Verslag na besoek aan ramp-gebied – 8 April 2011

Verslag oor besoek aan die ramp-gebied in Noord-Oos Japan (Sendai-streek)

vanaf Dinsdag 29 Maart tot Donderdag 31 Maart 2011

Tobie de Wet en Stephan van der Watt (afgevaardig deur Missie Japan) is vergesel deur ds. Kei Kataoka (afgevaardig deur die RCJ Ring van Shikoku asook Tokushima en Tokushima-Wes gemeentes). Ds. Ashida Taka (verteenwoordiger van RCJ Sinodale Kommissie vir Internasionale Verhoudings) het as begeleier opgetree.

Die hoofdoel van ons besoek was:

1)      Om soveel moontlik RCJ-gemeentes in die streek te besoek en hulle persoonlik te verseker van ons liefde, gebede en ondersteuning;

2)      Om die werklike situasie en die behoeftes van die mense in die rampgebied eerstehands te evalueer;

3)      Om vas te stel wat plaaslike gemeentes doen om mense se onmiddellike behoeftes te help hanteer;

4)      Om te hoor wat die Kerk op voetsoolvlak beplan om die situasie op die langtermyn te help hanteer;

5)      Om so gou moontlik terugvoer te gee en om te sien en hoor op watter manier Missie Japan en die Kerk in SA binne die rampgebied kerke kan help om die nood van die omliggende gemeenskappe te help verlig.

A. INLEIDEND

Na ‘n reis van ongeveer 13 uur en 1000 km vanaf Tokushima na Sendai (met 90 liter ekstra brandstof en genoeg skoon drinkwater by ons), het ons ongeveer drie volle dae in verskeie ramp-geteisterde gebiede deurgebring. In hierdie kort tydjie kon ons iets van die totale verwoesting en die onuitspreeklike ellende van etlike duisende mense self deurleef. Dit is byna onmoontlik om die verwoesting te probeer beskryf. Dit was soos om kilometer na kilometer deur enorme skrootwerwe of ashope te ry. Die ervaring is iets wat vir altyd skerp in ons geheues en harte inge-ets sal wees.

B. EVALUERING VAN WERKLIKE SITUASIE EN PLAASLIKE KERKE SE NOODVERLIGTINGS-INISIATIEWE

*Voorstel: laai ‘n powerpoint-aanbieding af by www.ngkerk.co.za/missiejapan wat in beeld vertoon wat hierdie deel van die verslag probeer verwoord.

Ons (Tobie, Stéphan en ds. Kei Kataoka) ontmoet vir ds. Taka Ashida (ons begeleier) saam met vier ander RCJ predikante van die Tokyo omgewing, en besoek die volgende plekke/gemeentes/organisasies.

1e Besoekpunt: RCJ Shiroishi

Aan huis by die Aiba ouderlingspaar (man 83jr en vrou 79jr) hoor ons van hulle ervaring van die aardbewing en hulle vrese vir verdere naskokke. Ons begin ons reis op ‘n hoogtepunt deur saam met hulle te sing en bid, en te hoor van die totstandkoming van die eerste gemeentes in die Tohoku-area (Noord-Ooste van Japan) deur hulle voorouers se inisiatief. Hulle self is die 4e generasie van Christene en hulle kinders en kleinkinders is ook aktief betrokke in RCJ gemeentes (o.a. in Tokyo by ds. Ashida se gemeente) . Ses generasies van Christene, voorwaar sonderling in Japan!

2e en 3e Besoekpunte: RCJ Watari sendingstasie en die nabygeleë Yamashita treinstasie-omgewing

Hier het ons vir ds. Hayashi (70jr, afgtrede predikant) en sy vrou besoek (daar was ook ander vrywilligers van ‘n Bybel-organisasie by hulle op die stadium van ons besoek). Hulle bly baie na aan die plek waar die tsunami ‘n hele gemeenskap uitgewis het. Hy het met ons gedeel, hoe hy ernstige besering (indien nie die dood nie) tydens die aardbewing naelskraap ontkom het. Ds. Hayashi en sy vrou was onmiddellik na die ramp baie besig om die nood van die mense in hulle gemeenskap te probeer verlig, en doen dit nog steeds. Ons het die voorreg gehad om ook te hoor hoe sterk hulle harte klop vir hawelose mense rondom hulle (‘n bediening waarmee hulle lankal besig is en wat veral nóu, na die ramp, nog meer relevant is. Saam kon ons bid vir hulle inisiatiewe en planne. Die kleuterskool langs die kerk (wat as deel van die kerk opereer) gaan voort om vir getraumatiseerde kinders ‘n veilige tuiste te probeer skep. Almal het genadiglik die ramp oorleef.

