarvan, tans op ‘n drie-weeklikse basis.

Met die einde van Covid-19 wat nog geensins in sig is nie, en binne die raamwerk van voorspellings wat dui op uitgerekte, langtermyn gevolge, besin ons tans oor moontlike voortspruitende kwessies. Ook in die Japannese samelewing blyk dit dat armoede sal toeneem met gepaardgaande groter nood vir finansiële ondersteuning aan dié wat (ekonomies) weerloos is. Dit lyk dus asof die oorstyging van konflik en dieper skeuring a.g.v. beskerming van self-belang, ‘n kwessie is waaraan ons sal moet aandag gee.

Die Chinese skrywer ‘Fang Fang’, wie se dagboek aantekeninge getiteld “Wuhan Diary: Dispatches from a Quarantined City” handel oor die grendeltyd in Wuhan, het oor die Covid-19 situasie soos volg geskryf: “Die kriteria vir ‘n land om haar beskawingspeil te bepaal al dan nie, is beslis nie een van die volgende dinge nie: of daar baie wolkekrabbers opgerig is; of motors teen topspoed rondsnel; hoe gevorderd die wapens is; hoe sterk die weermag is; hoe ontwikkeld wetenskaps-tegnologie is; hoe uiteenlopend die kunste is of méér nog, hoe uitspattig glans-byeenkomste is, hoe ongelooflik luuks vuurwerk vertonings is, hoe geld die wêreld kan optower of die heelal kan opkoop nie. Daar is net één kriterium, dit is haar gesindheid teenoor weerloses.”

Hier word ons herinner aan Jesus se woorde: “Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.” Hoe kan die klein Japannese kerkie, met die beperkte menslike en finansiële middele tot haar beskikking, soos wat sy dieper veranker word in die ‘Evangelie van God se Koninkryk’, toenemend vir God en haar medemens ‘dien’ en die plaaslike samelewing infiltreer? Dit is die ‘eeue oue vars kwessie’ waarmee ons voortdurend besig bly.

Die bogenoemde is ‘n beknopte oorsig, oor die huidige werksaamhede van die RCJ Diakonale Aksie Kommissie, in reaksie op u verslag rakende Diaconia. Ons onderskeie kerke se geskiedenis, huidige omstandighede, die kwessies waarmee geworstel word sowel as die grootte van gemeentes, verskil. Maar, ons is dankbaar teenoor die Here onder wie se leiding ons geloofs-gemeenskap kan geniet en saam, ter wille van die bevordering van God se Koninkryk, met diakonale werk ons onderskeie kerke kan dien. Die werksaamhede van die RCJ Diakonale Aksie Kommissie is maar klein, maar ons sal graag voortaan nog dieper dinge wil leer van die NGK-familie se Diaconia.

Ons bid die Here se rykste seën op u NGK Wes-Kaap sinodale werk, insluitende die gesamentlike taakspan van die NGKSA en VGKSA se Diaconia.

Dit gaan goed met mense wat hulle krag in U vind en graag na u tempel toe gaan. Vir hulle gaan daar fonteine oop wanneer hulle deur ‘n dorre laagte trek en die vroeë reëns sy seëninge bring. Keer op keer ontvang hulle nuwe krag totdat hulle voor God in Sion verskyn. (Psalm 84:6-8)

In die Here,

Christelik Gereformeerde Kerk in Japan Sinode Diakonale Aksie Kommissie

Ds. Hirotsugu Mochida (Voorsitter)
Ds. Makio Nishi (Sekretaris)
1 September 2020
(vertaal uit Japannees deur Stéphan Van der Watt)

Nuusflits – 2 Sept. 2020

Wanneer die Japannese na iets uitsien, lui die spreekwoord (direk vertaal): maak jou nek lank en wag. Ons nekke is nou al ekstra lank van wag vir ‘n tikkie herfs ná ‘n uitgerekte en uitmergelende warm somer. En terwyl dié jaar begin kantel, strek ons ons nekke nóg ‘n entjie verder uit … in die hoop om iewers in 2021 ons voete weer in Suid-Afrika te sit, DV. Wag is nie altyd maklik nie, maar dikwels leersaam en goed – só is ons ook uit Psalm 42-43 herinner en bemoedig in dié dae.

