Nuusflits 29 Maart 2009
Beste ondersteuners,
Hierdie is die laaste nuusbrief voor ons vertrek na Japan op Woensdag, 8 April. Ons is die afgelope paar dae in Stilbaai, waar ons verlig asem skep voor die langverwagte reis na ons nuwe tuiste.
‘n Geseënde tyd agter die rug!
Wanneer ons terugkyk oor die laaste 5 weke, is dit met reuse dankbaarheid, vir ontelbaar baie voorregte. Ons is op die hande gedra deur gasvrye inwoners in vele Vrystaatse dorpe en stede … ons het wonderlike tye saam met ons nuwe Japanese broers en susters beleef … ons is met diepe meelewing uitgestuur deur ons vorige tuisdorp Aliwal-Noord … en ons moes intussen al met swaar harte begin afskeid neem van sommige van ons naastes, saam met wie ons spesiale kuiertye geniet het.
Ons afgelope paar besoekpunte (Humansdorp, Hartenbos, Oudtshoorn, Albertinia en Stilbaai) vir bekendstellings- en preekgeleenthede was ook baie geseënd. Ons is oral bemoedig deur medewerkers se entoesiasme en toewyding. Saam met Deutr. 32:3-4 sê ons heelhartig: “Ek wil die Naam van die Here roem. Prys ons God om Sy grootheid. Hy is die Rots, Sy werk is volmaak, alles wat Hy doen, is regverdig. Hy is die getroue God, sonder onreg, Hy is regverdig en betroubaar.”
Ons sien ook baie uit na ons laaste uitstuurdiens wat hierdie hierdie Sondag 5 April om 09h00 plaasvind in die NGK Parow-Panorama. Verder is daar enkele afskeidsgeleenthede voor ons vertrek, buiten om ons visums af te haal en ‘n RSG-onderhoud te voer (sal laat weet oor die uitsaaityd en datum).
Vir nog belangrike nuus oor onlangse gebeure, lees asb. ook Dr. Gideon van der Watt se onderstaande nuusbrief.
Bemoedig deur medewerkers se ondersteuning
Die afgelope 7 maande (sedert middle Augustus 2008) was ‘n uitputtende maar vervullende tyd waarin ons met duisende mense ons roeping kon deel. Ons het werklik diep ervaar dat ons missie regdeur Suid-Afrika met oorgawe bevestig is – nie net in die vorm van finansiële bydraes en beloftes nie, maar ook verál deur emosionele en geestelike ondersteuning. Hier volg ‘n basiese opsomming van enkele details rakende die werk wat (deeltyds) in die voorbereidings-maande gedoen is:
Gemeentes besoek: 110
Gemeentes wat finansieël (en andersins) ondersteun: 32
Gemeentes wat steeds betrokkenheid oorweeg: 62
E-pos adresse op ons nuusbrief-databasis: 950
Posadresse (mense sonder e-pos wat nuusbriewe ontvang): 90
Huidige finansiële ondersteuning per maand (debietorders en beloftes): ongeveer R33 000/maand*
Huidige totale eenmalige bydraes: ongeveer R115 000
*’n Belangrike kant-aantekening…
- Ons staan tans op ongeveer R33 000/maand; wat rondom 95% is van wat ons – volgens Aug 2008 se begroting – op ‘n volhoubare basis gaan nodig hê. Maar, intussen veroorsaak die swak Rand/Yen wisselkoers dat ons meer as R40 000/maand volhoubaar nodig het!
- Daarom wil ons graag weer almal wat dalk reeds ’n oortuiging het om verder betrokke te raak vriendelik uitnooi om so gou moontlik hulle verbintenisse en inbetalings te maak, en oor te dra aan Missie Japan.
- Hiermee wil ons ook weereens almal hartlik bedank vir hulle bydraes!
Gebedsonderwerpe
- Dankie sê vir alle praktiese reëlings wat tot dusver in plek is (visums, verskeping van trek ens.)
- Dankie sê vir ons ongebore baba (nou 7 maande) en vra vir krag vir Carina in die swangerskap.
- Dankie sê vir herstel en beterskap in Dr. Gideon van der Watt se gesondheid.
- Dankie sê vir ‘n uiters geseënde toer saam met die Japanese afvaardiging.
- Vir ons, sowel as Gys en Linda Olivier (sendeling-onderwysers van Missie Japan), se aanpassing in Japan.
- Vra vir volharding en dissipline in die taalstudie wat nou volledig sal vorm aanneem.
- Vra vir ondersteuning deur gemeentes en individue wat nog hul betrokkenheid oorweeg.
Baie dankie dat jy vir Missie Japan by die Here intree!
Vrede
Stéphan en Carina (beskikbaar by 084 513 8516 tot 7 April)
————————————————————————————————————————-
27 Maart 2009
Liewe Missie Japan medewerkers
GOEIE NUUS!
