Nuusflits 10 Oktober 2008
Beste ondersteuners,
Gisteraand het ek en Carina gesukkel om aan die slaap te raak, nie a.g.v. bekommernis nie, maar uit dankbaarheid en blydskap! Ons is regtig bemoedig deur individue asook gemeentes se bereidheid om mede-werkers in God se roeping vir Missie Japan te word. Die kerkraad van ons anker-gemeente hier op Aliwal-Noord het bv. gisteraand (in my afwesigheid) amptelik onderneem om volhoubaar: R3500 per maand (vir 13 maande/jaar) by te dra vanaf Maart 2009. Ons is diep dankbaar…
Ondersteuning groei teen stil-sterk tempo
Hiermee wil ons graag verder spesiaal vir al die mense uit die Suid-Kaap uit ons harte dankie sê vir hulle gasvryheid, asook vir die tyd en energie wat hulle opgeoffer het om bekendstellings-geleenthede by te woon. Ons het vanaf middel Augustus reeds talle gemeentes en individue (in die Wes-en Suidkaap) besoek en heelwat ondernemings is gemaak om ons finansieël en/of deur gebed te ondersteun.
Op hierdie stadium het daar reeds 32% van dit wat ons maandeliks in Japan sal benodig, ingekom (sien grafiek hieronder). Hierdie persentasie sluit bydraes in wat reeds begin het asook beloftes van toekomstige spesifieke bedrae. Gemeentes en individue het ook enkel bedrae (R13 014 tot dusver) geskenk. Verder is daar verskeie gemeentes en individue wat nog biddend oorweeg in watter hoedanigheid hulle ons sal ondersteun. Ons loof die Here vir sy sorg en trou vir ons en sy medewerkers in Japan. In die tyd word ons juis gedra deur die Sy nabyheid wat vrede, vreugde en krag gee, meer as wat ons kan verstaan (Fill 4).
Oos-Kaapse bekendstellingstye
Vanaf einde volgende week begin ons Oos-Kaapse bekendstellingswerk. Enige iemand is welkom om enige van die og. byeenkomste by te woon, of my te kontak om ‘n ander afspraak te reël in die oop tye tussenin.
Do 16 Okt: Cradock (10h30); Kingfisher Radio-onderhoud (16h00)
Vry 17 Okt: Humansdorp-Moedergemeente (10h00)
Sat 18 Okt: Bless the Nations Sendingskool in PE (14h00)
Son 19 Okt: NGK Walmer (09h00); RCA Calvary in Malabar 10h30 (erediens), 14h00 (bekendstelling) en 15h00 (gebeds-geleentheid)
Ma 20 Okt: NGK Gamtoosvallei-Oos (12h00); NGK Newtonpark (18h30)
Di 21 Okt: NGK PE-Wes (09h00); NGK Uitenhage-Noord (18h30)
Woe 22 Okt: NGK Alexandrië (10h00); NGK Albanie – Grahamstad (14h30); Sondagsrivier-Kirkwood (19h00)
Do 23 Okt: NGK Jeffreysbaai (12h00); NGK Joubertina (19h00)
Son 26 Okt: NGK Humansdorp-Oos (09h00 en 18h00)
Op Saterdag-oggend 18 Okt om 08h00 sal ek ‘n manne-ontbyt lei by NGK Summerstrand oor die tema “Die unieke uitdagings van Christen-man wees vandag”. Op Sondag-aand 19 Okt om 18h30 sal ek die aanddiens lei by dieselfde gemeente oor die tema: “Counter-chauvinisme in die lig van die kruis en die opstanding” (as deel van hulle aandreeks oor “Counter Culture”).
Gebedsonderwerpe
· Dankie sê vir die Here se sorg en trou i.t.v. die afgelope weke se positiewe reaksie wat ons gekry het m.b.t. gebeds- en finansiële ondersteuning.
· Vra vir balans in ons geestelike, emosionele en fisiese voorbereiding vir die tyd wat voorlê in die Oos-Kaap.
· Vra vir aanvaarding van ons roeping, asook volhoubare ondersteuning deur gemeentes en individue wat die bekendstellings sal bywoon.
· Vra vir wysheid vir Missie Japan se uitvoerende bestuur wat teen middel November amptelike besluite moet neem oor ons vertrek na Japan (DV vroeg in 2009).
Baie dankie!
Vrede
Stéphan en Carina