Besoek van leraars uit NG Kerk SA – April 2017

LEES ONDERTOE VIR AL SES LEDE VAN DIE GROEP SE INDRUKKE

Dr. Pieter Van Jaarsveld (NG Kerk Bothaville)

VERSLAG VAN BESOEK AAN JAPAN: 7 – 17 APRIL 2017

  1. Versoek van die Reformed Church of Japan

Die Reformed Church of Japan het Missie Japan versoek om ‘n groepie jonger predikante van die NG Kerk na Japan te stuur om eerstens hulleself ten opsigte van die situasie in Japan op hoogte te bring en tweedens om die kerk in Japan met die besoek te verryk en derdens oor die situasie van die kerk in Japan te kom verslag doen.

  1. Groep wat die besoek meegemaak het

Die groep wat die besoek meegemaak het, was Di. Cornis Botha van Klawer;    Elsché Eygelaar van Constantia, Rudolph Grobler van George-Bergsig, Mias van Jaarsveld van Bethlehem-Wes, Johann Winterbach van George-Suid en dr Pieter van Jaarsveld van Bothaville.

  1. Doelwitte wat gestel is 

Om bande met die RCJ te versterk.

Om te luister wat die RCJ vir ons wil sê.

Om ‘n jonger generasie predikante van die NG Kerk blootstelling aan die kerk in Japan te gee.

Om die RCJ blootstelling aan ‘n jonger generasie predikante van die NG Kerk te gee.

Om ons sendelinge te bemoedig: Stephan en Carina van der Watt en hulle kinders en Gys en Linda Olivier en hulle kinders.

  1. Persone, gemeentes, instansies en groepe wat besoek is

Teologiese Kweekskool van die RCJ in Kobe

Derdejaar klas van die Teologiese Kweekskool

RCJ gemeente Kita Kobe

RCJ gemeente Koshien

RCJ gemeente Tokushima

RCJ gemeente Shin-Urayasu in Tokyo

RCJ gemeente Inage Kaigan in Tokyo

Christen Meisieskool Seiwa Gakuen in Kochi

Sendingkommissie van die Ring van Shikoku

‘n Groep jonger leraars van die Ring van Shikoku

Ds. Taka Ashida

Gys en Linda Olivier en hulle kinders Linie en Johan

Stéphan en Carina van der Watt en hulle kinders Annlie, Cornelis, Lodewyk en Stephan

Mnr Yoshio en mev Yukiko Natori van die gemeente RCJ Shin-Urayasu

Mev Hadda van die gemeente RCJ Inage Kaigan

  1. Behoefte wat uitgespreek is 

Die behoefte aan nog sendelinge uit Suid Afrika is herhaaldelik by die kontakgeleenthede uitgespreek.

  1. Vergadering met die Sendingkommissie van die Ring van Shikoku

Die vergadering met lede van die Sendingkommissie van die Ring van Shikoku in Kochi het op 12 April plaasgevind. Prof Makita, Ds Kobu en ‘n ouderling het die groep by die RCJ gemeente in Kochi ontmoet. Die volgende is gehoor:

  • Die Kommissie voorsien groot probleme vir Japan in die algemeen en vir die kerk in die besonder in die volgende 20 tot 40 jaar as gevolg van die veroudering van mense en die lae aanwassyfer. Gemeentes beleef ‘n 15% afname in die eredienste as gevolg van die veroudering van lidmate wat nie meer by die eredienste kan kom nie. Dit plaas druk op gemeentes se finansies. Daarom die behoefte aan sendelinge.
  • Daar is ‘n geweldige behoefte aan geestelike bemoediging en sendelinge kan daardie bemoediging gee. Shikoku word as die “stronghold” vir Boeddisme gesien. Die 200km plegrimstog vir Boeddiste is in die provinsie. Dit maak dit ‘n moeilike sendingveld. Bekeerlinge word geïsoleer deur hulle huismense en hulle omgewing. Dit is ‘n groot opoffering om geloof te behou. Die Kommissie meen dat Suid Afrika kan hier help omdat dit ‘n land is wat uitdagings verstaan. Ervaring het hulle geleer dat sendelinge die leraars van die RCJ help om in hulle roeping te volhard.
  • Daar is ‘n behoefte dat jongmense gemotiveer moet word. Dit is nie vir jongmense maklik om by die kerk betrokke te raak nie as gevolg van druk van die samelewing en sport en ekstra klasse op Sondae.
  • Jogmense se “koppe gaan oop” deur die oë van sendelinge. Japan is vasgevang in ‘n verwronge kompetisiegees. Die kompetisiegees maak Japanners moeg.
  • Daar is groot kommer oor die groeiende nasionalisme onder veral die jonger Japanners. Dit maak dat Japanners al hoe meer na binne gerig lewe. Sendelinge uit Suid Afrika kan help om horisonne te verbreed. Die jongmense wat Suid Afrika besoek het, het verruim teruggekom. Hulle getuienis het groot waarde in die kerk.
  1. Byeenkoms met die jonger predikante van die Ring van Shikoku

