Nuusflits 3 Junie 2010
Beste vriend/vriendin,
Gegroet vanuit ‘n toenemend bedompig-warm wordende Tokushima … laasjaar hierdie tyd het ons nie net van die hitte gesweet nie, maar ook van verwagting vir Cornelius wat ‘n paar dae later gebore sou word (9 Junie)! Wat ‘n voorreg om te kan terugkyk oor ‘n jaar vol groei, genesing en genade!
Weereens net ‘n kort nuusflits om jou op hoogte hou van enkele van die gebeure wat ons die afgelope weke deurleef het. Die fokus val op my skoonouers Tobie en Annalie se ervarings, en hoe God hulle daarin ontmoet het.
Eers vertel (ma) Annalie meer oor Noriko se herstelpad:
“Vir almal wat so getrou vir Noriko gebid het en steeds bid net die volgende: Na haar vorige operasie 10 jaar gelede, kon sy vir 4 maande lank nie eet nie en was dit gevolglik vir haar n baie traumatiese ervaring. Hierdie keer was haar herstel egter so vinnig en bo alle verwagting dat sy en haar familie dit dadelik toegeskryf het aan al die gebede!! Sy is binne 2 en ‘n halwe weke ontslaan wat bittergou is vir Japan, waar hulle die pasiënt gewoonlik baie lank in die hospitaal hou. Dank die Here saam met ons vir haar vordering en bid asseblief steeds vir volkome genesing van gees, siel en liggaam.”
Tobie, Noriko en Annalie
Tweedens: het jy ooit gewonder hoe God die pad vooruit geloop het m.b.t. die groot besluit rondom Tobie en Annalie se aftreedatum ens? Hier onder volg (pa) Tobie se inspirerende vertelling.
Dankie vir jou ondersteuning … vier nou ook hierdie groot vreugdes – deur die worstelinge – saam met ons!
Vrede
Stéphan, Carina, Annlie en Cornelius.
———————————————————————————-
Van Tobie en Annalie
Beste familie en vriende,
Ons Aftrede: Die kerk het besluit einde van 2011
Die nuus van ons kant af is, dat besluit is, ons sal né ons aftree-ouderdom op 65 (ek sal 65 wees op 9 Julie 2011), op versoek van die kerk in Japan ‘n bietjie langer – tot aan die einde van 2011 – aanbly. Die besluit is deur die amptelike afvaardiging van Missie Japan na deurdringende beraadslaging met die Sendingkomitee van die ring van RCJ Shikoku geneem. Daar is deurentyd geluister na versoeke van die gemeente van Tokushima asook ons familie in SA, dit is met ons bespreek en die aangesig van die Here is gesoek. Alhoewel dit vir alle betrokkenes ‘n moeilike besluit was, glo ons dat die leiding van die Gees van die Here onmiskenbaar in die hele proses was.
ONS HET NIE GEWEET OP WATTER MANIER ….…
Soos julle weet, het ons werklik geworstel oor ons aftrede. Ons het ons stryd hieroor met julle gedeel. Ons het nie geweet wat om te doen nie. Ons was in twee geskeur. Ons het ernstig gebid, en die Here vertrou om ons en sy kerk duidelik te lei. Ons waardeer opreg die begrip, bemoediging, raad en gebede van so veel van julle soos julle op ons nuusbriewe gereageer het.
GODDELIKE RAAD
Die laaste stukkie raad het van ons liewe vriende, Anton and Elsa le Roux in Wildernis, George, gekom. (Beduidend is die feit dat Elsa en Anton se ouers ‘n bepalende rol in ons lewens gespeel het op kritieke tye wat ons ons by ‘n kruispad bevind het t.o.v. ons toekoms en God se Wil …..). Hierdie advies het uit Genesis 13 gekom, die storie van Abram en Lot, toe die twee besluit het om uiteen te gaan, en moes besluit wie watter deel van die land sou kry. Abram het nie self gekies nie, maar het onmiddellik vir Lot eerste laat kies. Op die ou end het God vir Abram die res gegee, en baie meer! Anton het later met ons gedeel oor hoe hulle ernstig gebid het oor watter advies hulle ons moes gee, en toe het die Here hulle duidelik na Genesis 13 gelei, hoe Abram vir Lot eerste laat kies het, en daardeur eintlik vir God vertrou het om vir hom deur Lot te kies.
