Nuusflits 14 Junie 2009
Beste ondersteuners,
‘n Stukkie van sy naelstring…dis wat ons saam met die geboorte van ons babaseun, Cornelius, ontvang het. Dit is ‘n Japanese gebruik wat glo al so oud soos die berge hier rond is. Lees gerus hier meer oor die unieke deeltjie van die kultuur.
Persoonlik: Ons is skatryk!
Die groot nuus is dus: ons gesin het op 9 Junie 2009 om 11h58 opnuut skatryk geword! Oor die klein bondeltjie skepping (50cm lank en 3.7kg swaar), is ons in stil verwondering voor die misterie van ons Skepper. Dit is Hy wat die asem en vonk van Lewe verskaf en deur wie ons leef, beweeg en bestaan (Hand. 17) … Sy Gees is nog soveel ligjare meer as die “naelstring” van ons wese. Wat ‘n wonderlike wete dat Hy selfs vir Cornelius voor sy geboorte aanmekaar geweef (Ps. 139) en op sy naam genoem het (Jes. 49). As jy vir Cornelius (of soos dit in Japanees klink: Ko-nerias) van naderby wil sien, kliek hier.
Japan Nuusflits: Oor die waarde van lewe – ironie en kontras
In hierdie dae besef ons opnuut hoe broos en afhanklik ons is om uit God se hand lewe te ontvang. En soveel te meer in Japan, ‘n land met een van die hoogste selfmoordsyfers ter wêreld. Die nuutste TIME tydskrif berig dat 11 236 mense selfmoord gepleeg het vanaf Januarie tot April 2009 (8% meer as in dieselfde periode in 2008). Een uit elke vyf Japanese mans en vroue het al ernstig oorweeg om hul eie lewe te neem, volgens ‘n onlangse regeringsopname. Lees hier verder oor een 65-jarige man se inspirerende deernis met mense wat selfmoord probeer pleeg, en hoe hy tans ‘n lewegewende verskil maak.
Die skerp kontras en ironie is dat Japan ook die land met die hoogste lewensverwagting ter wêreld is. Die Japanese eiland, Okinawa, is welbekend as die spesifieke plek op aarde waar mense die langste leef. Daar kom spontaan ‘n paar vrae in my gemoed op as ek die bogenoemde feite hoor: Wat gee aan die meerderheid mense se lewens werklik sin (spesifiek hier in Japan)? Wat dryf soveel mense tot by breekpunt – waar die dood se donker skadu meer aantreklik (of die enigste uitweg) word, eerder as lewe? Hoekom vind sommige mense wat alle hoop op lewe verloor het, weer nuwe uitsig, en ander nie? Net ‘n paar vrae om jou saam aan die dink te sit hieroor …
1 Petrus 1:3 getuig: “In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ‘n lewende hoop…” Hoe leef ek en jy dit só uit dat meer mense rondom ons die geskenk van lewe kan waardeer en koester?
Bid asseblief saam met ons:
Met dankbare harte… in die 9 maande van swangerskap het ons ‘n paar dinge deurleef wat dit ekstra spesiaal maak. Carina het dit beslis die naaste aan haar lyf gevoel. Deur die vele omwentelinge van onder andere ‘n blindederm-verwydering, baie duisende kilometers se reise vir Missie Japan bekedstellings, skuiwe van huis tot huis en uiteindelik ook na die uithoek van die wêreld, asook die kraamproses in ‘n hospitaal waar sy dikwels nie die Japanees verstaan nie … het sy (ons) God se troue liefde en sorg intens beleef. Loof Hom saam met ons daarvoor!
In afhanklikheid… dat ons as ouers opnuut toegerus sal word met die vrug van God se Gees, sodat ons as gesin krag in ons broosheid sal ontvang, om draers van Sy hoop te wees hier in Japan.
Vrede
Stéphan, Carina, Annlie en Cornelius
[…] werk en baie pyn vir Carina … maar gelukkig `n heelwat korter proses as wat met Annlie en Cornelius die geval was. Die outjie weeg in teen 4.14 kg … geen wonder hy`t `n paar dae vroeer as sy […]