Die byeenkoms met vyf jonger predikante van die Ring van Shikoku het op 12 en 13 April 2017 by ‘n vergaderplek buite Kochi plaasgevind. Die jonger predikante was: Di Tkashi Yoshida, Takashi Kashiwagi, Toshisuke Ozawa, Kei Kataoka en Rentaro Sakao. Sake wat bespreek is:

  • Die dalende geboortesyfer in Japan
  • Die jeug is ‘n probleem. As daar nie lewe in die jeug gaan kom nie, gaan die kerk uitsterf.
  • Die kerk sal ook moet verander om die nuwer generasie jongmense te kan akkomodeer.
  • Hulle visie is dat die kerk moet fokus op onderwys en die jeug.
  • Sendelinge help met geloof in praktyk.
  • Rudolp Grobler het ‘n skitterende bespreking gelei oor “Trends and challenges of the church in South Africa.” Dit het ‘n gesonde gesprekvoering tot gevolg gehad.
  1. Klasbesoek aan die derdejaarstudente van die Teologiese Kweekskool

Die ontmoeting met die dosente en studente van die Teologiese Kweekskool in Kobe het op 11 April plaasgevind. Die vroegoggend biduur en kapeldiens is bygewoon. Daar was ‘n gesamentlike ete en program wat rondom die ete aangebied is en twee periodes saam met die derdejaar studente. Tydens die eerste periode het elkeen van ons groep ‘n tema (oor pastorale sorg in gemeentes), wat Stéphan voor die tyd  gegee het, kortliks vanuit die praktyk bespreek en tydens die tweede periode het die studente geleentheid gehad om vrae te vra.

  • Dit het duidelik geword dat die studente met presies dieselfde vrae worstel as dié waarmee ons in Suid Afrika worstel.
  1. Besoek aan Gys en Linda Olivier 

Die groep het vir Gys en Linda Olivier en hulle kinders Linie en Johan op 13 April by die Christen Meisieskool Seiwa Gakuen in Kochi besoek. Hulle het die skool vir die groep gewys, hulle aan van die kollegas by die skool voorgestel en toe in hulle huis saamgekuier.

  • Ons het onder die besef van ons verantwoordelikheid teenoor die egpaar wat hulle lewe gee vir hulle roeping om op hulle terrein ‘n verskil te maak, gekom.
  • Die hartseerste was om te hoor dat hulle jaar vir jaar vandat hulle daar is, familie en vriende afsterf. Ons het gedink dat as daar onderwysers in ons gemeentes is wat met hierdie gesin kan kontak maak en met hulle kommunikeer om die bande met Suid Afrika te behou en hulle te bemoedig, sal dit goudwerd wees.
  1. Besoeke aan Stephan en Carina van der Watt 

Die groep het kontak met Stephan, Carina en hulle kinders Annlie, Cornelis, Lodewyk en Stephan gehad van  8 tot 11 April, maar het veral op die Sondagmiddag en –aand (9 April) en Maandag (10 April) saam met die gesin gekuier.

