Stephan se Roepingsverhaal op 11 Julie 2008

 11 Julie 2008, Aliwal-Noord

Liewe vriende in Christus,                                                                  

Ek skryf hierdie brief met ‘n biddende hart, wat hoop en vertrou dat jy die (baie) persoonlike getuienis wat ek gaan deel, met ‘n oop en begripvolle gesindheid sal lees en verstaan. Hierdie deel/dele van my lewe waaroor ek iets gaan skryf sal vir elkeen ‘n unieke betekenis hê, omdat ek nie ewe naby/ver aan julle staan aan wie dit gerig is nie. Hier sit ek eerlik my diepste worstelinge, oortuigings en ervarings op die tafel. Ek begin by die heel begin en probeer so sinvol (en chronologies) as moontlik die kolletjies in God se roepingsverhaal vir my lewe verbind…

Die begin van God se roeping vir my lewe

By my geboorte (as die laaste van 4 van my ma en pa se seuns) – wat a.g.v. verskillende mediese redes ‘n baie moeilike en amper rampspoedige ervaring vir my ma was – het my ma my op ‘n besondere manier aan die Here opgedra. Sy het – sover ek weet – dit gedoen omdat God so getrou was om my ‘n lewe te skenk, en my ma daardie gawe, te midde van haar nood, wou eer met ‘n “offer” (aangesien sy toe reeds vermoed het dat ek ‘n predikant sou word, omdat dit die Here se wil is vir my en sy aan Hom gehoorsaam wou wees daarin). Ek het niks daarvan geweet nie. My ma het dit vir die eerste keer omtrent 18 jaar later met my gedeel êrens rondom die dag (vroeg in September 1995) toe ek in trane by die huis gekom het met die nuus dat die Here uiteindelik vir my vrede gegee het. Vrede oor my worstelinge met die vraag of ek teologie moet gaan studeer (en nie Landbou-ekonomie of een van ‘n klomp ander goed wat ek ook toe oorweeg het nie).

Kom ek gee net eers ‘n klein treetjie terug. In die meer as 9 of 10 maande voor daardie dag het ek begin dink oor die moontlikheid om ‘n predikant te word (in die NG Kerk). Ek onthou die baie gesprekke wat ek gehad het met my familie en vriende oor die saak in daardie tyd – insluitend die plaaslike predikant en veral die jeugwerker, Mariëtte Dreyer, wat ‘n baie sterk vormende invloed op my Christenskap gehad het. Dit was meestal gesprekke vol onsekerheid en selfs weerstand in my hart spesifiek teenoor my skeefgetrekte en stereotipe idee oor die “eng-heid” van predikant-wees. Totdat ek einde Julie 1995 (my matriekjaar) vir die eerste keer glashelder besef het: die Here kan regtig met ‘n mens praat. Die Here kan met my praat. Op verskillende maniere, en veral spesifiek deur Sy Woord.

Weer ‘n klein treetjie terug: al het ek dit nie toe al volledig besef nie, het ek eintlik alreeds in 1987 (toe ek in st. 2 was) ervaar dat die Here met my besig is, toe ek by Johannes 1:12 in my Bybel die datum 05/06/1987 aangeteken het…en i.p.v. die “almal” geskryf het: “Maar aan Stephan (almal) wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het hy die reg gegee om kinders van God te word.” God het my (sonder dat ek dit verstaan of met my verstand kan verklaar) gekies en die reg gegee om deur geloof in Hom Sy kind te word. Vanselfsprekend was dit alles ook die wonderlike gevolg van my toegewyde en gelowige ouers se Christelike opvoeding.

Terug na my matriekjaar. In Julie het ek om verskillende redes anders begin dink oor stiltetyd hou, en die moontlikheid om God persoonlik te “hoor”. Ek onthou nog die predikant in my gemeente het op ‘n stadium voor daardie tyd gesê, “gebed is nie ‘n eenrigting-gesprek nie”. Ons kan nie net praat en praat nie, maar moet ook luister om God te hoor praat in gebed (deur Woord en Gees). Ek het in my naïwiteit gedink ek gaan regtig ‘n stem hoor wanneer ek nou my deeltjie klaar gebid het. So “maklik” en duidelik was dit egter nie.

