Nuusflits 16 September 2009
Beste ondersteuners,
Die oes is groot, maar die arbeiders min. In Japan is dit op vele maniere ‘n sigbare realiteit. Die herfstyd hier het buiten ‘n koeler luggie ook die oes van goudgeel ryslande ingelui. Oral rondom ons huis sien ons in dié unieke tyd boere wat saam met vriende of familielede gerwe insamel en dorsvloer toe karwei. ‘n Stukkie platteland, ingevleg tussen winkels en stringe motors op besige paaie. Ons is bevoorreg om hier in Tokushima te woon …
Twee uiteenlopende stories oor rys
So van rys gepraat … baie Japanese rysboere glo in spesiale geeste wat hulle ryslande beskerm en ‘n suksesvolle oes laat inkom. ‘n Klein hopie sand met heilige papiersnysels en ‘n dennetakkie by, verteenwoordig die rysgeeste, wat klein rysboerderye dien en beskerm. In herfstyd, ná die oes, word geglo dat die geeste in die nabygeleë berge in beweeg. Hulle keer dan weer volgende lente terug, net voordat die boere die ryslande met water natlei om nuwe saailinge te plant. Hierdie oortuigings is vasgelê oor ontelbare dekades. Ek wonder onwillekeurig hoe dit sin gee – of nie? – aan miljoene mense se lewens…
Terwyl ek hieroor nagedink het, lees ek onlangs ook ‘n fassinerende berig oor die reuse, lewegewende verskil wat ‘n hand vol rys daagliks in ‘n afgeleë deel van Indië (Mizoram) maak. Een vrou wat een hand vol rys per dag begin afsonder het vir ‘n evangelis, se bydrae het vandag gegroei tot Lewensbrood vir miljoene. Lees hier die volle berig.
Die seisoen se draai was propvol aksie
Die afgelope 5 weke was lekker besig te midde van die somer vakansietyd. Ek lys sommer net ‘n paar van die dinge wat ons hier in die bediening deurleef het:
- ‘n Sinvolle sending-seminaar en getuienis geleentheid saam met pa Tobie in Kochi.
- ‘n Opwindende jeug-retraite by die see was ‘n spesiale geleentheid vir veral werkende jongmense uit ons omgewing om te kuier, speel, sing en getuig.
- ‘n Tennis dag is geniet terwyl die laaste somerhitte ons laat sweet het.
- Op ‘n unieke vakansie-eiland is ‘n groepie kinders se somervakansie gekroon met ‘n Bybelkamp. Dit was vol pret, maar ook vol diep waarhede oor God. Dié foto’s vertel die verhaal.
Belangrike kultuurbrokkies
Tokushima stad is oral in Japan bekend vir die Awa Odori danse wat uitgevoer word om elke hoek en draai gedurende middel Augustus. Alles word omskep in ‘n feestelike gewaad en die stad bars uit sy nate van nuuskieriges wat ‘n ooraanbod van kleur en klank kom geniet. Dié gebeure het ‘n lang geskiedenis, en val saam met die jaarlikse Obon tyd – ‘n Boeddhistiese gebruik wat sentreer rondom voorouer-verering. Boeddhistiese godsdienstiges glo dat voorouer-geeste elke jaar terug keer na hierdie wêreld om hulle lewende familielede te besoek. Lees hier meer oor Awa Odori onder die opskrif, Summer Dance Madness.
‘n Nuwe regering en ‘n nuwe leierskorps het die afgelope week aan bewind gekom in Japan. Daar is massiewe uitdagings wat hulle die hoof moet bied, o.a. ‘n buitengewoon hoë werkloosheidsyfer (5.7%) en ‘n berg openbare skuld. Sosiale kwessies wat sentreer rondom ‘n oorskot afgetredenes en ‘n kwynende poel belastingbetalers is verdere kopsere wat hanteer moet word.
Terloops … in ‘n onlagse berig in TIME tydskrif beskryf een werkende jong vrou haar ervaring van die krisis waarin die Japanese samelewing verkeer so: “Concentrating on making money destroyed the community and family relationships … We make money. So what? We feel empty.” Ek wonder hoeveel ander (veral jonger) Japannese ook hierdie sentiment deel? Ek vermoed daar is baie …
Cornelius se gesondheid en taalstudies, tree vir tree vorentoe
Cornelius se toestand is soms wisselvallig, maar oor die algemeen groei hy goed en begin sy simptome van ongemak en pyn verminder. Daarvoor is ons oneindig dankbaar … dit maak dat ons nou meer ritme kan vind in ons dag-tot-dag take. Ons is egter steeds onseker oor die regte diagnose en die oorsaak van sy verhoogde ammoniak-vlakke. Daarvoor gaan ons aan die einde van September een van die kundigste dokters in Japan op metaboliese (kinder)siektes sien. Ons is ook bevoorreg om kontak te hê met die mees ervare navorser op die gebied in Suid-Afrika (Potchefstroom), en ons wag vir sy analise van Cornelius se data. Buiten dit alles vertrou ons God is besig met Sy genesingswerk, op Sy tyd.
Die taalstudie vorder goed, maar dit bly babatreë wat ek hier gee … dit is ‘n lewenslange opgawe om die taal aan te leer (selfs vir Japanese). Tog is ek is opgewonde oor elke treetjie en geniet dit baie om hierop te kan fokus. Annlie leer ook al speel-speel die taal aan saam met ‘n maatjie en haar ma. Carina se taalstudie sal hopelik ook binnekort meer amptelik kan afskop.
Bid asseblief saam met ons
1 Thess 5:16-18 het ons in die afgelope tyd gehelp om te onderskei waarop om te fokus in ons hierwees: vreugde, dankbaarheid en afhanklikheid van God (gebed).
Vol vreugde… vra asb. saam met ons vir genade om te midde van fisieke en emosionele moegheid die vreugde van ons roeping in elke oomblik raak te sien en uit te leef.
Met dankbare harte… loof die Here vir Sy onvoorwaardelike liefde en sorg wat ons dra in elke omstandigheid, veral vir Cornelius se beterskap.
In afhanklikheid… vertrou saam met ons op God vir geleenthede om elke dag Sy omgee en meelewing met dié mense te deel wat ons paaie kruis, veral met hulle wat ‘n verterende leegheid ervaar al het hulle materieël meer as wat nodig is.
Baie dankie vir jou ondersteuning!
Vrede
Stéphan, Carina, Annlie en Cornelius