  • Ons kan die waarde van besoeke van hierdie aard nie genoeg beklemtoon nie. Ons besef dat kuiergaste ‘n ekstra las op veral Carina lê, maar die waarde daarvan mag nooit onderskat word nie.
  • Ons druk dit vir Missie Japan op die hart om nie die Van der Watts te vergeet nie.
  • Ons het ook gepraat in terme van maats vir die kinders. Die waarde hiervan kan nie onderskat word nie.
  1. Besoeke aan gemeentes

Ons het die volgende gemeentes besoek:

  • RCJ Kita Kobe op 9 April: Elsché Eygelaar het die erediens in Engels gelei; Stephan het getolk en die groep wat saam met Elsché daar was, (Rudolph Grobler, Cornis Botha en Johann Winterbach het middagete saam met die gemeente geëet.
  • RCJ Koshien op 9 April: Pieter en Mias van Jaarsveld het die kategese en erediens bygewoon; ‘n vergadering met die gemeente gehad, saam met die kinders in ‘n park gespeel en middagete saam met die gemeente geëet.
  • RCJ Tokushima op 11 April: die hele groep het saam met Stephan die gemeente besoek; heerlik gekuier, saamgeëet en na ‘n power point aanbieding van die gemeente gekyk. ‘n Ouderling het die koste betaal om elkeen van die groep in ‘n hotel vir die nag te akkomodeer.
  • RCJ Shin-Urayasu op 16 April: Pieter en Mias van Jaarsveld, Johann Winterbach en Elsché Eygelaar het die gemeente besoek, die erediens sowel as die program wat die jongmense daarna aangebied het, bygewoon, gespreksgeleentheid gehad en saam met die gemeente geëet. Johann en Pieter het die oggend vroeg ‘n spesiale Paasfeesgeleentheid vir die kinders en hulle ouers in ‘n park bygewoon. Die hele groep het die middag en aand saam met Ds Taka Ashida, sy gesin en lidmate van sy gemeente gekuier. Dit was ‘n verrykende ervaring.
  • RCJ Inage Kaigan op 16 April: Rudolph Grobler en Cornis Botha het die gemeente besoek; mooi bande met die leraar, Ds Eiji Mikawa gebind; gesprekgeleentheid in die gemeente gehad en saam met hulle geëet.

Ds. Rudolph Grobler (NG Kerk George-Bergsig) se indrukke:

Die tyd in Japan het my uitgedaag, bemoedig en bekoor. Maar dit het my ook hartseer gemaak. Hartseer, maar vol hoop.

Ek is uitgedaag in my verstaan van die Kerk. Die Japanese Christene wat ons gesien het en die kerke wat ons besoek het, is ongelooflik toegewyd. Elke lidmaat is elke Sondag by die eredienste. Sommige reis selfs meer as 2 ure om daar te kom. Na die tyd eet hulle ook saam. Hulle leef hulle geloof uit in ’n land waar slegs 1% van die bevolking Christene is. Ons kon weer die realiteit raaksien dat dissipelskap jou hele lewe vra. Dis ’n toewyding wat dikwels ontbreek in ons konteks. Dit laat ’n mens weer jou eie blindheid raaksien.

Ek is bemoedig deur ’n ervaring van die eenheid van die Kerk. Op Paassondag is ’n vrou gedoop by die erediens wat ons bygewoon het. Ek dink by myself: ek het pas die nuutste gedoopte lidmaat van die wêreldwye Kerk gesien. En ek is in Japan. Sy is my suster en ek is haar broer. Ons is op soveel maniere ingesluit en gasvry hanteer. Ons het liefde ervaar wat alle tale transendeer. Ons kon deel wees van iets baie groter as onsself. Ek het dieselfde beleef in die interaksie met Stephan en sy gesin. Daar is iets buitengewoon in hulle huis. ’n Atmosfeer van liefde en diens. Ek kan sien hoe die koninkryk onder hulle heers.

Ek is bekoor deur die skoonheid, die harmonie en die stilte. Ons besoek was in die tyd van die kersiebloeisels (die Japanese noem dit die Sakura). Die bloeisels, die berge, die skoonheid van die riviere; dit was alles oorweldigend mooi. Daar is ’n harmonie wat heers in Japan. ’n Harmonie tussen mense. ’n Harmonie met die natuur. Mense tree op met die oog op die “common good”. Ons kan so baie daaruit leer. En dan is daar die stilte. Nie die ongemaklike stiltes wat ons so dikwels beleef nie. ’n Diep stilte. ’n Vrede en stilte wat gevul is met respek. Ek kan nie meer daaroor sê nie, want my beskrywings sal nie eintlik ’n bydrae kan lewer nie. Mens moet self die stilte beleef.

