Verslag oor rampgebied-bediening – 11 Sept 2011
Sondag 11 September 2011
Van: Tobie en Annalie de Wet
Aan: Alle Missie Japan ondersteuners en bestuurslede
Ring van RCJ Shikoku / RCJ Tokushima- en Seibu-gemeentes
Ring van RCJ Touhoku / Kerkraad RCJ Sendai
RCJ/Sending Touhoku ondersteuningsentrum-komitee
Verslag oor ons verblyf in Noordoos-Japan
Vandag terwyl ek skryf is dit presies 6 maande (‘n halwe jaar) sedert daardie GROOT aardbewing en tsoenamie die Noord-oostelike deel van Japan getref en die Fukushima-kernongeluk plaasgevind het… ons is alreeds drie maande in hierdie rampgebied.
Ons beskou en beleef dit as een van die grootste eerbewyse wat nog ooit aan ons toebedeel is deur die Ring van RCJ Shikoku om beide die Ring van RCJ Shikoku en Missie Japan (en ons kerke in SA) in die rampgebied vir ‘n tydperk van drie maande (Julie – September) te verteenwoordig. Baie mense het gedink dat dit vir ons ‘n “reuse-opoffering” moes gewees het om hier bo te doen wat ons doen. Dit is egter ‘n wonderlike, geseënde, verrykende en lonende ondervinding wat ons vir die res van ons lewens sal bybly Ons sal dit onthou as die hoogtepunt van die einde van ons 20 jaar se diens in Japan!! Daarvoor loof ons die Here wat ons geseën het met hierdie unieke ondervinding en ons dank Missie Japan en die RCJ Ring van Shikoku en ook die Kerkrade van die Tokushima- en Seibu-gemeentes dat hulle ons gestuur het en ons ondersteun het met al hulle liefde, gebede en finansies.
Ons opdrag (soos ons dit verstaan het) was:
1) Om die RCJ Kerke in Touhoku te besoek, om hulle tydens eredienste te bedien en om op enige ande wyse die predikante in hulle bediening by te staan.
2) Om mense na ons huis te nooi vir geleenthede van gemeenskaplikheid (“fellowship”) en bemoediging.
3) Om “kokoro-no-care” (omgee / berading van die hart) te doen.
4) Om praktiese gemeenskapswerk (vrywilligersdiens) in die geteisterde gemeenskappe te doen.
5) Om bystand te verleen met die daarstelling van die Ondersteuningsentrum vir rampslagoffers.
Met ons aankoms in die Sendai-gebied was ons baie onseker oor ons pligte en waar en hoe om te begin. Ons wou ons by niemand opdring nie. Ons was ook baie bewus van die vele struikelblokke en probleme veral op die gebied van ware kokoro-no-care (omgee / berading van die hart).
Ons waardeer egter opreg die wyse waarop die leraars en ouderlinge van die Ring en Kerke van die Noord-oostelike RCJ ons ontvang het, en die warmte wat ons deurgaans beleef het.
Ons is veral dankbaar teenoor RCJ Sendai-gemeente, prediker Yoshida sensei en sy wyse leiding en vriendelike bemoediging asook teenoor ouderling Sasaki Kazuo san vir sy wonderlike praktiese hulp met die opstel van ons program vir die drie maande.
Om vir die drie maande in die baie gerieflike huisie by Takayama Gaikoku Mura te kon bly, was was op sigself ‘n seën.
So was die wonderlike weer ook wat ons die meeste van die tyd ervaar het (Totaal anders as verlede jaar …!).
Wat ‘n seën was die vars groente ook wat ons gereeld van ons dierbare broers en susters in Tokushima-gemeente ontvang het! Ons sal hopelik na Shikoku terugkeer sonder te veel bestralingsbesoedeling!
‘n Halfdagrit al met die kus langs vanaf RikuZenTakata, Kesennuma en MinamiSanriku, tot onder by Onagawa en Ishinomaki, het ons oë laat rek oor die verskriklike verwoesting wat deur die GROOT tsoenamie oor ‘n wye gebied veroorsaak is. Ons was diep getref, maar ook beïndruk, deur die stelselmatige wyse en spoed waarmee die Japannese die puin opruim.
