Nuusflits 27 Oktober 2010 – Ouerskap in die Verre Ooste

Beste vriend/vriendin,

Die herfs het kosmosse gebring. Gister het die eerste sneeu geval in die Noorde en ons voel dit behoorlik! Een van die dae lyk berg Fuji weer soos hieronder…

In dié nuusflits deel ek graag oor ‘n paar gebeure iets met jou:

Eerstens: Verlede week het ons die voorreg gehad om vir Ben Fourie (ds.) hier in Japan te ontvang. Hy het namens die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) kom verhoudinge bou met die RCJ (Reformed Church in Japan) se kerkleiers, by die sinode sitting wat ons saam bygewoon het in Tokyo. Ben is ‘n kleurvolle mens met baie gawes en daarmee het hy ons almal – ook ons gemeente in Tokushima – bedien. Ons sien uit na en bid vir die moontlike pad wat Missie Japan en die RCJ saam met die GKSA vorentoe kan loop…

In die tweede plek: Dit gaan steeds baie goed met Miwa (Terauchi). Sy voltooi tans haar laaste week van opleiding (in Christelike kinder-bediening) in Witrivier. Van Saterdag af sal sy vir 2 weke tussen Port Elizabeth en Kaapstad wees om nog heelwat nuwe mense te ontmoet, dinge te leer en sommer net om die pragtige tuinroete te geniet. Lees gerus die nuusbrief wat sy vroeër geskryf het (dis nou vir die eerste keer in Afrikaans beskikbaar – baie dankie Loretta de Bruin vir jou vertalingshulp!) …

Derdens: My skoonouers – Tobie (ds.) en Annalie de Wet – is tans op toer deur Kyushu-eiland, waar hulle vroeër vir 8 jaar gewoon en gewerk het. Hulle besoek verskeie gemeentes en vriende en volg kosbare verhoudings en gesprekke op. ‘n Waardevolle ervaring, net voordat hulle middel Nov. na Suid-Afrika vertrek vir ‘n rustyd en deputasie-werk tot vroeg Feb. 2011.

Verder: Gedurende die afgelope 2 maande is my taalstudies gerig op ‘n baie belangrike  eksamen (Japanese Language Proficiency Test – N3) wat om die draai lê (5 Des). Vir die volgende 40 dae tot en met dan sal ek my volledig hierop bly toespits. Daarom ook byvoorbaat jammer as ek nie by alle e-pos reaksies kan/kon uitkom nie. Ek sal so gou moontlik ná 5 Des. reageer, en intussen net absoluut noodsaaklike navrae kan beantwoord…

En laastens: Carina het onlangs die onderstaande artikel vir die Baba en Kleuter (November-uitgawe) geskryf. Die einde van die jaar bied ook hier vir haar ‘n druk tyd met die aanbied van Engelse klasse vir peuters en ma’s, Japanese taalstudies, ‘n string kinderpartytjies en die primêre versorging van Annlie en Cornelius ens.

Lees asseblief hier onder en leer meer oor hoe haar hart klop as ma…stuur gerus enige reaksies op die og. direk aan Carina by carina@missiejapan.co.za

Ons sal veral ook jou gebedsondersteuning in die volgende maand baie waardeer – veral t.o.v. die dinge wat ons in dié nuusflits gedeel het.

Vrede

Stéphan, Carina, Annlie en Cornelius

——————————————————————————————————————-

 

UIT DIE VERRE OOSTE…

Soesji en samoerai. Kort mensies wat heeltyd foto’s neem. Dis die gemiddelde Westerling se prentjie van Japan.  Japan bly vir baie Westerlinge ‘n enigma. ‘n Onverstaanbare, misterieuse kultuur en ‘n taal wat ‘n mens laat sweet! As gevolg van die geografiese ligging het meeste Japanese ‘n eiland mentaliteit en nog tot onlangs ‘n geslotenheid ten opsigte van Westerse invloede gehad. Baie min Japanners kan Engels praat en dus word Westerlinge (wat geen kennis van Japanees het nie) weer soos kindertjies – ongeletterd en hulpeloos.

Met hierdie tipe uitdagings het ek en Stéphan in April 2009 na Japan gekom as sendelinge vanuit die NG Kerk (Stéphan is ‘n predikant). Ek was 6 maande swanger met ons tweede en die trotse, maar moeë ma van Annlie (op daardie stadium was sy 20 maande).

