Tuisbesoek-flits 9 Junie 2014
Beste vriend/vriendin,
Na ‘n paar maande van (tussendeur) intensiewe beplanning, bespreking en voorbereiding is ons DV oor 2 weke gereed om te vertrek na Suid-Afrika, vir ons tweede tuisbesoek as gesin. Opgewonde? Natuurlik! Gepak? Glad nie, inteendeel die ellelange “to do” lysies is wydverspreid …
‘n Woelige vooruitsig, maar ook tyd vir afsaal en uitrus…
Met vier woelwaters aan boord behoort ons ‘n reis te beleef propvolaksie. Vir Lodewyk en (baba) Stephan is dit ‘n eerste ontmoeting met Suid-Afrika en ‘n hele gemeenskap van familie en vriende … omtrent opwindend! In die eerste deel van ons besoek neem ons ook ons volle jaarlikse verlof. Ons sien uit daarna om goed te rus en te kuier vóórdat die program afskop, en ook tussen-in.
Program vir bekenstellings- en terugvoer-geleenthede
Heel onder is ons besoek-program, soos belowe. Enige iemand is welkom om die byeenkomste by te woon. Kontak my gerus met enige navrae. Ek sal ná ons verloftyd (m.a.w. vanaf 21 Julie) kan reageer op e-posse (jsvdwatt@gmail.com) en selfoon oproepe (nommer in SA: 072 070 7122). Terloops, indien jy verlede week se brief uit Missie Japan se kantoor (Bloemfontein) gemis het, lees dit gerus hier.
Kontak met ondersteuners op verskillende maniere
Oor die afgelope 5 jaar het ondersteuners uit meer as 100 gemeentes in SA (en ook enkeles vanuit ander lande) betrokke geraak by ons werk en lewe via Missie Japan. Ons is baie dankbaar hiervoor, en gaan probeer om soveel as moontlik van julle persoonlik te bedank en terugvoer te gee gedurende ons besoek, maar sal ongelukkig nie by almal kan uitkom nie. Tyd en kapasiteit ontbreek…
Daarom is ek ook tans besig met die saamstel van ‘n DVD met grepies uit ons werk en lewe hier in Tokushima en verder in Japan (baie dankie aan Jaco van Wyk van Tokyo Union Church wat sy tyd en kundigheid hiervoor aangebied het!). So as ons nie persoonlik kan ontmoet nie, maar jy wel belangstel om die storie te hoor van God se pad met ons en Missie Japan, kontak my gerus, dan stuur ek die DVD.
Enkele beelde uit ons onlangse werk en lewe
Vandag is Cornelius se 5e verjaardag. Ons loof die Here vir sy lewe en vier steeds die vreugde van sy gesondheid, na sy ernstige siekte na geboorte. Sy veggees en verbeelding hou ons hoog op ons tone…
Tyd ontbreek om als te beskryf wat verder die afgelope twee maande hierdie kant gebeur het, maar die fotos hierbo vertel die storie …
‘n Laaste ding: indien iemand ‘n babastoeltjie het (vir gebruik in ‘n motor) wat ons dalk die drie maande kan leen, laat weet ons asb.
Gebedsversoeke
Dank die Here saam met ons vir:
-
Jaco se koms na Tokushima en die “skiet” van baie film-materiaal vir die DVD, en sy opoffering van tyd en energie hiervoor.
-
‘n Baie sinvolle April en Mei, wat die kerklike bediening aanbetref (al was dit ‘n strawwe program).
Vra in afhanklikheid van die Here vir Sy sorg in:
- ‘n Veilige reis en diep rus vir ons as gesin in die tyd wat voorlê in Suid-Afrika.
- Verdere volhoubare ondersteuning deur gemeentes en individue vir die jare wat kom.
- Die DVD se redigering en samestelling wat baie tydrowend in hierdie besige tyd.
- Alle verdere voorbereidings vir die tuisbesoek – daar is baie reëlings om te tref, en ook die skep van ander bemarkingsmateriaal (bv. brosjures), aanbiedings in gemeentes, lesings by Teologiese kweekskole ens.
-
Stephan se laaste bedienings-verantwoordelikhede (3 dag vergadering 10-12 Junie, o.a. vir stigting van Missie Afrika organisasie vir RCJ-NGK samewerking), laaste preek (22 Junie) ens.
-
Carina se verantwoordelikhede rondom ons kinders se tuisskoling (voltyds).
Baie dankie vir jou ondersteuning … ons sien uit om jou in Suid-Afrika te ontmoet (indien moontlik)!
