Nuus- en gebedsflits 2 Oktober 2010

Beste vriend/vriendin,

Dit was intens én lig, tegelyk. Amptelik, dóg propvol vreugde. ‘n Emosioneel-geestelike inspuiting wat baie wyer as ons sendeling-gesinne in Tokushima uitgekring het. Ons huis is vanoggend heelwat leër, maar ons harte baie voller. Ek praat van die besoek van die Hoopstadse vyftal Du Plessis-gesin wat ons geseën het met hulle eindelose energie en entoesiasme. Carina se woorde was: “Ek vermoed God het julle gebruik om vir ons weer die pretensie-lose Afrika-konneksie te laat ervaar. Ons sien daarna uit om dít weer in Hoopstad te hervat…” Ons is diep dankbaar oor ondersteuners wat nou vriende geword het!

 As jy meer wil sien oor hierdie pas afgelope besoek, en ook ‘n stukkie van die gesinslede se eie kommentaar wil lees, loer gou hier. Lees ook asseblief hieronder waar (pa) Tobie en (ma) Annalie ‘n paar van die vele dimensies van die besoek beskryf …

Dankie vir jou ondersteuning en belangstelling!

Vrede,
Stéphan, Carina, Annlie en Cornelius

Du Plessis gesin by die Kohno's se huis vir ‘n tee seremonie

Van Tobie en Annalie

Beste vriende en familie,

Die Du Plessis gesin (Johan, Elsabe, Elaine (13), Johan (13) en Jac (11) het gekom en gegaan! Gister oggend (1 Okt) het ons hulle weer afgesien. Hulle was vir ‘n week (van Vrydag aand tot Vrydag oggend) met ons – fisies het hulle by Stephan en Carina gebly, maar ons het almal goeie tye saam deur gebring. Ons het in ons moedertaal gepraat, grappe gemaak wat net Suid-Afrikaners sal verstaan, ‘n tipiese Suid-Afrikaanse “braai” geniet, en na Japanese warm waterbronne gegaan (onsen) waar hulle kaal moes bad voor almal (mans en vroue apart)…ons het ‘n klomp lekker tye beleef. Ons het saam gebid en die beste van alles was dat ons ons harte vryelik en openhartig met mekaar kon deel in ons eie taal en kultuur. Dit was inderdaad vir ons almal ‘n baie goeie en spesiale tyd in Japan. Dit gebeur nie gereeld nie…

Hulle het as gesin ook ‘n baie geseënde tyd saam met ons gemeente (RCJ Tokushima) se lidmate deurgebring. Hulle het die liefde en gasvryheid van ons mense ervaar en hulle kon ook self hulle liefde en die liefde van hulle gemeente (NGK Hoopstad) deel met die lidmate, en selfs wyer met sommige van ons vriende.

Die wonderlike van hierdie spesiale besoek is dat hulle gekom het as amptelike afgevaardigdes en verteenwoordigers van Hoopstad gemeente (Johan is ‘n ouderling en Elsabe is Missie Japan se verteenwoordiger op en leier van die Getuieniskommissie), en dat dié gemeente hulle besoek ten volle geborg het. Hulle is spesifiek en amptelik gestuur deur hulle kerk om al die pad te kom om hulle sendelinge hier aan die uithoeke van die aarde te kom bemoedig! En ‘n bemoediging was dit beslis en sal dit bly wees soos wat ons verhouding en geloofs-gemeenskap met mekaar verdiep! Veral die feit dat hulle kinders kon saam kom het soveel beteken vir Annlie en Cornelius.

Gister oggend, nadat hulle weg is, het ek dankbaar in gebed gedink: daar is baie gemeentes, gesinne en individue wat ons ondersteun met hulle daaglikse gebede en hulle opofferende maandelikse finansiële bydraes. Meeste van hulle sal ongelukkig nooit vir ons in Japan kan kom besoek nie. Die Du Plessis gesin het almal van julle op ‘n baie konkrete en wonderlike manier verteenwoordig!

BAIE DANKIE HOOPSTAD kerkraad, getuieniskommissie en gemeente vir julle wonderlike liefde, julle sendingvisie en julle ruimhartige betrokkenheid by Missie Japan en met ons, as sendelinge. Julle het ‘n diep impak gemaak op ons en op ons hier-wees in Japan.

PRYS asseblief die HERE saam met ons vir:

 1)      ‘n Goeie tyd wat ons saam met die Du Plessis gesin kon deurbring.

2)      Dit wat hulle kon deel tydens en bring na ons Sondag erediens en Donderdag biduur.

3)      Die heerlike herfsweer wat ons nou kan geniet.

4)      Die geleenthede en vrugvolle tyd wat ons (Tobie en Annalie) kon spandeer in Takamatsu Higashi gemeente en Yamada gemeente (in Kochi), deur prediking en die aanbied van ons sending seminaar.

 BID asseblief saam met ons vir:

 1)      ONS PROGRAM VIR DIE RES VAN DIE MAAND (OKTOBER):

i)                    Stephan en Carina se daaglikse Japanese studies.

ii)                   Hulle gesinslewe, die versorging van Annlie en Cornelius. Hulle moet weer aanpas na die wonderlike tyd saam met die Du Plessis gesin.

iii)                 Hulle skakeling met mense in die gemeenskap.

iv)                 Tobie en Annalie se weekprogram met voorbereidings, Bybelstudies, Engelse klasse, bediening in Tokushima, Tokushima Seibu en Marugame gemeentes.

v)                  Tokushima gemeente se weeklikse gebeds ontmoetings (Tobie is verantwoordelik). Ons doen tans Bybelstudie uit Handelinge.

vi)                 Die RCJ se Algemene Sinode Sitting van 19 to 21 Oktober wat in Tokyo gehou sal word. Terselfdertyd sal ‘n afgevaardigde (ds. Ben Fourie) van die Gereformeerde Kerk van SA die Sinode, sowel as ons hier in Shikoku, besoek.

vii)               Ons besoek (Tobie en Annalie) aan KYUSHU (eiland) aan die einde van die maand om meeste van ons vriende en kosbare kontakte in Fukuoka en in Kokura op te volg.

 2)      MIWA san: Miwa beleef ‘n baie geseënde tyd van studies en verhoudingsbou in haar besoek aan Suid-Afrika. Waar sy ookal gaan maak sy ‘n groot indruk op mense. Vir ongeveer die hele Oktober-maand sal sy besig wees met ‘n in-diepte kursus in kinderbediening by Petra Kollege in Witrivier.

 NB: Kliek hier om ‘n aangrypende brief te lees wat Miwa self geskryf het oor haar besoek aan Suid-Afrika tot dusver (ons sê baie dankie aan Kiyoko Hakamata wat dit in Engels vertaal het vanuit Japanees). Nadat jy gekliek het, lees net af tot by haar brief. 

 

Leave a comment

You must be logged in to post a comment.