Oor Sendeling-wees in Japan – 13 Febr. 2022

Wat Beteken dit om ‘n Sendeling te wees in Japan? 
Oor brandende bosse…en brandende harte (wat nie uitbrand nie…)

Carina (met Lodewyk) aan die woord by RCJ Tokyo Bay gemeente in Maart 2014

Dertien jaar gelede, ses maande volswanger, met ‘n 18 maande oue, hiper-aktiewe dogtertjie, was daar min tyd vir my Japannese taalstudies. Destyds het ons allerhande dinge blameer en onsself baie jammer gekry, omdat nie een van ons vier kinders goeie slapers was nie. Inteendeel, hulle het bitter min geslaap. Min slaap. Aktiewe kleuter én ‘n pap babatjie. Alles faktore wat nie veel help om een van die moeilikste tale in die wêreld aan te leer nie. Inteendeel, ek het permanent ‘n wollerige gevoel in die kop gehad en regtig onbekwaamd gevoel in my Japannees. Ook in my onvermoë om ‘n goeie ma te wees (want natuurlik het ek die slegte slaapgewoontes gekonnekteer aan iets wat óns verkeerd doen). Intussen het ek besef dat dit nie noodwendig iets was wat ons kon verander nie. Eerder miskien ‘n kombinasie van my en Stéphan se (hiperaktiewe?) gene en ‘n nodige karakterbou geleentheid.

Toe my jongste 5 raak, kon ek uiteindelik begin om met groter helderheid en doelgerigtheid weer Japannees te studeer. Ek het dit op my eie gedoen, sonder enige Japannese onderwyser wat vir my leiding gegee het. Ek moes myself daagliks motiveer te midde van ander take en mense wat my aandag vereis het, en soms was die vordering pynlik stadig. In 2020 gebeur Covid-19. En ek ontdek aanlyn taalplatforms. Van 2021 af begin ek met ‘n amper weeklikse (baie bekostigbare) Japanese aanlyn klas by Tomo sensei.

Natuurlik is perfekte Japannees of ‘n hoë vermoë nie die enigste manier om iets hier in Japan te beteken nie. Selfs met uitstekende taalkundige vermoëns, maar sonder ‘n dienende, nederige hart, kan eerder skade as goed gedoen word. Daarom kan iemand wat leergierig is en bereid is om te dien en net teenwoordig is, baie betekenisvol hier werk en die Heilige Gees kan werklik só ‘n persoon gebruik.  

Hoekom studeer ek dan selfs nou steeds doelgerig Japannees? Wel, al kon ek natuurlik basiese Japannese gesprekke voer en al moes ek al van die begin af aanbiedings, seminare of Sondagskool doen (met ‘n babatjie aan my vasgemaak); en al het ek al male sonder tal tafels vol Japanners in my huis ontvang wat géén Engels verstaan nie, is my vermoë in Japaneses direk gekoppel aan emosionele spanningsvlakke, maar ook aan ‘n dieper bruikbaarheid hier in Japan. As ‘n mens eers begin praat oor godsdiens, ekistensiële emosies en verlange het jy ‘n heeltemal ander woordeskat en bedrewenheid in Japanees nodig. (It’s a whole other ball game!)

Weekliks het ek ‘n aanlyn ontmoeting met my Japanese sensei. Ons praat oor Zen, oor Buddhisme, oor die rotstuine van Japan, oor Kyoto, en Steve Jobs in Kyoto, oor Japanese gebruike en feeste, en die lang ryk geskiedenis van Japan. En soos wat my Japanees vorder, voed dit die vuur in my hart wat soms net-net gloei. Nie net verbeter my begrip van Japanees nie, maar ek leer ook baie van hierdie diep kultuur met al sy dieper lae (vlakke). Jovald, ons Suid-Afrikaanse vriend wat Engels gee in ‘n klein dorpie ‘n uur se ry van ons af – en weekliks Sondae eredienste saam met ons bywoon, 100% in Japannees – stem saam met my: beide met die Japannese taal én kultuur, en selfs oor Japanners self … hoe meer jy leer en vorder, hoe meer besef jy hoe min jy weet en hoe baie jy nog moet leer. Ons is dus nou op die vlak waar ons besef hoe min ons werklik weet. Dit help sekerlik om ons altyd nederig te hou.

So om ‘n sendeling in Japanees te wees, beteken dat jy ‘n diep studie van die taal, kultuur én mense hier in Japan moet maak. En as jy ‘n verantwoordelike sendeling wil wees wat nie net soos ‘n verskietende ster amper geen impak maak nie, is daar net twee opsies rakende evangelisasie. Sendelinge in Japan wat enigsins ‘n langtermyn verskil wil maak moet besef dat hulle OF ‘n kerk moet plant, OF deur ‘n bestaande kerk en saam met die kerk moet evangeliseer.

In beide gevalle is die kerk die draer van die evangelie. ‘n Sendeling (of ‘n Christen) werk uiteindelik nie vir die kerk nie, maar deur die kerk, ter wille van die koms van God se koninkryk. En as jy as sendeling nederig besef dat jou Japannese vaardighede en jou insig in die kultuur en die mens altyd beperk is, is dit soveel meer belangrik om geanker te wees in ‘n kerklike geloofsgemeenskap, waar jy saam met ander deelneem aan die vorming van dissipelskap. Die opdrag is immers: Gaan maak dissipels van Christus.

