Nuusflits 16 Maart 2010 – Oor nagmerries en drome

Beste ondersteuners,

Soms besef ek net: nou moet ek my ore spits … want hiérdie gesprek kan my lewe anders rig! Dit is wat Saterdag-oggend gebeur het, terwyl my skoonouers by ons aan tafel was. Hulle het diep deurleefde ervarings met ons gedeel, en dit het die bal aan die rol gesit vir ‘n baie boeiende gesprek oor ons lewe, werk en toekoms in Japan. Al het ons al voorheen dikwels oor hierdie sake gesels, is dit nou vir die eerste keer op skrif gestel (deur my skoonpa Tobie). Ons wil jou graag so volledig moontlik deel maak hiervan, daarom hierdie skrywe. Neem asseblief ‘n ekstra tydjie om dit sorgvuldig te lees.

 Terloops…

Aangesien ons twee gesinne onlangs ons e-pos verspreidingslyste saamgevoeg het, en ek voortaan ook soms namens die De Wets nuus sal deel, fokus hierdie nuusflits op die bg. gesprek.

 Intussen net ‘n paar belangrike dinge wat ons ook onder jou aandag wil bring:

  • Baie dankie vir die intens meelewende terugvoer op die vorige Nostalgiese Nuusflits. Ongelukkig bly ek agter met die antwoord van alle vrae – dankie vir jou geduld hiermee!
  • Kort na dié bg. nuusflits se uitstuur het ons vorige e-pos adres gegroet. Let asb. op my nuwe e-pos adres: stephan@missiejapan.co.za en Carina s’n: carina@missiejapan.co.za  
  • Met ons taalstudies gaan dit regtig goed … ons kry onderrig teen ‘n hoë tempo, en verkies dit so, want die leerkurwe is hoog! Ons geniet dit baie en voel gemotiveerd daarin, al gee ons maar eintlik babatreetjies aan die voet van ‘n hoë berg!
  • Cornelius is reeds ‘n maand lank sonder medisyne en lyk blakend gesond – ons is ontsettend dankbaar! Alles dui daarop dat die verhoogde ammoniak vlakke in sy bloed moontlik tydelik van aard was. Met Annlie gaan dit ook voor die wind. Sy is haar energieke self en hou ons, soos altyd, op ons tone. Kliek hier  as jy 30 sekondes het om te hoor hoe sy ‘n Japannese liedjie sing.
  • Laastens: ek werk tans aan ‘n nuwe blog oor Missie Japan. Die inisiatief en agter-die-skerms sweet van Danie Mouton (ds.) hierin, verdien groot lof. Die blog is nog nie volledig op die been nie, maar dit kan voorlopig gesien word by www.missiejapan.co.za

Bid asseblief saam met ons

Met dankbare harte loof ons die Here vir…

  • ons almal se gesondheid.
  • ‘n geseënde vergadering met die Shikoku ring se kerkleiers oor ons (Van der Watt’s en De Wet’s se) toekoms. Dit is ter voorbereiding van die besprekings wat vroeg in Mei sal plaasvind saam met afgevaardigdes (uit SA) van Missie Japan.
  • ons permanente bestuurderslisensies wat ek en Carina albei (tot ons eie verbasing) met die eerste probeerslag kon bekom.
  • ‘n baie goeie vriend en lojale ondersteuner van Missie Japan (Laurens Schlebusch – boer van die Vrystaat) wat in die komende week ‘n paar dae by ons kom kuier.

  In afhanklikheid vertrou ons die Here vir…

  • Sy genade in die uitdagende werklikhede wat (pa) Tobie hieronder so eerlik beskryf, dat ons daagliks nader aan Christus sal groei, met jou as medewerker se ondersteuning.
  • die sinvolle ontwikkeling van die Missie Japan Blog – tot Sy eer en in Sy diens.
  • volgehoue krag, fokus, dissipline en volharding in ons taalstudies.

Baie dankie vir jou ondersteuning!

Vrede

Stéphan, Carina, Annlie en Cornelius

——————————————————————————————-

Nagmerries en drome — ‘n Eerlike belydenis

Van die dag dat ons verneem het dat Stephan en Carina geroepe voel om as sendelinge na Japan te kom, het ek begin nagmerries kry oor die impak wat die lewe, die werk en die kerk hier op die res van hul lewe gaan he. Dit vanuit my eie persoonlike ervaring van die altesaam 18 jaar in Japan.

