Nuusflits 21 April 2010 – ‘n Nagtegaal bring goeie nuus

Beste ondersteuners,  

Toe ek dit die eerste keer gehoor het, het dit my vir ‘n oomblik in die middel van ‘n Tsitsikamma-woud laat beland. Min het ek geweet dat dit die stem van ‘n Nagtegaal is (een van my Japanese dosente het dit vir my uitgewys). Ek praat van die klein voëltjie wat die afgelope twee weke die lente se koms by ons heeldag lank uit-kwetter. Wat ‘n fees om daarna te kan luister! Dis een van die talle verrassings van ‘n nuwe seisoen in ‘n nuwe leefwêreld. Deel die ervaring deur hieronder te kliek op die 1 minuut videosnit (sit jou rekenaar se klank lekker hard aan).

Dié uitbundige geluid verklank ook iets van die blydskap in ons harte nadat ons einde verlede week wonderlike nuus gekry het: Cornelius is – volgens alle mediese ondersoek – blakend gesond! Ons is ontsettend dankbaar en verlig dat die siekte (hyperammonenia) nie chronies van aard was nie. En ons prys die Here vir ‘n see van meelewende ondersteuners en gebede.

 In die maand wat kom lê daar groot dinge voor:

  • Vanaf 1-15 Mei ontvang ons 3 afgevaardigdes van Missie Japan uit Suid-Afrika, bestaande uit Dr. Gideon van der Watt (sekretaris), Rev. Victor Pillay (voorsitter) en Ds. Johann Winterbach (lid van uitvoerende kommittee, spesifiek verantwoordelik vir sendeling-versorging).
  • Vanaf 3-5 Mei vier ons saam met die RCJ (Reformed Church in Japan) die 60-jarige bestaan van die Shikoku ring van (ongeveer 19) gemeentes, met gemiddeld ongeveer 30 mense per gemeente. Daar sal veral op 5 Mei baie belangrike gesprekke gevoer word met die Missie Japan afvaardiging, oor alle detail rakende ons as sendelinge se lewe en werk, asook oor die toekoms daarvan (soos ons in vorige briewe gedeel het).
  • Buiten die bogenoemde vergadering, sal Johann, Victor en Gideon ook by ander geleenthede (eredienste, predikante-byeenkomste ens.) aanbiedinge doen en deelneem aan gesprekke met plaaslike gemeenteleiers (d.m.v. pa Tobie se tolkwerk natuurlik).
  • Ek en Gideon sal ook vanaf 11-15 Mei die Global Missions Consultation in Tokyo bywoon. Dit is ‘n 4-jaarlikse konferensie wat die eerste keer in 1910 in Edinburgh, Skotland gehou is. Die doel daarvan is om wêreldwyd soveel as moontlik sending-organisasies en kerkgroepe te mobiliseer en toerus vir die verkondiging van die evangelie aan elke nasie. Dis ‘n reuse voorreg om dit te kan bywoon namens die NG Kerk, en spesifiek Missie Japan.
  • Op Sondag 16 Mei (14h00-16h00) doen ek ‘n aanbieding oor Suid-Afrika by Tokushima se International Exchange Association (TOPIA). Dis ‘n spesiale geleentheid om ook kennise en vriende te nooi en te leer ken, en iets van ons geboorteland te deel.

 Bid asseblief saam met ons

Met dankbare harte… vir Cornelius se genesing, en die voorreg van al ons geleenthede om in Tokushima verhoudings te bou.

In afhanklikheid… vir al die gesprekke, byeenkomste en aanbiedings wat voorlê – dat ons die Heilige Gees se leiding daarin sal beleef en volg. Vir ons daaglikse taalstudie, Carina se Engelse speelklasse en versorging van ons kinders in ‘n tyd waarin ek baie sal weg wees van die huis. Vir vordering met die Missie Japan blog (wat stadiger loop a.g.v. die ander prioriteite).

Vrede

Stéphan, Carina, Annlie en Cornelius

 —————————————————————————————————————-

 In ‘n volgende nuusflits, meer oor:

* ‘n Kort onderhoud vir RSG se Kruis en Dwars program wat binnekort uitgesaai word.

**’n Videosnit oor laasmaand se dag in Kyoto saam met Laurens.

Leave a comment

You must be logged in to post a comment.