Vrede en vreugde,
Stéphan, Carina, Annlie, Cornelius, Lodewyk en Stephan
———————————————————————————————————————
Van der Watt Tuisbesoek-program |
||
Junie/Julie 2014 |
||
Datum |
Plek |
Tyd |
Woe. 25 Jun | Aankoms in Kaapstad (verlof tot 20 Julie) | |
Son. 20 Jul. | Stilbaai (ook baba Stephan se doop geleentheid) | Oggend |
Ma. 21 Jul. | Albertinia en Groot Brakrivier | 11h30 en 16h00 |
Di. 22 Jul. | George en omgewing (George-Suid Gemeente) | Aand |
Woe. 23 Jul. | Hartenbos en Outeniqualand | 10h00 en 18h30 |
So. 27 Jul. | Oudtshoorn en Wellington (beide Moedergemeentes) | Oggend en Aand |
Di. 29 Jul. | Paarlberg, Piketberg en Goodwoodpark | 08h00, 12h30,18h30 |
Woe. 30 Jul. | Stellenbosch (US) Fakulteit Teologie lesings aanbied | 08h00 |
Woe. 30 Jul. | Stellenbosch Welgelegen (ingesluit STB-Wes) | 18h30 |
Do. 31 Julie | US Fakulteit Teologie afsprake en Welgemoed | Oggend en 18h30 |
Augustus 2014 |
||
Vry. 1 Aug | US Fakulteit Teologie afsprake en navorsingsgroep lei | Heeldag |
Sat. 2 Aug | Ontbyt vir Wes-Kaap individuele ondersteuners | Oggend |
So. 3 Aug | Tableview, Bloubergstrand en La Rochelle | 09h00, 10h45, 19h00 |
So. 10 Aug | Humansdorp (Oos en Moeder gemeentes) | Oggend en Aand |
Di. 12 Aug | Riversdal | 19h00 |
Woe. 13 Aug | Bredasdorp | 13h00 |
So. 17 Aug | Rant-en-Dal (Krugersdorp) en Weltevreden (Pretoria) | Oggend en Aand |
Ma. 18 Aug | Rietfontein-Suid (Pta) en Kerk Sonder Mure Centurion) | 12h00 en 19h00 |
Di. 19 Aug | Univ. Pretoria Fakulteit Teologie en NGK Moderatuur | Oggend en Middag |
Di. 19 Aug | Vereeniging groep gemeentes (by Geref. Kerk) | 18h30 |
Woe. 20 Aug | Parys-Oos en Sasolburg-Fontein (Vaalpark ingesluit) | Oggend en Aand |
Do. 21 Aug | Petrus Steyn en Kestell | 10h30 en Aand |
Vry. 22 Aug | Bethlehem-Noord en Hennenman | Oggend en Aand |
Sat. 23 Aug | Wesselsbron-Noord en Hoopstad | Oggend en 18h00 |
So. 24 Aug | Viljoenskroon en Bothaville | Oggend en Aand |
So. 31 Aug | Heuwelsig en Hugenoot (beide in Bloemfontein) | 09h30 en Aand |
September 2014 |
||
Ma. 1 Sept. | Berg-en-Dal, Dealesville en Universitas-Wes (Bloem) | 09h30,14h00,18h00 |
Di. 2 Sept. | Univ. OVS Fakulteit Teologie en Aandbloem | Oggend en 15h00 |
Woe. 3 Sept. | Woon werkswinkels by van Richard Blackaby (Bloem) | Heeldag |
Do. 4 Sept. | Sake ontbyt (Blackaby) en Missie Japan kantoor | Vanaf 07h30 |
Vry. 5 Sept. | De Aar | Middag |
Sat. 6 Sept. | Graaff-Reinet | 11h00 |
So. 7 Sept. | Aliwal-Noord en Gardeniapark (Bloem) | Oggend en Aand |
Do. 11 Sept. | Kareedouw | 11h00 |
Vry. 12 Sept. | Somerset-Oos (en Cradock gemeentes ingesluit) | 11h30 |
Sat. 13 Sept. | Van Stadensrivier en St. James (Summerstrand, PE) | 09h00 en 13h00 |
Son. 14 Sept. | Sionsrand en RCA Malabar (albei in PE) | 09h00 en 12h00 |
Son. 14 Sept | Summerstrand en Impetus (albei in PE) | 15h30 en 19h00 |
Di. 16 Sept. | Missie Japan Bestuursvergadering (Stilbaai) | Heeldag |
Woe. 17 Sept. | Missie Japan Bestuursvergadering (Stilbaai) | Heeldag |
So. 21 Sept | Swellendam en Buffeljagsrivier | Oggend (albei) |
So. 28 Sept | Vertrek uit Kaapstad na Osaka (Japan) | 18h25 |