Saam met hulle en twee van hulle gemeentelede het ons die totaal verwoeste gemeenskap naby Yamashita-treinstasie besoek en kon ons ons ‘n klein bietjie meeleef met die skok en trauma wat die ramp-geteisterdes moes deurleef het. Dit was op sigself ‘n traumatiese ondervinding om in hierdie weggespoelde en verwoeste gemeenskap rond te loop, hier waar mense eens geleef en kinders gespeel het, maar waar ‘n mens nou net die nabye see en soms die voëltjies hoor, waar ‘n jong paartjie na die oorblyfsels van hulle nuut geboude huis teruggaan, sonder dat hulle regtig iets kan doen, maar net daagliks kom om ‘n bietjie rommel skoon te maak…

In dieselfde omgewing (reg voor die treinstasie) het ons die oorblyfsels van ‘n eens florerende bakkery van een van die lede van die RCJ-Watari gemeente (mnr. Inamoto) en ook die verwoeste huis van een van sy mede-werkers (mnr. Abe) gesien. Albei het hulle diepste gevoelens met ons gedeel – hulle onderliggende seer en woede was duidelik sigbaar. Hulle het ook vertel van die situasie in ramp-skuilvestings waar mense se irritasie-vlakke hoog is a.g.v. die uitsiglose situasie wat onbepaald voortsleep en sleur. Maar mnre. Inamoto en Abe is nie sonder hoop nie, al het die tragiese ramp hulle ook stomgeslaan. Die sleutelgedagte wat in ons gesprekke uitgestaan het was hulle dringende behoeftes aan (1) werk en (2) geestelik-emosionele versorging. Hulle is jong gelowiges, albei onlangs gedoop. Beide van hulle was angstig om voort te gaan, nie net met hulle eie lewens en besigheid nie, maar ook om die besigheid te gebruik om vir soveel mense moontlik werk te verskaf, en om die gemeenskap te help. Mnr. Abe se droom is om ook ‘n nuwe gemeente te help bou binne in die ramp-gebied!

Laastens het ons ook die aangrypende verhale gehoor van ‘n sendeling-onderwyser en sy vrou (Arthur en Kana Newton) wat vir amper 2 dae naarstigtelik na mekaar gesoek het nadat die tsunami getref het, en hulle op daardie stadium nie bymekaar was nie, en in verskillende rigtings gevlug het. Hulle het mekaar uiteindelik gevind en moes toe by ‘n skuiling vir die eerste paar dae bly.

4e Besoekpunt: RCJ Sendai

Ons het hier vir ds. Yoshida ontmoet – hy is die RCJ se moderator. Hy is tans geweldig besig met baie belangrike koördinering van interkerklike noodverligtings-inisiatiewe in die Sendai-area. Sy eie gesin is ‘n paar honderd kilometer van hom in ‘n ramp-skuiling t.w.v. hulle veiligheid en sy reuse werkslas wat nou al sy aandag opeis. Hy het vertel van enkele mense in sy gemeente wat letterlik sprakeloos gelaat is a.g.v. post-traumatiese stres na die ramp-gebeure. Ander jongmense wat hy ken – ook uit gemeente-verband – het hulle paspoorte gereed gekry om die land te verlaat indien nodig, veral a.g.v. die radio-aktiewe bestralingsgevaar. Die reuse kraag teen die muur van hulle 100-jarige kerkgebou verhoog angsvlakke dat opeenvolgende na-skuddings die kerk ‘n onveilige plek maak…  

5e Besoekpunt: Takayama (sendelinge-vakansieoord)

Hierdie plek teen Sendai-area se Oos-kus is waar ons verlede jaar in Augustus vakansie gehou het. Dit was regtig ‘n traumatiese ervaring om te sien watter verwoesting afgespeel het by ‘n plek wat vir ons baie bekend geword het. Daar is steeds groot gebrek aan brandstof en sekere lewensmiddel in die omgewing, maar al die sendelinge (waarvan ons weet) wat semi-permanent of permanent daar woon, is veilig na die ramp.

