Venster op Japan #3 – 29 Sept. 2018

Diakonia in Japan (geskryf deur Tobie de Wet)

Liewe familie, Vriende en Voorbidders,

Goeie more vanuit ‘n papnat Japan waar ons ons gereed maak vir nog ‘n sterk TIFOON wat op Japan afpeil en ons vanaf Sondag gaan tref.

Vandag (Saturdag 29 Sept) doen Stephan ‘n opvolg-seminaar oor “DIAKONIA” by die Westelike Ring van die RCJ hier in KOBE.

Die eerste deel (van verlede Saterdag) het gegaan oor die geskiedenis van DIAKONIA in die Christelike Kerk vanaf die heel eerste gemeente in Handelinge en deur die eeue heen tot vandag.

Die Tweede Deel van vandag handel oor die betekenis van DIAKONIA en die praktyk met ‘n vergelykende studie tussen DIAKONIA in SA (veral in/vanuit die NGKERK) en in Japan (veral in/vanuit die Christian Reformed Church of Japan).

Stephan se vakgebied is eintlik PASTORALE SORG (die geestelik-emosionele/psigiese versorging van mense) maar dit kan natuurlik nooit geskei word van DIAKONIA nie (die konkreet-fisiese versorging van noodlydenes). Hy is egter versoek om vanuit sy Suid Afrikaanse agtergrond en ervaring navorsing oor DIAKONIA te doen (onlangs het hy ook ‘n konferensie oor DIAKONIA in die Nederlande bygewoon en ook ‘n lesing moes aanbied) en vir die RCJ hieroor ‘n seminaar aan te bied as deel van die Kweekskool se jaarlikse toerustings seminare.

“DIAKONIA in JAPAN”

Soos reeds in ‘n vorige skrywe verduidelik, is Japan se nood nie in die eerste plek fisies en materieel soos in ander Asiatiese lande, sommige Midde Oosterse lande, meeste Afrika en Suid Amerikaanse lande, asook selfs in baie Westerse lande nie.

Dis is beslis geestelik, emosioneel (psigies) en sosiaal. Japan het byvoorbeeld die hoogste selfdood syfer in die wereld met gemiddeld meer as 20,000 mense per jaar wat hulle eie lewe neem, basies agv van sosiale, emosionele, psigiese faktore.

Japan word wel gekenmerk deur natuurrampe soos aardbewings, tsunamies, tifone, vloede en oorstromings en grondverskuiwings (“mud slides”) wat gereeld skrikwekkende fisies-materiele gevolge en lewensverlies het. 

Sedert ons vir die eerste keer in 1974 na Japan gekom het, het ons self ook tifone en aardbewings beleef. Ons het egter op daardie stadium weining van die kerk se DIAKONIA (konkreet-fisiese betrokkenheid by slagoffers) gesien, bloot omdat daar nie regtig sulke fisiese nood sigbaar was nie….  Die Kerk van Japan (ook die RCJ) was in elk geval maar redelik na binne gekeer in ‘n poging om as ‘n klein minderheid self te oorleef in ‘n totaal nie-Christelike omgewing. Die enigste vorm van “uitreik” na buite wat ons geken het was spesiale evangelisasie dienste waar mense van buite na die kerk genooi is. Verder was dit maar sendelinge wat veral deur middel van “Engelse klasse” en ander vorme van “VRIENDSKAP-EVANGELISASIE” probeer het om by die nie-Christene uit te kom….

In 1995 gebeur die GROOT aardebewing in die hawestad van KOBE. 

Ons was toe terug in SA (Die woonstel waarin ons voor dit gewoon het, is totaal deur die aardbewing met die grond gelyk gemaak.. So ook die kerkgebou waar ons aanbid het). Snelwee het inmekaar geval. Dit het skrikwekkende verwoesting en groot ellendes in die groot hawestad Kobe veroorsaak. 

Dit was ‘n geleentheid vir die Kerk om regtig praktiese “DIAKONIA” te beoefen. 

Die Kweekskool van daardie tyd is byvoorbeeld in ‘n toevlugs-oord en versorgings sentrum ingeruim om slagoffers te akkommodeer.

Die groot drie-dubbele ramp in Noord-Oos Japan (SENDAI) van 2011

In 2000 is ons weer terug in Japan.

