Nostalgieflits 17 Februarie 2010 – Oor vreemdeling-wees

Beste ondersteuners,

Toe ek vandag vir die soveelste keer my kop teen ‘n (té lae) deurkosyn in ons huis stamp, is ek pynlik (en komies!) daaraan herinner dat ons lewe in Japan ‘n permanente aanpassing (sal bly) vra. Dis ‘n gegewe: die ervaring van vreemdeling-wees is hier om te bly, in alle opsigte…

Ek het groot geword met ons Oos-Kaapse plaas, die plattelandse natuur en dié se mense as my ankers. Later het die Boland se bonkige berge en baie vriende my leefruimte gevul. Vir jare lank sou dit – bewustelik en onbewustelik – geborgenheid inboesem. Gedurende die afgelope paar maande se ontwrigting het ek al meermale – terwyl ek in die radikaal anderse landskap van Japan rond beweeg het – Lukas Maree se Victoriabaai geneurie: “Ai ek wens ek was nou daar…” Maar dan ook helder besef: soos die Engelse gesegde lui, Comparison is the death of joy! En dit is regtig so. Geen plek, omstandigheid of persoon kan onblusbare vreugde standhoudend bring nie. En om dinge te vergelyk vererger eerder net die pyn van verlies, en steel vreugde. Verliese is wesenlik deel van die lewe. Die konstruktiewe hantering daarvan, onontbeerlik vir ‘n sinvolle bestaan.

Onlangs het ‘n artikel in The Economist (getiteld The Others) my hieroor laat nadink.  Die skrywer beskryf iets van die ervaring van vreemdeling-wees in die buiteland. Sy verwysing na die uniekheid van Japan is treffend en eggo iets van ons eie ervaring: “There are ever fewer places left in this globalised world where you can go and feel utterly foreign when you get there….The most generally satisfying experience of foreignness—complete bafflement, but with no sense of rejection—probably comes still from time spent in Japan. To the foreigner Japan appears as a Disneyland-like nation in which everyone has a well-defined role to play, including the foreigner, whose job it is to be foreign. Everything works to facilitate this role-playing, including a towering language barrier. The Japanese believe their language to be so difficult that it counts as something of an impertinence for a foreigner to speak it. Religion and morality appear to be reassuringly far from the Christian, Islamic or Judaic norms. Worries that Japan might Westernise, culturally as well as economically, have been allayed by the growing influence of China. It is going to get more Asian, not less.”

Die skrywer vergelyk verder die emosies wat gepaard gaan met die lewe as vreemdeling in die buiteland, met dié van kindertyd: nuwigheid, verrassing, angs, verligting, magteloosheid, frustrasie… Onderliggend, beweer hy, lê daar in die nostalgie ‘n voortdurende, verlammende ervaring van verlies, waarbinne (nog dieper) woede skuil oor dit wat verloor is. Daarom vergelyk hy die ervaring van vreemdeling-wees met die verlies van ‘n ma.

Ons kan inderdaad met baie van die bogenoemde ervarings identifiseer. Soms voel dit ook vir ons of ‘n belangrike deel van ons lewe sonder seremonie ge-amputeer is. En dit is belangrik om eerlik te wees daaroor. Die skrywer argumenteer: “A foreigner is, after all, someone who didn’t like his own country enough to stay there…The foreigner chooses the pleasures of freedom, and the pains that go with them.” Maar daaroor kan ons nié saampraat nie, want ons lewe is veranker in ons geboorteland. Ons het nie ge-emigreer na Japan omdat hier vir ons ‘n meer rooskleurige toekoms gewag het nie, inteendeel. Ons is ook nie hier vir blote plesier of opwinding, of vry te kom van iets wat ons gefrustreer of gebind het in ons tuisland nie.

Nee, die één een ding wat ons hierwees duidelik anders rig, is die feit dat ons hierheen gestuur is met ‘n roeping (soos elke ander Christen). Dáárin lê die sin vir ons. Die sin van gestuur-wees met ‘n roeping oorskadu en omarm tegelyk die frustrasie en pyn van vreemdeling-wees. Dit laat ons dankbaar besef dat ons eintlik niks prys gegee het nie, maar alles in oormaat terug ontvang het, o.a. vriende van regoor die wêreld, ‘n verruime lewensuitkyk en die vreugde en voorreg om die evangelie van die lewende Christus te leef in ‘n buitengewone nie-Christen konteks.

Daarom sluit ek op ‘n nostalgiese noot. Nostalgie – hunkering oor verlies wat lyding meebring – het ook ‘n gesonde funksie…daaroor het ek pas iets met jou gedeel. Ons het die afgelope paar maande die kosbaarheid van vlietende voorregte, vreugdes en vriendskappe herbesoek. Ons leer van nuuts af – soos Cornelius nou moet leer kruip – hoe belangrik die vermoë (en gawe) is om nie te ten alle koste te wil besit, behou en beheer nie. Wie hul lewe wil red sal dit verloor (Luk. 9). Jesus se self-oorgawe (Fill. 2) wys juis dit. Die kuns van ons hierwees lê ook nou daarin om vry te laat en óór te gee. Dit is ‘n nimmereindigende proses, reisgenoot, genaamd: die Lewe!

Bid asseblief saam met ons:

Met dankbare harte… vir ‘n baie geseënde aanpassingstyd waarin (ons) God se troue liefde en sorg intens beleef het. Loof God dat ons die sin van gestuur-wees – t.m.v vreemdelingskap – kan ontdek!

In afhanklikheid… dat ons opnuut toegerus sal word met die vrug van God se Gees in hierdie lydenstyd (in terme van die kerkjaar), om draers van Christus se hoop te kan wees.

Vrede

Stéphan, Carina, Annlie en Cornelius

———————–

* Met Cornelius se gesondheid gaan dit goed. Hy eet geleidelik meer proteïne, en as sy ammoniakvlakke stabiel bly, word sy medikasie beslis van volgende Vrydag af verminder.

As jy die vreugde van sy eerste kruip in aksie wil sien, kliek hier en druk die “play” knoppie.

**Meer oor die Japannese kultuur ens. in ‘n volgende nuusflits.

Leave a comment

You must be logged in to post a comment.