6e Besoekpunt: RCJ Ishinomaki en aanliggende kus-streek

Ons het in Ishinomaki stad die plaaslike RCJ gemeente, waar ds. Shiratsu en sy vrou bedien, besoek. Die kerkgebou en pastorie is erg beskadig deur die tsunami wat dit dwarsdeur oorstroom het. Die egpaar het ternouernood (per motor) ontkom en woon nou in een van die ramp-skuilings. Gedurende ons besoek was jong vrywilligers van die RCJ (se krisiskommittee se uitgebreide span) juis besig om die (bejaarde) ds. Shiratsu en sy vrou te help skoon maak en sin maak van die chaos. Ons kon op (op aanvraag) spesifieke klere vir hulle saambring wat hulle toe nodig gehad het.

7e Besoekpunt: Onagawa (kusdorpie) en verder Noord daarvandaan teen die kus (8e besoekpunt/e)

Hier het ons op die parkeerarea van ‘n groot hospitaal gestaan en kyk oor ‘n stad waar meer as 10 000 mense eens gewoon en werk het, maar wat nou totaal meegesleur en verspoel is. Die reusagtige tsunami – wat bv. motors tot op ongeveer 20m bo seevlak (waar ons gestaan het) rondgeslinger het – se krag moes verbysterend en oorverdowend gewees het. Dit het inderdaad veroorsaak dat mense wat op geboue naby die see se 4e vloere was tydens die gebeure, glad nie veilig was nie. Meer as 2000 mense is dood of vermis, en meer as 5000 mense is tans steeds in nabygeleë ramp-skuilings.

Ons het ‘n roerende gesprek gehad met mnr. Kimura, ook ‘n bejaarde man van 67, wat saam met sy pa in hul motor in die hospitaal se parkeer-area was, toe die tsunami-vloedwaters aangestroom het. Hy het sy traumatiese ervaring met ons gedeel…die naelskraapse ontvlugting deur met sy pa na die boonste vloer van die hospitaal te hardloop. Hy het vir ons gewys waar sy kar op ‘n dak in die verwoeste stad meer as 500m daarvandaan beland het – bo-op die 3e vloer van ‘n ander gebou! ‘n Ent daarvandaan is die plek waar sy huis was – nou verpletter. Toe ons met hom gesels het was hy besig om in die hospitaal aan te bly en te help om as vrywilliger – blymoedig en pligsgetrou – aankomende motors die pad te wys. Hy het gesê uiterlik lyk hy goed, maar innerlik is hy leeg. In Japannees lui die uitdrukking: karaghenkie – wat vryelik vertaal kan word om te beteken hy “dra ‘n masker van bravade”. Dit het ‘n sleutelwoord geword wat baie van die ramp-geteisterde persone wat ons op ons reis ontmoet het, se ware gemoedstoestand baie akkuraat verwoord.

Later het ons ook besoek afgelê by ‘n ramp-skuiling (groot sentrum) waar meer as 2300 van Onagawa se (ongeveer) 5700 vlugtelinge tydelik gehuisves word. Gesinne het (enkele meter) klein spasies wat hulle vir tyd en wyl “huis” noem, direk blootgestel aan al die ander mense in die saal en alle nuuskierige besoekers van buite. Ons het dit ons nie veroorloof om met een van hulle ‘n onderhoud te voer of binne die sentrum foto’s te neem nie, aangesien dit gevoel het soos “heilige” grond. Verder het ons ook ‘n paar vrywilligers uit verskillende geloofs-agtergronde (bv. Mormone, Moslems en Church of Scientology-lede) ontmoet en gesien, wat besig was om allerlei vorme van hulpverlening aan te bied vir ramp-slagoffers (in samewerking met regerings-inisiatiewe wat bv. vanuit groot pakhuise noodsaaklike goedere versprei het na behoeftiges).