Maar daar was ook hartseer. Die hartseer van ’n nasie wat God nie ken nie. Tog was die hartseer gevul met hoop. In die vroeë oggendure van Goeie Vrydag het ek gelê in my bed en worstel:

“Goeie Vrydag het aangebreek. Ek is wakker en ek dink aan Japan. En ek dink aan die kruis. Ons het in die aand wat verby is deur die strate gestap, duisende gesigte wat by ons verbykom. Ek stap en dink: uit tienduisende mense is dalk n handvol Christene. Uit tienduisende mense weet net enkeles waaroor Paasnaweek gaan. Jesus het gesterf vir hulle. Daar is in my ‘n hartseer en ‘n ontnugtering: hierdie kultuur leef sonder God. Vir n oomblik wil ek mismoedig raak en oorweldig deur die grootheid van die taak. Maar dan kom ander gesigte by my op: RCJ (Reformed Church of Japan) se leiers en predikante wat ons hier ontvang het. Die gemeentes wat God se liefde uitstraal. God gee n baken van hoop vir Japan. Die 1% Christene is die sout en lig wat alles kan verander. Hulle is die kleipotte met die groot skat. Jesus self is die lig wat uitskyn.

Jesus het vir my gesterf, dit maak my nederig en dankbaar. Jesus het vir Japan gesterf, dit moedig my aan om die Goeie nuus te deel en hande met die Kerk te vat.

Dankie Here, dat ons in Japan Goeie Vrydag kan gedenk. Dankie dat U vir ons gely het en gesterf het. En dankie dat dit waar is of ons in SA of in Kyoto is. Ons is nooit alleen nie. Op hierdie Goeie Vrydag bid ons vir die RCJ, gee deur U Gees vir hulle ywer om die Goeie nuus met groot krag te verkondig. Gee hulle die moed om sterk te staan in hierdie kultuur. Seën die vennootskap wat ons met hulle het en lei ons in die toekoms in. Mag hierdie dag aan U gewy wees Here. Amen”

Mag die Here die werk van Missie Japan ryklik seën.


Ds. Elsché Eygelaar (NG Kerk Constantia) se indrukke: 

Die eerste dag terug in die Kaap, ry ek na my eerste afspraak toe en die liedjie LOVE CAN van Shaun Jacobs speel op die radio. Hierdie lied vat vir my my Japan ervaring saam. Die lied se lirieke is as volg:

Shaun Jacobs – Love Can

Love can cross borders and love can break walls
Love can unbind us, love can define us
Love can see through what our eyes can’t undo
Love got me thinking love can do anything

Take my hand
It’s not that we’re lost
We’re just plotting a different course than we initially thought
We are free
When we’re on our knees
Put your hand in mine
We’ll make it in time you’ll see

Come with me
We’ll find what’s in store
For the heart that is bursting, the soul that is thirsting for more
We are free
Come and see
We’ll make it in time, we’ll find everything we need

Ek stap by kerke, eredienste, vergaderings, bybelstudies, pastorale lesings en huise in. Ons praat verskillende tale, maar daar is een taal wat ons dadelik saambind. Liefde. Ek is onmiddellik tuis.

In Japan het ek geleer hoe lyk opregte liefde vir my as mens, vir my as Elsché, vir my as vrou, vir my as dominee, vir my menswees.

2 Korintiers 5:14 – “Die liefde van Christus dring ons omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het”. Hierdie vers het vir my nuwe betekenis gekry.

LIEFDE VIND EK IN DIE MANIER VAN KERKWEES IN JAPAN:

VREUGDE

In Japan sal jy nie sommer ‘n Christen met ‘n lang gesig kry nie. Dit is vreugde wat oorloop. Die laaste aand in Tokyo het ek by ‘n man en vrou aan huis gebly. Ek is groot bederf, tot met ‘n glasie Japanese rooiwyn ook. Vandat ons daar aangekom het tot met ons vertrek het die oom en tannie nie ophou glimlag nie. Ons kon baie gebroke Engels met mekaar praat, maar hulle vreugde was aansteeklik. Hulle het met vreugde hulle bekeringsverhaal vertel en vertel van hulle doop (ongeveer ‘n jaar terug). Dit het my laat wonder, kan ons met soveel vreugde deel die dag toe ons God se liefde en genade vir ons besef het en ons lewe vir hom afgelê het?