Hierdie tweede nuusbrief van 2009 is sommer propvol goeie nuus. Daar het soveel wonderlike dinge die afgelope tyd gebeur. Ons het rede om diep dankbaar te wees.
Japannese besoekers
So ‘n maand gelede het nege verteenwoordigers van die Ring van Shikoku van die Reformed Church in Japan, ons besoek. Hulle is vergesel van Tobie en Annalie de Wet. Prof Makita was die leier van die RCJ verteenwoordigers. Dat vier jongmense deel van die toer was, het dit ekstra lekker gemaak. Dit was ‘n volgepakte toer, vanaf die Kaap en Stellenbosch, deur die Suid-Kaap en die Karoo, in Aliwal Noord, in die Vrystaat rond en tot in Gauteng. Die groep het ‘n hele aantal gemeentes besoek; ‘n verskeidenheid eredienste en byeenkomste bygewoon; hulle het by teologiese skole aangedoen; van ons land se mooiste plekke ervaar en hulle is blootgestel aan van ons armste woonbuurtes. Hulle kon die rykdom, die skoonheid, maar ook die tragiek van ons reënboognasie beleef. Die ver afstande was uitputtend. Oral is hulle egter oorlaai met hartlike gasvryheid en liefde. Dit was aangrypend om te sien hoe mense mekaar spontaan oor taal- en kultuurgrense heen omhels, as kinders van die één Vader. Die toer wat uitermate geseënd.
Missie Japan wil graag vir almal wat huisvesting en kos verskaf het baie dankie sê. Gasvryheid bly een van die mooiste en kragtigste Christelike getuienisse.
Missie Japan vergadering
Terwyl die Japannese besoekers hier was, het Missie Japan by Menuha, die mooi kampterrein buite Bloemfontein, ‘n twee dae lange vergadering gehou. Daar is saam gebid en saam besin. Daar het ‘n diepe verbondenheid tussen ons gegroei. As vennote respekteer ons mekaar en vat ons hande in diens van die Koninkryk. Die goeie nuus is dat die Japannese kerk uit hulle eie uit kom aanbied het om ‘n deel van ons finansiële verpligtinge vir ons te help dra, veral nou dat die Rand so swak teenoor die Yen geword het. As mens dink hoe klein en swak die gemeentetjies is wat dié ekstra las op hulle neem, dan staan jy verwonderd. En dit wys iets van die waardering vir die werk van ons sendelinge daar.
Ons sendelinge
Goeie nuus is dat Gys en Linda Olivier hierdie naweek reeds vertrek Japan toe. Daar lê vir die twee jongmense groot aanpassings voor. Ons moet regtig vir hulle bly bid asseblief.
Stephan en Carina van der Watt vertrek DV net voor die Paasnaweek saam met Tobie en Annalie na Japan. Stephan hulle het die laaste paar maande ‘n hele aantal gemeentes besoek. Oral is hy wonderlik ontvang. Bande is gebou. Hierdie besoeke van Stephan het baie bygedra om Missie Japan uit te bou en ‘n stewige ondersteuningsbasis te vestig. Ons is dankbaar vir almal wat ondersteuning beloof en reeds gee. Enkele gemeentes het ons sprakeloos van dankbaarheid gelaat met hulle groot bydraes. Maar dis juis die getroue maandelikse bydraes, hoe klein ook al, wat uiteindelik die wa deur die drif gaan trek. Dankie vir elke bydrae. Hoewel daar nog ‘n redelike tekort op ons begroting is, vertrou ons dat die Here sal voorsien. En ja, kom ons bid ook baie spesiaal vir Stephan en Carina en klein Annlie; daar lê vir hulle groot aanpassings voor, lang ure van taalstudie en baie verlang. En, een van die dae word hulle Japannertjie gebore…!
Vir Tobie en Annalie lê daar ook ‘n heel nuwe era voor, nuwe verantwoordelikhede, maar ook onsekerhede. Aan die een kant is daar opgewondenheid oor die kinders naby hulle, maar ook die verlang na die kinders hier in Suid Afrika. Die Japannese besoekers het opnuut kom bevestig dat daar groot waardering vir hulle werk in Japan is. En netso waardeer Missie Japan hulle ook. Kom ons bid ook vir hierdie twee baie spesiale mense.
Harde werk voor
Om soveel sendelinge uit te stuur en hulle volhoubaar te ondersteun, finansieel maar veral ook emosioneel en geestelik, vra harde werk. Dit vra dat ons almal as vennote sal saamwerk, saam sal bid. Ons het weer die noodroep uit Japan gehoor. Ons is saam met ons sendelinge geroep. Ons word gedring deur die liefde van Christus, ons kan nie anders nie!
Vrede en vreugde
Gideon van der Watt
(Sekretaris: Getuieniskantoor van die NGK in OVS)