Toe ons laatmiddag vanaf Onagawa vir meer as 2 uur stadig en grootliks in stilte teen die kus in ‘n Noordelike rigting bly aanry het, het die verwoestende impak van die tsunami op kilometer na kilometer se infrastruktuur nog duideliker sigbaar geword. Paaie is erg beskadig en plek-plek onbegaanbaar oopgeruk deur die aardbewing. Plaaslike vissers-gemeenskappe se toekoms het o.a. ooglopend – by wyse van die duisende plastiek visnet-boeie – orals aan skerwe gelê op droeë grond. Dekades se harde werk binne oomblikke verswelg.

9e Besoekpunt – RCJ Sendai-Oos gemeente

Ds. Tateishi (jong plaaslike leraar) en die groep RCJ vrywilligers vir wie ons vroeër die dag in Ishinomaki ontmoet het, was besig met ‘n gebeds- en Bybelstudie-geleentheid na hulle dag se harde werk. Die gemeente is ‘n belangrike verspreidingspunt vir lewensmiddele aan die omliggende gemeentes en gemeenskap, en ook die slaapplek vir die vrywilligers. Ds. Tateishi se leiding en harde werk namens die vrywilliger-span het duidelik groot waardering by almal gekweek…maar ook beslis baie emosionele energie gevra. Meeste mense was sigbaar uitgeput, en dis te verstane. Die ramp/e raak almal diep, verál vir dié wat ondersteuning aan ander moet bied.

10e Besoekpunt – RCJ Sendai Kaänan-gemeente

Hierdie gemeente (waar ons self een aand oorgeslaap het) is ook ‘n sentrale verspreidingspunt,veral vir vars kos na kinders wat wees gelaat is en weerlose bejaardes in die omgewing. Die plaaslike leraar, ds. Yoshioka het ook ‘n sleutelrol gespeel om hierdie verspreiding te koördineer, en dit spesifiek en herhaaldelik oorgegee in die hande van gemeente-lidmate. Die doel: dat hulle benodigde goedere binne bestaande verhoudings-netwerke in hulle buurte kan versprei, sodat dié verhoudings op langtermyn uitgebou kan word.

Maar dit was veral ons gesprek met die jeugdige ds. Yoshioka die volgende oggend (Donderdag) wat ons diep geraak het, en meer insig gegee het in die ware emosioneel-geestelike nood van sommige versorgers – soos predikante en gemeenteleiers en hulle gesinnne. Terwyl ons aandagtig na hom in hulle kombuis-en leefvertrek gesit en luister het, het ons self twee keer na-skuddings gevoel (amper 3 weke na die eerste skudding). Hy het vertel hoedat hy en sy gesin getraumatiseer is deur die gebeure … van hulle 8 maande oue baba (een van hulle 3 kinders) wat onophoudelik geskree het terwyl hulle skuiling probeer soek het onder die kombuistafel, en later elders … en van sy vrou en kinders wat kort na die gebeure moes gaan na Kobe (meer as 800 km van hom af weg), waar hulle steeds woon, by haar ouers … en van die skok wat ook baie ander newe-effekte gehad het op hulle gesondheid (o.a. dat hulle baba gehospitaliseer is a.g.v. voedings-probleme).

Ds. Yoshioka het ook vertel van die wyer trauma rondom hulle, bv. van mense se liggame wat na weke nog gevind word by nabygeleë stasies (wat deur die tsunami getref is), en van ander leraars en hulle gesinne oor wie hy bekommerd is…dat hulle nie ooreis word deur alles nie. Sy vertelling oor vele kinders in hulle nabye omgewing wat wees gelaat is, het ons ook diep geraak, en laat besef dat dit ‘n hele bedienings-veld opsigself kan word vir die kerk. Ons het opnuut besef: op ‘n manier ontbloot hierdie rampe ook dieperliggende wonde in die lewens en harte van ontelbare ander mense, ook selfs in ons eie.

