De Wets nuusbrief – 30 Oktober 2013

Tobie en Annalie De Wet

Liewe Vriende,

Baie dankie vir jul gereelde voorbidding en ondersteuning.

 

Soos julle reeds weet, ons is nou terug waar ons geeindig het toe ons “afgetree” het: Op SHIKOKU eiland en in TOKUSHIMA stad waar Stephan en Carina-hulle ook is. Ons opdrag vanaf Missie Japan is om die volgende tydperk eerstens vir Stephan en Carina by te staan rondom die geboorte van hul vierde eersdaags. Die baba word amptelik teen 17 November verwag, maar Carina is baie groot met baie vrugwater en die doktor verwag dat dit dalk heelwat vroeer kan gebeur. So ons is almal op gereedheids grondslag…..

Intussen gaan die huishouding darem redelik normaal voort. Stephan is ernstig besig om hom te begin voorberei vir volgende jaar se lesings in Praktiese Teologie (Pastoraat) aan die Kweekskool van die RCJ in KOBE. Die kinders gaan elke oggend na hul Japannese kleuterskool. Ek help veral ook Stephan in sy preek-afsprake en preek elke Sondag vanaf verlede Sondag elke keer in ‘n ander gemeente regoor die eiland. 

 

Afgelope Sondag se erediens by TOKUSHIMA het mooi afgeloop. Het uit my hart kon preek en dit baie geniet. Was ‘n vrou in die erediens wat vir die heel eerste keer na ‘n kerk gekom het. Sy wou van lankal af graag kom maar het net nie die moed kon bymekaar skraap nie…. Het ons gemeente op die internet ontdek. Alhoewel sy weining verstaan het, het die boodskap haar egter diep geraak sowel as die vriendelikheid van die mense. Sy bly toe sommer die hele middag by die kerk en woon glad ook die English Chapel by waar ek ook die Woord bedien het. 

 

Eerskomende Sondag in MATSUYAMA stad so drie uur per motor vanaf TOKUSHIMA. Het ook sopas ‘n baie nodige en geseende huweliksverrykings geleentheid gehad met vier jong predikantspare. Doen nog een volgende naweek in ‘n ander Ring van die RCJ.

Sal jul gebede waardeer vir Stephan en Carina-hulle met die geboorte van die baba, vir ons wat naby moet wees en help (veral Annalie), vir Stephan en sy voorbereiding vir lesings by die Kweekskool (geweldige voorreg en geleentheid maar ook ‘n baie groot uitdaging en taak veral wanneer ons in ag neem dat hy skaars vier jaar van Japannese studies agter die rug het), vir my besoeke aan gemeentes en prediking en vir die belangrike huweliksverrykings geleenthede.

 

Groete

Tobie / Annalie

 

Comments (1)

Erna GouwsNovember 5th, 2013 at 11:26 AM

Hoe kosbaar! Hoe getrou is ons Vader, wat sy ewige plan met sy geliefde Japanners steeds tot volvoering bring, en vir julle gebruik! Daar is geen einde aan sy lewe-gewende Woord nie. Liefde, Erna.

Leave a comment

You must be logged in to post a comment.