Huistaal-flits – 19 Junie 2012
Beste ondersteuner,
Huis. Taal. Huistaal …
Taal is die huis van ons ware Bestaan (volgens Martin Heidegger, Duitse filosoof). Ons sou ook kon sê: Taal is die huis waarin ons woon. Die realiteit hiervan is nóu al hoe duideliker herkenbaar as ooit tevore in ons lewe in Japan …
Taal
Dis die gedagtes wat in my kop ronddryf terwyl eergister ek oppad terug is vanaf Kochi (Yamada Gemeente), en dieper insink in die meesleurende melodie van Lisa se klavier … in Frans (op die CD AfriFrans). Die eksentrieke lirieke klink nog vreemder vir my as Japannees, maar die melodie is diep-nostalgies bekend, vol aantrekkingskrag. Om in ‘n taal soos Japanees tuis te kom sal warskynlik ‘n leeftyd kan neem (vir nie-Japannese soos ons), dink ek verder. Ek het wel in Japannees gepreek Sondag, maar die ironie is dat ek ‘n paar maande gelede self nie veel sou verstaan het van wat ek probeer preek het nie! Inderdaad is dit ‘n vreemde, wonderlike (taal)huis waarin ons ingetrek het sedert ons bietjie meer as 3 jaar gelede in Tokushima ge-arriveer het.
My gedagtes draai weer op ‘n ander punt: by een teks (Johannes 1:1,4) wat ek aangehaal het. In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God … In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Of in Japannees (net om jou ‘n idee te gee hoe dit lyk): 初めに言があった。言は神と共にあった。言は神であった。。。 言の内に命があった。命は人間を照らす光であった。 Hierdie Woord (Christus) is die Huis waarin ons woon – en lig en lewe – ons ware Bestaan vind …
Huis
Ons (fisiese) huis het ook gedurende die afgelope twee maande ‘n nuwe vorm aangeneem, en ons bestaan hier (ten goede) ontwrig en uitgedaag. Vier kamers is – primêr t.w.v. aardbewing-weerstand – totaal herskep en verlede week voltooi. Cornelius se derde verjaarsdag is verlede Saterdag gevier om dit alles in te wy. Lodewyk ondersoek elke nuwe hoekie as kruipende speurder, en Annlie geniet haar klavier (wat ‘n gemeentelid ook geskenk het!) gate uit.
Ons is bitter dankbaar vir die reuse inset van ons tuisgemeente wat alles geïnisieër en befonds het. ‘n Gemeente met minder as 40 lidmate, waarvan ongeveer 15 (meestal pensionarisse) die grootste finansiële las dra vir o.a. die predikant se salaris, allerhande gemeentelike instandhoudingskostes, projekte ens … het besluit om bo en behalwe hulle gewone en jaarlikse spesiale dankoffers, ‘n buitengewone fonds-insameling te doen om hierdie groot bouprojek te loods. Dit vra regtig baie opoffering van elkeen – dinamiet kom waarlik in klein pakkies! Ons is baie gelukkig om deur sulke toegewyde medegelowiges só versorg te word, en voel diep-diep dankbaar.
- Lekker verjaar ou maat!
- Leer is vet pret
- In aksie in ons nuwe kamer
Huistaal
Ons huistaal het ook sedert einde verlede jaar “amptelik” uitgebrei om Engels volledig in te sluit – weens verskeie redes wat ons eendag meer oor sal vertel. Een van die vier hervormde kamers is nou ‘n kreatiewe onderrig-ruimte, iets wat veral vir Carina ook laat blom! Boeklees, legkaart-bou, liedjies oefen, en allerhande verkennings kan nou veel beter tot hul reg kom. Verder kon ons ook een kamer spesiaal inrig as ‘n nuwe gastekamer, ‘n groot voorreg!
In die lig hiervan, dank die Here asseblief saam met ons vir:
• Ons huis se versterking en hervorming en al die geleenthede wat dit oopmaak.
• Die groeiende “Happy Kids” bediening waarin Carina en Miwa leiding neem.
• Verskeie bedienings-geleenthede met RCJ-kollegas in Shikoku-eiland, wat vertrouensverhoudings versterk en ons leer oor die konteks en kultuur van ons toekomstige bediening.
Bid asb. vir God se sorg en leiding in die volgende gebeure in Junie:
• ‘n Tweede (maandelikse) Engelse erediens hierdie Sondag 24 Junie (genaamd English Fellowship Time), wat veral gerig op nie-Christen vriende.
• Motivering, fokus en dissipline met ons voortgaande Japanese taalstudie te midde daarvan dat ons op hierdie stadium regtig moeg is (ons jaarlikse verlof lê eers vanaf middel Aug. voor).
• Ons gesondheid – veral vir al drie kinders wat van gister af tegelyk plat is met griep.
Baie dankie vir jou meelewing hierin!
Vrede in die Een deur wie ons leef, beweeg en Bestaan (Hand. 17:28).
Stéphan, Carina, Annlie, Cornelius en Lodewyk (uit ‘n tifoon-geteisterde Tokushima)