Bedieningnuus-flits – 7 Mei 2012

Beste vriend/vriendin,

Terwyl ons begin eet aan geskroeide sashimi in Kochi stad se gesellige vismark, draai die gesprek by hoe onlosmaaklik jy verknog kan wees aan jou kinders en kleinkinders … My gespreksgenote is die ring van RCJ Shikoku se predikante. Maar hierdie rondte – seker deels ook omdat ek ná 3 jaar darem meerendeels alledaagse Japannese gesprekke kan verstaan – is daar ‘n ongekende vrymoedigheid by my kollegas om meer oor hulle self te deel. Die twee wat langs my sit het beide redelik onlangs vir die eerste keer oupa geword. Een kollega begin met handgebare en geligte wenkbroue vertel oor hoe hy dit onbevange geniet om sy kleindogter styf en vetroetelend te  omhels en soentjies te gee op haar wang … hy sê dat hy gewoonlik voel oor haar soos oor ‘n pak marshmallows, wat jy net nie kan laat staan as jy eers begin weglê het nie. Daar’s ‘n lewendige flikkering in sy oë terwyl hy uitbundig voortgaan om sy nuutgevonde vreugde met ons te deel … trots, helder en kinderlik vry. Ek knik heelhartig instemmend, en kan diep identifiseer, al is ek nog nie self ‘n oupa nie, maar minstens pa van drie – wat saam met Carina die onvoorspelbare uitdagings en onvervangbare vreugdes van ouerskap deel.

 Carina en Lodewyk - NABY

‘n Ander tipe ervaring van grootouerskap

Dan deel ons ander kollega oor dieselfde werklikheid, maar asof vanaf ‘n veraf planeet. Vir hom is sy kleinkind oënskynlik niks meer oulik of spesiaal as enige iemand anders se kleuter nie … dis in soveel woorde wat hy dit stel. Hy gee glad nie sommer drukkies nie en vertel sonder om ‘n oog te knip hoe dat hy g’n erg daaraan het om dieper emosioneel uit te reik na sy direkte bloedverwant nie. Ek is eers half stom-verdwaas en vra hom tong-in-die-kies of hy ernstig is. Hy is doodernstig, en hy deel verder dat sy verhouding met sy eie pa ook omtrent geen fisieke kontak ingesluit het nie. Hy kan trouens nie eers ‘n geleentheid in sy kinderjare herroep van sy pa wat hom ‘n drukkie gegee het nie …

Gebroke verhoudinge is oral sigbaar

Hierdie kollega se vertelling het weer die realiteit van – so vermoed ek – baie Japannese huishoudings se gebrek aan intieme verhoudinge bevestig. Natuurlik is die probleem van gebroke ouer-kind verhoudinge wêreldwyd pynlik aanwesig. Maar juis in hiérdie (ei)land tel ons as “uitlanders” miskien nog meer seine van stukkende gesinne op, omdat ons van die rand af “inkyk” na die gemeenskappe waarin ons woon en werk. Meer en meer van ons vriende begin ook openhartig met ons deel oor huishoudelike geweld, egskeidings, worstelinge met slaapsteurings, depressie en vele ander lewenskrisisse.

Bedieningsfokus: familie-gerigte kwessies

En dit is spesifiek hiérvoor wat ek in hierdie nuusflits wil vra of jy sal meeleef en saam bid. Want dit is ook juis in dié verband dat ek en Carina oortuig is ons dalk ‘n klein bydrae en verskil kan maak. Tussen Maart en Desember vanjaar – buiten om by 19 verskillende klein gemeentes en sendingposte in Shikoku-eiland te preek ens. – bied ek (soms met Carina en die kinders by) ‘n inleidende seminaar oor familie-gerigte kwessies by hierdie plekke aan. Ons is oortuig dit behoort die toekomstige fokus van die Here se bediening-deur-ons-hier te wees. Die doel is verál om vanjaar die plaaslike gelowiges se vrae, opinies en ervarings hieroor te begin verstaan. Die vyf kwessies waaroor die aanbiedings en gesprekke handel is:

  • Huweliksverryking
  • Individuele berading en sorg binne familie-verhoudinge
  • Christelik-morele opvoeding van kinders en ouerskapsvaardighede
  • Gefokusde kinderbediening en evangelisasie
  • Getuienis binne nie-Christen gemeenskappe

Meer nuus en foto’s ens. oor ons ander bedrywighede, en hoe dit met ons te midde daarvan gaan, asook gebedsversoeke, volg DV later dié maand met die aanvang van Pinkstertyd.

Baie dankie vir jou ondersteuning!

Vrede

Stéphan, Carina, Annlie, Cornelius en Lodewyk

 

 

Comments (7)

[…] reaksie op my onlangse bedieningsnuus-flits was daar só ‘n sterk en uiteenlopende stroom van positiewe en bevestigende gedagtes, dat ek […]

BenitaMay 23rd, 2012 at 3:34 PM

Ai Stephan ek kan so identifiseer met al hierdie hartseer agv ouers wat emosionele skade aan kinders berokken.Bo en behalwe die feit dat ek heeldag daarmee te make het in my eie huis kry ek ook in die “spreelkamer” net eenvoudig heeltemal te veel kontak met mense wat regtig diep diep seer is agv al hierdie stoere boer nonsens in ons land. Soms voel jy of jy hierdie ou boere aan die keel wil gryp en wurg en dan besef ek elke keer dat hulle presies dieselfde produkte is van hulle ouers se liefdeloosheid – so harstseer. Ek glo regtig dat julle ‘n geweldige rol kan speel daar in Japan en ek sal regtig bid vir julle. Dis so lekker om van julle te hoor.
Ons was nou vir ‘n week in Israel. ‘n Baie interesante en baie hartseer land. Ek het die heeltyd gewonder wat die Here se pad met daardie land is . Die skeiding tussen die Jode en’ die Muslims is vreesaanjaend en dan wonder mens hoe lank voordat die pot weer oor kook!
Ek dink die ding wat vir my die slegste was en tog ook die beste, was die feit dat daar so handel gedryf word op al die Heilige plekke en nes ek moedeloos wil word omdat daar ‘n Joodse, Katolieke en Muslim kerk letterlik bo oor elke plek waar Jesus was, gebou is, dan dink ek weer – dalk is dit presies wat Hy wil he. Dat ALMAL daar verenig moet word!
Baie liefde aan Cariena en die kinders. Hulle is seker nou almal baie oulik en bedrywig!
Tonne liefde
tannie Benita

[…] waardevolle geleentheid, nie net vir haar eie Japannese taalstudie nie, maar ook as deel van ons fokus op familie-gerigte bedieninge én as bydrae tot die breër kerk.  Lees hierhoe haar praatjie min of meer (in Engels) sal klink […]

[…] haar eie Japannese taalstudie nie, maar ook as deel van ons fokus op familie-gerigte bedieninge (http://www.missiejapan.co.za/bedieningsfokus/bedieningnuus-flits-7-mei-2012/) én as bydrae tot die breër kerk. Lees by […]

[…] gekenmerk word deur media-oorlading ens.  Hierdie geleentheid is dus ook baie goed belyn met ons bedieningsvisie rondom familie-gerigte bedieninge in […]

[…] gekenmerk word deur media-oorlading ens.  Hierdie geleentheid is dus ook baie goed belyn met ons bedieningsvisie rondom familie-gerigte bedieninge in […]

Leave a comment

You must be logged in to post a comment.