Maar op twee opeenvolgende dae aan die einde van Julie (na die maande van worsteling met die vreemde idee van myself as moontlike predikant), het ek in my stiltetyd twee baie betekenisvolle rigtingwysers gekry oor die saak. So klink dit: “Ek beveel jou voor God en voor Christus Jesus wat die lewendes en die dooies sal oordeel, ek beveel jou met die oog op sy koms en sy koningskap: verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee…bly jy in alle omstandighede nugter, verdra lyding, doen jou werk as verkondiger van die evangelie, voer al jou pligte van die bediening uit.” (2 Tim. 4:1-5); en “God het my immers in sy genade die voorreg gegee om in diens van Christus Jesus onder die heidennasies te werk. Dit is my priesterlike taak om die evangelie van God aan hulle te bedien, sodat daar uit die heidennasies ‘n offergawe mag wees wat vir God aanneemlik is en deur die Heilige Gees geheilig is.” (Rom. 15b-16).

Nadat ek hierdie gedeeltes gekry het, het ek nog meer ernstig begin wonder en vir die Here gevra: “Is dit my roeping?” (soos ek die vraag toe ook in my Bybel by die gedeeltes geskryf het). Die volgende maand of wat was weer opnuut ‘n tyd van erge skommelinge en onsekerheid…op soek na ware vrede. Maar op Sondag-aand, 3 September, het dit uiteindelik onverwags gekom. Die bejaarde ds. Emile van Zyl van Patensie wat daardie aand op Humansdorp vir ons handjievol gepreek het (en waaroor ek maar skepties was toe ek instap by die kerk), was deur God gestuur. Sy boodskap was uit 1 Samuel 3. Die kruks: oor Samuel (1 Sam 3:7) wat nog nie die Here geken het nie, “want die woord van die Here was nog nie voorheen aan Hom geopenbaar nie”; Samuel wat twee keer doof was vir die woord van die Here omdat hy gedink het dis Eli wat hom roep, maar wat uiteindelik besef het:God praat met my!

Noodeloos om te sê, toe die dominee sy hande op ‘n stadium simbolies oplig en voor hom uitstrek met die woorde (min of meer): “Broers en susters, ek hoop julle besef dit is nie vanaand net ek wat met julle praat nie, maar God wat deur my met julle wil praat”, het die “pennie gedrop” vir my. God was al lankal met my besig, en nou het Hy sy vrede (wat alle verstand te bowe gaan) gegee. Ek is – soos vroeër gesê – toe die aand huistoe, in trane van vreugde en vrede. En my ouers het soos altyd verstaan en ondersteun en my onvoorwaardelik liefgehad. Die roepingsirkel wat al by my geboorte begin het, sou nou wyer uitkring en voller betekenis kry.

In die weke hierna het ek (meer sensitief as ooit vantevore om te luister na God se stem vanuit Sy Woord en deur Sy Gees) keer op keer nog bevestigings ontvang, ook van ander vriende en familie wat saam gebid en geworstel het in die vorige klomp maande. Dit is te veel om alles hier te noem (o.a. Spr. 2:1-6 en 16:1, Jes. 58:8-9).

Stellenbosch studie-en werksjare

Die volgende 8 of 9 jaar het ook natuurlik baie verdere betekenis/se gegee aan die inhoud van my roeping. My pa se laaste woorde aan my die dag toe hulle my aflaai voor Eendrag-koshuis was min of meer: “Jy gaan nou baie dinge hoor en leer my kind, maar bly by wat die Heilige Gees jou van oortuig.” Ek probeer tot vandag toe nog net aan hierdie lewensbeginsel gehoorsaam bly. Maar in my studiejare het ek ook (soos meeste ander teologiese studente) beweeg deur baie wisselende seisoene van minder en meer duidelikheid oor die fokus van my roeping – veral ook met vrae oor die NG Kerk spesifiek. Party dae, heel aanvanklik, het ek met charismatiese vrymoedigheid (of was dit roekeloosheid?) die lewe vurig aangepak, ander dae met ‘n nuwe waardering vir die God wat in verlate stiltes op ‘n onverklaarbare manier in en deur my lewe, beweeg en bestaan (Hand. 17:28)…al is ek hoe ontrou en ongehoorsaam. Die getroue Here wat my aanvanklik geroep het, het altyd getrou gebly, soos die Psalm-digter ook getuig: “Toe ek gedink het my voete gly het u troue liefde my regop gehou, Here. Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring. (Ps. 94:18).