Natuurlik is ons absoluut verras oor die HERE se roeping van hulle na hierdie veld met sy nood en uitdagings. Ons beskou dit as ‘n besondere genade dat die HERE ons eie kinders gestuur het om voort te gaan binne die kerk en met die werk waarby ons soveel jare betrokke was. Ons is ook baie dankbaar vir die wyse waarop hulle sommer van die heel begin af hier aanpas en tuis is, inpas by die kerk, uitreik in die gemeenskap en hulle ook daagliks toewy aan hul taal- en kultuur studies. Ons glo ook dat beide van hulle regtig die besondere persoonlikhede en temperamente het om gelukkig hier in Japan te lewe en te werk. Hulle het gawes om ‘n mooi impak op hierdie land en die kerk te maak. Hulle is beslis baie beter toegerus vir hierdie sendingsituasie as wat ons twee ooit was.

Tog kan ons nie ontslae raak van die “bekommernis” oor hul toekoms vorentoe nie. Juis daarom wil ek die vrymoedigheid neem om vanuit my eie ervaring enkele van die dinge te deel wat ek glo neerdrukkend en beklemmend op die uitlewing van my roeping gehad het en steeds het. Ek het dit met Stephan en Carina gedeel om vir hulle daarmee te waarsku om van die begin af die dinge te besef, dit vierkantig in die oee te kyk en dit geestelik sowel as prakties positief te hanteer. Ek deel dit ook graag met hul (en ons) ondersteuners sodat julle met groot begrip vir hulle kan intree — nie net nou nie maar nog meer en meer soos wat die jare gaan aanloop.

Verstaan my asseblief baie goed. Ek is nie negatief of depressief nie. Daar is by ons geen sweem van twyfel oor die kerk se roeping en ons eie roeping en die van Stephan en Carina na Japan en binne die kerk van Japan nie. Ons wil net baie eerlik met onsself en met hulle en met ons ondersteuners wees terwille van ‘n realistiese benadering en hantering van ons en hulle lewe en werk in Japan. Ons mag nooit nie toelaat dat “nagmerries” dalk ons drome oorweldig nie…..

Dinge wat dempend, neerdrukkend en beklemmend invloed uitoefen op die uitlewing van my roeping:

1)      Die Japanese taal

Selfs na 2 volle jaar van intensiewe taalstudie en altesaam 18 jaar in die taal bly dit ‘n daaglikse stryd om Japanese te verstaan en om onsself in Japanees uit druk. Preekvoorbereiding bly ‘n weeklikse nagmerrie, meestal eerder ‘n meganiese worsteling as ‘n diep geestelike belewing, en in my prediking is ek letterlik woordeliks gebonde aan my manuskrip sonder die ervaring van geestelike vryheid om uit my hart te preek soos wat die Gees lei soos wat ek gewoond was in my eie land en taal.

2)      Die Japanese samelewing

Japan is ‘n wonderlike land, mooi, skoon, hoogs ontwikkeld, geweldig modern engerieflik. Die mense van Japan is baie besondere mense, gekultifeerd, beleefd, vriendelik. Die Christene van Japan volhard onder baie moeilike omstandighede. Ons het die grootste respek en waardering vir hierdie besondere volk, hulle kultuur en hul uitstaande karaktertrekke. Ons is regtig intens lief vir Japan en sy mense. Maar ons is baie eerlik wanneer ons se dat die lewe in Japan is regtig geestelik-emosioneel uitputtend. Na ‘n dag van leef in Japan (selfs na ‘n heerlike uitstappie saam met ons dierbare Japanese vriende na ‘n warmwaterbron of restautant) en gesels en luister en konsentreer in Japanees is ons gewoonlik doodmoeg. Weet nie waarmee dit alles te doen het nie? Natuurlik weereens die taal? Die groot verskil in kultuur? Die “besige” en gejaagde samelewing? Die oorweldigende nie-christelike gees wat oor die land hang?

 3)      Beperking op die uitlewing van ons gawes

Vergelyk die 3 jaar in Parkheuwel NG kerk in PE en die 14 jaar in RCA Calvary Gemeente in Malabar, PE, en die verskil is regtig soos dag en nag. In beide gemeentes in SA (ook in RCA Calvary in die Indier-woonbuurt van Malabar waar die taal Engels was en die kultuur en samelewing die van die Indier-gemeenskap) het ek ‘n ongelooflike vryheid ervaar om my visie en gawes na hartelus uit te leef binne sowel as buite die gemeente. In Japan en in die kerk hier het ons net nie naastenby daardie vryheid nie. “‘n Sendeling op sy beste, is altyd slegs ‘n tweede beste” is ‘n werklikheid wat ‘n daaglikse deel van ons lewe en werk hier is.