GASVRYHEID

Ek het geleer van Jesus se gasvryheid in Japan. Jesus stuur nie mense weg nie, al is daar te min kos. Sy dissipels raak op ‘n stadium bekommerd omdat daar nie genoeg kos is nie en wil mense begin wegstuur en Jesus sê toe, nee… laat hulle kom.

In Japan is ons oorlaai met kos, geskenkies en glimlagte. Ek het op ‘n stadium baie opgewonde gelyk toe daar Tempura (“deep fried shrimp”) die tafel nader en hulle het opgetel ek hou daarvan, daarna is ek oorlaai met Tempura.

Wat saam met dit my diep geraak het is die manier waarop kinders verwelkom word. Jesus het gesê: “Laat die kindertjies na my toe kom”. Dit is wat jy ook sal beleef in die kerke in Japan. Alhoewel die kerk styl baie formeel en tradisioneel is (swart pakke, dasse, orrel, ens.), mag die kinders vrylik speel en teenwoordig wees in die eredienste en ook by gemeente etes. Die kinders speel vrylik en hulle word nie eenkeer stilgemaak nie. Niemand gee ‘n kind ‘n vuil kyk of vra hulle om stil te sit nie. Inteendeel, daar word baie moeite gedoen met die kinders. Hulle kry spesiale “fancy” stoeltjies en kospakkies.

DIENSBAARHEID

Wanneer die Here die opdragte aan die ouderlinge en diakens gee om die kerk te versorg, kry dit heeltemal nuwe betekenis en gestalte in Japan. Die ondersteuning aan hulle predikant en die toewyding waarmee hulle in die kerk dien is ‘n groot inspirasie. Daar is bv. ‘n onkoloog wat die kindermoment op Paassondag gedoen het. Die eredienste is eers 10:30, van die ouderlinge en diakens is al vanaf 8:00 by die kerk om al die voorbereidings vir die diens te doen. Die predikant kan net op sy preek fokus en hoef hom nie oor enige van die ander goed te bekommer nie.

Keer op keer is ek verras deur hoe fyn mense luister na ander se behoeftes en intensioneel self inisiatief neem om iets daaraan te doen. Ek staan en gesels met Kana (een van die Japanese predikante se dogter) terwyl ons besig is om te groet. Sy vra toe of ek nou lekker gaan slaap op die vliegtuig, ek sê toe dat ek maar baie sukkel om te slaap. Ons begin toe tasse laai en die gesprek loop tot ‘n einde. Nadat al die tasse gelaai is en ons begin groet maak Kana haar verskyning met ‘n warm gesigmaskertjie wat my kan help om te slaap op die vliegtuig. Keer op keer het soortgelyke dinge gebeur.

GEBED

Ek dink ons bid te min. In Japan het ek baie die geleentheid gehad om vir mense te bid en hulle vir my. Hulle bid in Japannees en ek in Afrikaans, God verstaan. Gebed opsigself is een van die beste vorme van motivering en seën. Om te kan intree vir iemand en saam in gesprek te wees met God is ‘n voorreg. Ons het ‘n persoonlike verhouding met God, wat ‘n wonderlike voorreg is dit nie om mekaar so te seën nie. Ons moet meer bid. Ons moet meer saam bid.

HOOP

In ‘n land waar daar minder as 1% christene is en van buite soos ‘n hopelose situasie lyk, het ek geleer wat hoop is. Wanneer ons op treine en busse ry, praat nie een Japannees met mekaar nie, niemand maak oogkontak nie. Dit voel afsydig, koud en kil.

Dan stap ons by ‘n klein geboutjie in met ‘n klein kruisie op die kant of by ‘n sendingpaar se huis en dan leer jy van hoop. Dan beleef ek wat dit beteken om radikaal anders te leef. Dan beleef ek wat hoop is. Hoop is iets wat God aan ons skenk. Dit is ‘n gawe van God. Ek het die voorreg gehad om Paasnaweek in Japan, Tokyo, te vier saam met die gelowiges daar wat my net weer geleer het dat dié lewende hoop is gegrond op Jesus Christus se dood en opstanding. Daar is geen ander gronde vir ons hoop nie.

