Venster op Japan #2 – 26 Sept 2018

Die GROOT doring in die vlees (geskryf deur Tobie de Wet)

Gisteroggend (Dinsdag) by die Oggend Chapel van die Kweekskool was die prediker ‘n Koreaanse dame en ‘n dosent in Grieks.In perfekte Japannees het sy ‘n aangrypende boodskap uit 2 Korintiers 12 gebring na aanleiding van Paulus se “doring in sy vlees” waarvoor hy drie-maal gebid het dat dit tog van hom weggeneem moet word, maar die Here se antwoord was: “My genade is vir jou genoeg, My krag word in swakheid volbring.” Paulus se gevolgtrekking: “Baie liewer sal ek in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.” Sy praat oor die “dorings” waarmee ons almal in ons bediening vir Christus worstel, die negatiewe dinge, struikelblokke, teenstand, kritiek, persone, ervarings ens., die dinge wat die Here gebruik om ons nederig en afhanklik van Hom alleen, sy genade en sy krag te hou. Dan beklemtoon sy dat in haar lewe en bediening hier in Japan haar grootste “doring” die Japannese taal is. Niemand besef dit nie, maar dis hier diep binne ‘n daaglikse worsteling.

In SA is ek dikwels gevra wat ons grootste struikelblokke as sendeling in Japan is. My antwoord was altyd: “In die heel eerste plek: Die Japannese taal. In die tweede plek: Die Japannese taal. In die derde plek: Die Japannese taal….” Vanoggend terwyl ons saambid, vertel Stephan hoe hy gister ‘n halfuur lank gesukkel het om een sin korrek in Japannees te vertaal in sy voorbereiding vir ‘n opvolg 2-uurlange seminaar wat hy komende Saterdag moet doen (Was darem niedie geval met al die sinne nie….!). Op my vraag hoe hy sy werk as dosent sou beleef het indien dit bv. in SA en in Afrikaans of in Engels kon gewees het, was die onmiddelike antwoord: “Een groot vreugde!”


Self na twintig jaar as sendeling in Japan het ek nie kans gesien om meer as twee preke per maand in Japannees voor te berei nie (As predikant in SA, alleen in ‘n gemeente, moes ek 2 preke per week, weeklikse bidure, Bybelstudies ens. voorberei). Stephan preek gereeld in gemeentes en by die Kweekskool chapel-dienste en bidure, doen seminare by gemeentes en by Rings- en predikante konferensies, en dit BO en BEHALWE sy weeklikse lesings hier by die Kweekskool, ALLES IN JAPANNEES, uitgeskryf in die Japannese skryftekens waarvan daar ‘n paar duisend is…!!

Vir elke sendeling in ‘n ander kultuur en taal bly kultuur en taal twee van die hoogste berge om te klim (En jy kom natuurlik nooit bo nie….). Wat dit in Japan en spesifiek in die Christian Reformed Church of Japan soveel moeiliker maak, is dat ons hier nie net te doen het met die hoogste geletterde nasie op aarde nie, maar ons ook in ‘n Kerk en ‘n Kweekskool bevind waar die standaarde van Teologie, Skrifuitleg en prediking van die hoogste in die hele Christelike wereld is. Die emosionele spanning wat hierdie eise en verwagting op die sendeling plaas, is ‘n “doring” waarvoor jy daagliks God se genade benodig.


Bid asseblief daagliks dat “Sy GENADE GENOEG sal wees” vir ons sendelinge en dat “sy KRAG in hulle SWAKHEID volbring sal word.”
Dieselfde geld vir Carina as huisvrou en mede-sendeling, wat wel nie nodig het om lesings, preke, seminare en bidure voor te berei nie (nog nie), maar wat elke dag in Japannees moet kommunikeer (selfs haar kinders Japannees moet leer lees en skryf!), en Sondag vir Sondag in ‘n Japannese erediens en ander byeenkomste moet sit sonder om regtig te verstaan, deel te neem, by te dra, te beleef en geestelik gevoed en opgebou te word.
Die kinders klim ook hierdie berg, alhoewel hulle dalk nie so bewus is van die spanning wat dit tot gevolg het nie. Hulle spreektaal is Afrikaans, hulle tuisskool onderrig is in Engels (die taal waarin hulle die vlotste is) en die taal met hul Japannese maatjies en in die kerk is Japannees. In die erediens is daar wel ‘n “kinder-moment” waar die dominee spesiaal met die kinders praat, maar ons is bevrees dat die Van der Watt kinders baie min, indien enigiets, op hierdie stadium verstaan.

Kliek hier om Venster op Japan #1 te lees