Nuusflits Januarie 2018 / Newsflash January 2018

If you want to read this blogpost in English, please click here

Gegroet uit ‘n ysige Kobe, deesdae gereeld getooi in spierwit sneeu. Die werk-jaar is (by ons) al sedert 5 Januarie volstoom aan die gang, en ons is dankbaar vir goeie gesondheid en ‘n sinvolle ritme, dag-vir-dag. Ek deel graag nuus oor dinge wat vanjaar voorlê, en iets van die afgelope tyd. 
 
Opwindende nuwe projek vir 2018
Al ooit gewonder hoe jy julle gemeente se betrokkenheid in Japan kan verdiep? KIX (Kinders in Christus) het, in vennootskap met Missie Japan, ‘n opwindende nuwe projek om jou uit die blokke te loods! Dit sluit in: ‘n volledige projekles (in PDF en Powerpoint-formaat) met kreatiewe idees vir die hele jaar; video’s, musieksnitte en veel meer. Ons is regtig opgewonde die nuwe geleentheid om kinders se harte te laat vlamvat vir God se Koninkryk in Japan.
Laai alle materiaal af deur hier te kliek. Pauline Matthee (KIX Voorsitter) en Elrika Esterhuizen (medewerker) verdien groot krediet vir die materiaal, waarvoor ons baie dankbaar is.

Nuwe sendeling aansoeke
Vandag (31 Jan.) is die sluitingsdatum vir aansoekers wat as sendelinge na Japan wil kom via Missie Japan. Bid asb. saam met ons, dat die bestuurspan wat die aansoeke moet hanteer, die nodige wysheid sal ontvang. En verál dat die keuringsproses van geskikte kandidate onder leiding van die Heilige Gees, goed sal verloop.

Gesellige en vol tyd agter die rug 
Ons het die voorreg gehad om sedert middel Desember baie gaste, uit verskillende oorde, aan huis te ontvang. Gasvryheid en diep gemeenskap is (letterlik) van huis uit, deel van ons roeping hier in Kobe. Ons is dankbaar vir vele verrykende interaksies, veral ook vir ons kinders. Die foto’s hieronder vertel iets dáárvan en meer.

Gebedsversoeke en ons program vir Februarie volg heel onder
Bid asb. ook saam met en vir ons. Ons bid spesifiek saam vir die voortgaande droogte krisis in talle streke van Suid-Afrika, en vertrou vir tydige uitkoms.

Baie dankie vir jou belangstelling en ondersteuning. Ons is dankbaar om vanjaar weer saam te kan aanpak!

Vrede en vreugde, in Christus.
 
Stéphan, Carina, Annlie, Cornelius, Lodewyk en Stephan (jnr.)

 


Gebedsversoeke
Dank die Here saam met ons vir:
  • Goeie gesondheid, krag en visie om daagliks met vreugde aan te pak.
  • Baie sinvolle en geseënde ontmoetings die afgelope ses weke.
  • Genoeg geleenthede om te kan dien waar ons geroep is.
  • ‘n Sterk netwerk van ondersteuners wat ons dra.
  • Die nuwe projek via KIX om ‘n jonger generasie te help fokus op Japan.
Vra in afhanklikheid van die Here vir Sy sorg in:
  • Die proses vir die werf van nuwe sendelinge na Japan, spesifiek in samewerking met die RCJ se ring van Shikoku.
  • Stéphan se werk by die Kobe kweekskool (klasgee, preek by kapeldienste en bidure) asook kerklike betrokkenheid. My program sluit o.a. in:
  • Ontvangs en leiding van ‘n kollega uit Australië (Sydney Anglikaanse kerk) wat as gasdosent hier meewerk (30 Jan – 2 Febr).
  • Ontvangs van en skakeling met ‘n Amerikaanse sendeling-kollega (van die CRCNA), wat ons jaarlikse dag van gebed kom lei (9 Febr).
  • Preek geleenthede by RCJ Marugame (11 Febr) en RCJ Sakai Mikuni (25 Febr) gemeentes.
  • Vergadering met Shikoku ring se sending samewerking-kommittee (12 Febr).
  • Carina se verantwoordelikhede rondom ons kinders se tuisskoling, gasvryheids-bediening, Engelse klasse vir enkele KRTS studente ens.
  • Gys en Linda Olivier, en hulle kinders Linie en Johan, vir hulle daaglikse werk by Seiwa meisiesskool in Kochi.