Om eerstehands iets te sien en hoor en voel van die lyding van duisende mense as gevolg van die drievoudige ramp was vir ons ‘n heilige ervaring, wat ons telkemale stom gelaat het, en met diep innerlike pyn vir hierdie pragtige mense. Andersyds was ons ook verras en bemoedig deur die positiewe houding van baie mense wat als verloor het behalwe die hoop en dankbaarheid oor nuwe vriende wat hulle gemaak het en nuwe lesse wat hulle geleer het.
Vir die eerste keer kon ons hierdie deel van Japan en die Kerk en die se leraars, leiers en lidmate in die Noord-Oostelike Ring leer ken. Dit was ‘n verrykende ervaring waarvoor ons opreg dankbaar is. Ons het feitlik al die gemeentes in die ring besoek, en afgesien van die tweede Sondag, elke Sondag in ‘n ander gemeente gepreek. Ons is so dankbaar oor die geldelike ondersteuning van Missie Japan en die gemeentes in die RCJ Shikoku-ring wat ons gehelp het om nie ‘n finansiële las vir enige van hierdie gemeentes in die Touhoku-ring wat ons besoek het, te wees nie.
Ons het die RCJ Noord-oostelike ring leer verstaan en liefkry, en is nou ‘n bietjie beter toegerus om te deel in hul laste en uitdagings. Die ring beslaan inderdaad ‘n baie groot gebied vanaf Fukushima-provinsie in die Suide tot by Hokkaido in die Noorde. Die meeste van die 12 gemeentes is egter baie baie klein, in sommmige gevalle bestaan ‘n gemeente uit slegs die predikant en sy gesin. Lidmate, soos ook in die RCJ Shikoku-ring, word ouer. Finansieel is dit waarskynlik die armste ring in die hele Japan…’n Aantal leraars moet tentmaker-predikante wees wat hulle self onderhou. Nou, na die groot aardbewing, tsoenamie en kern-ongeluk staar die ring groter uitdagings in die gesig. Ons eerlike waarneming is dat hulle al die aanmoediging en ondersteuning wat hulle van die res van die RCJ en al die medewerkende sendings kan kry, nodig het om die geleenthede aan te gryp en die uitdagings wat voorlê te bowe te kom. Ons is egter aangegryp en bemoedig deur die toewyding, ywer en deursettingsvermoë van die leraars, hulle families, kerkleiers en kidmate wat ons ontmoet het. Dit is voorwaar besielend om te sien hoe hierdie broers en susters, oor baie baie jare ten spyte van soveel struikelblokke, vashou aan hulle geloof, die gemeenskap van gelowiges en die sendingboodskap van die kerk!
Ons kon ook baie nuwe broer-suster-verhoudings en wonderlike vriendskappe bou!! Ons het in die drie maande meer as sestig gaste by ons aan huis vir middag- en aandetes, tee/koffie, ontbyt of verblyf ontvang!
Dit was ook wonderlik om ons OPC broers en susters beter te leer ken en het heerlike tye van samesyn met hulle geniet. Ons is ook beïndruk deur die werk van die OPC oor baie dekades in hierdie gebied, kerkgeboue deur hulle opgerig, en mense deur hulle bediening na die Here gelei.
Dit was ‘n groot eer, voorreg en seën om vir ‘n kort rukkie deel van die RCJ Higashi-Sendai-gemeente te word, om elke Woensdagaand gebedsbyeenkomste te lei, en om saam met die leraar, Tateishi sensei, die ouderlinge en hulle gesinne, die diakens en lidmate sosiaal te verkeer. Hierdie gemeente, onder leiding van Tateishi sensei, stel ‘n voorbeeld aan alle kerke met ‘n gestuurde gemeente deurdat hulle uitreik na geteisterde gemeenskappe, en die fisiese en emosionele nood van soveel mense op die mees praktiese wyse aanspreek.
