TWEE UITHOEKE: 1 Des. 2021

Kan twee lande meer van mekaar verskil as Japan en Suid-Afrika? Suid-Afrika is ‘n warm, soms lawaaierige, onvoorspelbare mengelmoes van kulture van die Weste, Nabye Ooste en Afrika. Japan is stil, homogeen en voorspelbaar. Na 12 en ‘n halwe jaar in Japan en ons onlangse besoek aan Suid-Afrika na ‘n besondere lang onafgebroke 4 jaar in Japan – boonop midde-in die derde golf van Covid-19 – was dit bykans onmoontlik om nie konstant melodramatiese vergelykings te tref nie.
 
Daar is reeds ‘n magdom boeke oor Japan en sy uniekheid geskryf. Daarom wil ek hier bloot uit my onlangse ervaringe die twee lande deur ‘n meer persoonlike, en uiteraard subjektiewe, bril bekyk.
 
Ons het in 5 maande duisende kilometers afgelê as familie (en Stéphan, nog ‘n bykomende paar duisend). Paaie was lank en oop, verby skraal Karoo bossies, en dan weer lowergroen graslande. Ons kinders het nog nie iets soos die Vallei van Verlantenheid gesien nie (want in Japan is niks meer weggesteek of verlate nie), en Zebra’s en Springbokke langs die nasionale paaie was ‘n verrasing. Die kinders en ek was vir lang tye meer in die Suid-Kaap – tussen Stilbaai en die slapende berge van Swellendam met bottergeel Canola tussen die twee dorpe. Die natuur van Suid-Afrika is opwindend divers en ek is altyd gereed met die rooibos skatkis van die Wes-Kaap in my arsenaal van kommunikasie “starters” met Japanners. Orals is daar padstalle langs die pad – elkeen anders én met die lekkerste koffie en brood uit die oond. Selfs petrolstasies het deesdae smaaklike koffie. Op die nasionale paaie sien ‘n mens fietsryers en voetgangers, al is daar wette wat daarteen maan. 
 
En in Japan? Jy sien NOOIT ‘n voetganger of ‘n fietsryer op ‘n nasionale pad nie. Die spoedbeperking is 100 km/h en dit is ‘n direkte weerspieëling van die versigtige Japannese nasie. Die landskap is meestal eenvormig – met groen Sederbome en berge in die agtergrond en swael- en miswolke wat onderskeidelik uit warmwaterbronne en valleie hemel toe drentel. Langs die snelweë is daar halfwegstasies wat almal deur die Nasionale Verkeersraad bestuur word. Hier kan jy Soba of Ramen of Japanese kerrie by ‘n elektroniese betaalpunt koop en dan jou nommer by die toonbank ingee. Hierdie halfwegstaies lyk min of meer almal dieselfde. Die enigste verskil is die omiyage – pasklaar geskenke wat jy kan (en behoort) te koop vir jou werksmense en andere wat jou goedgunstig was. Dié geskenke is uniek en herkenbaar volgens die streek waardeur jy ry.
 
Japannese mense neem besluite op ‘n fyn afgemete manier. Geen kortpaaie of kanse vat nie. Reëls word nie gebuig nie. Uitvoerige reëlboeke dien as verwysing en risiko word vermy.  Ek vermoed die pioniersgees is baie sterker in Suid-Afrika. Soepelheid is juis soms ál manier hoe jy in SA kan oorleef tussen die verskillende kulture en opvoedingspeile. En as iets nie sin maak nie, is daar absoluut geen rede om dit uit te voer nie.
 
‘n Goeie voorbeeld van hierdie verskille was die onderskeie lande se reaksie tot Covid-19. In Junie vanjaar land ons in Johannesburg, gemaskerd en reg om kontak absoluut te vermy. Ek en Stéphan beraadslag ernstig in die kar of dit wyser sal wees om eerder met maskers vir twee weke saam met my ouers te bly in Stilbaai. En natuurlik geen drukkies nie – al was ons vir so lank weg van mekaar. Ons kom immers met ons Japanese ingesteldheid en dit is wat ons in Japan doen. Natuurlik was dit sommer dadelik duidelik dat geen kwarantyn verwag word of nodig is nie. Al word Gauteng gesluit vir reise en die bereik Covid-gevalle rekordgetalle.
 
