Verslag van La Rochelle uitreik – 3 Mei 2011
Beste vriende,
Kort maar kragtig. Dis hoe ons as sendelinge die onlangse besoek – 20 tot 24 April – van die NGK La Rochelle se uitreikgroep aan Shikoku-eiland sou wou opsom. Die diverse span van 7 lede onder leiding van André Peasley (ds.), het hulself maande lank voorberei op die twee weke lange uitreik – wat na afloop van hulle 4-dag besoek aan ons ook in Ikoma-stad (saam met Albert en Cecile Greeff by die Kansai Christian School) voortgesit is.
Die uitreik se hoofdoelwitte was om ons as sendelinge en ons bedieninge te ondersteun, asook om Japanese Christene te bedien en bemoedig (met ’n fokus op dissipelskap). Die groep het ’n opbouende en konstruktiewe bydrae gelewer deur Christus se liefde en hoop te deel met talle mense in die Shikoku-eiland, waar ons as sendelinge tans werksaam is. Ons kon sien hoe hierdie ervaringe nie net vir die mense wat ‘bedien’ is nie, maar óók vir die span op baie maniere nuwe uitdagings en groei gebring het in hulle Christenskap. Dit was veral besonders om dit alles saam te beleef rondom Paas-naweek, en in noue samewerking met ons plaaslike kerk, die Reformed Church in Japan (RCJ).
In vele opsigte is die uitreikgroep se oë oopgemaak rondom kulturele sensitiwiteit vir die mense waarnatoe God ons stuur in Japan. Hulle het ook getuig dat hulle opnuut onder die indruk gekom van die respekvolle gesindheid waarmee ons as sendelinge probeer om die Japannese mense binne hulle kultuur te bedien, en meer insig gekry in die betekenis daarvan binne ‘n plaaslike konteks (Shikoku-eiland), saam met ons broers en susters uit die RCJ. Hiervoor is ons almal dankbaar. ‘n Klompie praktiese uitdagings rondom vertaling van gesprekke, liedere ens. – te midde van vlugflouheid en aanpassing in ‘n buitengewone kultuur – was vir die uitreik-groep (en ons as sendelinge) ‘n goeie stukkie leer-ervaring.
Hier volg ’n kort beskrywing van die hoogtepunte van die besoek:
- Donderdag: ’n Gesellige aand van saamwees (“fellowship”) tydens RCJ Tokushima lidmate se Bybelstudie-geleentheid, waar die span iets oor hulleself en NGK La Rochelle (en LCF) se bedieninge kon deel en ook (via Tobie as tolk) in gesprek kon tree met lidmate oor die onlangse rampe en die invloed daarvan op die breër kerk.
- Vrydag: ’n Vol dag is hoofsaaklik by SEIWA Christen-skool in Kochi-stad deurgebring. Die groep kon onder andere d.m.v. getuienisse, sport, sang en drama (mimiek) met die volle skool kinders (ongeveer 130, baie nie-Christene ingesluit) ’n evangeliese boodskap deel. Missie Japan se sendeling-onderwysers, Gys en Linda Olivier, wat by die skool werksaam is, het ons gasvry ontvang, en die span kon ook sinvol saam met hulle waardevolle tyd spandeer.
- Saterdag was ons heeldag saam met (ongeveer 20) werkende Christen jongmense van Shikoku-eiland in die stad Takamatsu. Dit was ’n goeie verhoudingsbou-geleentheid wat ook met saam-speel (kegelbal) en saam-eet gepaard gegaan het. Die span kon d.m.v. drama, sang en getuienisse ’n bemoedigende boodskap bring wat met oop arms verwelkom is. Die aand kon die span en ons 3 sendeling-pare (by Stéphan en Carina se huis) lekker in Afrikaans kuier rondom ete, en ook iets van ons ervarings deel met mekaar. Die groep het ons versterk met meelewende gebede.
- Sondag se hoogtepunt was die erediens, gemeente-ete en spesiale paasfees-viering met ’n verskeidenheid van items – deur die span asook deur plaaslike gemeentelede van RCJ Tokushima, wat spontaan deur sang en dans ’n baie besondere afsluiting moontlik gemaak het.
Sien foto’s deur hier te kliek.
Ons as sendelinge is baie dankbaar teenoor die uitreikgroep vir hulle ywer, entoesiasme en toewyding. In die proses het ons heelwat geleer by mekaar en is daar spesiale bande gevorm wat ons graag in die toekoms op die langtermyn sal wil uitbou.
Ons bedank graag die leierskap van NGK La Rochelle, die Kommissie vir Getuienisaksie (Wes- en SuidKaap) asook Missie Japan se uitvoerende bestuur vir verskeie vorme van ondersteuning wat die belangrike uitreik moontlik gemaak het. Kom ons groei saam oppad vorentoe ter wille van God se Koninkryk in Japan. Die liefde van Christus dring ons …
Stéphan van Carina van der Watt, Tobie en Annalie de Wet en Gys en Linda Olivier.
Samewerkende Sendelinge Shikoku Ring / (Christelik) Gereformeerde Kerk in Japan
Hallo, Dr vd Watt
Ek het julle inligting gekry van ‘n verlangse familie-lid van Carina. Eerstens wil ek net baie geluk se met die nuweling. Mag hy ‘n gesonde, gelukkige mensie wees wat aan julle net vreugde sal verskaf. Graag wil ek navraag doen oor uitreikgeleenthede na Japan. Ek voel dat die Here so iets op my hart druk, maar is eintlik nog baie onseker daaroor. Ek sal graag meer inligting wou kry.
Groete,
Karin Knoetze