Verskeidenheids-flits 27 Januarie 2011
Beste vriend/vriendin,
Soos belowe, ‘n paar grepies en kiekies van geleenthede wat met die draai van die oujaar op ons pad was. As jy aflees sal jy ook ‘n uitgebreide fotogalery sien wat die og. geleenthede beter uitbeeld as wat woorde kan doen. Loer gerus…
Japanese taaleksamen (5 Des)
Vir 3 maande het ek intensief gefokus op die voorbereiding vir die belangrike – sg. JLPT N3 – eksamen. Saam met ons taaldosente het ek besluit om een vlak hoër te mik as my huidige kennisvlak. Was dit bo my vuurmaakplek? Beslis, veral die grammatika en leesbegrip deel. Uitslae volg eers einde Februarie, maar die hele uitdaging het my gehelp om ‘n paar nuwe spronge vorentoe te maak in Japanees, en dit was die eintlike doel van die proses. Dankie vir almal wat gebid en bemoedig het!
Kersfees-viering by ons huis vir vriende (11 Des)
Gasvryheid is die ruggraat van ons lewe en bediening in Japan. Om die deur van ons huis wyd oop te maak vir ons (meestal nie-Christen) vriende, is ‘n voorreg en ‘n unieke geleentheid, waardeur ons graag die Lig van Christus se hoop, vrede, vreugde en liefde deel. Met 20 mense in ‘n knus vertrek of twee het ons ‘n feestelike saamwees geniet. Miwa (wat onlangs terug is uit Suid-Afrika) het ook ‘n waardevolle kans gekry om ‘n paar nuwe mense te ontmoet wie se kinders dalk binnekort deel van haar nuutgevonde kinderbediening kan word. Bid asb. ook saam hiervoor.
Kersfees sang-diens (19 Des)
Lekker informeel, hartlik en gesellig…só was die besonderse kersfees sangdiens in ons Tokushima gemeente. Ons kerkgeboutjie is herrangskik met tafels waar almal in klein groepies ervarings en lekkernye kon deel. Die groot verrassing van die dag was die energie en sjarme van my twee (Japanese taalklas) vriende wat almal se verbeelding aangegryp het met sonderlinge viool- en klavier kersfees-melodieë uit Swede, hulle tuisland.
Kleuter Kersfees partytjie (23 Des)
Prettig, raserig en morsig…só moet dit mos kan gaan as kinders betrokke is by ‘n partytjie in die kerk! Wat ‘n fees was dit nie om te sien hoe ons gemeente-lede (van hulle is diep in die 70’s) saam met die kinders baljaar nie! Vir meeste van die mense wat ons genooi het – en met wie ons verhoudinge gebou het die afgelope 20 maande – was dit ‘n heel eerste ervaring in ‘n kerk, en ‘n vars kennismaking met die ware verhaal van kersfees. Verál Kataoka sensei (ons gemeente se nuwe predikant sedert middel 2010) en Miwa kon dié geleentheid goed benut om hulle ook te leer ken.
Eerste 2 preek geleenthede (9 en 16 Jan)
Om in Afrikaans ‘n preek voor te berei was nog altyd vir my baie moeilik (dóg sinvol). Om dit in Japanees te doen is moeilik kwadraat tot die graad…? Maar met die vertalingshulp van pa Tobie en Kiyoko (‘n Japanese teoloog), en die ondersteuning van vele gebedsvriende was dit moontlik. Genadiglik het die voor dit wind gegaan met dié eerste proeflopies. Ek is regtig onbeskryflik dankbaar dat die Here my tot by hierdie punt gebring het, en al lê daar nog ‘n baie lang pad voor, is ons ten minste nou al sóver (met die taalstudies spesifiek)…en is daar ook baie om te vier! As jy wil hoor hoe klink ‘n eenvoudige gebed in Japanees (50 sekondes), kliek hier.
En nou, op ‘n laaste ligte noot, hierdie verskeidenheids-flits se ‘bonus-snit’…
Nou die aand voor die kinders gaan slaap het het ek hulle afgeneem terwyl hulle hulle laaste riel op ons kombuisvloer uitgekap het … as jy hier onder kliek, kan jy deel in die prêt (onthou om die klank van jou rekenaar lekker hard aan te sit).
Vrede en vreugde
Stéphan, Carina, Annlie en Cornelius
Bokkie briljant! Sterkte Stéphan en kie! Inspiring stuff!
Dit is sooo dierbaar. Cornelius lyk of hy oefen vir die vlg boksgeveg!!!
Geloof en vertroue kry sommer nuwe betekenis. WOW.
Lekker, Stephan. Ek vertrou daar is baie sulke tye van vreugde vir julle!
dis die heel beste bokkie-riel wat ek nog gesien het!!!
Ons het dit gate uit geniet – tops julle klein suid afrikaners liefies Nellien en Corrie
Ag pragtig om die tweetjies so vrolik te sien en klein Cornelius so gesond! Hoop die ouers voel ook so vrolik, die Here se vreugde en vrede bid ons julle toe.
Lieflik! Baie bly die kiddies het nog blootstelling aan die Afrikaanse pret! Dink aan julle. Liefde uit Bloem, Marlie
Wonderlik! Dis pragtig! Ons Vader is so goed wat ons gebede hoor. Baie liefde en seenbede. Felicia
Julle twee kleintjies sal nog baie voete onder mense uitslaan. PRAGTIG!
Maretha Maartens.