Vergelyk dit nou met ons terugkoms na Japan in November. Japan het op die oomblik van sy laagste infeksiekoerse. Hulle is heeltemal verby die 5de vlaag. Maar met ons terugkoms het ons letterlik vyf Covid toetse in 7 dae gedoen. Alles gelukkig met ‘n negatiewe uitslag. By ons aankoms op die lughawe-in-die-see (in Osaka) word al die passasiers geskei – skape en bokke. Die wat van gevaarlike lande kom; en die wat vertrou word. Ons gaan deur ‘n hele proses van vorms invul, toetse word geneem, ons moet ‘n belofte aflê en teken dat ons vir twee weke sover moontlik kontak sal vermy (met die dreigement van deportasie indien dit nie gebeur nie). 
 
Die kinders kap om by elke “stasie” in ‘n diep-diep slaap (want hulle het gekies om die laaste been eerder op die vliegtuig se speletjies te fokus as op ‘nuttelose’ slaap). Twee ure na die vliegtuig geland het is ons uiteindelik klaar. Al is al ons toetse negatief moet ons 3 dae in baie streng kwarantyn in ‘n hotel bly – ‘n wag is buite ons deur gestasioneer en ons kan net ons vullis vinnig voor ons deur uitsit. Niks anders nie. Kos word klokslag drie keer per dag voor ons deur neergesit – ‘n klokkie lui, maar nooit sien ons ‘n mens nie (behalwe die wag wat ons gang oppas). Na die derde dag van vier kinders en twee volwassenes in ‘n hotelkamer (met YouTube oefeninge – sien foto’s hieronder – en skoolwerk net sodat almal emosioneel behoue bly), doen ons weereens ‘n toets. Negatief. Ons word deur drie amptenare begelei na ons privaat vervoer. Toe begin 11 dae van isolasie by die huis – twee kere per dag kry ons lukrake video oproepe en ‘n opdrag om ons ligging te bevestig – alles word met satelliete gekontroleer. Baie versigtig en deeglik, terwyl amptenare vriendelik en hoogs gemanierd en verskonend bly buig op die video oproepe. 
 
Een van die dinge waarvoor ek BAIE dankbaar was deur die kwarantyn tyd, was koffie. Om die waarheid te sê, selfs sonder kwarantyn is dit my ‘sanity’. Maar, koffiewinkels is duur in Japan. En die goedkoop koffie brand jou keel en gee jou sooibrand. Brood is meestal net sag en wit soos koek. Een appel kos R15 en al bly ek in Kobe het ek nog net een keer Kobe Beef (Wagyu) geëet – want dit was by ‘n troue en ek het nie self daarvoor betaal nie. Elektronika is verbasend bekostigbaar hier en natuurlik van hoë kwaliteit. Sushi in Japan op ‘n vervoerband kos ongeveer R15 vir twee stukkies. In die 5 maande in Suid-Afrika was vars vrugte en groente soveel meer bekostigbaar as in Japan, terwyl klere en ander items verrassend duur was.
 
Op ‘n Vrydagmiddag is daar ‘n merkbare verskil in die pas van Suid-Afrikaners. Min antwoord nog ‘n epos, of ‘n telefoonoproep. Dis naweek! In Japan is Vrydae en Saterdae net ‘n verlenging van Maandag, Dinsdag, Woensdag en Donderdag. Die enigste dag wat ‘af’ is, is ‘n Sondag, maar natuurlik as jy ‘n skoolkind is het jy heel moontlik skoolaktiwiteite en as jy ‘n Christen is, gaan jy kerk toe. 
 
