Herfsflits – 6 November 2013
Beste vriend/vriendin,
Kosmos en Kaki.Karperde in die Japannese herfs. Dié tyd van die jaar sien jy oral pienk-wit-pers spikkels van kosmosse wat blom, en die helder oranje Persimmon-vrugte (oftewel kaki in Japannees) wat in volvrug hang … Sedert ek laas in Augustus geskryf het, het daar meer water as gewoonlik in die see geloop (jammer!) … maar kom ek vat net ‘n paar skeppies en deel dit met jou.
Rustyd
Ons kon lekker uitspan tydens ons jaarlikse verlof (tot vroeg Sept.) by die sendeling-oord naby Sendai; dankbaar vir die kosbare kans om te kon herlaai en oordink.
RCJ uitreikgroep na SA se terugvoer …
“Ons kon nie regtig veel vir die mense in nood doen nie, maar ons kon ten minste net daar wees … en nou kan ons ook aanhou bid en verder betrokke raak”. Só vertel die jongmense wat op die onlangse RCJ uitreikgroep (diep aangegryp is deur hulle belewenisse in Suid-Afrika, en veral deur hulle betrokkenheid by die Vigs-weeskinders in Botshabelo (Repholositswe weeshuis). Hulle het ‘n treffende terugvoer sessie by die RCJ sinode sitting gelewer. Ons is saam dankbaar oor die geseënde uitreik onder Missie Japan se leiding en sorg, saam met verskeie gemeentes. Dankie aan almal wat betrokke was!
Symingtons begin in Tokyo
Sedert vroeg Augustus is Johann (ds.) en Hennie Symington as gedugte span en groot aanwins by Tokyo Union Church verwelkom, waar Johann as senior leraar bevestig is. Dis lekker om ook van tyd tot tyd met hulle te skakel, en ons sien uit om hulle – DV in Maart 2014 – as gesin te besoek.
Onverwagse siekte in die familie
Einde Augustus (tydens ons verlof) bel my ma geskok. My pa moet skielik ‘n drie-vat hartomleiding kry. ‘n Paar dae ná die operasie kry hy slegte terugslae op die herstelpad, en is daar onsekerheid oor wat kon voorlê. En tóé, deur die ruimhartige finansiële ondersteuning van ‘n familielid, en die genade dat Carina se ouers juis in daardie tyd in Sendai aangekom het, kon ek inderhaas vir 5 dae na Humansdorp gaan om hom te sien. Die blitsbesoek was baie kosbaar. En méér nog: sy herstel sedertdien het baie goed verloop. Ons as familie is baie dankbaar, en waardeer almal se ondersteuning en gebede, veral ook vir my ma wat pal moet ondersteun!
De Wets se ondersteuningswerk in rampgebied en Tokushima-omgewing
Vroeg September het Carina se ouers – Tobie en Annalie de Wet – na Japan gekom vir opvolg ondersteuningswerk in die Sendai-rampgebied. Hulle het weereens deur die loop 6 weke baie waardevolle bydraes gelewer, wat orals met groot waardering begroet is. Soos in die verlede het hulle gefokus op samewerking met die plaaslike kerk vrywilligers by Sakura House en Nozomi Centre. Lees gerus hulle volledige verslag by http://www.missiejapan.co.za/bedieningsfokus/report-on-visit-to-disaster-area/
Missie Japan het die De Wets ook amptelik versoek om in dié tyd – rondom die geboorte van ons vierde kind – ons as Van der Watt gesin te ondersteun. Dit behels nie net geestelik-emosionele ondersteuning nie, maar ook dat hulle instaan vir ons in terme van party bedieningspligte wat ons in die tyd nie self kan doen nie. Een daarvan was ‘n baie sinvolle (en eerste vir Shikoku-eiland!) huweliksverryking-retraite wat hulle onlangs in ons plek waargeneem het. Besoek http://www.missiejapan.co.za/bedieningsfokus/de-wets-nuusbrief-30-oktober-2013/ oor hulle betrokkenheid via hulle mees onlangse gebedsbrief (30 Okt).
Diep en betekenisvolle ontmoetings saam met Daniël Louw
Die besoek van Prof. Louw was uiters positief, sinvol, bevestigend bemoedigend en inspirerend. In kort: die regte persoon, op die regte tyd … Ek sou nog ‘n lang lys waarderend opmerkings oor hom en wat hy hier kom deel het, kon byvoeg. Studente en dosente by die Kobe Reformed Theological Seminary, asook al die predikante van die RCJ se Shikoku ring was diep beïndruk met
- Kobe Reformed Theological Seminary het my amptelik versoek om vanaf begin 2014 daar deeltyds klas te gee in Pastorale Sorg en Berading. ‘n Reuse voorreg en geleentheid!
- Missie Japan bestuur het die breë raamwerk goedgekeur vir ons tweede deputasie besoek (sedert 2009) aan Suid-Afrika, vanaf einde Junie tot einde September 2014. Meer details volg …
‘n Skeppie genade om mee te groet
Dis amper asof ons die laaste paar dae op eiers loop … versigtig, afwagtend, opgewonde, maar ook onseker. Ons weet nie wanneer ons seun sy verskyning gaan maak nie, maar ons is paraat en ontvanklik vir wat kom.
Ek lees vanoggend weer 2 Korintiërs 5: 17 e.v. raak: “Iemand wat aan Christus behoort is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen …”
En ek dink onwillekeurig nie net aan myself wat so ‘n herskepping broodnodig het nie … maar ook aan ons seun wat nou aanmekaar geweef word in Carina se moederskoot. ‘n Nuwe skepping. ‘n Skeppie van God se genade, deur ons en met ons, nietige ouers. En ek bid: Here God, as dit U wil is, laat hierdie seun van ons, hierdie splinternuwe skepsel uit U hand, ook deur Christus met Uself versoen leef. Mag hy ook ‘n bedienaar van U versoening word. Hou hom in U greep styf vas, en laat ons ook weer saam met hom nuutgebore word …
Bid asb. saam met ons in hierdie dae van afhanklik wees en wag. Dis ‘n brose tyd. Bid asb. veral vir Carina wat elke greintjie hiervan aan haar liggaam moet deurleef … vir krag, geduld en moed met die geboorte skenk en vorentoe.
Gebedsversoeke
Dank saam met ons die Here vir:
- Sy bewaring en sorg in die swangerskap-tyd. Die baba se hart-toestand het nie vererger nie, en ander komplikasies (te veel vrugwater) is blykbaar onder beheer.
- Pa Tobie en ma Annalie se teenwoordigheid en ondersteuning. Dit gee ons groot gerustheid. Hulle bydraes in die kerke in Shikoku, en in die rampgebied is ook uiters waardevol.
Vra asb. vir Sy sorg en leiding in:
- Die geboorte wat binnekort kan gebeur (verwagte datum 15 November).
- Verskeie geleenthede in Kersfeestyd (o.a. Happy Kids) om die evangelie helder te deel.
- Nuwe visie en beplanning, asook voorbereidings vir verskeie bedieningspligte vroeg 2014.
- (Pa) Tobie en (ma) Annalie se betrokkenheid by ‘n volgende huwelikseminaar, en preke regoor Shikoku.
Dankie vir jou ondersteuning, dit dra ons!
Vreugde en Vrede.
Stéphan, Carina, Annlie, Cornelius en Lodewyk