Terugvoer-flits – 5 Mei 2011
Beste vriend/vriendin,
Kort maar kragtig. Só was die onlangse besoek van die NGK La Rochelle se uitreikgroep. Die span het ’n opbouende en konstruktiewe bydrae gelewer deur Christus se liefde en hoop op kreatiewe maniere te deel met talle mense in die omgewings waar ons (as sendelinge) tans werksaam is. Ons kon sien hoe hierdie ervaringe nie net vir die mense wat ‘bedien’ is nie, maar óók vir die span op baie maniere nuwe uitdagings en groei gebring het in hulle Christenskap. Vir ‘n meer volledige prentjie, loer hieronder vir ‘n paar foto’s en lees ‘n kort verslag oor hulle besoek.
Twee ander sake waarop ons graag jou aandag vestig, en jou gebedsondersteuning voor wil vra:
Ramp-gebied ondersteuning
Tobie en Annalie (my skoonouers) is sedert gister weer in Sendai rampgebied vir baie belangrike opvolg-gesprekke oor Missie Japan se betrokkenheid by praktiese hulpverlening in die noodsituasie. Dit vind môre plaas (10 Mei; 13h00 Japan tyd) saam met kerkleiers vanuit die ramp-gebiede. Missie Japan se uitvoerende bestuur sal so gou moontlik ná afloop van die gesprekke amptelik terugvoer gee oor die pad vorentoe.
Van der Watt-gesin se besoek aan Suid-Afrika
Ons is tussen taalstudies en ander bedieningswerk deur besig om ons program van besoeke aan (hoofsaaklik) Suid-Afrikaanse ondersteunende gemeentes en indidivue (gedurende Junie tot Augustus) te finaliseer. Teen einde Mei sal ek die datums, plekke en tye deurgee. Ons sien nou al baie uit na die eerste tuisbesoek in meer as 2 jaar. As enige iemand miskien ‘n ongebruikte kinder-karstoeltjie (vir kinders tussen 2-5 jaar) beskikbaar het vir ons om te leen/huur in die tyd, laat weet asb.
Terloops …
Ons Gemeente (RCJ Tokushima) se predikant, Kei Kataoka, is twee weke gelede getroud met Kazumi. Dit was ‘n feestelike dag wat nog lank onthou sal word, en ons is almal baie opgewonde oor twee talentvolle mense wat reeds ‘n groot impak maak … Dank God asb. ook saam met ons vir hulle.
Dankie vir jou meelewing en ondersteuning!
Vrede en vreugde.
Stéphan, Carina, Annlie en Cornelius