Nuusflits 21 Mei 2010

Beste vriend/vriendin,

In dié nuusflits deel ek graag oor 4 dinge iets met jou:

Maak asb. ‘n nota om hierdie Sondag (23 Mei) te luister na RSG (100-104 Fm) se Kruis en Dwars program tussen 19h00-20h00. Daarin maak ek ‘n kort inset in die gesprek wat Johann Symington (dr.) lei oor kruiskulturele bedieninge.

Verlede Sondag het ek die voorreg gehad om ‘n aanbieding te doen oor Suid-Afrika by Tokushima se plaaslike Foreign Language Institute (TOPIA). Ongeveer 60 mense het dit bygewoon en ywerig deelgeneem. ‘n Waardevolle verhoudingsbou-geleentheid. ‘n Bonus was ook om op ‘n plaaslike radiostasie (‘n onderhoud ten dele in Japannees) en in koerantberigte blootstelling te kon kry oor die onderwerp.

In ‘n volgende nuusflits deel ek binnekort meer detail oor die pas afgelope besoek van die Missie Japan afvaardiging (Gideon, Victor en Johann) aan ons, en oor al die groot vergaderings, gesprekke en amptelike besluite wat geneem is. Daar sal ook meer nuus volg oor die afgelope tyd se gebedsversoeke (oor Noriko) en die beloofde DVD-snit (saam met Laurens) uit Kyoto kom ook nog. Hou hierdie spasie dop!

En vierdens: ‘n paar indrukke uit verlede week se bedrywige Tokyo konferensie…

Kleurryk. Energiek. Divers. Verruimend wyer as die grense van kerkgroepe! Dit was die Tokyo 2010 Global Mission Consultation and Celebration. Wat ‘n voorreg om te kon deel te wees van ‘n wêreldwye netwerk (meer as 80 lande) van (1000 plus) afgevaardigdes wat toegewyd fokus op die deel van die Evangelie. Deel iets van die ervaring deur hier onder te kliek vir ‘n 2 minuut DVD-snit.

Daar is o.a. nagedink oor die gebreke en die eensydige fokus wat by tye in sending-organisasies oorheers het in die afgelope eeu. Bv: by die 1910 (Edinburgh) Wêreld Sendingkonferensie is die Westerse Christendom (meerderwaardig) beskou as die stuurders en die nie-Westerse kerk/e as die ontvangers van die Evangelie. Foute waaruit ons steeds baie kan leer. Maar daar is ook terug gekyk oor die afgelope 100 jaar se inisiatiewe en oor die groot vordering wat gemaak is om die evangelie te versprei. Bv:  in 1960 was (na raming) slegs 30% van die globale Christelike bevolking in nie-Westerse wêreld, en 70% in die Weste. Maar teen 2000 was 78% in die nie-Weste en slegs 22% in die Weste. Dink bietjie daaroor…

Die konferensie het baie meer fasette gehad as wat ek hier kan beskryf. Ons was o.a. bevoorreg om te kon sien hoe tradisionele vyande (Arabiërs en Jode, Japannese en Koreane ens.) mekaar omarm en opnuut hulself verbind tot versoening. Ek kon meer leer oor hoe om die Drie-enige God se hoop en verlossing te deel in ‘n oorheersende Boeddhistiese land soos Japan. Daar is gefokus op watter prioriteite nou belangrik is op die pad van dissipelskap, sodat ‘n volgende generasie die Goeie Nuus kan ontvang. Verder was daar o.a. werkswinkels oor die uitdagings wat die globaal groeiende Islam bevolking bied. Iets anders: het jy geweet daar word ongeveer 6900 tale gepraat op aarde, maar dat slegs in 5% van daardie tale die Bybel volledig beskikbaar is?

Een van die boeiendste en sinvolste aanbiedings het gehandel oor hoe om die Evangelie vars te verwoord in ‘n post-Christendom Europa. Kliek hier vir die artikel deur ‘n Sweedse teoloog. Sy weldeurdagte aanbieding het gelei tot aangrypende pleidooi dat die nie-Westerse Christen populasie – Afrika, Suid-Amerika, Asië – nou die noodkreet van Europa (in besonder) en die res van die Weste duidelik moet hoor, en hul sendingwerk na hierdie dele verder moet uitbrei. Dink saam oor die baie ironiese en inspirerende wending in die lig van die Edinburgh 1910 konferensie se eensydige fokus van ‘n eeu gelede. Die Heilige Gees se werk kan nie beheer of voorspel word nie!

Soos jy gehoor het is hier baie om oor dankbaar te wees en ook veel om saam te oordink en aan God toe te wy in gebed…kom ons maak so!

Vrede en vreugde,

Stéphan, Carina, Annlie en Cornelius.

Leave a comment

You must be logged in to post a comment.