Nuusflits 14 September 2010
Beste vriend/vriendin,
Die saligheid van die somersee was salf vir die siel, en ná ons eerste wegbreek (verlof) sedert ons koms na Japan (April 2009), het ons verlede Sondag in Tokushima aangekom en is ons alweer volstoom aan die gang. Die herfskleure beweeg stuk-stuk in, maar sukkel om een van die warmste en langste somers in vele dekades te laat kantel rondom ons…ons sug saam met die skepping vir die nuwe seisoen se koms!
Jongklomp kamp by Kochi (3-5 Aug)
Verlede maand het ons veral twee hoogtepunte beleef wat ons graag met jou wil deel. Die eerste was die jaarlikse kamp vir kinders en tieners uit ‘n paar van Shikoku eiland se klein RCJ (Reformed Church in Japan) gemeentes. Vanjaar het ek die kans gekry om tussendeur die groot prêt wat ons gehad het, twee kort en eenvoudige boodskappe in Japanees te deel (met skoonpa Tobie se vertalingshulp). Dit was ‘n goeie vuurdoop vir ‘n beginner, en genadiglik het dit goed gegaan. Die kamp se tema – Jesus as die Ware Wingerdstok – eggo steeds in my gemoed. Sonder Hom kan ons immers niks doen nie (Joh 15:5)…
Straat-danse (Awa odori) (12-15 Aug)
Augustus maand is ook jaar-na-jaar ‘n spesiale feesmaand in Tokushima a.g.v. die duisende dansers wat vir vier dae die strate vul in volkleur. En vanjaar het van ons Japanese vriende ons genooi om saam met hulle die straat te vat en deur die passies te gaan. Dit is dieselfde vriende wie se dogtertjie onlangs saam met Annlie haar derde verjaarsdag gevier het. Ons het dit gate uit geniet, en in die proses waardevolle verhoudinge versterk waaroor ons opgewonde dankbaar is.
‘n Spesiale ontmoeting tussen Hoopstad en Tokushima (24 Sept – 1Okt)
Die laaste week van September lê ‘ n groot gebeure vir ons voor. Ons word DV besoek deur die Du Plessis- gesin uit Hoopstad (op die foto hieronder v.l.n.r. Elsabé, Elaine, Jac, Johan en Johan (jnr.). Hulle plaaslike (NG Kerk) gemeente, in oorleg met Missie Japan se bestuur, vaardig hulle amptelik af om ons te besoek vir ‘n week. Hulle gaan saam met ons baie nuwe mense ontmoet en iets van die lewe hier in Tokushima en omgewing deurleef. Ons sien baie daarna uit om saam met hulle nuwe dinge te leer…en glo hulle sal verryk terugkeer na Hoopstad om daar (én verder) te getuig van God se werk in Japan.
Miwa se besoek aan Suid-Afrika (20 Aug – 16 Nov)
Miwa Terauchi is tans ‘n lidmaat van ons plaaslike RCJ Tokushima gemeente, maar was tot en met Julie vanjaar (vir meer as 10 jaar) werksaam in Osaka as ‘n arbeidsterapeut. Daar was sy o.a. betrokke by Christelike kinder- en jeugbedienings, asook ‘n (musikale) aanbiddingsleier. Sy is ‘n baie toegewyde en passievolle Christen, en haar geloof word ook gedeel deur haar hele gesin (iets wat dikwels nie vanselfsprekend is in Japan nie). Haar ouers is bv. leiers in ons gemeente en beide van hulle was saam met haar suster (Keiko) deel van die RCJ Shikoku afvaardiging na Suid-Afrika (in Febr 2009). Hulle doen ontsettend baie vir ons, en het selfs hulle motor vir ons gegee toe ons in Tokushima aangekom het verlede jaar… sout-van-die-aarde-mense!
Miwa het vroeër vanjaar met ons gedeel dat sy ‘n sterk roeping ervaar om in Tokushima onder jongmense en kinders te werk. Dit was wonderlike nuus vir almal van ons, juis omdat die RCJ hier en regoor Shikoku-eiland só iemand broodnodig het vir die toekoms van die kerk. Voordat sy haar werk (as arbeidsterapeut) amptelik hier voortsit, het sy besluit om eers verdere opleiding (oor Christelike kinderbediening) in SA te gaan kry, en ook te deurleef wat verskeie gemeentes en Christene in SA aan die doen is.
In kort: sy is reeds in SA (tot 16 Nov.) om presies dit te doen. Buiten opleiding en verskeie blootstellings-projekte in Bloemfontein en omgewing, Pretoria en Witrivier (tot einde Okt.), sal sy ook vir die eerste twee weke van November verskeie plekke besoeke en mense ontmoet tussen PE en Kaapstad. Vir ‘n meer volledige program, kontak my gerus. In dié 3 maande is sy spesifiek in die sorg van Gideon van der Watt (dr.) (OVS Getuieniskantoor sekretaris) en ander Missie Japan leiers, ondersteuners en vriende. Dankie vir julle omgee en gasvryheid!
En as jy êrens haar pad kan kruis in die volgende tydjie, wees baie goed vir haar asseblief…só sal jy deel raak van God se sorg vir Sy kerk regoor die wêreld (tot hier in die uithoeke van Japan). Miwa kuier bv. vandag vir ‘n paar dae by die Du Plessis gesin op Hoopstad en ons weet sy gaan baie bederf word.
Nuutste nuus oor Noriko
(Skoonma) Annalie skryf: “Baie baie dankie aan almal wat steeds getrou vir Noriko intree. Nadat sy vir ‘n tweede opinie gegaan het i.v.m. haar lewertoestand, is die aanvanklike vrese heeltemal uit die weg geruim! Hoekom die 2 dokters se bevinding so totaal verskil het, weet ons nie, maar Noriko voel op die oomblik baie goed en is vrolik en positief. Sy word aan die einde van September gehospitaliseer om ‘n redelik omstrede medikasie te begin gebruik. Dit onderdruk die chroniese inflammasie wat met Krohn’s siekte gepaard gaan, maar het baie newe-effekte. Bid asb. dat die Here hierin sal lei, ek persoonlik het my bedenkinge oor so ‘n medikasie.”
Gebedsversoeke…
Dank die Here saam met ons vir:
1) Die kinders wat die kamp in Kochi bygewoon het.
2) ‘n Wonderlike rustyd en goeie gesondheid in Takayama (sendeling vakansie-oord Noord-Oos van Tokyo) – waar ons ook baie sinvolle verhoudinge kon bou met ander sendeling-gesinne.
3) Miwa se veilige reis en goeie aanpassing in SA. Sy geniet al die blootstelling en opleiding ontsettend baie (al is dit ook uitputtend in ‘n kruiskulturele opset).
Vra in afhanklikheid van die Here vir Sy sorg in:
1) Die Du Plessis gesin se voorbereiding en koms na Japan – vir ‘n sinvolle en vrugbare tyd.
2) Stéphan en Carina se daaglikse taalstudie – vir krag, dissipline, insig, volharding en vreugde.
3) Tobie en Annalie se weeklikse Bybelstudie geleenthede, voorbereiding vir biduur en eredienste.
4) Carina (Woensdae) en Annalie (Donderdae) se Engelse klasse (vir ma’s en kleuters).
5) Miwa se geleenthede om baie nuwe dinge te leer rondom kinder-en jeugbediening, ontmoeting van talle nuwe mense (amper daagliks), getuienis geleenthede in eredienste ens.
Baie dankie vir jou ondersteuning
Vrede
Stéphan, Carina, Annlie en Cornelius