 4)      Gebrek aan geestelike gemeenskap met en insette van mede-Christene

Weereens die vergelyking met die bediening in SA is radikaal. In ons eie land en kerk was ons voortdurend opgelig en geinspireer in Sondae se eredienste (in ons eie taal), talle geestelike byeenkomste gedurende die hele week (Bybelstudies, Selgroepbyeenkomste, gebedsgeleenthede), en deur ons gemeentelede en talle ander Christen-gelowiges wat Geesvervulde lewens lei, en deur samewerking met talle kollegas en mede-sendelinge oor die totale spektrum van die kerklike lewe (alle moontlike denominasies). Hier in Japan is dit redelik radikaal anders. Eerstens is dit die taal en kultuurverskille ook binne die kerk, wat maak dat Sondag-eredienste en alle ander geestelike byeenkomste in die kerk weinig geestelike inspirasie vir ons persoonlik bring (ons verstaan meestal van die tyd nie eens wat ons sing nie…en om te bid is so ‘n worsteling dat dit meer ‘n oefening in taalstudie is…..!). Tweedens, ons het wonderlike Christen broeders en susters wat toegewy lewe en vir ons baie beteken maar die geestelike klimaat van Japan sodanig dat die klein groepies Christene in hul onderskeie gemeenskappe self worstel om te oorleef. Derdens het ons basies geen kontak en gemeenskap met mede-Christene en sendelinge van ons eie taal en kultuur nie. Ons lewe is geestelik geisoleerd.

 5)      ‘n Moeilike sendingveld met min direkte evangelisasie geleenthede en weinig sigbare vrug

Buiten vir die verkondiging van die evangelie binne die kerk in die erediens aan nie-gelowiges wat teenwoordig is en privaat Bybelstudies met enkele nie-Christene, is geleenthede vir aktiewe evangelisasie-uitreike na buite baie beperk. Die moontlikhede om allerhande sosiaal-maatskaplike uitreik-aksies en projekte te organiseer, is minimal. Gewone gemeentelede is in elk geval daagliks so besig dat niemand regtig nog die tyd en kragte het om meer te doen as net die normale Sondag aktiwitiete nie. Daar was tye toe sendelinge massa evangelisasie veldtogte geloods het, groot getalle getrek het, gereeld bekerings gesien het, allerhande sosiaal-maatskaplike projekte (skole, hospitale en ander inrigtings) begin het, maar die tye is menslik-gesroke klaarblyklik verby…..

 Hierdie is enkele van die “nagmerries” waarmee ons soms snags wakker le en die gevaar inhou om ons van ons geestelike drome te beroof, ons geestelike visie en entoesiasme te demp en die lewe en werk ‘n stuk swaar inspanning te laat word… Daarvoor moet onsself en van nou af veral Stephan en Carina bedag wees en dit geestelik en prakties positief hanteer. Almal se begrip, gebede en ondersteuning is baie noodsaaklik.

 My raad aan hulle:

1)      Onophoudelike voortdurende volhardende gedissiplineerde taalstudie!! Die eerste twee jaar is maar die begin. Daarna begin taalstudie eers werklik en dit mag nooit ophou nie. Gelukkig het beide van hulle ‘n taalaanleg wat ekself nooit gehad het nie (ek praat nie namens Annalie nie…) en is beide van hulle twee intelligente en hardwerkende studente, wat ek ook nooit was nie (alhoewel ek baie baie hard aan my taal gestudeer het…).

2)      Aanvaar dat julle onmoontlik dieselfde pas kan volhou as die Japanese rondom julle. Moet nie in die strik val om altyd besig te wil wees of lyk nie (dit op sigself is uitputtend!). Neem genoeg tyd af, nie net een of twee keer in die jaar met vakansie nie maar weekliks en selfs daagliks. Spandeer genoeg tyd saam as man en vrou en as gesin. Ontspan. Doen oefeninge, daagliks. Doen sport, weekliks. Neem jou jaarlikse verlof. Twee weke, soos wat Japanese dit doen, is weinig werd. Ons is nie Japanese nie. Dis nie ons land nie…. Breek weg vanaf jou onmiddelike omgewing en gaan na ‘n sendelinge resort. Ware vakansie, ontspanning en versterking is eers wanneer jy ‘n tyd lank in jou eie land en tussen jou eie mense kan deurbring…!

3)      Maak vrede met die beperkings op die uitlewing van jou visie en gawes. Paulus was self baie jare in ‘n tronk waar hy binne die beperkte ruimte en vryheid van die tronklewe moes leer om sy roeping te vervul. Makliker gese as gedoen maar ons het geen keuse nie. Die geheim van oorlewing en oorwinning is in Paulus se brief aan die Fillippense hoofstuk 4 opgeteken. Die brief aan die Fillippense uit die hart van ‘n sendeling in die tronk, is die brief wat vir ons nog elke keer weer geinspireer om ons oog op Christus te vestig.