Die helderste gewaarwording vir ons in hierdie spesifieke gesprek was: die Japanese kultuur laat bitter min ruimte vir die artikulering en direkte ontbloting van dieperliggende gevoelens en oortuigings. Máár, die skep van veilige ruimtes waarbinne daar eg en eenvoudig na mense se rou trauma geluister word – “listening someone into free speech” – kan waardevolle kanale van hoop word, wat ons as sendelinge en kerkleiers behoort te ontgin as ‘n klein bydrae tot die heling van sommige stukkende gemeenskappe. Verder: dié wat versorgers is van ander het self ook (holistiese) versorging nodig – soveel te meer nog na hierdie ramp-gebeure.

11e Besoekpunt – Sendai Megumi (genade) – gemeente (waar OPC sendelinge saam met RCJ werk)

Ons het hierna twee sendelinge (Calvin Cummings en Murray Uomoto en sy vrou Tsuruko) van die OPC (Orthodox Presbyterian Church) wat met die plaaslike RCJ (se ds. Ogata) saamwerk, ontmoet. Ons kon sinvol met hulle gesels oor die hele ramp-situasie, en veral oor die trauma wat hulle en ander in hulle onmiddelike gemeenskappe deurleef het. Calvin se seun is bv. ook betrokke by die reël van tipe braavleis-geleenthede om verhoudings te bou met baie ‘vlugteIinge’, ten einde Christus se liefde en hoop te deel d.m.v. vriendskaps-evangelisasie. In ons gesprekke met hulle het dit ook weer duidelik geblyk hoedat hierdie rampe se krisis ook geleenthede meebring om interkerklik saam te werk om die nood te verlig. Veral ook in noue vennootskap met organisasies soos bv. Samaritan Purse; Food for the Hungry, CRASH en Mission to the World (van die Presbyterian Church of America). Ons is gesprek is afgesluit met geleentheid om vir mekaar te bid.   

12e Besoekpunt: Verspreidingspunt vir noodlenigings-goedere in Noorde van Sendai

Direk hierna het ons juis ‘n groot pakhuis (van Samaritan Purse) besoek waaruit allerlei kruideniersware ens. aan nood-geteisterde mense gelewer en uitgedeel word. Dit was volgepak met 90 ton voorraad wat vroeër uit die VSA per vliegtuig afgelewer is. Hulle het alle kerke in Sendai sterk versoek om te kom haal wat hulle ookal nodig het. Dit was ook vir ons ‘n aanduiding dat die aanbod van fisiese (daaglikse) benodighede dalk in sekere areas amper ‘n versadingspunt bereik het.

13e Besoekpunt: RCJ Kitanakayama gemeente (as deel van ‘n huis in woonbuurt in Noord-Sendai)

‘n Baie kort besoek aan ds. Sakamoto en sy vrou (leraarspaar van dié gemeente) se doel was primêr om hulle te bemoedig en ondersteun deur saam te bid. Hy het ons ook gewys hoedat verskeie dele van hulle kerkgebou/huis vol krake is ná die aardbewing.

14e Besoekpunt: Sendai Interkerklike Kommittee

Die laaste aand het ons die weeklikse vergadering van die Sendai Interkerklike Komitee bygewoon. Dit bestaan uit baie verskillende denominasies, wat die Rooms Katolieke Kerk insluit. Verskeie para-kerklike organisasies (soos reeds hierbo genoem) was ook teenwoordig. Dit is deur ds. Yoshida (RCJ moderator) geïnisieër en hy is ook die voorsitter daarvan. Hy neem grootliks die leiding in die hulplenigings- aktiwiteite aan die kerke en geteisterde gemeeskappe. Die RCJ se sinodale assessor, ds. Iwasaki, en die sekretaris van die RCJ Sinodale Hulplenigingskomitee, ds. Nishi, het ook al die pad van Kobe gekom om hierdie baie belangrike interkerklike vergadering by te woon.