11 jaar later, in die jaar van ons aftrede, 2011, vind die groot drie-dubbele ramp in Noord-Oos Japan plaas (‘n geweldige aardbewing gevolg deur ‘n reuse tsunami wat alles meesleur en ‘n kernkrag ongeluk wat ‘n wye gebied met radio-aktiewe stof besmet). 

Soos nooit van te vore reageer die Kerk in Japan op hierdie verwoesting en ellende met ‘n DIAKONIA bediening. 

Dit behels huise skoonmaak en herstel, die voorsiening van voedsel en ander basiese benodigdhede, en talle ander fisiese en konkrete aksies ter verligting van mense se fisies-materiele nood. 

Kerke vanoor die hele wereld (ook ons NGKERK) kom help. 

Die RCJ is op die voorpunt van hierdie uitreik na mense in nood met die jong leraar, Ds Tateishi wat onmiddelik betrokke raak, saam met sy gemeente en honderde “volunteers” vanoor die hele Japan en ander werelddele wat kom help (Ek en Annalie is bevoorreg om daardie jaar en ook die volgende 2 opeenvolgende jare elke keer vir drie maande fisies betrokke te kon wees). Tot vandag toe nog is die kerk daar betrokke. 

Hierdie onselfsugtige (net onvoorwaardelike liefdesdiens sonder enige “bymotiewe”) en volgehoue diakonia van die kerk het soos niks anders nie-Christene met ander oee na die kerk en die Christendom laat kyk en meer ontvanklik vir die evangelie gemaak. Wonderlike verhoudinge is oor die afgelope 7-plus jare gebou en vertroue in die Kerk en Christendom gewek (soos wat daar nooit van te vore in hierdie konserwatiewe Boedistiese en weerstandige arbeidsveld was nie).

Die dubbele aardbewing in Kumamoto van 2016

In 2016 met die dubbele aardbewing in Kumamoto (en duisende na-skokke oor ‘n paar maande) is ons “heel toevallig” weer in Japan. Weereens is ons bevoorreg om die klein gemeentetjie van die RCJ tydens hierdie tyd te besoek en vir ‘n paar dae deel te wees van die kerk se DIAKONIA teenoor die slagoffers. 

Met die finansiele hulp vanuit SA is Stephan saam met die Kweekskool studente gereeld betrokke. Daardie bediening gaan steeds voort en dra vrug. 

Een dame wat daardie tyd vir die eerste keer na die klein RCJ kerkie gekom het vir fisiese hulp en wat tydens die betrokkenheid van die Kweekskoolstudente deur Stephan beraad is, is hierdie jaar gedoop met Pinkster) en getuig dat dit agv die aarbewing en Stephan se verduideliking van die Evangelie is, dat sy God en vrede gevind het.

2018 : Japan STEIER onder opeenvolgende NATUURRAMPE

Net voor ons nou na Japan gekom het beleef Wes-Japan een van die ergste reens, vloede en oorstromings in sy geskiedenis wat weereens lewensverlies en groot skade en ellende veroorsaak. 

Weereens is die kerk gereed en besig om diakonaal betrokke te wees. 

Die afgelope dekade steier die mense van Japan onder die aanslae van hierdie natuurrampe (soos ons in SA onder droogtes en brande). 

(“Even for a country accustomed to disasters, this year has been hard for Japan, starting with a volcanic eruption in January that rained rocks down on a ski resort, killing one person. July brought record-breaking heat that killed at least 80 people and sent over 20,000 to hospital for treatment, along with torrential rains in western Japan that set off floods and landslides, killing more than 200 people. Just two days after Typhoon Jebi hit in September, the northernmost main island of Hokkaido was rocked by an earthquake that set off landslides, knocked out power throughout the island and killed at least 44 people.”)

Vandag is ‘n volgende TIFOON (met die naam TRAMI) op pad na ons. 

Vliegtuie en treine kom tot stilstand. Skole word gesluit. Belangrike kerkbyeenkomste is reeds afgestel…..

Kom dink aan ons broers en susters hier (soos hulle ook aan ons dink) en bid vir die kerk en Christene van Japan.

Bid, nie net vir veilige bewaring en die Here se voorsiening in eie fisiese, sosiale en psigiese nood nie, maar veral dat die kerk hier net meer en meer sy DIAKONALE roeping en taak onder die mense van Japan buite die kerk, sal besef en konkreet uitleef tenspyte van eie fisiese swakheid, min getalle en gebrekkige finansiele bronne.

Bid vir die Here se seen en seel op die diakonale bediening van die kerk.

Kliek hier om Venter op Japan #2 te lees