Om ‘n Christen te wees in Japan is ‘n 100% commitment. Jy is dadelik anders, buite die boks. Jy het ‘n daadwerklike keuse gemaak om die Boeddhistiese familie altaar in jou huis te vernietig. Om een, lewende God persoonlik te aanbid. En daarom is ‘n Sondag, te midde van ‘n besige ses-dag week, gewy aan God en die kerk. Lidmate maak beurte om die kerk skoon te maak en toilette te skrop. Kerkies van 30 lidmate (wat heeltemal gemiddeld is) dra meestal die salaris van ‘n predikant deur hulle dankoffers. Oor die algemeen is daar ‘n besadigdheid in die Japanese kerk. ‘n Erns. Miskien ook omdat almal so vreeslik ernstig is oor hul toewyding aan God. Hulle ken die prys. Nie dat daar nie ook vrolikheid en lag kan wees nie – alles is net ‘n paar tone laer as in ons tuisland. 
 
In Suid-Afrika het ons Christene se oop arms en spontane warmte en simpatie deeglik ervaar. Ons het beskuit en koffiekoekies en vlakoekies en … en … ontvang. Natuurlik eerder wyn by Kaapse kerke! Ons kon selfs ‘n bazaar bywoon en braaivleis en slaptjips en bazaarpoeding eet. 
 
Hierdie paar voorbeelde van verskille is deel van ‘n magdom ander. En as gebore en getoë Westerlinge is dit altyd ‘n uitdaging om Oosterse logika en gedrag en gewoontes volkome te aanvaar. Die default is om daarteen te stry en dit te probeer verander met die ‘beter’ Westerse idees (vanuit ons perspekteif). 
 
Maar hoe bevoorreg is ons dan nie om te leer om te buig en te buk en volronder te groei nie? En vanuit ‘n geestelike hoek beskou, juis na ‘n verrykte en heler beeld van die liggaam van Christus (Efesiërs 4). Al is daar frustrasies en verskille, is daar ook soveel wat die kerk in Suid Afrika in gemeen het met haar broers en susters in Japan. Ons glo immers aan een, algemene (ekumeniese) Christelike Kerk. Dieselfde (Apostoliese) kernbelydenis van geloof word getrou elke week hardop in albei wêrelddele bely. 
 
Dit is miskien juis hierdie verskille tussen die twee lande wat die bou van brûe tussen hulle terselftertyd meer uitdagend, maar ook meer verrykend maak. Japan en Suid-Afrika bly onwaarskynlike vennote. Tog is die Bybel vol van onwaarskynlikhede en op die oog af onoorbrugbare klowe. Is dit nie reeds oorgenoeg rede om sterker hande te vat nie?
 
Ons waardeer jou ondersteuning!
 
Groete, 
Carina van der Watt (cvdwatt@gmail.com), namens die Van der Watt-gesin

DEEL DIÉ BRIEF MET HIERDIE SKAKEL

GEBEDSVERSOEKE


Ons is dankbaar vir Here se sorg en voorsiening t.o.v.:

  • Baie ondersteuners se praktiese, emosionele en gebeds-ondersteuning tydens ons afgelope besoek aan SA.
  • Almal se gesondheid, ons veilige aankoms en hervat van werk en lewe in Kobe. 
  • Ons RCJ geloofsfamilie wat ons tuiskoms hier met oop arms en harte verwelkom en ons betekenisvolle bedieninge gee om te doen.

Vra asb. vir sy leiding en beskikking in:

  • Nuwe studente vir 2022 by KRTS.
  • Ons bedieninge en aanbiedings tydens Kersfeestyd t.m.v. Covid-19 inperkings in kerklike aktiwiteite.
  • Beplande besoek aan RCJ Tokushima gemeente (26 Des.) wat die doop van ‘n kleuter insluit. 
  • Alle RCJ gemeentes in Japan se getuieniswerk t.m.v. die sesde golf van infeksies hier.