Nuusflits – 14 November 2017

Ons Japannese vriende van Tokushima leer die kinders van NG Kerk Groot-Brakrivier
hoe om Kanji te skryf – as deel van die Japannese skrifsisteem.

Beste ondersteuner,

Kleiner leefruimtes, groen tee, herfskleure in oormaat, meer vis, etes met stokkies, ‘n ander skrifsisteem … die lys gaan aan. Ons is terug by ons huis in Kobe, en reeds meer as ‘n maand terug in Japan. Sedert ons terugkeer was daar – tussendeur ‘n stywe werkskedule – min tyd vir behoorlik grondvat. Maar ons raak weer gewoond aan hoe die lewe lyk, proe en klink in die land van die opkomende son. Vreemd, dóg bekend.

Onvergeetlike besoek
Ons lywe is dié kant, maar ons gedagtes is dikwels nog in ons tuisland. Ons dink met diep waardering en dankbaarheid terug aan ‘n baie geseënde drie maande in Suid-Afrika: oorlaai met gasvryheid deur familie, vriende en ondersteuners. Ons het die geleentheid gehad om (aanvanklik) te rus, kuier én baie plekke – meer as 50 – en mense te besoek. Regoor die land, in verskillende tale en kulture, dorpies en stede.

Die kans om ou bande te verdiep, en nuwes te smee, was kosbaar. Verder is ons roeping gereeld bevestig en versterk, deur tallose medewerkers wat hulle hande en harte vir ons wawyd oopgemaak het. Dit was regtig bemoedigend! Maar terselfdertyd was dit erg onwrigtend om pal aan die beweeg te wees. Dis dié dat dit ook goed om ‘tuis’ te wees, op een plek (veral in die lig van 25 verskillende beddens waarin ek geslaap in die 100 dae in SA).

Die hele storie, uit verskillende hoeke

In verbondenheid
Ons is opnuut bewus van die uitdagings en realiteite in Suid-Afrika. Wees verseker van ons gereelde gebede vir julle wat dit daagliks deurleef. Daar word ook by ons kweekskool ook weekliks gebid vir julle daar. Kom ons bly bid vir mekaar – dit bly een van die diepste verbintenisse wat ons kan maak.

Ons gebedsitems volg hieronder. Dankie vir jou meelewing en ondersteuning!

Vrede vir jou.

Stéphan, Carina, Annlie (10), Cornelius (8), Lodewyk (word Vrydag 6) en Stephan (4)

——–

Gebedsversoeke

  • Kobe Theological Reformed Seminary (KTRS) se dosente en studente, veral dat die Here ook nuwe studente sal roep vir voltydse kerklike bediening.
  • RCJ Shikoku Ring se 17 gemeentes – spesifiek vir klein, plattelandse gemeentes wat sonder ‘n leraar is, asook vir die twee (nuwe) jong predikante wat onlangs in die bediening begin het (Shinji Kouchi en Suezou Omiya).
  • RCJ Tokushima gemeente, hul nuwe leraarspaar (Sumito en Akiko Furusawa), Happy Kids en English Fellowship bedieninge ens.
  • Gys en Linda Olivier, Missie Japan se Engelse onderwysers by SEIWA Meisiesskool in Kochi Stad. Ook vir hulle kinders, Linie en Johan.
  • Carina en ons vier kinders – met die tuisskoling wat nou weer in volle swang is. Carina werk baie hard om die jaar se kurrikulum te voltooi, en is ook reeds aan die voorberei vir 2018. Bid vir krag, geduld en wysheid.
  • Stephan se lesings (in Pastorale Teologie en Sorg) en lei van kapel-eredienste by KRTS. En verder:
    18 Nov: Lei huweliksverryking-seminaar vir RCJ Westelike Ring (Kobe), saam met Carina.
    23 Nov: Bied seminaar aan vir RCJ Noord-Oostelike Ring (Sendai) – oor kerk se getuienistaak in die lig van huidige samelewings-uitdagings
    26 Nov: Lei erediens en bevesting van nuwe predikant (Sumito Furusawa) by RCJ Tokushima

Die foto hieronder is geneem by ‘n gebed-byeenkoms (en Missie Japan konferensie) by NG Kerk Stilbaai