Anton en Elsa se advies was: “Laat die kerk die keuse maak, nie julle nie. God sal deur middel van sy kerk leiding verskaf.”
GOD SE WOORD HET TOT ONS IN ONS SITUASIE GESPREEK!!
Die oggend van die vergadering tussen die ring van die RCJ in Shikoku se Sendingkomitee en die afvaardiging van die Missie Japan-komitee op 5 Mei, was die skrifgedeelte in ons ‘Daily Bread’ uit die einste hoofstuk 13 van Genesis. Toeval?? NEE!! Ons het onmiddellik geweet, God maak in sy Genade met ons bemoeienis en praat direk en persoonlik met ons deur sy Lewende Woord!! Kom ek gee julle ‘n verduideliking van die dag se ‘Daily Bread’ stiltetydgedagte!:
“Om God te laat kies”
5 Mei, 2010 – deur David H. Roper
Lees: Genesis 13:9-13
Toe kies Lot die Jordaanvallei oos van hulle vir homself. —Genesis 13:11
Ons het moontlik heimlike begeertes, te diep om met ander te deel—moontlik ‘n begeerte om te trou, of ‘n werk wat ons wil doen, ‘n bediening wat ons wil uitleef, a spesiale plek waar ons wil dien. Ons moet elke begeerte in God se hand plaas en bid, “Here, U moet vir my kies. Ek wil nie vir myself kies nie.”
Genesis 13:10-11 vertel vir ons dat Lot sy eie keuse volgens sy begeerte gemaak het. Hy “het rondgekyk na die vrugbare valleie van die Jordaanvallei in die rigting van Soar. Die hele gebied was waterryk, soos die tuin van die Here, …. Toe kies Lot die Jordaanvallei … vir homself.”
Die Jordaanvallei met sy ryk grond en oormatige watervoorraad het vir Lot die beste gelyk. Maar die land was besmet met boosheid (v.13). Pastoor Ray Stedman skryf “Lot, wat voorbarig genoeg is om sy eie lewe te bestuur, ‘het vir homself gekies’ en, mislei deur wat hy gesien het, het blindelings in hartseer en veroordeling ingestrompel. Abram, darenteen, was tevrede om God vir hom te laat kies . . . Abram het dit in die ware lig gesien.” Lot het vir homself gekies en alles verloor—sy familie, sy besittings, die guns van mense.
Dit is altyd die beste vir ons om God te laat kies en sy rigting te volg. Ons weet immers dat ons Hemelse Vader se keuses gebaseer is op sy oneindige wysheid en liefde.
Lank gelede het ek my lewensbesluit geneem
Om die Heer te dien en Hom my weg te laat kies;
en wanneer ek onseker by ‘n kruispad staan,
het Hy nog elke keer vir my die weg gebaan. —Hess
Tevredenheid is die gevolg wanneer God se wil belangriker is as ons eie.
ONS ONDERWERP ONS AAN GOD SE LEIDING DEUR SY KERK
Die besluit van die Missie Japan-afvaardiging was nie volgens ons insig op daardie tyd die regte een nie. Desondanks, glo ons dit was God wat deur die gebedsafhanklike en wyse leiding van die kerk vir ons gekies het. Ons kon eenvoudig nie teenstribbel of beswaar maak nie. Ons het onmiddellik toegegee.