Praktiese en fisiese deelname met die opruim van huise en tuine en voorbereiding vir herstelwerk in die dorpe Touna en Nobiru onder leiding van Tateishi sensei, was onder die hoogtepunte van ons verblyf hier in die Noordooste van Japan. Ons is diep getref deur die visie, benadering en leierskap van Tateishi sensei en die personeel van sy vrywilligersentrum en die ondersteuning van die Higashi-Sendai-kerkraad en -gemeente. Om hulle te ontmoet en sy-aan-sy saam met vrywilligers van so veel kerke vanoor die hele Japan en so veel nasionaliteite vanoor die wêreld te werk was ‘n ongelooflike ervaring.
Tydens ‘n onlangse vergadering van die RCJ Higashi-Sendai-kerkraad is besluit om met hulle hulpverleningsaksie in Touna and Nobiru voort te gaan tot Oktober 2013, en om ‘n vrywilligersentrum met voltydse personeel in die gebied daar te stel. Ons was baie opgewonde en verheug oor die besluit van die Ondersteuningsentrum om met die fondse van oorsese kerke die RCJ Higashi-Sendai-gemeente finansieel by te staan met die oprig van ‘n ondersteuningsentrum (vrywilligersentrum) te Touna and Nobiri en ook om te help met die aanstel van voltydse personeellede om die sentrum te beman.
Die kinderkamp wat deur die Higashi-Sendai-kerk aangebied en deur Tateishi sensei gereël is, is bygewoon deur nie minder nie as 13 nie-Christen-kinders van die Touna/Nobiru-gebied en was ‘n aangrypende ervaring. Ek persoonlik het geëerd gevoel om gevra te wees om die twee aandpraatjies oor gebed te doen.
Die mees opwindende ontwikkeling is dat Higashi-Sendai Kerk nog ‘n twee-dagkinderkamp gereël het vir die kinders van daardie gebied. Hierdie keer sou selfs meer kinders (altesame 23 kinders!) dit meemaak. Ongelukkig sou dit plaasvind net toe ons op pad terug na Tokushima was…
Nog ‘n besondere ondervinding was die “Kokoro-no-Care (hart-omgee)” seminaar geborg en aangebied deur “Stand-by-Japan,” die Koreaanse Christen-organisasie, spesifiek op die been gebring om Japan en die kerk in hierdie tyd van swaarkry by te staan. Dit was goed om leraars en kerkleiers te sien en te hoor hulle harte oopmaak, en om die sagtheid en sensitiwiteit te ervaar waarmee ons Koreaanse broers en susters die verskillende sessies gelei het.
Nog ‘n hoogtepunt was Annalie se gereelde besoeke aan die tydelike behuisingseenhede hier in the Shichi-ga-Hama-gebied waar ons woon, met die klimaks toe ons van die dames vir middagete en saamkuier oorgenooi het. Annalie voel dit was egte “kokoro-no-care (hart-omgee)” en is spyt dat ons nie op die lang duur kan voortgaan met hierdie soort bediening nie. Ons glo baie sterk dat uitreik na die tydelike behuisingseenhede een van die fokusbedienings van die kerk vir die volgende paar jaar moet wees en om selfs die gesinne uit die behuisingseenhede in ons huise in te nooi vir saameet en saamkuier.