Ons (deur Missie Japan) het spesifiek gekies om saam met ‘n bestaande kerk, die Reformed Church in Japan (RCJ), te werk. Die RCJ het ‘n diep evangeliese hart en ons as samewerkende sendelinge wil graag hierin meewerk. Ons wil regtig bruikbare instrumente vir hulle raak. Hulle was destyds in Tokushima en ook hier in Kobe meer as bereid om ons te vertrou met amper enige inisiatiewe, veral binne verhoudinge wat oor 13 jaar se vasbyt opgebou is. Net om bietjie die evangeliese hart van ons Japanese broers en susters in die RCJ te illustreer wil ek vertel ‘n onlangse geleentheid by die kweekskool waar Stéphan klasgee. Kobe Reformed Theological Seminary hou jaarliks ‘n dag van toewyding en gebed en nooi dan ‘n RCJ predikant as spreker om die teologie studente te inspireer. Vanjaar se tema was: ‘‘n Hart wat aanhou brand vir die bediening van die evangelie’. 

Die spreker het passievol gepraat oor hoe ons harte – soos die Emmausgangers in Lukas 24 –  kan bly brand vir Jesus. Iemand vra toe egter, dis alles goed en wel om aan die brand te wees, maar wat van uitbranding? Die spreker se antwoord was dat dit juis daarom so belangrik is om daagliks diep in die Woord in te delf en daaruit jou krag te vind onder leiding van die Heilige Gees – vir wysheid oor keuses maar ook om versigtig te kan onderskei hoe om die Woord te deel sodat dit soos ‘n goue appel is (Spreuke 25: 11 – “Goue appels wat in silwer gemonteer is, so is die regte woord op die regte tyd”). In nabetraging oor hoe om brandend te bly as evangelie bedienaar, was ‘n vierde jaar student se reaksie, “Ons is so bevoorreg hier in Japan … 99% van alle mense is nie Christene nie … ons het soveel geleenthede vir evangelisasie!”

Op ‘n ander dag, gesels ek en Stéphan oor ‘n koppie koffie oor sy onlangse ontmoetings met God deur die Bybel. Spesifiek oor Eksodus 3 en Moses en die brandende bos … Moses wat onbevoeg gevoel het met woorde (soos ons ook gereeld onbevoeg voel met Japannees) … en oor hoe Moses baie gehuiwer het en gestry het teen die roeping wat hy ontvang het …en God se antwoord: EK IS … en die bos bly brand. God is getrou. 

En soos wat die Heilige Gees dikwels op verskillende maniere duidelik ‘praat’, was dit nie toevallig nie dat ons plaaslike RCJ gemeente se 70 jarige Nezu sensei oor 2 Timoteus 4:1-8 gepreek het die afgelope Sondag. Om die evangelie tydig en ontydig te verkondig. Natuurlik is dit op ons as individue ook gemik, maar Nezu sensei het in die preek genoem dat dit in die eerste plek op die geloofsgemeenskap gemik is. M.a.w. evangelisasie gebeur vanuit en deur die kerk. Hoe? In haar tweeledige rol:

  1. Deur die Woord te verkondig
  2. Deur gelowiges te ondersteun, te onderrig, leiding te gee oor hoe om die evangelie te verkondig en hul geloof te behou

En dit is altyd veronderstel om tydig en ontydig te gebeur. Hoe gepas is dit nie juis in Japan waar partykeer net een enkele nuwe mens na ‘n spesiale evangeliasie diens kom nie? Of  géén. Andere kere miskien tien.

Kan ek dit weer noem? Evangelisasie is in die eerste plek die opgelegde taak van die kerk. Volgens Timoteus moet die kerk (en dus ook leiers soos sendelinge deur die kerk) die waarheid verkondig – in seisoen en buite seisoen. Ons in die kerk as evangeliste, moet vasbyt, geduldig en getrou vasstaan in die geloof, al groei die kerk hier in Japan stadig. En ons is geroepe om só te leef dat dit opsigself ‘n rigtingwyser, ‘n kompas, ‘n getuiens vir mense buite die kerk sal wees. 

En interessant genoeg het dit vir Paulus op die ou end nooit gegaan oor hoeveel mense hy tot Christus gelei het, of hoeveel kerke hy geplant het, of hoeveel kerke hy besoek het nie. Nee. “Ek het gelowig end-uit volgehou” (2 Tim. 4:6). Wat belangrik was vir hom as die groot evangelis, was om sy geloof te behou. Daarom is die kerk en die ondersteunende raamwerk van die kerk, dan juis ook so belangrik vir ons as sendelinge, om ons te help om die goeie wedloop af te lê en end-uit geduldig te volhard. 

Wat beteken dit om ‘n sendeling in Japan te wees? Vir my en Stéphan beteken dit om (ná amper 13 jaar hier), steeds daagliks met die taal te swoeg en om – geïnspireer deur die RCJ Kerk se evangeliese hart – tydig en ontydig die boodskap te probeer verkondig. Selfs al kom net één, of selfs al kom tien. Om ons huis oop te maak vir ieder en elk en met woorde en dade van liefde, ‘n ‘voertuig’ vir die Heilige Gees se werk te wees. Deur die jare het ons deur Engelse klasse, kookklasse, ‘n koffiewinkel vir jong ouers en op vele ander maniere deur die kerk probeer om mense se harte en behoeftes aan te raak. En dit alles is diep in ons tuisgemeente in Kita Kobe, maar ook in die wyer kerk regoor Japan, gevestig, waar ons ons deur die RCJ, vir God se koninkryk beywer. 

“Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik;
ek het gelowig end-uit volgehou.” (2 Timoteus 4:7)

Asseblief, geliefde broers en susters in Suid-Afrika, hardloop saam met ons.

geskryf deur Carina van der Watt – cvdwatt@gmail.com

Deel dié brief met hierdie skakel.