Nuusflits – 30 Junie 2018

Rysplant in Kobe

TO READ THIS NEWSLETTER IN ENGLISH, PLEASE CLICK HERE

Gegroet uit ‘n snikheet en sopnat Kobe. Dis reënseisoen in Japan en dag-vir-dag toenemend bedompig. Saam met emmers sweet wat aftap, val groter emmers reën. Laasweek het hier meer as 100mm binne een uur neergestort naby ons. Dié week word 300-400mm vir die omgewing voorspel.

Dis ook die laaste dae vir rys plant. Nou die dag het ‘n rysboer naby ons huis sy laaste land se rys geplant: sonder ‘n trekker, elke plant, een-vir-een, met die hand. Onkonvensioneel, dog diep seremonieel, geduldig en gevul met passie vir sy lewensroeping!
 
Verrassende bemoediging
Dit het my laat dink aan die realiteit van getuienis-werk in Japan. Om die evangelie hiér te deel, vat tyd. En dis haas onmoontlik sonder ‘n een-tot-een verhouding van wedersydse vertroue en leerbaarheid. Behalwe natuurlik as die Heilige Gees – soos dikwels die geval is – onverwags ons afgemete verwagtinge en pasklaar skemas verreweg oorstyg. Só het ek dit weer gister (1 Julie) beleef in Okayama, waar ek ‘n boodskap uit die Woord kon deel. 
 
Ná die erediens ontmoet ek ‘n vrou, vir die eerste keer … of so het ek gedink. Sy deel met my dat sy met diep emosie na die boodskap geluister het. Toe ek uitvra, verduidelik sy dat sy daardeur herinner is aan haar oorgawe aan God, amper drie jaar gelede. Groot was my verbasing toe sy onverwags voortgaan met: “Jy het kort voor dit ook hier gepreek. Die boodskap wat jy daardie dag gedeel het, het my oortuig om my lewe volledig aan God toe te wy. Nie lank daarna nie is ek gedoop, en sedertien aktief betrokke in die gemeente.” Ek was uit die veld geslaan van dankbare verrassing, want, al het ek en me. O nooit destyds persoonlik ontmoet nie, het sy die Lewende Woord ontmoet deur my stamelende en sukkelende woorde. 
 
En dieselfde refrein wat die afgelope 23 jaar op sleutelmomente my pad gekruis het, klink wéér helder op: “Verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig … bly jy in alle omstandighede nugter, verdra lyding, doen jou werk as verkondiger van die evangelie, voer al die pligte van jou bediening uit.” (uit 2 Tim 4:1-5). Hierdie teksgedeelte het die eerste keer in matriek in my hart weerklank gevind, en ‘n lewensroeping as bedienaar van die Woord het daar begin. Alle eer aan God!

RCJ Okayama-Wes gemeente ete, met Me. O in die middel (met blou hemp)

Op ‘n ander, nugter noot … oor die dood
Die lewe is vlietend. Miskien is dit die onlangse aardbewings – wat ook ons huis twee weke geskud het – wat my opnuut aan my sterflikheid herinner het. En daarmee saam die afgelope twee maande se preekreeks by ons tuisgemeente. Waarin ons leraar herhaaldelik die sin van ons lewens in die skadu van ons onvermydelike dood, verhelder het. Punt is, ons dae is getel, en daarom is daar ook ‘n ander refrein uit Psalm 90:12 in my gedagtegang die afgelope tyd: “Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom.”

Carina het ook onlangs hieroor dieper nagedink en geskryf – uit ‘n Japannese invalshoek – lees dit gerus deur hier te kliek.
 
Ons waardeer jou ondersteuning! Hou die spasie dop vir foto’s en meer nuus later in Julie en bid asb. saam vir die sake hieronder genoem.
 

Vrede, 
Stéphan, Carina en gesin

 


GEBEDSVERSOEKE
DANK DIE HERE SAAM MET ONS VIR:
  • Sy leiding in die oorgawe wat me. O gemaak het, en vir sy genade op haar pad as jong Christen.
  • ‘n Geseënde twee maande propvol geleenthede in die kerklike bediening en veel wyer.
  • Sewe studente wat pas gegradueer het by KRTS, waarvan ses voltyds in die kerklike bediening ingaan.
VRA SAAM MET ONS VIR SY SORG EN GENADE VIR:
  • Nuwe sendeling-kandidate, Elmar en Nadine Du Randt se werk om ondersteuning te werf vir hulle koms na Japan (DV Maart 2019).
  • Gys en Linda Olivier se lewe en werk by SEIWA Christenskool in Kochi – vir ‘n goeie rustyd tydens opkomende somervakansie.
  • Carina se tuisonderrig, eie taalstudie, dagtake, gasvryheids-bediening ens.
  • Stéphan se navorsing vir nuwe kurrikulum se opbou, en aanbiedings oor diakonale werk later vanjaar.
  • Sy besoeke aan RCJ gemeentes – Okayama en Kobe – vir preekbeurte (8 en 15 Mei) .
  • Sy boodskap by ‘n toerustings-byeenkoms vir lidmate van die RCJ Westelike Ring (6-7 Julie).