Gebedsflits 9 Julie 2010

Beste vriend/vriendin,

Hoe om ‘n gesonde balans te handhaaf…dít bly maar ‘n “tall order”, veral as mens ‘n peuter en ‘n kleuter in jou midde het. As ouers van Annlie (amper 3) en Cornelius (1) geniet ek en Carina dit om hierdie uitdaging as ‘n span aan te vat. Op Carina se tafel rus nie net die daaglikse eis van ma-wees nie, maar ook die reuse opgawe van Japanees leer en sinvol toepas. Daarmee saam het sy ‘n paar maande gelede begin om (saam met Annlie) ook vir Japanese peuters Engels te help aanleer. Om hierdie klompe balle gelyk in die lug te hou vat o.a. baie emosionele energie en heelhartige toewyding. Hiervan het Carina (carina@missiejapan.co.za) ‘n gesonde dosis ontvang. Daarvoor is ek veral baie dankbaar…op hierdie 5e huweliksherdenkingsdag van ons.

Bid asseblief saam met ons vir Carina vir volgehoue krag, wysheid en geduld. En lees asb. ook hieronder vir ander belangrike gebedsversoeke wat (pa) Tobie (tobiedewet@hotmail.com) geskryf het.

Dankie vir jou ondersteuning!

Stéphan, Carina, Annlie en Cornelius

Carina besig met ‘n Engelse klas…kliek hier om meer te sien.

 —————————————————————————————————————-

Gebedsflits, Vrydag 9 Julie 2010

 Dank die Here saam met ons vir:

1)      Vandag is Tobie se 64ste verjaardag en Stéphan en Carina se 5de huweliksherdenking.

2)      Die geleentheid wat Annalie gehad het om saam met NORIKO san* na die hospitaal in OSAKA te reis. Dit is nog nie duidelik presies wat die fout met haar lewer is en hoe ernstig dit is nie. Hulle moet nog weer verdere toetse doen.

*san = (Japanese hoflikheidsvorm vir mnr/me)

Vra in afhanklikheid van die Here vir Sy sorg in:

 1)      MIWA san, lidmaat van Tokushima Gemeente wat beplan om o.l.v. Missie Japan vanaf einde Augustus vir 2/3 maande in SA opleiding in kinder-evangelisasie te ontvang. In SA doen Gideon van der Watt (OVS Getuieniskantoor sekretaris) al die praktiese reëlings.

2)      Sondag se eredienste waar Tobie in Tokushima (oggend) en Marugame preek (middag), vir veral ons geestelike voorbereiding en die Here se seën op ons bediening.

3)      Tobie en Annalie se Bybelstudies volgende week met MIWAKO, MARIKO, KEIJI, NORIKO en MANAHO san.

4)      Stéphan en Carina se Japanese taalstudies – elke dag se studeer en klasloop. Carina se Engelse speelklasse.

5)      Volgende naweek (17e) is ‘n redelik besige een:

  • Die Saterdagoggend vier ons Annlie se verjaardag (Carina het meer as 30 mammas en kindertjies uitgenooi en ons almal moet inspring om reg te maak).
  • Die Saterdagmiddag ontvang Tobie en Annalie gaste vanaf Kyushu-eiland (die Yanagi-familie) en die aand het ons ‘n groot ete saam met hulle en hul ander familie wat hier in Tokushima woon (almal help voorberei).
  • Daardie selfde naweek se Sondag (18e) word RCJ Tokushima gemeente se nuwe predikant (KATAOKA sensei) verwelkom. Tobie preek beide die Sondagoggend en middag. Die Sondagaand is dié gemeente se kerkraadsvergadering (o.l.v. Makita sensei).
  • Terselfdertyd begin die Ring se Jeugbyeenkoms ook daardie aand. Die volgende dag (Maandag 19e) het ons ‘n verdere spesiale Ringsbyeenkoms. Stéphan en Tobie woon dit ook by. Lekker vol!

 

 

Leave a comment

You must be logged in to post a comment.