Verskeie belangrike sake is bespreek (soos bv. probleme rondom Boeddhistiese begrafnis-praktyke wat nou opduik omdat mense se liggame nie soos altyd veras kan word nie, maar begrawe moet word); en hulpverlening is gekoördineer. Baie sterk klem is gelê op die belang van langtermyn betrokkenheid by ramp-gebiede en geteisterdes. Daar is ook besluit dat plaaslike ramp-geteisterde gemeentes (buite Sendai) eerder die sentrale verspreidingspunte behoort te wees vir hulpverlening, en nie dié in Sendai se middestad nie (juis omdat die verskil tussen die areas se grade van beskadiging so drasties is). Die inisiatief se webtuiste se funksionering – www.tohokuhelp.com – is ook prakties verduidelik. Alles is natuurlik in Japannees gedoen.

C. GEVOLGTREKKINGS

In die lig van wat ons gesien, gehoor en ervaar het, is ons gevolgtrekking dat daar veral twee basiese gebiede van onmiddelike nood bestaan onder ramp-geteisterdes:

(i) Die fisiese en materiële gebied:

Eerstens die basiese behoefte aan voedsel, sekuriteit, skuiling, sanitasie-geriewe, brandstof ens. Daarna die opruim van die verwoesting, die herbou van mense se huise, hul gemeenskappe, die infrastruktuur ens. Verder, die voorsiening van werkgeleenthede (essensieël vir veral Japanese wat uiterste harde werkers is, en veral werk nodig het om te oorleef en om hul menswaadigheid en ‘n sinvolle bestaan te herwin).

(ii) Die sielkundig-emosionele en geestelike gebied:

Om die innerlike emosies van die mense te help hanteer a.g.v. die skok en trauma van die skielike drievoudige ramp: (1) die reuse-aardbewing (gevolg deur talle aanhoudende na-skokke), (2) die verbysterende groot tsunami en (3) die ernstige vrees vir radio-aktiewe bestraling. Hiermee gepaard kom die verlies van geliefdes en baie ander, die verlies van alle materiële besittings (huise, grond, inkomste), werk, toekoms, die ontwrigtende skeiding van gesinne (sommige moes hulle familielede wegstuur na ander dele van die land terwyl hulle aanbly weens hulle werk) ens.

(iii) Ons oordeel dat m.b.t. die fisiese/materiële gebied:

(a)Die aanvanklike stadium van noodmaatreëls om in basiese behoeftes soos skuiling, kos, water, sanitasie, mediese sorg ens. te voorsien, deeglik en effektief deur staatsinstellings, NROs, spanne en voorrade van oorsese lande, die kerk, Christen hulp-organisasies, sowel plaaslik en van oorsee, hanteer is en word.

(b)Die medium- en langtermyn stadiums van opruim, herbou van huise, gemeenskappe, infrastruktuur ens. is ‘n massiewe taak wat groot geld, baie soorte professionele vaardighede, baie jare en, natuurlik, baie geduld sal vereis.

(c)Op hierdie gebied sal plaaslike kerkgroepe – met die hulp van oorsese kerke – kan help, maar waarskynlik nie beduidend veel fisies, materieël en finansieël nie (kerke het eenvoudig nie sulke finansies of bronne nie).

(d)Dit sal basies die verantwoordelikheid, plig en taak van die Japanese regering en alle regeringsinstansies wees, met die finansiële hulp van groot sake-ondernemings en oorsese regerings.

(e)Die Kerk se hooftaak op hierdie gebied sal wees om toe te sien dat die plaaslike regering hierdie belangrike verantwoordelikheid nakom om na al hulle land se mense om te sien.

Ons glo dat die Japanese regering en mense oor die wil en al die vaardighede, tegnologie, infrastruktuur, logistiek en selfs bronne beskik om hierdie sake op die lange duur te kan hanteer.

(iv) Ons oordeel i.t.v. sielkundig-emosionele en geestelike gebied:

Ons stel voor dat die kerk se hoofrol, plig en taak veral op die sielkundige, emosionele en geestelike gebied sal fokus: m.a.w. die pastorale en geestelike versorging van mense, jonk en oud. Dit is ‘n werklike en voordiehandliggend ernstige behoefte wat baie diep lê, en permanente wonde in baie mense se lewens (buite en binne die kerk) kan help hanteer. Dink aan die rou en onverwerkte trauma van ontelbaar baie kinders en van duisende totaal ontwortelde bejaardes, met die vooruitsig van ‘n droewige aftrede en laaste lewensjare.

