Nuusflits – 6 Mei 2019

Lees hierdie nuusflits ook deur hier te kliek.

NUWE ERA vir Japan, SA en vir ons

Op die vooraand van die verkiesing in Suid-Afrika, is jy seker ook diep bewus van die betekenis van ‘n nuwe era wat aanbreek. Vol potensiaal én onsekerheid. Wees verseker van ons gebede in hierdie dae. 
 
Japan se nuwe era: REIWA
Intussen het die nuwe keiserlike era op 1 Mei in Japan aangebreek. Reiwa beteken: goedgunstige vrede/harmonie. Die inwyding van die keiser met oordadige Shinto rituele was egter nie vir alle Christene in Japan vreugdevolle nuus nie. Om teen die stroom te swem is taai en ongewild, maar onvermydelik vir die Reformed Church in Japan. Lees hier verder oor die RCJ se profetiese protesaksie in dié verband.
 
Ons as gesin se nuwe dekade 
Tegelykertyd het daar vir ons as Van der Watt gesin ook ‘n nuwe sirkel van betrokkenheid begin. Op 10 April was ons net mooi 10 jaar in Japan. Drie van ons vier kinders is in Tokushima gebore, en oor die eerste fase (6.5 jaar) van ons bediening in Japan, sou ons ‘n boek kon skryf. Die bykans 200 blog-inskrywings – by www.missiejapan.co.za– vertel wel ten dele die verhaal. 
 
Die afgelope dekade is gevul met aaneenlopende aanpassings, uiteenlopende uitdagings, emmers vol sweet en soms trane. Ons leer nog daagliks wat geduld en volharding (kan) beteken. Ons voel steeds soos resident aliens (aldus ons status volgens Japannese immigrasie kantore)In kwadraat. Ons is immers nie van hier nie, kan nooit wees nie. Maar ons is wel hiernatoe geroep, en hier geplant. Al is dit net as vreemdelinge en bywoners (aldus 1 Petr. 2:11). Deur die Here se oorvloedige genade het vreugde en vervulling die botoon gevoer tot nou toe, en ons vertrou dit sal ook só wees in dit wat voorlê. 
 
Uit Shikoku na Kobe 
Ons is ‘groot gemaak’ deur die Christene van die ring van Shikoku gemeentes, en is hulle nou nog diep dank verskuldig. Maar nou het ‘n nuwe fase aangebreek. My hoof betrokkenheid as dosent by KRTS (Kobe Reformed Theological Seminary) bly steeds dieselfde. Maar die fokus van my kerklike betrokkenheid skuif binnekort amptelik na die Westelike ring van gemeentes (gesentreer in Kobe-Osaka-Kyoto omgewing), waarbinne my rol as RCJ leraar dan sal val. 
 
Saam met Carina gaan ons as gesin veral ons gewig ingooi by ons plaaslike gemeente (Kita Kobe) se kinderbedieninge. Ons is regtig bly dat Elmar en Nadine Du Rand ook nou tydelik hier betrokke is, terwyl hulle fokus op Japannese taalstudies. En verder is dit opwindend dat hulle juis DV in Shikoku ring kan werk in die toekoms, sodat Missie Japan se fokus daar ook kan verdiep. Lees gerus hier meer oor hulle eie ervarings tot dusver.
 
Drie jaar vol betekenis en harde werk 
Carina het in die afgelope jare baie hard gewerk t.w.v. voltydse tuisonderrig. Die dag-vir-dag gereed wees met ‘n smorgasbord tot oorlopenstoe vol met leer-opsies vir 4 kinders, in drie tale, vra meer as sy pond vleis. Haar toewyding en passie is regtig aansteeklik, maar dit vat onverpoosde arbeid en fokus.

Sedert April 2016 het die voorreg gehad om leraars toe te rus as dosent by KRTS. Buiten vir daaglikse klasgee in pastorale teologie en sorg, het ek die afgelope 3 jaar by meer as 100 geleenthede regoor Japan aanbiedings gedoen. Dit het ingesluit: preke, kampe, huweliks-verryking byeenkomste, seminare oor temas wat wissel van gender tot diakonia, evangelisasie, ramp-ondersteuning, geloofsvorming in families ens. Ek is ook betrek by twee RCJ sinodale kommittees rakende diakoniale aksies en pastorale sorg. Hierdie betrokkenhede is baie verrykend, maar ook erg veeleisend en tydrowend. Gefokusde tyd vir navorsing t.w.v. die kurrikulum wat ek in Japannees moet oordra, ontbreek dus meestal.
 
‘n Geleentheid by Calvin Seminary 
Daarom is ek uiters dankbaar vir ‘n beurs om vir 6 weke by Calvin Seminary in Grand Rapids, Michigan te kan navorsing doen by die H. Henry Meeter Centre for Calvin Studies (in Mei en Junie). Om die fondasie vir verdere onderrig by KRTS stewig vas te lê, en om nuwe dinge in ‘n ander konteks te leer en hier te integreer. Danksy die ondersteuning van Missie Japan bestuur en ander individue kan ons die unieke geleentheid as gesin meemaak. Tuisonderrig maak dit ook moontlik vir Carina om ons kinders se huidige kurrikulum in Grand Rapids voort te sit.
 
In die groter prentjie van ons betrokkenheid as sendelinge van Missie Japan die afgelope dekade, sien ons hierdie as ‘n sonderlinge makeer-die-pas (tussenpose) om ook ‘voorraad opname’ te doen van waar ons nou is. Om nuut te reflekteer en visioneer, uit ‘n vars hoek en omgewing. Ter wille van die volgende skof in Japan …
 
Ons bly afhanklik van jou gebede en ondersteuning.
Baie dankie dat ons daarop kan reken!
 

Vrede en seën,
Stéphan, Carina, Annlie (11), Cornelius (9), Lodewyk (7) en Stephan (5).



GEBEDSVERSOEKE

Bid asb. vir die Here se sorg en leiding m.b.t. die volgende sake:

  • Ons het die afgelope maande baie hard gewerk, en tegelyk baie gaste ontvang aan huis. Bid asb. vir krag, balans en gesondheid.
  • Elmar en Nadine Du Rand (nuwe sendeling-kollegas) het by ons aangesluit. Bid asb. vir hulle aanpassing, inskakeling en taalstudie.
  • Ons begin met ’n nuwe fase van bediening in ons plaaslike gemeente (RCJ Kita Kobe). Ek en Carina se rol in die kinderbediening hier brei uit. Dank saam met ons die Here daarvoor en vra asb. vir Sy leiding vir wat voorlê.
  • Ons daaglikse werk – ek wat klasgee by die kweekskool en Carina se voltydse tuisonderrig van ons 4 kinders – verg baie energie en wysheid. Bid asb. daarvoor.
  • Ons is DV tussen 10 Mei en 30 Junie in Grand Rapids (VSA) by Calvin Seminary, waar ek ’n navorsings-beurs ontvang het. Ons is baie dankbaar vir die geleentheid. Bid asb. saam met ons vir ’n vrugbare en betekenisvolle tyd daar.

Leave a comment

You must be logged in to post a comment.