Die Here het vir my baie groot voorregte (te veel om hier te noem) laat geniet in my jare op Stellenbosch, en altyd weer en weer Sy roeping vir my lewe bevestig – deur gesprekke met mense, in eredienste en aksies by die studentekerk en in die koshuis, deur die aangrypende Bolandse skepping, ook deur sport en op baie ander doodgewone maniere. Alles daarvan in gesprek met die Woord en die Gees van God wat dit sin gegee het binne my ervaringe en betekenis-wêreld. Die meeste teologiese dosente was uitstekende mentors by wie ek baie geleer het, spesifiek Prof. Daniël Louw, wat ‘n baie besondere invloed gehad het, veral in my nagraadse studies en fokus op pastorale sorg.

Die langer draai by die Universiteit en veral ook by BUVTON (nou Communitas), die navorsingsburo waar ek projekbestuurder kon wees vir gemeentes landwyd, het my baie goed toegerus vir en voorberei op die voltydse bediening in die NG Kerk-familie. Ek het ervaar dat die Here my seën met gawes om veral in pastoraat en familie-gerigte bedieninge leiding te neem, en gehoop dat ek eendag die breër kerk op die spesifieke manier kan dien en toerus. My betrokkenheid by die Vennootskap van Gestuurde Gemeentes het ook my bewustheid verhoog van die feit dat gemeentes wesenlik gestuurde geloofsgemeenskappe is (en behoort te wees), wat hulle plaaslike omgewing moet verander deur “sout en lig” te wees. Die fokus was juis nie “vêr” nie maar eerder “naby”. M.a.w. my verstaan (op daardie stadium) van die hart van kerkwees het nie die belangrike opdrag van wêreld-evangelisasie altyd sterk genoeg in fokus gehou nie. Later sou ek weer opnuut besef hoe belangrik ons gestuurdheid naby EN vêr is.

Die vrae oor my roeping binne die NG Kerk spesifiek het ook steeds gereeld bly spook in my gemoed. Dit was o.a. dinge soos: “Wil die Here hê ek moet my hele lewe as predikant in ‘n gemeente dien, of is daar dalk iets anders (ook) wat ek moet doen? Moet ek met die akademie verder ‘n pad stap en dalk dosent wees eendag? Moet ek dalk in sinode-strukture in beweeg en amper bietjie buite die amptelike predikants-bediening se arena staan? Moet ek dalk ‘n voltydse pastorale terapeut of ‘n hospitaal-predikant wees (daardie tyd was dit nog meer moontlik)? Is daar iets anders, dalk iets meer buitengewoon, buiten ‘bloot’ predikant-wees tot ek eendag aftree?” Daar was baie sulke vrae wat deur deurlopend in my kop gemaal het in die klomp jare wat ek in Stellenbosch was.

Saam met hierdie vrae oor die aard en fokus van my roeping, het ek o.a. die Skrifgedeeltes wat ek in 1995 gekry het, ook gereeld herbesoek. Of eerder: die Here het my daardeur keer op keer herbesoek. Een ding wat my laat aanhou kopkrap het, maar wat ek nie regtig aan aandag gegee het nie, bloot omdat ek nie geweet het hoe en of ek “moet” nie, was die stukkie in Romeine 15, wat spesifiek verwys na Paulus se roeping om te werk onder die heidennasies. As ek nou probeer invra hoekom ek dit bly “mis” lees het, weet ek eerlikwaar nie…miskien wou ek daardie deel gerieflikheidshalwe nie op my van toepassing maak nie. “Ek is mos nie ‘n sendeling nie, maar ‘n pastor!”, het ek gedink.

Intussen het ek in Junie 2004 vir Carina herontmoet, en ‘n jaar daarna is ons getroud. Ek onthou nog goed dat by ons eerste nadere ontmoeting (toe ek hoor haar ouers is sendelinge in Japan en dat sy pas 2 en ‘n half jaar daar was), ek gemaak het of ek weet presies waar dit is, maar dat ek eers na die tyd moes gaan kyk op die wêreldkaart, en vir die eerste keer toe besef het dat dit eintlik ‘n groot eiland/e is! In die 5 maande vanaf Mei-Sept 2005 was ek tegnies werkloos, behalwe vir ‘n preekbeurt en ‘n klasgee-geleentheid hier en daar. Ons kon genadiglik oorleef met die geld wat Carina in Japan verdien het, en op wonderlike trougeskenke en hulp vanuit ons gesinne…die Here het voorsien in alle opsigte – soos altyd!