Nuwe seisoen en kwartaal 
Ná ‘n welkome tyd van verlof is ons al ‘n rukkie terug in die tuig. Ek sou oneerlik wees as ek sê dat ons verfris voel, maar die fisiese wegbreek – wat swem, kamp en ander uitstappies ingesluit het – was vir ons goed. Dankbaar! Intussen het ons weer bedieninge in die kerk en by KRTS hervat, al is dit steeds met noodsaaklike aanpassings, voorsorgmatreëls en regulasies in plek, i.t.v. Covid-19. Ons mis die vryheid om groter groepe mense aan huis te ontvang, maar probeer om op kleiner skaal deur gasvryheid steeds verhoudinge uit te bou. En ons wag ook hierin op die Here. 

Digitale byeenkomste en ander werk
Die globale ‘nuwe normaal’ blyk vir die interim aanlyn ontmoetings te wees. Soos jy dit self seker ook aan die lyf ervaar, voel dit maar soms kunsmatig, maar ons pas aan. Ek woon deesdae al hoe meer vergaderings, gebedsbyeenkomste en konferensies aanlyn by. Selfs ons kinders se jeuggroep en somerkamp het só plaasgevind. Die uitdaging is om verbintenisse te verdiep al voel dit soms ontoereikend en meer emosioneel dreinerend. Ander werk vir sinodale en rings-komitees, jaarverslae, vertalings van korrespondensie, preke, voorbereiding van klasgee inhoud vir die nuwe kwartaal ens., gaan voort soos altyd. Carina is ook volstoom aan die gang met tuisonderrig.

Japan en die stigma van Covid-19

In ‘n onlangse vergadering met RCJ kollegas wentel die gesprek rondom die uitsonderlike sosiale druk op en verwerping van mense wat positief getoets word vir Covid-19. Groepsdruk en stigmatisering in ‘n eer-en-skaamte kultuur soos Japan, werk skrikwekkend goed. Een predikant vertel hoe twee tieners – wat onlangs binne enkele weke uitmekaar albei hul ouers aan die virus verloor het – ‘versoek’ is om die dorp (waar hy werk) te verlaat. Ons hoor soortgelyke stories by Japannese vriende en sien hoe TV-nuus, sosiale media ens. gebruik word om bv. ook besighede, instansies en Universiteit studente te laat padgee a.g.v. groep-infeksies (sg. clusters). Gevolglik toets mense hulleself eerder nie, want as hulle positief toets is die verwerping baie erger as net die uitslag van die toets!
 
Die kulturele gebruik van sistemiese uitsluiting bestaan al meer as vier eeue in Japan en staan bekend as Mura Hachibu(村八分). Dit kom neer op die straf (verwerping) van ‘n individu t.w.v. die groep se harmonie. Daar is lae en lae van sosio-kulturele betekenis verbonde aan dié ritueel om iemand uit te sluit. Gesien vanuit die evangelie, is die potensiaal van ware berou, vergifnis en versoening uiters relevant, maar dit word bitter min spasie gegun in ‘n samelewing met 1% Christene.

Baie dankie vir jou solidariteit in hierdie onstuimige tyd. Ons bly diep bewus van die reuse uitdagings in SA en leef in biddende verbondenheid met jou saam.

Vrede en vreugde,
Stéphan, Carina en kinders

GEBEDSVERSOEKE

DANK DIE HERE SAAM MET ONS VIR:

  • ‘n Geseënde somer verloftyd. 
  • KRTS studente wat landwyd kon voortgaan met internskappe tydens Julie-Augustus t.m.v. die Covid-19 uitdagings.
  • Gereelde, bemoedigende kontak met ondersteuners wat regtig ons welsyn op die hart dra. 

VRA SAAM MET ONS VIR SY SORG EN GENADE VIR:

  • Carina se gesondheid, tuisonderrig dagtake, omgee vir mense in ons omgewing ens.
  • Stéphan se klasgee, preke, Zoom-vergaderings as deel van die RCJ se sinodale- en ringswerk.
  • Ons kinders se groei (geestelik-emosioneel) en hulle vriendskappe hier. 
  • Elmar en Nadine Du Rand se Japannese taalstudies en Nadine se pa se gesondheid (hy is besig met rehabilitasie behandeling vir ‘n ernstige rug probleem).
  • Gys en Linda Olivier se lewe en werk by SEIWA Christenskool in Kochi, Shikoku.