Natuurlik sal dit baie moeilik wees om uiteindelik 20 jaar (8 jaar plus 12 jaar) se lewe en werk in Japan te beëindig (natuurlik sal ons nooit ons roeping en liefde en gebede vir Japan, sy wonderlike mense en die Kerk in Japan prysgee nie. Die feit dat ons kinders hier sal wees, ook as ons eie verteenwoordigers, beteken dat hulle lewens, bediening, ervarings, vreugdes en swaarkry ons s’n sal wees tot die dag wat ons finaal verhuis..). Dit sal ook baie moeilik wees om hierdie kerk te verlaat, die RCJ, wat ons tweede geestelike moeder geword het en vir wie ons baie lief geword het. Dit saI baie moeilik wees om ons liewe Japannese vriende, baie van KYUSHU, te verlaat. Dit sal veral moeilik en traumaties wees om Stephan, Carina, Annlie en Cornelius agter te laat. Ons weet immers uit eie ervaring van die jare wat voorlê, weet hulle sal totaal alleen wees sonder familie of selfs mense van hulle eie kultuur en taal naby …. En dat ons hulle nie meer gereeld sal sien nie ….
Ons weet ook nie wat vir ons in Suid-Afrika voorlê nie. Ons ervaar onsekerheid en kommer. Ons moes egter die wyse besluit as God se duidelike leiding aanvaar, en, sonder enige verdere vrae of besware, onderwerp ons ons aan Hom. Ons lewens tot dusver was in Sy Hande en ons toekoms en die lewens van ons kinders is in Sy Hande.
GOD VOORSIEN
Sedert God ons twee 35 jaar gelede saam op hierdie sending gestuur het, was ons leuse uit die verhaal van Abraham en Isak in Genesis 22: “Die Here sal voorsien..” Soos ons saam, hand-aan-hand (net soos Abraham en Isak na Moria) in oorgawe en gehoorsaamheid aan Hom gestap het, vertrouend op Hom, het Hy voorsien. En ons moet met dieselfde geloof na die toekoms kyk: “Die Here sal voorsien!” Hy sal nuwe deure oopmaak en nuwe bedieningsgeleenthede daarstel en sal ons fisies, materieel en geestelik toerus om ons roeping tot die heel einde, beide hier in Japan en in ons geboorteland, te vervul.
ONS VERSOEK
Dit is ons ernstige versoek aan julle, ons liewe familie, vriende en ondersteuners: MOET ASSEBLIEF NOOIT OPHOU BID vir ons nie. En hou asseblief aan met bid vir Stephan, Carina, Annlie en Cornelius, vir die kerk in Japan, vir ons broers en susters hier op Shikoku-eiland, vir ons vele wonderlike Japannese vriende en vir al die mense van hierdie wonderlike, maar geestelik behoeftige, land.
Vrede vir julle in Jesus Christus ons Here
Met diepe waardering en liefde
Tobie en Annalie
Liewe Tobie en Annalie, sedert die aardbewings en tsunami dink ek gereeld aan julle. Ek was in daardie tyd by my ma op Somerset-Wes omdat sy ‘n mastiektomie moes ondergaan – op 86! Ons het baie oor julle gepraat en gewonder hoe dit met julle gaan. Toe ek in Ierland terugkom, lees ek toe die spesiale uitgawe van die Vrypos wat André Barlow vir ons aangestuur het en was verlig om te sien julle is dit alles gespaar, maar ek verstaan ook dat mens as hulpgewers tog erg geraak word deur die trauma wat julle in ander mense sien en beleef. My eie sending en evangelisasie ywer het baie getaan, alhoewel ek steeds elke dag bid dat ek deur my leefwyse ‘n getuienis sal wees. Ek het nie ‘n eposadres vir julle nie, maar sal graag kontak met julle wil hervat. Julle lyk albei nog net dieselfde, geen dag ouer nie, al moet julle aan die einde van die jaar aftree. My eposadres sal ek hieronder inskryf, maar ek weet nie of dit vir julle sigbaar sal wees nie, so ek skryf dit ook hier: marthie.potgieter@gmail.com. mag dit baie goed gaan met julle en mag julle baie seën ontvang. Baie liefde en groete, Marthie (Krynauw)