Nuusflits 1 April 2010
Beste ondersteuners,
‘n Klompie eerste ervarings speel tans af in ons lewe. ‘n Eerste sprokiesmooi piekniek onder Kersiebloeisels wag DV môre op ons, met die lente wat uiteindelik ten volle ontwaak het. ‘n Eerste (nie-amptelike) besoek van ‘n vriend uit Suid-Afrika is pas verby – ons het ‘n hond uit ‘n bos uit gekuier (tussen taalstudies deur). ‘n Eerste Paasfees-viering in ons tuisgemeente lê die naweek voor. Die einde van ons eerste volle jaar in Japan loer om die draai (10 April). Cornelius se eerste woorde (“papa” nogal!) is gespreek. Carina (en Annlie) se eerste aanbieding van ‘n Engelse “speelskool” vir Japanese peuters het gister plaasgevind…
Maar, daar is ook ‘n laaste hoofstuk wat besig is om aan te breek vir ons voorgangers – pa Tobie en ma Annalie. Daar moet groot besluite geneem word oor die einde van hulle bediening in Japan. Daaroor skryf hulle self meer hier onder. Lees dit en bid asb. saam vir wysheid en vrede.
Terloops: jy kan ook die opgedateerde stuk oor Nagmerries en Drome hier lees – kliek net op Nuusflits 16 Maart 2010.
Ons bid dat jy en jou naastes ‘n aangrypende Paasfees sal beleef!
Vrede en vreugde
Stéphan, Carina, Annlie en Cornelius
———————————————————————————————————
ONS AFTREDE EN ROEPING
Ons liewe familie, vriende en ondersteuners,
Ons het julle opregte en doelgerigte gebede ernstig nodig!
Ons staan voor nog ‘n kruispad: 9 Julie 2011 is my aftreedatum, net so ‘n bietjie meer as ‘n jaar van nou af. In Mei vanjaar lê ‘n amptelike afvaardiging van Missie Japan besoek af by SHIKOKU, Japan, op uitnodiging van die ring van Shikoku RCJ. Dit is die viering van die ring se 60ste bestaansjaar. Terselfdertyd sal daar ook besin word oor Stéphan and Carina se toekomstige bediening, asook ons toekoms.
Dit is geen maklike aangeleentheid nie. Ons is in ‘n ernstige stryd. Ons is in twee geskeur. Ons weet regtig nie…
Ons toekoms is natuurlik vierkantig in God se Hande, ons Vader, en ons lewens is aan Hom gewy om Hom te dien, en net Sy Wil te doen. Hy het ons geroep en Japan toe gestuur, en Hy, die Soewereine God, sal die toekoms bepaal. Dit is ons vaste geloof en verwagting.
Nogtans was ons roeping nooit individualisties van aard nie. Hoewel ons God se roeping baie persoonlik ervaar het, sou ons nooit in Japan kon gewees het, as die kerk van Jesus in SA ons nie geroep en as hulle amptelike verteenwoordigers gestuur het nie, en as die kerk in Japan ons nie geroep het en as sendelinge in hulle midde aanvaar het nie. God roep en lei deur middel van Sy kerk. Sending is die roeping van God se kerk. Dus, ons vertrek uit Japan en terugkeer na SA na ‘n “nuwe bediening” is nie individualisties nie, maar ‘n gesamentlike besluit wat in gebed saam met die amptelike kerk in SA (Komitee Missie Japan) en die kerk in Japan (RCJ-ring en gemeente van RCJ Tokushima). Ons is nie eens seker, of ons die finale sê oor ons toekoms rakende God se roeping sal hê nie.
Nog ‘n tersaaklike faktor, al is dit ‘n menslike oorweging, is ook ons kinders in SA. Toe ons aanvanklik in 1974 Japan toe gekom het, was dit net ons twee, sonder enige kinders. Toe ons in 2000 vir die tweede keer na Japan terugkeer, het ons vier kinders gehad. Voordat ons ons besluit gefinaliseer het, is hulle byeengeroep om hulle gevoelens oor ons terugkeer na Japan te deel. Hulle het almal saamgestem dat ons moes terugkeer en ons werk in Japan afhandel. Nou wil hulle hê, ons moet huis toe kom…. Ons verwag dat hulle gevoelens en verwagtings ook in aanmerking geneem sal word …
Menslik gesproke is daar goeie beweegredes vir ons om na SA terug te keer en op ‘n nuwe manier voort te gaan om God se roeping vir ons lewens te vervul, God se roeping na ‘n voltydse bediening, God se roeping na sending (in die volste betekenis van holisties uitreik na mense buitekant die kerk), God se roeping na wêreldsending en leiding aan Sy kerk ook in SA om voort te gaan met sy wêreldwye sendingroeping, en selfs God se roeping na Sy kerk om die kerk in Japan by te staan met evangelisasie van die mense van Japan. Ons kan dalk nog ‘n geringe bydrae maak in ons geboorteland en kerk voordat ons hemel toe vertrek ….
Aan die ander kant is daar ook goeie redes vir ons om vereers nog ‘n paar jaar in Japan te bly, veral om Stéphan en Carina te help met hul voorbereiding om hul voltydse bediening in die kerk van Japan en die Japannese gemeenskap te begin. Dit sal natuurlik van allerlei praktiese faktore afhang, faktore waarvan finansies ‘n belangrike is….
BID ASSEBLIEF saam met ons, met Missie Japan en met die RCJ hier in Shikoku en ook met ons kinders en familie tuis, dat ons almal saam God se stem en leiding helder en duidelik sal hoor en herken vir die pad vorentoe.
Met liefde en groot waardering,
Tobie en Annalie (de Wet)