Ondersteuners wat hoop dra en inspireer – 21 Mei 2011
Beste ondersteuner,
Sedert die drie-dubbele ramp (aardbewing, tsunami en radio-aktiewe bestraling) Japan getref het op 11 Maart is ons (ten goede) oorval met bemoedigende oproepe, e-posse ensovoorts, om ramp-geteisterdes met woord en daad te ondersteun. Van mense (Suid-Afrikaanse ondersteuners) wat aanbied om te kom opruimwerk of berading doen tot diegene wat oorweeg om Japanese mense aan huis te neem (in SA) of selfs om weeskinders uit Japan aan te neem. En natuurlik het honderde individue en gemeentes in gebed ingetree of hulle hande diep in hulle sakke gesteek om Missie Japan se rampfonds – en uiteindelik die RCJ se hulpverlening op grondvlak hier – te versterk.
Saam met Paulus in Fillipense 1:3-4 wil ons vir alle ondersteuners sê: “Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink. In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal, omdat julle van die eerste dag af tot nou toe saamgewerk het aan die verkondiging van die evangelie.” Japan het alle moontlike ondersteuning nodig, en veral die handjievol Christene hier wat die hoopvolle Lig van Christus in die donker uur van die ramp-gebeure probeer reflekteer.
Hier is 3 kort grepies uit onlangse inisiatiewe wat ondersteuners met groot ywer geloods het om die plaaslike ramp-geteisterdes te bemoedig…
Het jy ‘n kreatiewe idée wat op grondvlak ‘n verskil kan maak?
Ons hoor graag van jou …
Vrede
Stéphan, Carina, Annlie en Cornelius (ook namens Tobie en Annalie de Wet en Gys en Linda Olivier)
——————————————————————-
Riaan de Villiers skryf uit Kaapstad:
“Ek is jeugwerker by die Groote Kerk. Ons het by die skool se CSV vir julle en die mense van Japan gebid en die kinders het ‘n ‘banner’ gemaak met boodskappe van bemoediging vir die mense van Japan. Ons bid ook hierdie Sondag by ons aanddiens vir Japan en gaan mense geleentheid gee om op die ‘banner’ te skryf.”
———————————————————-
Saretha Ferreira van De Aar skryf:
“Dalk is daar iets wat ons hier in De Aar vir die ‘kiddies’ van Japan kan beteken. Laat maar weet as daar so ‘n moontlikheid is of van iets anders wat ons kan doen … Ek wens so ek het vanoggend my kamera by my gehad om my klas (graad 3) af te neem waar hulle almal vir julle op die mat gesit en bid het. Dit was baie mooi.” (nadat ek toe vir Saretha gevra het, het sy by die volgende geleentheid wel ‘n foto geneem – sien hierbo)
———————————————————
Annemarie Coulson van Riversdal vertel:
“Hier is die storie… Ek het op die website ‘Quiltersnewsletter’ af gekom, wat ‘n Amerikaanse Tydskrif is waar die redakteur Dana skryf van die jarelange verbintenis wat sy het met Naomi, wat weer redakteur is van Japanese Tydskrif, en waar Naomi dringend vra vir kwilts vir slagoffers.
Binne 24 uur nadat die berig op die website verskyn het, het Dana terugvoering uit 8 lande ontvang, o.a. uit SA. Dit het my so aangegryp dat ek ook dadelik gereageer het, en besluit het dat ons ‘klein’ groepie hier in Riversdal en Stilbaai ook gaan meedoen, maar kom toe voor die finansiële sy daarvan tot stilstand … So kry ek 2 dae later ‘n e-pos van my seun wat die volgende sê: ‘…ons sal AL die kwilts wat jul in SA kan bymekaar maak, vervoer na Japan!!’. Hulle gee nie geld nie, maar sal hulle eie ‘resources” nl. koerierdiens gebruik, wat juis hulle goedere na en van Japan vervoer. Ons moet dit by een punt bymekaar hê, enige plek in die land, en hulle sal dit daar optel.
Ek was aanvanklik lam van skok, het aan geheueverlies gelei, 2 ure later tot verhaal gekom, en begin om e-posse uit te stuur, en die terugvoering was oorweldigend!! My verwagting is dat daar teen Dinsdag volgende week (17 Mei) 300-400 kwilts sal wees. Alles het ongelooflik in plek geval, en eintlik voel ek dat ekself bitter min gedoen het, behalwe die kwilts wat ek self gemaak het. Oral waar ek kom en ‘n versoek rig, is ‘ja’ die antwoord al die pad … die Here se seën op hierdie projek is net onbeskryflik !!”
———————————————————————–
Die uiteinde was dat Annemarie en ander kwilter-vriendinne uit haar omgewing op TV verskyn het (Kwêla-program). Intussen het sy ook heelwat gehekelde komberse en gebreide kinder truie ontvang . My skoonouers (Tobie en Annalie de Wet) kon tydens hulle onlangse besoek aan die ramp-gebied met ‘n spesifieke gemeente – die RCJ Watari wat ook ‘n plaaslike kleuterskool bedien – kontak maak, wat aangedui het dat hulle ‘n behoefte het aan onderklere ens. vir klein kindertjies. Nadat Annemarie se gemeente (NGK Riversdal-Wes) ‘n projek daarvan gemaak het, stuur hulle toe verlede week (afsonderlik van die kwilts) ook hierdie klere ens. aan ds. Hayashi by RCJ Watari, en maak so ‘n verskil op grondvlak aan ramp-geteisterde kinders se lewens!