Soren Kierkegaard vra die vraag: Hoe word ‘n Christen ‘n Christen? Dan antwoord ‘n teoloog: “Christene word Christene wanneer hulle kies om intensioneel naïef te leef.”

Christene is aspris naïef. Dit beteken om opreg te wees, weer met ‘n stuk verwondering deel te word van stories. Christene kies om doelbewus, opsetlik, intensioneel naïef te glo dat God se genade ons wêreld kan heel maak en dat sy genade vir alle mense is.

Japan se Christene het my geleer om intensioneel naïef te gee, intensioneel naïef te glo en intensioneel naïef lief te hê. Naïef is eintlik verkeerde woord… SOOS CHRISTUS is ‘n beter beskrywing. In Japan het ek beleef wat dit beteken om soos Christus te gee, om soos Christus te glo en om soos Christus lief te hê.

SAMESYN

Van my kosbaarste herinneringe van my Japan besoek is die kerkwees wat gebeur het buite die kerkgeboue en amptelike formaliteite. Die saam lag oomblikke, die saam eet in restaurante en parke, die gesprekke in die onsens (warmbaddens), die koffie stoppe langs die pad, die tee drink sessies, die inkopie ekspedisies, die kuier aan huis by mense en die rondry om die Sakura (kersie bloeisels) te kyk.

PERSOONLIKE ONTDEKKING

Ek was aanvanklik baie skepties om op ‘n vliegtuig te klim saam met 5 onbekende mans predikante (ons is nou goeie vriende, my broers). Ek het ook gewonder wat my ontvangs gaan wees in Japan waar daar nog nie vroue in die amp bevestig is nie. Ek was aangenaam verras. Ek het net weereens besef watter waarde my vrouwees tot die koninkryk toevoeg. Ek kon gesprekke met vroue in Japan voer wat nie moontlik sou wees indien ek ‘n man was nie. Dit het keer op keer gebeur dat ek in gesprek is met iemand en dan sal hulle in die gesprek noem dat ek die eerste vroue leraar is wat hulle ontmoet. In dit lê ‘n ontsaglike groot voorreg en ook verantwoordelikheid. Ek het die voorreg gehad om die eerste Sondag wat ons daar was te preek in Kobe, dit is ‘n ongelooflike voorreg om so as instrument gebruik te word. Woorde kan dit nie beskryf nie. Ek kyk met verwondering en ‘n groot stuk dankbaarheid terug.

Nie net het ek baie geleer van God se liefde in die manier van kerkwees nie, maar ook van Sy liefde vir my. My Japanese geloofsfamilie het my deur die manier waarop hulle my liefhet opnuut laat besef hoe lief God my het.

Die waardering wat daar nie net vir mekaar is nie, maar ook vir my as mens. Opregte liefde, sonder voorwaardes, sonder perke. Dit was vir my ‘n diepe besef en bevestiging van my roeping en Christus se liefde.

Dankie aan elke persoon wat die vertroue in my gestel het om my te stuur na Japan, my daar ontvang het en my die geleentheid gegee het om te preek. Dit is met ‘n hart wat oorloop van dankbaarheid en liefde wat ek terugdink aan my besoek aan Japan.

 


Ds. Johann Winterbach (NG Kerk George-Suid):

Japan is ʼn ongelooflike land met wonderlike mense, maar ek is eerder diep geraak deur my blootstelling aan lidmate van die Reformed Church of Japan (RCJ).  Die natuurskoon en “sakura”-bloeisels is oorweldigend mooi en alles in die land werk soos ʼn goed ge-oliede masjien.  Maar wat ek sal onthou is my broers en susters van die RCJ se diep toewyding aan die Here, die hartlike gasvryheid teenoor ons as groep en die onderlinge verbondenheid aan mekaar.  Ek het iets beleef van ware kerkwees en voel bevoorreg en diep dankbaar dat die Here ook my hart in Japan kom aanraak het…


Ds. Mias Van Jaarsveld (NG Bethlehem-Wes) se getuienis en ervaring:

Elke jaar, vir omtrent twee weke, ondervind die Japanese landskap ‘n radikale verandering.  Aprilmaande, lentetyd, is kersiebloeiselstyd.  Oral waar jy jouself bevind, of dit nou in die Japanese hoogland, op die platteland of op die sypaadjie van een van Japan se digbevolkte, beknopte stede is, sal jy ligpienk kersiebloeisels, ‘cherry blossoms’ of ‘Sakuras,’ soos dit in Japanees bekend staan, sien.  Dit lyk soos ligte spookasem op bruin stamme, soos wolkies wat bo-op die takke gebalanseer word – hemel op aarde!  Dis geen wonder waarom die kersiebloeisel Japan se nasionale blom nie!

