Die huidige situasie in die rampgebiede – 17 Mei 2011
‘N KORT OPSOMMING VAN DIE HUIDIGE SITUASIE IN DIE RAMPGEBIEDE:
Na afloop van ons bywoning van die Ringsvergadering van die RCJ Noord-oos Japan (in Sendai op 10 Mei), is hierdie die evaluasie van die verteenwoordigers van die Japanese Kerk en die RCJ-predikante, wat in die streek woonagtig is en daagliks te kampe het met die situasie.
Die RCJ het die drie medewerkende oorsese kerke, OPC (Orthodox Presbyterian Church, CRC (Christian Reformed Church in North America) en Missie Japan (NG Kerkfamilie), na die vergadering genooi om hierdie inligting te deel en die verdere betrokkenheid van ons kerke te bespreek. Ek dink dis belangrik om dit met ons kerkgenote in SA te deel:
1) Die verwoesting wat deur die drievoudige ramp veroorsaak is, beslaan ‘n uitgestrekte gebied wat drie provinsies insluit.
2) Daar is ‘n groot verskil in die vernietiging a.g.v. die 3 verskillende oorsake, nl. aardbewing of tsoenamie of bestraling. Die persone geraak deur die tsoenamie het alles verloor, sommige se geliefdes en vriende ingesluit. Diegene wat deur die aardbewing getref is het nog hulle huise, maar vele is erg beskadig en in sommige gevalle leef hulle in vrees, dat die huise in mekaar kan tuimel as gevolg van voortdurende na-skokke. Diegene wat onder die bestraling deurgeloop het moes hulle huise en plase ens. ontruim, en weet nie wanneer, indien ooit, hulle sal kan terugkeer om voort te gaan met hulle lewens nie …
3) Dit is presies twee maande na die aardbewing en tsoenamie en hulle is tans grootendeels in die tweede stadium van reaksie en heropbou (die eerste stadium was toe basiese en lewensnoodsaaklike behoeftes hanteer moes word).
4) Daar is egter nog streke waar eerste stadium hulp benodig word.
5) Tweede stadium beteken dat die mense se “noodlyn” herstel is. Hulle behoeftes word meer sensitief, en benodig ‘n meer gesofistikeerde reaksie en versorging, deurdat mense se waardigheid herstel moet word en daar sensitief gekyk moet word na die behoeftes en versoeke van individue en individuele huishoudings.
6) Die plaaslike regering is besig om tydelike behuising op te rig en basiese fondse te voorsien, maar geen waarborge word gegee nie. Geld dek basiese uitgawes vir slegs enkele maande, en sodra die mense noodskuilings verlaat, ontvang hulle geen hulp of voedsel ens. nie. Almal moet vir hulleself sorg.
7) Die sielkundige effek lê diep: mense is dankbaar dat hulle die dood ontkom het, maar worstel nou met vrae soos “waarom het ek oorleef?”, “hoe sal ek sonder huis of werk oorleef, al het ek oorleef?”, “wat het ek nodig om te bly leef?” en “wat is die doel daarvan om langer te leef?”. Selfmoord-gevalle kom reeds voor … Die behoefte aan berading is groot.
8) Prakties moet mense hulle huise en woongebiede opruim, en hulle is reeds besig daarmee. Die plaaslike regering verleen geen hulp nie. Dit is moeilike handearbeid. Vele is bejaarde mense. Elke persoon se huis is privaat eiendom en moet as sulks respekteer word. Vrywilligers van binne sowel as buite Japan help. Dit sal egter lank duur om alles op te ruim (jare?).
9) Oorsese reaksie was onmiddellik en is waardeer, maar die oorsese media het alreeds hulle aandag weg van Japan na ander wêrelddele verskuif. Verslaggewers het die verwoeste gebied verlaat. Belangstelling en hulp is besig om te kwyn. Die situasie in Noord-oos Japan verskil van die Kobe-Kansai-gebied waar die Groot Aardbewing van 1995 plaasgevind het. The Kobe-Kansai-gebied is ‘n sentrale kosmopolitaanse gebied en hulp was altyd onmiddellik en selfs oor ‘n lang tydperk beskikbaar. Noord-oos Japan is ver en afgeleë en helpers kom, en gaan weer redelik gou.