4)      Goeie beheer oor die taal gaan uit die aard van die saak ook baie help om ‘n dieper geestelike belewing in Japanees en binne die eredienste en die kerk in Japan te ervaar. Maar positiewe kontak en gemeenskap met ander sendelinge en bywoon van sendeling-retreats en seminare is ‘n MOET!!

5)      Om tenspyte van beperkinge op direkte evangelisasie geleenthede en tenspyte van weinig sigbare vrug en tenspyte van weinig geestelike aanmoediging van mede-Christene steeds geesdriftig te volhard, vra bowenal geweldige dissipline in ons persoonlike en daaglikse omgang met die HERE, persoonlike Bybelstudie en gebed, ook as ‘n gesin. Elke keer wanneer ons begin moed verloor dan kom die opgestane, lewende, verheerlikte Jesus Christus deur sy Woord en Gees en gee ons nuwe visioene van Homself en sy Wil en sy teenwoordigheid, voorsiening en toerusting (Openbaring 1:9-20, Matteus 28:18-20…). Dit is hoedat ons geestelik kan bly droom en die drome die nare nagmerries kan laat verdof (verdwyn sal dit seker nooit nie want nagmerries bly mos maar deel van ons normale lewe….).

My versoek aan hulle ondersteuners (en ons ondersteuners)

Hulle (en ons ook nog) is hier as julle gestuurdes en verteenwoordigers. Dit is vir julle almal netso belangrik dat hulle twee en hul hele gesin gelukkig en tevrede hul roeping in Japan en die kerk in Japan uitlewe.

Julle begrip is belangrik. Julle voortdurende volhardende gebede noodsaaklik. Julle bemoediging op allerhande praktiese maniere onontbeerlik.

Baie dankie daarvoor. Verstaan asseblief ons nagmerries en droom saam met ons drome vir Japan, drome van herlewing in die kerk van Japan en drome van gelukkige en vrugbare sendelinge in Japan.

‘N BELANGRIKE SLOT-OPMERKING

Dit is tog nodig dat ek met die oortuiging, wat my geloof en toewyding ten grondslag lê, sal afsluit:

Paulus se woorde in Efesiërs 3:8 was deur die jare ons leuse:

“Hoewel ek die geringste van alle gelowiges is, het Hy aan my hierdie VOORREG gegee om  aan die HEIDENNASIES (wat die wonderlike mense van Japan insluit) die evangelie van die onpeilbare rykdom van Christus te verkondig.”

Wat ‘n GENADE!  Wat ‘n EER!  Wat ‘n geseënde VOORREG!  Wat ‘n VREUGDE!  Om ‘n gestuurde te wees, geroep en gestuur deur God self in samewerking met sy Kerk, in SA sowel as in Japan, om die GOEIE NUUS van die onpeilbare rykdom  van Christus aan diegene, wat dit nog nie gehoor het nie, te verkondig  (maak nie saak wat hulle uiteindelik daarmee maak nie)!

Wat ‘n ongelooflike GENADE was dit nie om in Japan die amptelike verteenwoordiger van ons NG Kerkfamilie te wees nie, om met oop harte deur die Reformed Church of Japan aanvaar en geliefd te wees, om vir meer as 18 jaar in die RCJ en in Japan in die bediening te kon staan.

Hierdie jare het ‘n sterk vormende invloed op ons lewens, ons geloof, ons teologie, ons verstaan van sending, ons ondervinding en kennis van God ons Vader, Jesus ons Verlosser, en die Heilige Gees ons Trooster gehad.  Die lewe in Japan en in die Reformed Church in Japan het ‘n groot rol gespeel in God se Hande om ons te verander en te vorm.  Dit sal verseker ook Stéphan en Carina en hulle kinders se geestelike ervaring in die komende jare wees ….

Paulus noem homself, “’n gevangene deur my diens aan Jesus Christus” (Efesiërs 3:1).  As ons iets moes opoffer en as Stéphan en Carina iets moet opoffer en een of ander vorm van pyn moet ervaar, sy dit liggaamlik of emosioneel, dan doen ons dit as gevangenes van Jesus Christus en ter wille van ons vele geliefde Japannese vriende, kontakte, broers en susters.

Met LIEFDE en DANKBAARHEID,

Tobie en Annalie de Wet.

tobie@hotmail.com

30 Maart 2010

Comments (1)

Lynette van WykApril 6th, 2010 at 1:13 PM

Genade, dit is te pragtig! Sy gaan vir Susan Boyle ‘n go gee! En kyk hoe oulik sing Boeta saam! Jul moet erg trots voel op die twee!

Leave a comment

You must be logged in to post a comment.