Ons seuntjie, Cornelius, se geboorte was besonder moeilik aangesien hulle geen pynstillers hier administreer nie (ek het wel vir Stéphan gevra om vir my panado in te smokkel!). Blykbaar berei die kraamproses jou voor vir moederskap – wat soos alle ma’s weet by tye baie rof kan wees. Nou ja, as dit van die kraam afgehang het, is ek uitstekend voorberei vir moederskap!

Mense vra ons altyd of ons nie Suid-Afrika mis nie? Die waarheid is: Ons het nie tyd daarvoor nie. Ek dink met klein kindertjies maak dit amper nie saak waar jy is nie. ‘n Mens se tyd word so opgeslurp met huis skoonmaak (hier is nie so ‘n wonderlike iets soos huishulpe nie) en kinders versorg, dat daar verseker nie tyd is vir nostalgie nie. Enige sentimentele gedagtes wyk summier met nog ‘n vuil doek en berge wasgoed en skottelgoed (wat ek en Stéphan as ‘n span hanteer).  Dus, ek dink ek ervaar dieselfde uitdagings as wat ander mammas in Suid-Afrika ervaar. ‘n Gebrek aan tyd, privaatheid en moedeloosheid as daar nóg ‘n emosionele uitbarsting plaasvind.

Daar is wel sekere aspekte van ouerskap in Japan wat besonder moeilik is. Sodra daar ‘n krisis gebeur mis ‘n mens die ondersteuning wat jy in Suid-Afrika sou kry. In Suid-Afrika is daar nog die moontlikheid dat bure of vriendinne of familie kan uithelp met kinderversorging en kos aanbring. Hier in Japan is daar baie min kontak tussen bure en selfs soms tussen families. Al is Japan tot op hede die tweede grootste ekonomie in die wêreld, het ‘n buitengewone gedrewenheid en harde-werk-mentaliteit meegebring dat mense bitter min bymekaar uitkom. Dis vir die Japanese vreeslik vreemd as ons so geredelik mense ontvang, en wanneer hulle ons huis binnekom is hulle eerste woorde “Jammer ek maak van myself ‘n las”!

En dan natuurlik die grooste struikelblok – DIE TAAL! Bitter min mense kan enige Engels praat, behalwe “cute” en “ok”. En Japanees is vir ‘n Westerling selfs moeiliker as Sjinees. Dit is moeilik om tyd te vind vir studeer, maar dit is absoluut essensieël vir oorlewing hier.

Die lekkerste aspek van ouerskap in Japan?  Omdat ons soveel meer opmekaar aangewese is, het ons ook saam met die verlies aan tyd en Suid-Afrikaanse vriende en familie ‘n diep bewussyn ontwikkel van familie-wees, en die groot invloed wat ons op mekaar het. Die ryk Japanese kultuur gee ook baie geleenthede vir kindertjies om byvoorbeeld in die soel someraande met tradisionele drag na kleurvolle feeste te gaan en speletjies te speel en tradisionele danse te dans.

Ons ondersoek vir die toekoms tuisskoling as ‘n opsie – omdat ons graag wil hê ons kinders moet buiten Japanees, Afrikaans (én Engels) vlot praat. Nog meer belangrik, die Japanese skoolsisteem sit verskriklik baie druk op hul kinders om hard te werk en te presteer. Skoolure is baie kere 6 dae per week met ekstra klasse tot 22h00. En hierdie ure is dikwels al van laerskool af. Ons sou verkies om vir ons kinders meer vrye tyd te gun, asook ‘n minder een-dimensionele kultuur blootstelling. In Suid-Afrika word daar dikwels baie gekla oor die eise van ‘n multi-kulturele samelewing, maar dit maak ons nasie beslis ryk en divers – iets wat ons hier mis.

My en Stéphan se droom is om eendag ouerskap kursusse hier aan te bied. Families in Japan het ‘n groot gebrek aan intimiteit. Van die hoogste selfmoordsyfers in die ontwikkelde wêreld is onder Japanese (en veral tieners). Ons sou graag saam met ander ouers wil leer dat hierdie ‘roeping’ van ouerskap die belangrikste en sinvolste werk is wat ons ooit sal hê.  Is daar immers ‘n groter beloning as ‘n liefdevolle en innige verhouding met jou kind?

Carina van der Watt (Tokushima-stad, Japan)

Epos: carina@missiejapan.co.za   

Leave a comment

You must be logged in to post a comment.