10) Daar heers ‘n gees van swaarmoedigheid in hierdie gebied. Winkels sluit vroeg saans en strate is donker. Dit is emosioneel moeilik om na enige vorm van normaliteit terug te keer.
11) In die gebiede na aan die bestralingsgevaar vertrou mense nie die inligting wat deur die owerhede verskaf word nie.
12) Wat die kerk en haar reaksie betref, die volgende:
i) Die RCJ so wel as die ander kerke in die Noord-ooste van Japan is baie klein en swak en versprei oor ‘n groot gebied, met baie min kontak met mekaar as gevolg van die beperkte grootte van die wydverspreide gemeentes, die grootte van die gebied en die lang afstande.
ii) Die ramp is so oorweldigend groot dat dit bykans onmoontlik is vir hierdie klein, swak en wyd verspreide kerk om enigsins enige vorm van samewerkende reaksie te evalueer, bespreek of beplan. Dit op sigself sal lank neem.
iii) Enige reaksie sal buitendien oor ‘n lang tydperk volhou moet word.
iv) In die Sendai-gebied is ‘n inter-kerklike kommittee gestig wat al die kerkgroepe insluitend die Rooms Katolieke Kerke, Protestantse kerkgroepe en Pinksterkerke betrek. (Dit word onder voorsitterskap van Yoshida sensei, die moderator van die RCJ-sinode bestuur). Hulle vergader weekliks om ‘n verenigde en samewerkende reaksie te evalueer en beplan.
v) Die RCJ-gemeentes is baie dankbaar vir onmiddellike hulpverlening van OPC sendelinge wat goedere aflewer.
vi) Die RCJ Ishinomaki-kerk en pastorie is ernstig beskadig deur die aardbewing en tsoenamie. Verskeie gemeentelede het hulle huise verloor. Een se bakkery is totaal verwoes. Herstelwerk sal duur wees.
vii) Die RCJ help leraars, gemeentes en families met fondse, maar dit is heeltemal onvoldoende. Hulle waardeer ook die finansiële hulp en bydraes van heelwat oorsese kerke.
viii) Daar is ook gemeentelede wat gesinslede verloor het en dus pastorale versorging nodig het.
ix) Erediensbywoning het oral oor die gebied afgeneem. Veral die getalle “soekers” wat voorheen kerk toe gekom het, het drasties verminder!
x) In reaksie op die vraag wat hulle die meeste nodig het, was die antwoord: “Natuurlik het ons baie finansiële hulp nodig om ons kerk en gemeenskap te herbou, en om ons bediening in hierdie geestelik moeilike en behoewende gebied te kan voortsit. Ons het inderdaad baie praktiese en fisiese hulp nodig. Maar, bowenal het ons julle ware, toegewyde vriendskap nodig, ‘n vriendskap wat oor ‘n lang tyd volhou sal word …”
13) Die vergadering het kennis geneem van MJ se voorstel om ‘n beradingsentrum in die rampgebied daar te stel. Die ander twee medewerkende Sendinggroepe (OPC en CRC) het dit ook voorgestel. ‘n Opvolg-vergadering (waarheen MJ ook genooi is) oor hierdie saak word vir 9 Junie beplan. Missie Japan se voorstel, dat Tobie and Annalie tydelik na die rampgebied verskuif word om die kerk by te staan, is ook aanvaar. Nadat alle korrekte en amptelike prosedures gevolg is, sal hulle waarskynlik vir ‘n voorlopige tydperk van drie maande (Julie – September) in Noord-oos Japan gevestig wees. Hulle word versoek om gemeentes te besoek, te help met preekwerk en pastorale versorging en te help met versorging, en vergesel van vrywilligers wat daagliks gestuur word om huise ens. in die geteisterde gemeenskappe op te ruim.
Tobie en Annalie de Wet