Gebedsflits – 22 September 2011

Beste vriend/vriendin,

Ons sal dit baie waardeer as jy die volgende punte deel van jou gebedslys sal maak:

Dank die Here saam met ons vir:

Ons het ‘n baie geseënd 11 weke in Suid-Afrika beleef, honderde bemoedigende ondersteuners op meer as 50 plekke ontmoet, en spesiale tye saam met familie en vriende in ons mooi land geniet. Stephan het ook ‘n baie sinvolle konferensie oor pastorale sorg in Nieu-Seeland bygewoon.

Ons is dankbaar om veilig “tuis” en weer in ‘n gesonde roetine te wees, en om te midde van bedompige somerhitte en vlugflouheid weer voete te kon vind.

Ons waardeer veral in dié tyd ons twee geloofsfamilies (RCJ Tokushima en RCJ Tokushima-Wes) wat ons met groot warmte en gasvryheid terug ontvang het.

Wees saam met ons afhanklik voor God vir:

Bid asb. vir Carina vir krag, gesondheid en geduld in die swangerskap (laaste 8-9 weke lê voor).

Bid asb. vir kinders se her-aanpassing in kleuterskool en gemeenskap

Bid asb. vir almal se Japannese taalstudie en die aanbied van Engelse klasse vir kleuter en ma’s, as belangrike verhoudingsbou-geleentheid.

Bid asb. vir wysheid en krag vir Tobie en Annalie (de Wet), Carina se ouers, vir die laaste paar maande van hulle werk in Japan, en ook vir besluite oor hulle pad vorentoe in diens van Missie Japan en die RCJ.

Bid asb. vir Gys en Linda vir nuwe energie en visie in die nuwe skooljaar wat hulle onlangs weer begin het (1 Sept) saam met hulle leerlinge en kollegas (in Seiwa Christenskool in Kochi).

Bid asb. vir duisende mense in Japan wat steeds die stukkies van hulle lewens optel na die rampgebeure in Maart, en ook na hierdie maand se groot storms (tifone en vloedreen) regoor die land (sien op foto hieronder hieronder hoe dit lyk nadat 600 mm in twee dae hier in Tokushima geval het).

Baie dankie vir jou volgehoue ondersteuning!

Vrede

Stephan, Carina, Annlie en Cornelius

(ook namens Tobie en Annalie de Wet en Gys en Linda Olivier)

Ryslande agter ons huis

Cornelius en Annlie by dieselfde ryslande - nou oorspoel!

Comments (8)

Ferdie MulderSeptember 23rd, 2011 at 9:04 AM

Fantasties! Alethea gaan veral opgewonde wees om die mooi foto van Cornelius te sien! Oom Tobie eb tannie Annalie: ons bid vir julle – ons kyk op na julle – julle inspireer baie gelowiges – en is dit nie wonderlik vir die nalatenskap wat julle in Japan los nie! – Carina, Stephan en kie – die volgende generasie gaan aan met die werk!
Stephan en Carina – julle bly in ons gebede – ons (en veral Alethea – nou 8 jr) bid weekliks vir julle.

Baie seen

Ferdie en Suzette Mulder

Erna GouwsSeptember 23rd, 2011 at 9:22 AM

So bly ons kon jou sien, Stephan. Mag die Heilige Gees julle versterk en vul met vreugde en vrede in hierdie tyd.
Ons gaan DV vanaf 27 Sept vir ons kinders in Pennsylvania kuier. Kan ons asb vir tot einde 2011 ons pos liewer kry by dannyernagouws@gmail.com?
Ek staan verstom oor die voortgesette toetsing van die Japannese mense, en bid vir ‘n ooreenstemmende kragtige werking van die Gees.
Liefde,
Danny en Erna Gouws.

Magda BothaSeptember 23rd, 2011 at 4:06 PM

Dankbaar saam met julle julle is weer in bekende voue. Ai Carina, die “tyd” waarin jy nou is klink baie bekend en al is ek tot huilens toe jammer vir jou, weet ek ons God hoor die gebede vir jou en sal jou daardeur dra. Ek hoop die geboorte is voorspoedig en die kindjie gesond.
Ons sien/hoor kort-kort van die vloede ens wat Japan steeds tref en volhard in gebed vir al die kinders van die Here in Japan. Mag hierdie VERleentheid ‘n GEleentheid wees vir God om julle te gebruik om aan die mense daar te wys dat daar ‘n alternatief is.
Baie sterkte en voorbidding vir Tobie en Annalie en die groot besluit wat geneem moet word. Liefde en seenwense.

Thana de villiersSeptember 25th, 2011 at 6:55 PM

Baie blessings vir julle vir die jaar vorentoe. Dit was baie lekker om julle te ontmoet en saam te kuier. Carina, mag jou swangerskap voorspoedig verloop, ons kan nie wag om die nuweling te sien nie.

Eddie BothaSeptember 27th, 2011 at 2:38 PM

Dankbaar julle is veilig tuis. Julle kan verseker wees van ons gereelde voorbidding en dankbaarheid vir die werk wat julle doen. Hou my aub op die hoogte van werk in die rampgebied want ek het daaroor aan ons kerkraad berig. Ons stel belang ook in hierdie aspek van jul werk. Gee groete aan skoonpa Tobie, miskien sal hy onthou dat my vrou Elsa en ek hom jare gelede in Osaka besoek het. Ons het jul besoek geniet en is jammer dat dit so vinnig was – sou graag meer tyd wou saam deurbring. Baie liefde van ons twee en mag Hy wat julle geroep het julle elke dag bywees soos Hy in Mat 28 beloof het.

[…] Ons is al vir meer as drie weke terug in Japan en dit gaan genadiglik baie goed… Ons wil graag vir jou baie meer vertel van die sinvolle tyd in Suid-Afrika (en Nieu-Seeland), en ons huidige bedrywighede. Jy kan gerus hier kliek om te loer na ons jongste gebedsversoeke en ’n onlangse foto: http://www.missiejapan.co.za/fotosenvideos/gebedsflits-23-september-2011-2/ […]

Antoinette, JamestownSeptember 30th, 2011 at 8:50 AM

Ai, hoe heerlik om nuus van julle te kry… en boonop foto’s te sien. Die kinders is pragtig!!!! Ons is saam met julle dankbaar vir hul lewetjies! Carina & Stephan: Baie sterkte vir die pylvak van die swangerskap. Ons bid hierdie kant vir julle. Tobie & Annelie: Ons vergeet julle nie, want julle is darem al baaaaaie jare ‘n voorbeeld vir ons! Sterkte aan julle almal, en wees verseker dat ons julle aan God se sorg en leiding opdra.

FREDA BOTESOctober 17th, 2011 at 10:15 AM

Liewe Stephan & gesin,
So jammer Carina en die kleingoed was nie by toe jy Hartenbos besoek het nie, maar ons verstaan ook die vermoeienis met haar swangerskap en 2 besige kleingoed.Ons is bly julle is weer veilig tuis na al die gevlieg & gery hier in S A.
Mag Vader julle ryklik gebruik waarvoor julle geroep is, Hy sal julle mos self vir Sy taak toerus.Oswald Chambers sê ons is heel eerste geroep om Hom te eer en lief te hê.Mag Hy altyd julle eerste liefde bly.
Baie liefde & seën,Hartenbos Gebedsgroep.

Leave a comment

You must be logged in to post a comment.