Om hierdie nood te help hanteer vereis insigvolle luister- en beradingsvaardighede. Ons meen egter dat die meeste plaaslike kerke in die streek met verskeie probleme te kampe het in die hantering van dringende pastorale behoeftes:

a) Die kerk is baie klein met baie min mense om hierdie soort berading te doen;

b) Leraars en die enkele ander kerkleiers is oorlaai met soveel ander noodsaaklike verpligtings en het nie tyd vir behoorlike en gefokudse berading (veral m.b.t. post-traumatiese stres versteuring) nie;

c) Die predikante, hulle gesinne, die kerkleiers en –lidmate is self getraumatiseer en benodig berading;

d) Daar is nie veel mense behoorlik opgelei vir hierdie soort berading nie;

e) Japannese mense deel oor die algemeen nie maklik hulle innerlike emosies nie (dis ook in meeste gevalle waar van predikante, hulle gesinne en kerkleiers en -lidmate);

f) Binne die Japanese kultuur word die vermoë om staande te bly en nie jou pyn, lyding of vrees te deel nie, as ‘n belangrike deug beskou (en natuurlik respekteer ons as sendelinge dit).

Belangrike ander perspektiewe in dié verband:

In Japan is sielkundiges en sielkundige intervensies in die minderheid, en Christen sielkundige (pastorale) hulpverlening nog skaarser. Verder het bereidwillige hulpverleners nie maklik beskikbare tyd (bv. ‘n week) om op sy te sit vir hierdie die tipe trauma-beradings inisatiewe wat nodig is nie. Plaaslike kerke werk en is op langtermyn midde-in verskillende ramp-gebiede. Leraars en lidmate is reeds binne gevestigde netwerke van verhoudings waardeur die langtermyn heling en geestelik-emosionele herstelpad op die mees effektiewe en sinvolle manier kan gebeur. Dit sou die meeste sin maak vir Missie Japan se ondersteunings-inisiatiewe om hierby aan te sluit.

D. VOORSTELLE EN AANBEVELINGS

Ons voorstel is dat Missie Japan en die Kerk in SA, saam met ander kerke en Christelike organisasies, sou kon (behoort te) oorweeg om die Kerk in Japan te help om hierdie nood beide binne en buite die kerk aan te spreek. Die een basiese ding wat ons bv. kan aanbied om te doen, is om opleiding in berading en traumaversorging aan leraars, kerkleiers en –lidmate, jongmense en vrywilligers te verskaf. Dit op sigself is egter ‘n baie sensitiewe saak. Ons kan dit glad nie doen sonder dat kerke in Japan – en spesifiek die RCJ saam met wie ons werk – nie self identifiseer dat dit ‘n dringende en belangrike behoefte beide binne en buite die kerk is nie.

Geen inisiatiewe kan dus onderneem word sonder (1) ‘n duidelike en amptelike versoek om hulp van die kerke in Japan; (2) sonder die Kerk in Japan se voorsiening van logistiek vir ons teenwoordigheid en bystand nie; (3) en sonder kerklidmate en vrywilligers wat beskikbaar is vir opleiding nie. Missie Japan moet bv. ook baie sensitief wees om nie ‘n las te wees vir die reeds oorlaaide leraars en kerke in die streek nie. Ons teenwoordigheid en betrokkenheid sal baie stil, nederig en dienend moet wees. Indien die sinodale strukture en plaaslike (ring van) RCJ gemeentes amptelik om ons bystand op hierdie gebied vra, stel ons die volgende voor:

a)Dat Tobie en Annalie de Wet, met die toestemming van die Tokushima Kerkraad en die RCJ Ring van Shikoku, verskuif word na die rampgebied vir ‘n langer tydperk (hulle sou moontlik tydelik kon bly in een van die huise in die Takayama somer-vakansieoord wat in die rampgebied geleë is).