Die skuif na Aliwal-Noord

Die Here het die deure einde September vir ons na Aliwal-Noord oopgemaak, en ons het met groot vrede en opgewondenheid, en natuurlik onsekerheid en angstigheid, die skuif gemaak weg van die Boland, ‘n wonderlike tuiste vir amper 10 jaar. Die roepingsirkel moes weereens in ‘n nuwe baan uitkring. Ons aanpassing op Aliwal was in baie praktiese opsigte moeilik, maar ons het terselfdertyd baie geleer en gegroei: in ons verhoudings met nuwe mense, met mekaar en met God. My bediening as predikant was van die begin af baie vervullend en uitdagend, maar Carina kon eers werklik aan die einde van ons eerste jaar begin om haar passie en roeping ten volle uit te leef.

In Desember 2006 het ons die voorreg gehad om vir my skoonouers in Japan te gaan kuier. Dit was ‘n grootse ervaring: Japan is fassinerend anders en baie uniek. Ek het dit gate uit geniet om alles te beleef, van die kos tot die omgewing en die mense se aangrypende kultuur ens. Maar ek onthou ook goed dat ek dikwels in my binneste gedink het (en dit spontaan gesê het vir Carina en my skoonouers): “Hier sal ek nie kan woon en werk nie!”

Deur die loop van die volgende jaar sou ons soms nostalgies terugdink aan die lekker kuiertyd en kos en al die interessante dinge wat ons (veral ek dan vir die eerste keer) daar gesien het. Maar dit was dit. Ons het nooit gepraat oor onsself as gestuurdes na Japan nie, en my skoonouers het ook nooit so ‘n tipe gesprek met my/ons gevoer nie. Hulle is veels te sensitief en wys daarvoor. Waarvan ek wel bewus geraak het is die (vanselfsprekende) nuwe waardering en respek wat ek gekry het vir sendelinge soos my skoonouers se roeping, en vir die spesifieke uitdagings van die sendingkonteks van Japan. Hulle lang deputasie-tyd in 2007 en al die bekendstellingswerk wat hulle in gemeentes landwyd in SA gedoen het, het my meer sensitief gemaak vir die noodkreet van die Japannese kerk (Reformed Church of Japan) op Shikoku-eiland, om hulp van hul Christen broers en susters in die NG Kerk-familie, asook vir die waarde van die vennootskap tussen kerke vir Missie Japan. Maar dit was weereens dit. Dit was “daar”. Dit was “hulle werk”. En ek sou hulle emosioneel probeer ondersteun en vir hulle bid.

‘n Baie onverwagse draai in die pad

Op Sondag-middag 23 Desember 2007, twee dae voor ons met vakansie sou vertrek, het ek gesoek na ‘n spesifieke teks wat ek geweet het êrens in die Ou Testament is. Ek het ook geweet dat ek in een van my ou Bybels (wat ek nog op skool en universiteit gebruik het), heel moontlik dit makliker sou vind, omdat ek dit daarin waarskynlik onderstreep het. Terwyl ek sonder sukses vir ‘n hele paar uur gesoek het na die stukkie (Spreuke 25:2,“Die eer van God lê in wat Hy verborge hou”), het ek ook weer op ‘n klomp ander gedeeltes afgekom wat ek deur die jare spesiaal gemerk het, en wat my dadelik baie diep laat nadink het. Dit was onder andere die twee tekste wat ek in 1995 gekry het (Rom. 15 en 2 Tim. 4), en daarmee saam ook Jesaja 49:5-7, “Die Here het my ‘n belangrike opdrag gegee en my God gee my die krag om dit te doen. Hy het gesê: ‘Dit is nie genoeg dat jy my dienaar is om die stamme van Jakob te herstel en om die Israeliete wat gered is terug te bring nie; Ek maak jou ‘n lig vir die nasies sodat die redding wat Ek bewerk, die uithoeke van die aarde sal bereik.’”