Ten slotte, om met Larry en Cal saam te werk met navorsing oor die oprig van ‘n Ondersteunersentrum in hierdie gebied was ‘n opwindende en ware leerervaring. Ek was ‘n totale uitlander en vreemdeling in hierdie gebied en het nie geweet waar en hoe om te begin nie. Veral Larry se buitengewone taalvaardigheid, sy wye netwerk van talle belangrike kontakte, sy geesdrif, die tyd en energie wat hy ingesit het, sy leierskapsvermoëns, al die hulpmiddele tot sy beskikking vanaf die CRC, ens., was oorweldigend! Hy het dit sowaar als gedoen!! Ek was net ‘n toeskouer, en ten beste sy gewillige chauffeur/taxibestuurder. Ons is ook beïndruk deur die manne van die OPC en hulle toewyding om beskadigde huise te herstel en om die Tandheelkundige Kliniek te YamamotoChou as ‘n moontlike Ondersteuningsentrum voor te berei. Alhoewel ons effens onrustig was oor die besonder vinnige soort noodlenigingsbenadering met die daarstelling van die ondersteuningsentrum te YamamotoChou, is ek namens Missie Japan verbind om saam met die CRC en die OPC onder leiding van die RCJ heelhartiglik deel van hierdie opwindende onderneming te wees. Ons is ten volle verbind om die Komitee se leiding en besluite te volg en te ondersteun. Ons gebed is dat dit inderdaad ‘n RCJ Ondersteuningsentrum sal word wat nie deur sendinggroepe bestuur sal word nie, maar deur die plaaslike RCJ Kerk, die plaaslike RCJ Ring en die plaaslike RCJ Kerkraad en gemeente.
Wat hou die toekoms vir ons in nadat ons vir drie maande hier was en al die dinge gesien en ervaar het?
Ons wroeg ernstig en diep oor wat ons rol en die van Missie Japan behoort te wees. Ons besef en voel dat ons nie ons oë, ore en harte mag sluit vir die situasie hier in die rampgebied wat ons na die groot aardbewing en tsoenamie ondersoek het en waarheen die Here en die Kerk (Missie Japan in samewerking met die ring van RCJ Shikoku) ons vir drie maande vanaf Julie tot September gestuur het nie. Nog minder kan Missie Japan en die Kerk in SA dit doen ….ook nie RCJ Shikoku Ring nie….
Wat ons die meeste uitdaag is nie die enorme nood, fisies, sosiaal, emosioneel en geestelik nie (Nood is baie relatief……. Oral is daar genoeg nood…… in Afrika, in Somalië en die Horing van Afrika, in ons eie land SA, en ook in Shikoku and Tokushima en die hele Japan…), maar die geleentheidsdeure as gevolg van die verwoesting van die tsoenamie het oopgegaan, om konkreet en fisies te reageer en die nood van die Japannese hier in die rampgebied aan te spreek en te bedien, om soveel Japannese wat gewillig is, tewens, wat gretig is, te dien, en met hulle om te gaan. Ek dink dis die eerste keer in ons 20 jaar in Japan dat ons so iets beleef …of iets van hierdie omvang…
Wat hier in die rampgebied gebeur, kan ons nie anders sien nie as die GROOT geleentheid vir die Kerk en Sending om God se liefde en genade op ‘n baie konkrete manier aan die mense van Japan te wys en met hulle te deel. Dis ‘n geleentheid wat waarskynlik net vir die volgende twee tot drie jaar sal bestaan tot wanneer gemeenskappe opgeruim en herstel en duisende Japanners uit die duisende tydelike behuisingseenhede terug in hulle normale lewens sal wees..; ‘n geleentheid, nie vir aggressiewe evangelisasie nie, maar vir stille en nederige fisiese diens en sensitiewe sosiale meelewing met lydende mense; ‘n geleentheid om lewensbelangrike fondamente te lê sodat God se Gees mense se gedagtes en harte en huise kan oopmaak vir Sy Kerk en die Evangelie; ‘n geleentheid om op ‘n praktiese wyse geloofwaardigheid vir die Kerk van Jesus Christus en sy boodskap te verkry.
Dit is hoekom ons glo dit is baie belangrik vir ons en Missie Japan (die Kerk in SA) saam met die Ring van RCJ Shikoku, om in gebed God se aangesig en leiding te soek en Hom opnuut te hoor….
Ons wag vir die Here, en sal julle wyse insette en leiding in afhanklikheid van die Here waardeer.
Tobie en Annalie
tokushima.church@mountain.ocn.ne.jp (Tobie) of annaliedewet1@gmail.com (Annalie)