As mens navorsing doen oor Japan, hetsy dit op ‘n webwerf, in ‘n pamflet, in ‘n reisjoernaal of in ‘n koffietafelboek, sal Japan bemark word met hierdie kersiebloeisels.  Die bloeiselbome verfraai die landskap, versier die strate en dit skep ‘n verwondering in die mense se gemoed – toeriste en inwoners s’n.   Dis asof die jaarlikse verskyning van die bloeisels skoonheid en reinheid, harmonie en vrede bring – temas wat baie belangrik is in die alledaagse lewe van die Japanners.  As mens Japan besoek op ‘n ander tyd as die kersiebloeiseltyd, mis jy verseker uit op die prag en die skoonheid daarvan, en ook die geleentheid om deel te wees van iets wat vir Japan baie belangrik is.

Tydens ons besoek aan Japan, het ek en twee ander jong-predikante een oggend ontbyt gaan eet by ‘n dosent by Kochi Theological Seminary, se vrou.  Haar naam is Kiyoko.  Sy het vir ons ‘n westerse ontbyt voorberei, messe en vurke uitgesit en kos opgedis in egte Norotaki porselein.  Nog voordat ons geëet het, het ons iets beleef van die Japanese mense: hulle is konsidererend, hoflik en gasvry.

Voor ons geëet het, het Kiyoko vir dominee Rudolph Grobler gevra om ‘n teks uit die Bybel voor te lees wat sy gekies het.  Dit het gegaan oor die kruisiging van Jesus Christus om te pas by die groot lydingsweek waarin ons is.  Met die lees van die teks, kon mens sien dat sy diep geraak word en dat sy ywerig en versigtig luister na elke woord wat voorgelees word.  Toe leer ek nog iets van die Japanese Christene: hulle is diep gelowige mense met ontsaglike respek vir die Bybel.

Tydens ete het Kiyoko uitgevra oor ons tuisgemeentes en ons bediening.  Haar belangstelling was opreg, maar nie te persoonlik nie, want Japanners is van nature mense wat nie aanstoot wil gee nie.  Na ete het ons vir Kiyoko die vraag gevra:  ‘Hoe het jy tot bekering gekom?’  Sy begin haar getuienis met ons deel, en met haar woorde neem sy ons op ‘n geestelike reis van ‘n dogtertjie wat in haar wese altyd ‘n honger gehad het na iets meer.  Toe Kiyoko Jesus ontdek en die evangelie gesnap het, was dit asof die honger gestil en haar dors geles is.  Jesus het bevrediging gebring, en daar was rus in haar siel wat lewenslank soekend was.

Na ‘n lang, heilige stilte, eindig sy met die woorde dat daar nie eintlik veel mense is met wie sy hierdie verhaal gedeel nie, en dat sy bevoorreg voel dat drie dominees in haar storie belangstel.  Ons kon sien dat die trane vlak sit, maar dit was nie trane van hartseer nie!  Dit was van daardie soort trane wat iemand kry as hul wonderlike nuus ontvang het en graag wil deel.  Dit was trane van verligting.  Ons besef dat sy ‘n stukkie van haar siel met ons gedeel het. Ek het vir Kiyoko ‘n gebed gedoen – iets wat sy baie waardeer het, en rondom ‘n eetkamertafel in ‘n vreemde land, was die liefde van God, wat mense uit verskillende lande, talle, rasse en kulture tot ‘n nuwe eenheid kan saambind, tasbaar.  Ons kon sien dat Jesus in Kiyoko se lewe gedoen het wat die kersiebloeisels jaarliks doen aan Japan se landskap.  Haar hele lewe is vir altyd verander, en die mooi daarvan het ons eerstehands gesien en beleef deur haar getuienis.

