Ramp-flits – 9 Julie 2018

Japan vloed
TO READ THIS NEWSLETTER IN ENGLISH, PLEASE CLICK HERE
Ons leef in ‘n tyd van buitengewone uiterstes. In Suid-Afrika is daar plekke (soos Fraserburg) wat onlangs binne een hele jaar minder as 100mm reën gekry het. In die afgelope 11 dae het 1687mm neergestort in ‘n dorp (Motoyama) in Japan! Dié stortvloed het sedert Vrydag op baie plekke riviere laat oorstroom. Die skade en verlies is oorweldigend!
In die kort nuusflits gee ek die nuutste kernfeite deur, en vra elkeen wat dit lees om asseblief in hierdie tyd te bid vir Japan.
Kliek ook hier (of hier onder) om ‘n kort video te sien, wat gisteraand (8 Julie) se TV nuus opsom.
- 73 mense is dood, 63 vermis, honderde wag nog om gered te word
- 2310 mense is tot dusver gered deur reddingspanne (met helikopters, bote ens.)
- Reuse skade aan huise, paaie, brûe en infrastruktuur a.g.v. vloede, modderstortings
- 1.2 miljoen mense het hulle huise ontruim in die proses
- Een plek (in Gifu provinsie) het 987mm reën gekry binne 5 dae
- Die grootste verliese is gely in 3 provinsies, nl. Okayama, Hiroshima en Ehime
Gister het ek gepreek by RCJ Okayama-Wes gemeente. Een lidmaat, mnr. O se huis is net-net nie oorstroom nie, maar die buurt waarin hy woon is heeltemal onder water. Hy het ‘n boodskap vir ons gestuur, terwyl ons in die kerk was en vir hom/hulle gebid het:
“Baie dankie vir julle omgee. Ek is veilig. Die noodreddingspan het ons (huis) ook uiteindelik bereik. Een persoon is sopas deur die helikopter gered. Baie mense uit die omgewing is vasgevang in noodskuiling sentrums. Dié wat wel by hulle huise kan uitkom, is heeltemal verdwaas deur die oorweldigende modder wat hulle huise deurspoel het. Ander kon wel by naburige dorpe uitkom vir hulp en lewensmiddele – soos minstens water. Baie bejaardes woon hier. As die watervlak nie sak nie, kan ons niks doen nie. Bid asb. vir die bewaring van mense hier se lewens en gesondheid.”
Baie dankie vir jou meelewing en gebede hierin.
In Christus,
Stéphan
NS: ons is geleë op ‘n hoër gebied buite Kobe, en het geen skade gely nie. Ons kantore by die kweekskool het baie amper oorstroom, maar ons kon gelukkig voorsorg tref.
GEBEDSVERSOEKE:
1) Dankbaar dat ons self veilig en ongeskonde is.
2) Bid vir ons broers en susters in die geaffekteerde gebiede.
3) Bid vir die duisende mense wat diep geraak is deur verwoesting en verlies.
4) Bid vir soveel wat geliefdes verloor het en getraumatiseer is.
5) Bid vir fisiese hulp vir mense wat beseer is en baie verloor het.
6) Bid vir die heropbou-proses wat baie jare gaan neem.
7) Bid vir die rol en getuienis van die kerk in hierdie tyd.