Donghuri koro koro – Japan se herfs (Carina vertel)

 

Die Japanese somers is uitmergelend. Warm. 80 persent humied. En lank. Maar juís daarom is die herfs van Japan vir my ‘n groot vreugde. Sommer ewe skielik begin die fris, vars herfsluggie my liggaam en huis vernuwe. Ek het ewe skielik weer energie om nuwe projekte aan te pak en om die natuur en my huis te geniet – sonder om heeltyd lam en tam te voel. Ek kan selfs weer die son geniet.

Miskien is dit ook die rede waarom die Japanese in Desember hulle huise skoonmaak (in plaas van die gewone ‘spring cleaning’ het die Japanese ‘n groot skoonmaak in die winter). Maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag.

Die Japanese is seisoenale mense. Uit elke seisoen haal hulle elke stukkie vreugde en sielsverryking wat hulle kan. Herfs is ‘n tyd waarin baie vrugte en groente in Japan ryp is vir pluk en uittrek. En almal neem hieraan deel. Veral die klein kindertjies. As ‘n Suid-Afrikaner wat bevoorreg was om  ruimtes en natuur orals rondom my te gehad het, is ek hartseer-verbaas dat ek dit nie volkome benut het nie. Maar in hierdie land van beton en tegnologie en huise wat ‘n meter of minder uitmekaar gebou is (ek hoor gereeld my bure se wasmasjien), neem die Japanese aktief deel aan alles wat die bietjie natuur rondom hulle huise bied.

Om saam met klomp klein kindertjies en mammas of selfs pappas patats uit te trek in die genadige herfs sonnetjie en met die grond tussen ons vingers… Dít skep ‘n wonderlike gemeenskaplike gevoel wat tegelyk kindertjies blootstel aan die grond en aan groeisiklusse. So is daar ook soortgelyke lemoen-, appel- en druiwepluk uitstappies. Die geure en smake van vars herfsvrugte, neute en groente word deeglik deur die Japanese aptyt waardeer.

Annlie tussen die herfsblare

Annlie tussen die herfsblare

As ek, ‘n mamma van twee kleutertjies, aan die herfs in Japan dink, kan ek nie help om die deuntjie van ‘n bekende Japanese kinderliedjie in my kop te hoor nie: “Donghuri Koro Koro” (‘n Rollende Akker). ‘n ‘Donghuri’ is Japanees vir akker. Kleuterskole, ‘n see van oulike blink donkerkoppies met dieselfde kleur hoedjies op hul koppe, gaan uit in die buurt of in die parke om akkers bymekaar te maak. ‘n Plaaslike kleuterskool se bazaar het byvoorbeeld ‘n akker-resies gehou en die wenners het elk ‘n handgemaakte akker-ornamentjies gekry.  Ek bly verdwaas staan voor die paradoks van groot tegnologiese, raserige speelsentrums en die handgemaakte, natuurlike, tydsame kreatiwiteit van die Japanese.

In die bergryke Japan is daar orals vlekke roes, oranje en geel. Ek en die kinders het van hierdie kleurvolle geleentheid gebruik gemaak om ‘n klomp herfsblaar projekte aan te pak. Geïnspireer deur die Japanese, wat verbasend vindingryk en kunstig is, het ons hangertjies van herfsblare gemaak en selfs ons eie “glitter” herfsboompie.

Ek dink om soos die Japanese in voeling te wees met die seisoen en alles wat in die seisoen gebeur vul ‘n kind (en myself) met ‘n ryk, kleurvolle ervaring en blydskap. ‘n Vreugdevolle bewusworing van die eenvoud in die natuur en van die rykheid in ons eie siele as ons aan die ‘alle-daagse’ rondom ons bewustelik aandag gee. Dis dan wanneer die materiële nie net minder belangrik word nie, maar vervang kan word met ‘n uitkyk van ‘Eenvoud wat die vreugde van die Lewe word’.

Donguri se lirieke in Afrikaans (vryelik vertaal):

‘n Akker al rollende af en af.

Hy val ewe skielik in ‘n dammetjie.

Toe kom die riviervissies,                                                             

 Hello outjie! Kom speel met ons!

Die akker het dit geniet om met hulle te speel.

Maar hy het meteens begin huil,

Ek wil teruggaan na die berge.

Die riviervissies was verleë…

 

Carina van der Watt

Leave a comment

You must be logged in to post a comment.