Dis asof die kerk in Japan vol sulke verhale is.  Mense woon in ‘n land waar minder 1% van die bevolking Christene is, maar dié wat die Here ontmoet het, het ‘n skat ontdek wat hul lewens inkleur en hul gemoedere lig.  Hulle lewe kry nuwe sin en hul daaglikse bestaan is nie tevergeefs nie.  Die liefde van die Here ‘blom’ in hulle lewe, en mens kom gou agter dat hulle anders is.  Toe ons in Tokyo oorgebly het, het ek en dominee Elsché Eygelaar van Kaapstad oorgebly by ‘n paartjie, Yukiko en Yoshio Natori.  Hulle is die ‘jongste Christene’ in die Reformed Church Shin-Urayasu, maar hulle is albei afgetree.  Yoshio het tot bekering gekom nadat hy genees is van ‘n ernstige siekte, en daardeur die liefde van God ervaar het.  Hy is die vorige Kersfees gedoop en so het hulle deel geword van die gemeente.  Intussen is hy verkies op die kerkraad.  Onmiddelik, net soos in die geval van Kiyoko, was daar ‘n band tussen ons en vreemdelinge.  Dit is iets wat ek nie aan gewone mense kan verduidelik.  In my binneste kan ek dit nie verklaar nie, maar ek weet dit is dieselfde Gees wat ons bly wat ons so saambind.

In my tyd in Japan het iets in my binneste ook begin blom – dis asof daar in my ook ‘n nuwe seisoen aangebreek het en dat die landskap van my lewe ook verfraai is.  In die kerk in Japan is ek opnuut herinner en gewys wat dit beteken om ‘kerk’ te wees.  Toegewyd aan aan die Here en aan mekaar.  Gasvry teenoor vreemdelinge.  Onbaatsugtige liefde teenoor jou naastes.  Kindervriendelik.  Eenvoudig.  Nederig.  Opreg.

Ek is eintlik jaloers op dit wat die kerk in Japan het, want dis asof hulle verstaan van kerkwees nog so nou gekoppel is aan die kerk waarvan ons lees in Handelinge; ‘n vorm van kerkwees waarvan ons in Suid-Afrika wegbeweeg het.  Die kerk in Japan is vir my ‘n inspirasie van dit wat God in gelowiges se lewens kan doen, van dit wat Christus van sy kerk verwag en ook wat dit beteken om deel te wees van die liggaam van Christus.  Die kosbare herinneringe van ons 10 dae in Japan, ons kontak met die gelowiges, gemeentes, teologiese studente en Stephan, Carina, Annlie, Cornelis, Lodewyk en klein Stephan, en die asemrowende land met sy kultuur sal my ewig bybly.  Dit het my siening van kerkwees verryk en ek weet dit sal my bediening in die toekoms ook positief beïnvloed.

Tydens ons besoek aan Japan, veral toe ons in Tokyo was,  het die woorde van Louis Brittz se liedjie ‘Unashamed’ aanhoudend in my kop gemaal.  Die woorde gaan:

Wish that I could sing you

a more happy little song

But there are millions without a Saviour

I guess something’s really wrong…

…How I wish the world was different

Wish no one was lonely or lost

Dying without love

 

Should tell them about a story that is true

Tell them about a God who really cares for you

Tell them about a Saviour you can’t see

Tell them about His love that truly sets you free,

Free as you can be – tell unashamed!

My hoop, my droom en my wens vir Japan is dat genoeg mense gehoorsaam sal wees aan God se roepstem om die groot oes in te bring.  My gebed is dat mense sal ervaar hoe Jesus Christus hulle kan bevry van ‘n doellose bestaan, en dat hulle sy liefde ook so tasbaar sal ervaar soos ons tydens die ontbyt met Kiyoko.  Dat ons nog sal sien hoe Jesus Christus die land en sy mense sal vernuwe en verander soos die kersiebloeisels Japan se landskap verander in die lente.


Ds. Cornis Botha (NG Kerk Klawer) se opsomming:

Waar ek gegaan het om die kerk in Japan te gaan ondersteun, het die kerk in Japan my weer nuwe insig en motivering gegee om die plaaslike gemeente in Suid-Afrika te bedien. Dankie vir julle gasvryheid, julle geloof en julle openheid om ons te ontvang as broers en susters in Christus. Die RCJ is dalk klein, maar julle ken Jesus en volg Hom onbeskaamd.