Gebeds-flits 4 Februarie 2011
Beste vriend / vriendin,
Verlede week kom Noriko by ons huis aan om goeie wense vir die nuwejaar te deel, en saam daarmee vars appelsap, én ‘n appel met ‘n Japanese letter wat beteken “geluk! / lank lewe!”, daarop. Dit is gedoen deur ‘n plakker met die letter se vorm vir maande lank op die appel geplak te hou, sodat daardie deel van die appel nie rooi verkleur nie. Besonders né!
Die ontmoeting het my en Carina weer aan die gesels gehad oor hoe uniek en diep die Japanese kultuur is. ‘n Tema waaroor ons nog graag boekdele met jou wil deel, maar nou eers ‘n paar gebedsversoeke.
Dank die Here saam met ons vir:
1) My skoonouers, Tobie en Annalie, wat DV vanmiddag veilig in Tokushima sal aankom na ‘n baie geseënde 10 weke van rus en werk in Suid-Afrika.
2) Miwa Terauchi wat ‘n geskikte werk gekry het hier in Tokushima (as arbeidsterapeut), wat haar ook sal toelaat om deeltyds ‘n Christelike kinderbediening te begin.
3) ‘n Wonderlike jaarvergadering van ons plaaslike gemeente wat verlede week opnuut getuig het van God se groot voorsiening en leiding.
Vra in afhanklikheid van die Here vir Sy leiding en sorg in:
1) My skoonouers, Tobie en Annalie, vir krag en wysheid om hulle laaste jaar van amptelike bediening in Japan aan te pak. Hulle keer DV einde vanjaar permanent terug na Suid-Afrika.
2) ‘n Nederlandse (Kulturele Antropologie) student, Petra Postema, wat Maandag in Tokushima aangeland het vir ‘n 3 maande studie van die bekende (Boeddhistiese) Shikoku 88 tempelroete. Petra is ‘n Christen gelowige wat by Miwa Terauchi se familie “homestay” doen, en ook graag haar geloofsoortuigings met ons gemeente deel.
3) NGK La-Rochelle gemeente Bellville het in beginsel ‘n besluit geneem om einde April ‘n gemeente-uitreik na Japan te doen en om o.a. vir 4-5 dae in Tokushima en verder betrokke te wees. Hulle is intensief besig om hulleself voor te berei om d.m.v. drama, getuienisse, musiek, sport ens. hier hulle gawes te kom deel, en ook om ons as sendelinge en RCJ gemeentes te kom ondersteun. Bid vir hulle en hul beplanning rondom die uitreik – ook veral vir hulle fondsinsameling en span-verhoudinge. Ons is baie opgewonde saam met hulle oor die moontlikheid.
TERLOOPS: wil jy nie hierdie gebedsflits uitdruk en met gebedsvriende deel nie?
Stephan en Carina
Baie dankie vir die interessante webblad. Ek het dit gou geprint en sal dit bestudeer en daaroor bid. Ons is opgewonde oor die feit dat ju S.A. toe kom en ons die datums het. Vertrou dit sal moontlik wees om jul te sien.
Baie seen en liefde vir familie.
Marietjie H
Stephan en carina,
Ons gun julle om by jul familie,vriende en ondewrsteuners te kuier en alles te deel.
Mag jul tyd van afwagting nie te lank wees nie …
Danie en Kitty Joubert