Ramp Herdenkings-flits 7 Maart 2013
Beste vriend/vriendin,
Eerskomende Maandag is 11 Maart, ‘n donker herinneringsdag aan die verwoesting van twee jaar gelede in Japan. Die dag-tot-dag worstel as gevolg van die verskriklike gebeure van 11/3/2011 duur voort. Die pyn van verlies skeur steeds tot in die diepste vesels van ontelbare mense. Ekonomiese druk is groot. Die letsels van lyding is nog oral duidelik sigbaar. Ek lees vandag in ‘n koerant artikel oor die stadige pas van herbouing: “…memories of the huge waves that swept away whole villages refuse to fade; children still have nightmares, families still mourn their lost, and parts of the coast remain stripped of life.” Maar vir baie – veral vir die handjievol Christene (1%) in Japan – het hierdie krisis ook ‘n geleentheid geword om op praktiese maniere die hoop van die evangelie te deel. Sommige mense het opnuut besef dat: al is hulle op die grond neergegooi, hulle nie vernietig is nie (2 Kor. 4:9).
In die eerste maande na die rampgebeure het Missie Japan ondersteuners groot bydraes gemaak tot die Rampfonds. Dit het ‘n konkrete verskil gemaak! Die fondse is hoofsaaklik aangewend om ondersteuners se omgee-uitreik te deel met ons broers en susters hier in Japan – Christene sowel as nie-Christene. Onder leiding van die Gereformeerde Kerk in Japan (RCJ) – ons jarelange vennoot – is twee ondersteuning-sentrums opgerig.
Een sentrum, genaamd Sakura House word gekoördineer deur die RCJ Sendai-Oos gemeente onder leiding van ds. Akira Tateishi. Die ander een in Yamamoto-cho heet Nozomi Center. In albei sentrums werk ‘n handjievol vrywilligers steeds daagliks sy-aan-sy met inwoners van die plaaslike rampgebiede. Hulle meelewing met ramp-slagoffers se seer, frustrasie en verliese bring stil-stil stukkies hoop. Hulle dien die omgewing se mense deur te luister na verhale van trauma rondom ‘n koffietafel, en deur kampe en uitstappies aan te bied, saam groentetuine aan te lê, met kinders se skoolwerk te help ens. Maar hulle raak ook moeg en moedeloos, en daarom bly die ondersteuning van Christene regoor die wêreld broodnoodig vir hulle voortgaande betrokkenheid.
Juis dan hierdie kort briefie om te vra:Bid asb. spesifiek saam met ons vir Japan hierdie Sondag. En as jy moontlik iets hiervan in jul gemeente of kleingroep wil deel, hier is 3 moontlikhede:
- · Laai ‘n kort powerpoint aanbieding af by www.ngkok.co.za/missiejapan/default.htm – dit is getiteld Powerpoint: Missie Japan Ramp Herdenking (7 Maart 2013), en is aflaaibaar vanaf 15h00 vandag. Vertoon dit tydens Sondag se liturgie in julle erediens / saam met gebedsvriende.
- · Lees hier meer (by punt 5 van die verslag) oor die wonderlike voorsiening van God wat Sakura House se redding bewerkstellig het, vertel iets daarvan in die erediens, en bid dan vir die toekoms van die werk daar.
- · Lees weer die getuienis van ds. Yoshida van RCJ Sendai. En lees ook baie aangrypende vertellinge wat Tobie en Annalie De Wet verlede jaar deurleef het tydens hulle ondersteuningswerk. Deel dit met ander en raak so op ‘n klein manier deel van baie van jou Japannese broers en susters se worstelinge en hoop.
Bid asseblief saam met ons vir die langtermyn ondersteuningswerk wat nodig is in Japan.
Dankie vir jou meeleef hierin. Sonder volgehoue gebed en finansiële bydraes kan dit nie voortgaan nie.
Vrede
Stéphan, Carina, Annlie, Cornelius en Lodewyk