Nuusflits 8 Augustus 2009

Beste ondersteuners,

Hierdie is ‘n spesiale kort nuusflits om te laat weet hoe dit gaan met Cornelius en om baie dankie te sê vir almal se wonderlike ondersteuning!

Cornelius se beterskap: Cornelius is baie vroeër as verwag ontslaan uit die hospitaal en dit maak ‘n reuse verskil aan ons almal se ervaring van sy siekwees. Hy is beslis heelwat rustiger (minder pyn en ongemak), maar daar is steeds tye wanneer hy terugslae kry en moeilike dae beleef. Ons gaan steeds gereeld hospitaal toe vir verdere bloedtoetse en waarneming. Baie goeie nuus is dat die drie gevaarlikste moontlike oorsake van die verhoogde ammoniak vlakke heel waarskynlik uitgeskakel is. Dit beteken dat sy siekte waarskynlik eerder tydelik – moontlik 6 maande – as chronies is, en dus ook beter behandelbaar. Hy bly op medikasie tot alle simptome verdwyn. Ons vat dit dag vir dag … en leer opnuut glo (Hebr. 11:1).

Wonderlike ondersteuning: Baie dankie vir elkeen wat geskryf, gebel, gebid en op talle ander maniere vir ons in dié tyd bygestaan het! Baie mense het ook getuig van God se genesende teenwoordigheid in hulle eie ervarings van siekte en lyding. Dit beteken vir almal van ons geweldig baie en ons waardeer dit opreg! Die getal e-posse wat ons ontvang het, was (positief) oorweldigend, en ons sukkel om by te bly met die antwoord op vrae wat party mense vra. Daarom die kort briefie om almal op datum te bring, en te vra: moet asb. nie ophou skryf en bid nie!

Ons huidige situasie: Op aanbeveling van Missie Japan se Dagbestuur het ek die afgelope twee weke minder Japanese klasse bygewoon. Ons het regtig groot waardering vir Missie Japan se meelewing en konkrete ondersteuning, ook i.t.v. ekstra finansiële bystand. Ons sal ook nog die komende week rustiger vat. Dit is ook nou somer vakansietyd hier, so dit maak sin om net eers tot verhaal kom ná al die ontwrigtings. Ma Annalie se terugkeer uit SA help ons baie om ‘n daaglikse ritme te probeer vind.

In ‘n volgende nuusbrief deel ons weer die afgelope tyd se hoogtepunte ens…

Vrede

Stéphan, Carina, Annlie en Cornelius

Leave a comment

You must be logged in to post a comment.