Kersfees 2010 – Baba Jesus vs. Santa Claus in Japan

Baba Jesus is toe al die tyd baba ‘Vader’ Kersfees. Oftewel, só is dit die geval in die stal-uitbeelding van Jesus se geboorte in Japan. Waar Jesus moes lê, lê daar toe ‘n klein rooi Vader Kersfees (“Santa Claus”) – met Maria en Josef, die skaapwagters en die wyse manne rondom.

Who is your Santa Claus - advertensie naby ons huis in Tokushima

Who is your Santa Claus - advertensie naby ons huis in Tokushima

Die vreemde werklikheid hierin is dat die gemiddelde Japanees regtig nie weet dat dit NIE Vader Kersfees behoort te wees nie. Kersfees is direk uit die Weste geneem – die geskenke, kersbome, en in plaas van die Amerikaanse kalkoen, hoender. 

Selfs kersliedere (‘n mengsel van sekulêr en Christelik) word orals in die winkels gehoor. Elke instansie (kleuterskole, speelsentrums, Engelse klasse, ens.) hou kerspartytjies en dit voel baie soos in die Weste.  Die groot verskil is dat bitter min mense die ware Christelike betekenis van Kersfees ken. Min verstaan die Engelse woorde en dit wat in Japanees vertaal is klink basies net soet op die oor.

Dit is verseker soms moeilik om kultureel asook in terme van geestelike waardes, so vêr verwyderd te wees van ons goeie Japanese vriende, bure en kenisse. Veral gedurende Kersfees wanneer die afwagting, hoop, vreugde en liefde van Christus vir ons op ‘n baie simboliese wyse ‘n werklikheid word, laat dit ons as volwassenes dikwels hartseer voel. Maar ons kan dit gelukkig verdiskonteer. Om eensaam te wees is tog deel van die lewe. Ons harte is egter seer vir ons kinders wat in ‘n huis grootword wat hemelsbreed verskil met dié van hul omgewing. Ook vir al die dubbelsinnighede wat hulle nog in hul lewens gaan ervaar…Hulle lewens gaan basies altyd bestaan uit “binne die huis” versus “buite die huis”.

Ons probeer dus tradisies skep en handhaaf wat vir ons en ons kinders die ware betekenis van Kersfees op ‘n baie ryk en vreugdevolle wyse laat ervaar. Ons het byvoorbeeld begin om Advent heelhartig te vier deur die dae af te tel en elke dag ons ‘advent aktiwiteit’ vir die dag uit ‘n gepaste genommerde sakkie uit te haal. Vandag was kerskoekies bak dag – vir ons bure en vriende. Môre gaan ons kersliggies kyk. So sien ons in afwagting uit na Kersfees en ons almal word gevul met betekenisvolle afwagting en verwagting.

Ons Adventskrans met kerse

Ons Adventskrans met kerse

Die oggend van 26 Desember sal alle Kersfees-versierings in Japan summier weggepak word. In die plek daarvan verskyn die eintlike groot feestyd versierings van die Japanese: Nuwejaarsviering! En dan breek die belangrikste vakansietyd in Japan aan…al is dit net vir enkele dae om die harde werksiklus vir ‘n oomblik te onderbreek.

Op nuwejaarsdag gaan almal tempels toe. Spesifieke tradisies word gehandhaaf en baie tipiese nuwejaarsversierings en eetgoed kom te voorskyn. Daar word ook aan families, kontakte en besigheidskontakte spesiale nuwejaarskaartjies gestuur. Dit is ook ‘n tradisie om ‘spring cleaning’ net voor nuwe jaar te doen – om sodoende skoon en voorbereid die nuwe jaar in te gaan. Gewoonlik help almal met hierdie groot skoonmaaksessies – kinders, pa, ma, oupa, ouma. Dit word in die huise gedoen en ook by die werksplek.  Selfs die Boeddhistiese beelde in tempels word afgestof en televisie programme wys beelde van hierdie groot skoonmaakpogings. Een ding is seker, ons Suid-Afrikaners is baie kere baie bederf met ‘skoonmaak’ oorgee aan iemand anders. Hier skrop jy gewoonlik jou eie toilette, deurkosyne, vensters…

Dis baie koud vandag in Tokushima en terwyl ek tik voel my vingers maar stram van die koue. Maar die warmte van Kersfees – al word dit net deur ‘n handjievol ten volle gevier – is om my. Om die waarheid te sê, die klein getalle maak die intimiteit in ons kerkie van ongeveer 30 lidmate gloeiend warm. Daaruit kan ons Westerlinge verseker leer…

Carina en Annlie op 'n sneeu Kersdag in Tokushima

Carina en Annlie op 'n sneeu Kersdag in Tokushima

Geseënde Kersfees en ‘n pragtige Nuwe jaar vanuit Japan!

Carina (namens die Van der Watt-gesin)

Leave a comment

You must be logged in to post a comment.