Nuusflits 11 November 2009

Beste ondersteuners,

Beeldryk. In een woord is dit een van die mees opvallende aspekte van die Japannese kultuur wat ek tot dusver beleef het. Hier in Tokushima staan antieke klipbeelde van tempelgode rotsvas, sy-aan-sy met die moderne en gewilde flitsliggies van ontelbare advertensiebeelde. Daar is orals ‘n oorvloed beelde te sien, en daar is natuurlik BAIE meer daaroor te sê … In hierdie kort nuusflits val die fokus vir ‘n oomblik op ‘n spesifieke versameling: die beelde in strokiesprente, oftewel manga.

MANGA kultuurbrokkie

Die woord manga beteken basies strokiesprente (in Japannees). Meeste strokiesprente lyk soos klein tydskrifte of sagteband boeke en daar verskyn dikwels verskeie volumes wat aaneenlopend ‘n storie vertel. Baie van die strokiesprente is geskryf met die oog op kinders en jongmense (gewoonlik vir seuns en meisies afsonderlik), maar véél meer fokus op ‘n volwasse gehoor. Die temas of genres waaroor geteken en geskryf word wissel van aksie-avontuur, romanse, sport of geskiedenis-drama tot wetenskap-fiksie, fantasie en seksualiteit (ook eksplisiete pornografie, genaamd hentai).

Alhoewel daar ook kleurvolle manga gepubliseer word, is die meeste in swart en wit gedruk. Die beelde vertel self die verhaal, daarom is relatief min geskrewe dialoog gewoonlik nodig. Manga word van regs na links gelees (die tradisionele manier in Japannees). In 2007 het manga publikasies meer as 400 biljoen Yen se omset gegenereer!

Hoekom skryf ek iets hieroor? Omdat hierdie uiters gewilde ‘stokperdjie’ vir miljoene Japannese mense dikwels ook ‘n raamwerk van sin in hulle lewens gee, en ons dit behoort te verstaan as ons hulle wil bedien met God se vernuwende hoop. Redelik onlangs is die Bybel deur ‘n Amerikaanse uitgewery in manga gedruk. Lees verder ‘n (kritiese) resensie hieroor en dink en bid saam met ons oor hoe die evangelie in hierdie formaat mense se lewens kan aanraak.

Bedieningsnuus

Twee weke gelede was ons bevoorreg om vir Dr. Kobus Gerber (NGK Algemene Sinode verteenwoordiger) hier te ontvang by die RCJ se sinode byeenkoms wat in Osaka plaasgevind het. Ons (ek en pa Tobie) was saam met hom by verskeie sinvolle gesprekke met plaaslike kerkleiers betrokke, met die oog op die uitbreiding van Missie Japan se werk hier. Ons sien met groot verwagting uit hoe die Here DV hierdie moontlikhede kan laat groei, en dank Hom vir Kobus se energieke inisiatief hierin!

Dieselfde naweek waarin Kobus hier gekuier het, het ons tuisgemeente ‘n baie unieke en kreatiewe  musiekaand gehou. Baie nuwe mense (bv. vriende van ons en ons gemeentelede) het ook die aand saam geniet, en nuwe verhoudings is gebou. ‘n Besoekende predikant (Nagai sensei) het ook sy lewensgetuienis gedeel. Die foto’s vertel die verhaal.

Persoonlik

In kort: dit gaan goed met ons te midde van min slaap en knaende verkoues wat ons saam met die seisoen se draai beleef. Cornelius se gesondheid is stabiel, die ammoniak vlak in sy bloed is amper normaal die afegelope twee maande (ons is baie dankbaar!). Ons pediater oorweeg dit daarom om oor ‘n maand moontlik sy medikasie geleidelik te verminder om te bepaal of sy liggaam self die proteïne kan afbreek ens. In ‘n volgende nuusflits sal ons graag spesifiek met foto’s vir jou ‘n beter idee gee van presies hoe dit lyk wanneer ons dag tot dag besig is met taalstudie ens.

Terloops…

In die berge hier rond is die roesrooi en goudgeel herfskleure opvallend, en tussendeur hang oral helder oranje kaki (persimmon vrug) volrond – dis ‘n fees vir die oog en soet tande!

Bid asseblief saam met ons

Met dankbare harte… loof die Here vir baie geleenthede om nuwe mense te leer ken en vriendskappe te bou, te midde van gebroke Japannees. Dank die Here veral ook vir pa Tobie en ma Annalie se bediening wat floreer met vele Bybelstudies, sendingseminare op verskillende plekke, die gasvrye ontvangs van baie besoekers (wat ‘n bediening op sigself is!) ens.

In afhanklikheid… vertrou saam met ons dat God ons taalstudie sal seën en vermenigvuldig. Bid asb. dat ons veral in die tyd wat kom die gesondheid en krag sal hê om dit voluit te doen, en vir Annlie en Cornelius se gesondheid. Bid ook vir die ander sendelinge (bv. Gys en Linda Olivier, Theo en Marlene Badenhorst, Verwey’s) en kerkgroepe in Japan.

Baie dankie vir jou ondersteuning!

Vrede

Stéphan, Carina, Annlie en Cornelius

NS: Carina is baie dankbaar is vir al die reaksie op haar vorige brief. Sy is jammer sy kon nie almal antwoord nie, maar tyd is net te beperk!

Comments (1)

хостингApril 9th, 2010 at 9:49 AM

baie interessant, dankie

Leave a comment

You must be logged in to post a comment.