Hulle taak (posbeskrywing) sou kon wees:

– Om met die leraars, hulle gesinne en kerkleiers en gemeentes in ‘n kameraadskaps-verhouding (“fellowship”) te verkeer;

– Om hulle geestelik, pastoraal en prakties te ondersteun, bv. met preke, Bybelstudies en bidure in gemeentes waar nodig en soos versoek;

– Om fisies te help met daaglikse opruiming in kerke en gemeenskappe;

– Om ‘n gasvryheidsbediening te hê, deur veral leraars en kerklidmate se gesinne te nooi vir ‘n maaltyd en sinvolle saamwees by hulle aan huis,

– Om die weg te baan vir (en op logistieke gebied te help) om professionele beraders te laat kom om opleiding te doen.

b) Dat Stephan van der Watt, wat self ‘n opgeleide berader is, versoek word om ‘n basiese een- of tweedagkursus in berading te begin, waarby Tobie en Annalie ook van hulp kon wees.

Dat ons dan, terselfdertyd, gesamentlik en met die plaaslike RCJ en ander kerke, die moontlikhede beproef en oorweeg om professionele beraders van SA (of elders) te versoek om meer in-diepte opleiding te doen.

c) Nog ‘n praktiese voorstel wat van die leraars gekom het, is dat oorsese gemeentes (en/of Ringe) elk verantwoordelikheid aanvaar vir een van die gemeentes in die rampgebied, met hulle inligting deel, bid, hulle help, besoek ens. Dit is die konsep van susterkerke wat mekaar help en hande vat om ‘n sustergemeente wat swaarkry te ondersteun.

d) In die rampgebied is daar kerkgeboue wat verwoes of erg beskadig is, pastorieë ingesluit. Minstens een RCJ-kerk en –pastorie is ernstig beskadig (deur die tsunami oorstroom) en sommige ander is ernstig verswak deur die aardbewing. Ons weet nie of en in watter mate die regering sal help met herbou van sulke geboue nie. Dit is beslis ‘n fisiese gebied waarop die kerk van buite kan en behoort te help: met die herbou van kerkgeboue sodat die plaaslike kerk ‘n ware toevlugsoord sal wees en bediening sal hê vir die geteisterde gemeenskappe (dalk kan dit selfs ‘n ruimte word waar pastoral hulp permanent verleen word). Hierdie kan ook ‘n geleentheid vir oorsese kerke (gemeentes en/of Ringe) wees om met hierdie kerke (op ‘n susterkerk-basis) te skakel en op ‘n konkrete wyse van hulp te wees.

E. SLOT-PERSPEKTIEF

‘n Paar oorhoofse vrae vir ons almal wat as Christene by hierdie ramp betrokke is, is byvoorbeeld:

Waar sien en hoor ons God in hierdie gebeure? Hoe raak die rampe ons as sendelinge en Missie Japan en die breër kerk in Suid-Afrika se roeping na en die uitvoering daarvan in Japan? Lê ons roeping dalk ook spesifiek daar waar die nood van die wêreld ons Godgegewe gawes ontmoet? Hoe bied God vir ons midde-in hierdie krisisse ook geleenthede om Sy wil te doen in die ramp-geteisterde gebied saam met plaaslike kerke?

Tobie de Wet en Stéphan van der Watt – Donderdag 7 April, 2011

Comments (2)

Kitty JoubertApril 11th, 2011 at 3:03 AM

Dit voel of ek sommer MORE wil vlieg soontoe en gaan help…wat doen jy egter as jy nie die mense se taal kan verstaan nie?

ons kan maar net BID.
baie innerlike krag met jul groot werk.
Liefde in Christus,
oom Danie en tannie Kitty

Kitty JoubertApril 11th, 2011 at 3:03 AM

Dit voel of ek sommer MORE wil vlieg soontoe en gaan help…wat doen jy egter as jy nie die mense se taal kan verstaan nie?

ons kan maar net BID.
baie innerlike krag met jul groot werk.
Liefde in Christus,
oom Danie en tannie Kitty

Leave a comment

You must be logged in to post a comment.