Tateishi sensei se preek – Gideon vertel (29 Nov 2011)

Tateishi sensei se preek

 

Ons was onlangs op besoek aan die Sendai-gebied in die Noord-Ooste van Japan – die rampgebied waar die aardbewing, die tsoenami en kernbestraling agt maande gelede geweldige verwoesting gesaai het. Ons het gaan saampraat oor die aanwending van die byna R700 000 rampfonds wat Missie Japan ingesamel het en oor Tobie en Annalie de Wet se voortgesette betrokkenheid in die gebied. Ons wou op ‘n manier ook gaan handevat met ons broers en susters in die gemeentetjies daar.

Wat ‘n belewenis! Oral is die wonde nog sigbaar; dorp op dorp wat platgevee is en berge rommel wat soos mynhope in die plek daarvan verrys. Tussen die stukke afval van wat eens veilige tuistes en bekende gemeenskappe was, dwaal enkele mense nog verwese rond. Met die hoop om dalk tog iets herkenbaar terug te vind, ‘n speelding, ‘n bekertjie, ‘n stukkie klere – as verweer teen die angs en rou oor die groot golf uit die see, wat daardie dag ‘n hele bestaansruimte, met soveel geliefdes en bekendes, in een hap kom insluk het.  

Ons het saam met ‘n vrou in die ruïnes van haar eens luukse woning gestaan en gesels oor haar belewenis. Dit was aangrypend, die manier waarop Reiko san as Boeddhis en tipiese Japanner haar hart vir ons oopgemaak het, ons naby haar toegelaat het. Dis vreemd aan die kultuur daar, waar kinders van kleins af geleer word om nie emosie te wys nie, vas te byt, altyd maar net weer op te staan.

Van hierdie merkwaardige vermoë om weer op te staan, op te ruim en te herbou, het ons oral tekens gesien. Eintlik is dit ongelooflik om te sien wat alles reeds in die kort tyd na die tsoenami vermag is. Tussen die verlate, opgefrommelde huise en hope rommel is daar oral nuwe groentetuintjies, kool en spinasie en rape –  tekens van hoop en nuwe lewe. 

n Gesprek met die plaaslike leraar van die klein gemeente in die gebied het ons diep geraak. Tateishi sensei was ‘n gewone jong leraar van die Reformed Church in Japan, immer met ‘n pak klere (soos alle middel- en hoër klas mans in Japan), toegewyd, formeel, met ‘n beheersde ordentlikheid in leer en lewe, soos dit pas by ‘n dominee in die baie behoudende Gereformeerde susterkerk.

Maar toe kom verander die tsoenami alles, sy hele bediening. Toe hy die dag die hope lyke sien, die totale verwoesting, het hy ophou praat. Hy kon veral ook nie meer preek nie, het hy vir sy geskokte kerkraad gesê. Want as dominee was hy kwaad vir God. Later het hy sy woede teen God verloor, want hy het begin glo God bestaan nie. Dit het geen sin meer gehad om vir ‘n God wat nie bestaan nie kwaad te wees. Sy woede was egter nog gerig op welmenende Christene wat God se handelinge probeer regverdig het, maklike verduidelikings probeer gee het.

Toe trek hy maar sy pak klere uit en trek die klere van ‘n gewone handearbeider aan. En hy begin modder en stinkende vullis opruim uit die huise wat nog bly staan het. Sonder woorde, elke dag. Een huis na die ander. Vir drie maande het Tobie en Annalie hiermee gehelp. Ander jong vrywilligers het ook kom help. Christene van oral-oor, maar ook nie-gelowiges, met die dominee vooraan. Sonder woorde of verduideliking. In die hoofsaaklik Boeddhistiese gemeenskap het daar ‘n nuwe hoop en groot waardering begin groei. Die swygende dominee in die werkersklere word ‘n geliefde na wie almal wys en vra.  

Dit word toe sy beste preek ooit, merk ek teenoor Tateishi sensei op. Ja, antwoord hy verleë. En soos ‘n Wesley van ouds preek hy daarmee homself toe sommer weer die geloof in, bely hy. Want in die modderslym het hy vir Christus ontmoet, teenwoordig, langs hulle en deur hulle besig om op te ruim, heel te maak, nuut te maak. Dis waaroor sy woordelose preek toe al die tyd gegaan het, het hy mettertyd ontdek.

Mag ons die Kersfees ook weer hierdie Christus ontmoet, langs ons, in ons stukkende wêreld.

Geseënde Kersfees! 

Gideon van der Watt – missio@ngkerkovs.co.za

Tobie de Wet skryf die volgende oor die bg. artikel: Hierdie artikel van Gideon oor hulle besoek aan Japan en veral die rampgebied en sy ervaring en waarneming is treffend geskryf. Dit was inderdaad ’n aangrypende ervaring, veral die ontmoeting en gesprek met Tateishi sensei vir wie ons groot waardering het. Hy en sy gemeente het spesifiek gevra dat ek en Annalie vir die volgende paar jaar daar kom help. Dit is DIE Gemeente in die RCJ wat in die rampgebied op die voorlinie is van praktiese hulpverlening, opruimings- en herbouwerk. Die hele RCJ is agter hulle met fondse en honderde volunteers, veral jongmense maar ook ouer mense vanoor die hele land en ook van oorssee wat sedert die tsoenamie letterlik daagliks help. Tateishi sensei het van die begin af die inisiatief geneem en die leiding gegee en doen dit steeds. Die wyse waarop hy eerlik sy hart vir Gideon, Victor en myself daardie dag van ons besoek oopgemaak het, was eenvoudig aangrypend. Ekself kon nie help om diep bewoee te raak nie. Gideon het hom gevra hoe die gebeure van die aardbewing en tsoenamie hom persoonlik geraak het. Dit was die eerste keer dat iemand hom die vraag vra…. Nadat hy ’n rukkie stilgebly en as te ware gehuiwer het, kom hierdie ongelooflike ontboeseming en dit nog in die teenwoordigheid van sy hoofouderling wat langs hom staan (en wat self ook sy pak klere uitgetrek en besig is om sy voete en hande te bevuil met harde fisiese opruimingswerk).

Comments (2)

[…] as in die rampgebied. Die afvaardiging sluit in, die moderator van die RCJ, Ds. Yoshida  asook Ds. Tateishi, beide woonagtig en aktief betrokke in die ramgebied. Dan ook die vorige rektor van die Kobe […]

[…] Ds. Tateishi, predikant van Sendai-Oos gemeente en baie aktef betrokke in die Sendai-rampgebied. […]

Leave a comment

You must be logged in to post a comment.