Venster op Japan #4 – 8 Okt 2018

Ds. Tobie en sy vrou Annalie De Wet saam met ou vriende van RCJ Tokushima gemeente

Liewe Familie, Vriende en Voorbidders (geskryf deur Ds. Tobie de Wet)

Ons is steeds oorweldig deur ons ervaring van gister (Sondag) toe ek en Annalie die erediens in die stad OTSU spesiaal gaan bywoon het, presies VEERTIG JAAR nadat ons in 1978 daar amptelik met ons bediening in Japan begin het. Die warme ontvangs, die ontmoeting met broers en susters van soveel jare gelede, die meedelings oor die tyd van saamwees en saamwerk in diens van God se Koninkryk, dit was `n terugstap op ons eerste spore in Japan, of liewers, op God se begin-pad met ons hier in Japan, ons het vir `n kort rukkie gestap in “MEMORY LANE.”

Ek en Annalie was en is opnuut bewus van God se pad van ONVERDIENDE GENADE!!

Ons was bloedjonk, ek 32 en Annalie 25, ons oudste Dries was 3, Carina 1 en Corlia is in 1979 in Kyoto Baptiste Hospitaal naby Otsu gebore. In Otsu het hulle hul eerste jare deurgebring, na `n Japannese kleuterskool gegaan en Japannees vlot leer praat… Hulle maatjies was net Japannese, elke dag van die oggend tot die aand.

Vier jaar van te vore (1974) het ons in Japan aangekom, uitgestuur deur die Sinode van die Vrystaat. Sommer met die intrap het ons met taalstudie begin, plus-minus drie jare (Dit was eintlik maar net die begin van `n lewenslange studie….., nou nog…)!

Na voltooing van ons formele taalstudie word ek deur en in die Westelike Ring van die Christian Reformed Church of Japan amptelik gelegitimeer as leraar van die RCJ (Daarvoor moes ek `n 10-bladsye “opstel” skryf oor die “Gesag van die Skrif” volgens die Westminister Konfessie en teologies ondervra en ondersoek word deur die betrokke kommissie). 

Na my legitimasie beroep RCJ SenriSetsuri gemeente in Osaka my om onder leiding en toesig van hul kerkraad en leraar in die stad Otsu met kerkplanting te help. In 1978 (presies veertig jaar gelede) word ek toe deur die Ring in `n `n klein kamertjie in OTSU stad amptelik georden en bevestig as mede-werkende sendeling-leraar.

Vir vier jaar werk ons saam met ouderling Mizugaki wat in die stad woonagtig is en rondom wie die werk in Otsu ontstaan het. Hy en sy vrou is nou (veertig jaar later) diep in hul tagtigs, maar nog gesond en helder van verstand.

Mizugaki sensei was een van die bekendste ouderlinge en hoogs gerespekteerd in die RCJ, sy vader `n stigterslid van die RCJ in 1946. Hy was professor aan een van Kyoto se universiteite en ‘n gerespekteerde Gereformeerde teoloog, `n uitstekende prediker (ons het beurte gemaak met die bediening van die Woord), `n nederige man en iemand wat in daardie eerste jare van sendingwerk in Japan `n geweldige vormende invloed op my lewe, my geloof, my teologie en my bediening gehad het. EK KON DIT GISTER WEEREENS VOOR ALMAL HARD EN DUIDELIK GETUIG.

Dit was beslis nie maklike, “rose en maanskyn” jare nie. Ons was geisoleerd, geen ander “uitlanders” van wie ons geweet het in die stad nie, geen ondersteunings-netwerk van mede-sendelinge of vriende nie, ver van ons land en mense in `n tyd toe daar nog geen internet was en `n telefoonoproep net gedoen is wanneer iemand verjaar en dan net drie minute praat… 

Daarmee saam die daaglikse worsteling met die taal en die aanpassing in die Japannese samelewing en kultuur en selfs ook kerk. 

Die ergste was egter seker die menslik-onoorkombare struikelblokke in die evangelisering van die Japannese rondom ons….. (Dit is `n ander storie op sy eie…).

Einde 1982, na slegs vier jaar van kerkplanting in Otsu, moes ons teruggaan na SA, basies agv die NGKerk se teologiese regverdiging van Apartheid (Die RCJ het nie kans gesien om amptelik saam te werk met `n kerk wat Apartheid teologies probeer regverdig nie). Vier jaar van kerkplanting in Japan is bitter-bitter KORT veral ook wanneer dit jou eerste ervaring van kerkplanting is. 

Die afskeid  en weggaan was vir ons traumaties. Die gemeente en kerkraad wou nie dat ons gaan nie. Ons was verward. Wat nou gemaak met God se roeping aan ons? Ons het dit gesien as `n lewenslange roeping (nou nog…). Wat van die Kerk in SA se duidelike leiding van die Heilige Gees na Japan en die Kerk se ROEPING tot wereldsending? Sal ons ooit weer kan teruggaan?

Na 18 jaar terug in SA, aan die einde van die vorige eeu gaan die deur weer oop vir die Kerk in SA om terug te keer na Japan en Januarie 2000 word ons teruggestuur! DIT WAS `n ONBESKRYFLIKE WONDER VAN NET GOD SE ONVERDIENDE GENADE!! 

Ons het toe meer as eenkeer besoek aan die kerkie in Otsu gedoen, maar hierdie besoek van gister was tien-teen-een ons heel laaste. Juis daarom so besonders. 

Dit is met diepe dankbaarheid teenoor die Here wat in sy genade ons die voorreg gegee het om vier kort maar betekenisvolle jare deel van SY WERK in Otsu kon wees. 

Die belangrikste is egter dat ons bediening in Otsu eintlik nooit opgehou het nie. Dit is net langafstand bediening van VOORBIDDING wat opnuut aangevuur is met hierdie besoek.

VOORBIDDING:

1) Vir die RCJ Sinodesitting van hierdie week waar Stephan ook reeds is

2) Hier was almal die afgelope tyd plat met verkoue en Carina sukkel nog erg (Net ek staan nog, maar onwaarskynlik vir lank…)

3) Volgende naweek besoek ons TOKUSHIMA gemeente, die laaste gemeente waar ons gewerk het voor ons aftrede.

Kliek hier om Venster op Japan #3 te lees.