April 2018 – Wat leer die dood ons (vanuit Japan)?

Kersiebloeisels in Kobe

Geskryf deur Carina Van der Watt

Die Japannese het ’n fassinerende verhouding met die dood. In die lente stroom ‘n magdom Japannese om na die ragfyn pienk kersiebloeisels (genaamd Sakura) te gaan kyk. Hulle bring hul obento’s (pragtige versierde rysballetjies, vis en groente), en speel, gesels en staar na hierdie weerlose bloeisels wat ’n skrale drie, miskien vier dae lank blom. Dit is juis die verganklikheid van die Sakurabloeisels wat die waarde van dié ervaring verdiep.

Al die seisoene, wat kom en gaan, word op unieke maniere in hierdie misterieuse kultuur gevier. In die somer is daar in elke stad en dorp ’n somerfees met vuurwerke en tradisionele yukata’s (somerklere). Busse vol mense gaan kyk na die pragtige herfskleure van Esdoring, Ginkgo en talle ander inheemse bome. Daar is groot feesvieringe, om die winter se doodsheid, wat saam met die nuwe jaar val, te vier. Want ’n nuwe begin is om die draai. Die seisoene se dood én herlewing is diep deel van die Japanese psige en ervaringswêreld.

Aan die ander kant is daar hoogs gesofistikeerde geboue, sonder ‘n vierde vloer. Die rede hiervoor is dat die getal vier (shi) heeltemal te veel klink soos shinu, wat dood beteken. Terwyl die Japanese die verganglikheid van die lewe in die natuur vier, en groot waarde heg aan die natuur se wentelbestaan, blyk dit tog of hulle ’n bygelowige verhouding met die dood self het.

Vanuit ’n Westerse perspektief mag dit as vreemd beskou word, maar dis tog interessant hoe ons in hierdie eeu van goeie gesondheidsorg, langer lewens en ongelooflike menslike prestasies, ons Westerse self ook bluf met ons eie, klaarblyklike onsterflikheid. Soos in die Griekse mitologie waar helde se trots saam met vele oorwinnigs gegroei het, ignoreer ons ons eie verganglikheid en menslikheid. Ons vlieg hoog op ons eie Pegasus, en is werklikwaar verbaas as ons vlerke brand.

Die dood bly ons vyand. Dit is pynlik. Dit skeur lewens, families en vriendskappe onnatuurlik uitmekaar en los ons soms met ’n wanhopige gevoel van vlietentheid en verlies. Tog moedig die Bybel ons aan om die dood reguit in die oë te kyk. Dat ons ons eie sterflikheid moet raaksien.“Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is. Die mens, sy lewensduur is soos dié van gras…” (Psalm 103). As ons ons kinders en jongmense kan leer om van kleins af met moed en oortuiging te lewe, met die dood voor oë, maar deur die hoopvolle oë van ons oorwinning deur Christus, sal dit hulle nie met vreugde en vrede, en bowenal wysheid vul nie? “Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom.” (Psalm 90)

Die paradoks van Jesus, wat in sy grootste weerloosheid sy krag bewys het, en vir ons die ewige losgekoop het al verdien ons dit nie, bly die rots waarop ons ons lewens moet bou. As ons ons eie dood, en dus ook Jesus s’n ignoreer, verloor ons die vrede, rus en vreugde wat ons in Jesus kan vind te midde van ons omstandighede.

Net soos met die kersiebloeisels in Japan is dit in ons weerloosheid; in ons verganklikheid, waar ons ware krag skuil.

“En wanneer hierdie verganklike liggaam met die onverganklike beklee is, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike, dan sal die woord wat geskrywe staan, vervul word:‘Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal. Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?’” (1 Korintiërs 15)