Ek het by die laasgenoemde stukkie gesien daar is twee datums ingeskryf: 1 November 1995 (met Mariëtte – die jeugwerker op Humansdorp wat ‘n groot rol gespeel het in my roeping destyds – se naam daarby), en 29 Januarie 2002 (met ds. Callie Retief se naam daarby, wat toe met ‘n huisbesoek uit die bloute dié dag vir my met die teks kom bemoedig het in Stellenberg). Wat toe met my gebeur het terwyl ek die betekenis van hierdie tekste oordink het, is moeilik om in woorde om te sit. Hoe verklaar ‘n mens met jou verstand die logika van die Heilige Gees se werk? Jy kan nie! Soos wat dit daardie aand van 3 September 1995 in Humansdorp gebeur het, was daar net in my gemoed ‘n oorweldigende diep besef: die Here praat nou (weer) met my oor Sy roeping vir my lewe. Dis ‘n besef wat my ook op ‘n manier geskok het. Ek het die hoofstuk van voor af begin lees. Dit begin so (Jesaja 49:1): “Luister na My, eilande, gee aandag, nasies wat ver is! Die Here het my voor my geboorte al geroep; toe ek nog in my moeder se liggaam was, het Hy my op my naam genoem…”

In die lig van al die tekste en spesifiek omdat dit vroeër in my lewe al vir my baie betekenis gedra het, het verskillende vrae en gedagtes in my kop opgekom, bv.: “Moet ek dit nou letterlik opneem…kan die eilande verwys na ‘n spesifieke plek in my wêreld vandag: Japan (nasies wat ver is, aan die uithoek van die aarde i.t.v. waar ek in SA is)? Is dit ek wat al voor my geboorte geroep is om eintlik ‘n breër roepingsirkel te vervul, as net om die ‘stamme van Jakob te herstel en om die Israeliete wat gered is, terug te bring’? M.a.w. hier is SA in die NG Kerk is ek grootliks besig om bekeerdes (reeds ‘gereddes’) wat al male sonder tal die evangelie gehoor het, terug te bring na die ‘binnekring’…terwyl daar nasies aan die uithoeke van die wêreld is wat die Lig nog nooit werklik gesien het nie.

Het die tyd nou aangebreek om (soos ek al eintlik meer as 12 jaar gelede uit Romeine 15:16 die opdrag gekry het) ‘in diens van Christus Jesus onder die heidennasies te werk’ omdat dit ‘my priesterlike taak is om die evangelie van God aan hulle te bedien, sodat daar uit die heidennasies ‘n offergawe mag wees wat vir God aanneemlik is en deur die Heilige Gees geheilig is’ en om (soos 2 Tim 4:5 in die Ou Afrikaanse Vertaling sê), meer konkreet dit te wees wat ek ook destyds al voor geroep is: “maar wees jy in alles nugter, ly verdrukking, doen die werk van ‘n evangelis, vervul jou bediening?

Hoe meer ek aan hierdie tipe interpretasie van die gedeelte gedink het, hoe meer vrae as antwoorde het in my gemoed opgekom. As teoloog is ek, veral wanneer ek ‘n preek voorberei, “veronderstel” om darem die konteks van enige Skrifgedeelte altyd goed te verreken voordat ek dit van toepassing maak op menselewens hier en nou. En ek probeer dit tog altyd so goed moontlik doen, want dis belangrik om verantwoordelik met die Bybel om te gaan. Dis alles goed en wel. Maar dan weer, in my stiltetyd as ek reflekteer oor hoe die Woord van God daagliks my lewe sin en betekenis gee, is ek dieper bewus van hoe dit my eie lewe – o.a. my verhoudings, my besluite, my liggaam – direk raak (sonder verklaringstegnieke ens.)

En dit is in hierdie kreatiewe spanning tussen “lees om ‘n boodskap te gee” (informasie) en “lees om self die boodskap te leef” (formasie) waarin ek daagliks moet onderskei in geloof waarop dit neerkom. Vir my – soos vir meeste predikante, vermoed ek – is dit (ongelukkig!) meeste van die tyd albei tegelyk. Dit bly maar ‘n ingewikkelde saak. In die tweede helfte van 2007 het ek ‘n boek begin lees (met die titel Eat this book, geskryf deur Eugene Peterson), wat my opnuut en indringend laat besef het: om Bybel te lees (hetsy in my persoonlike stiltetyd of vir ‘n gefokusde boodskap wat ek moet bring), mag/kan nooit net ‘n “oefening” wees om uit te vind hoe om God betrokke te kry om aktief deel te neem in my lewe (of die mense vir wie ek ‘n boodskap bring se lewens) nie.

Nee, wanneer ek die Bybel oopmaak vind ek eerder – of behoort ek eerder te vind – dat dit my bladsy vir bladsy onkant betrap, verras en intrek in die realiteit daarvan, nader trek om deel te neem waar God reeds besig is, op SY voorwaardes! Peterson basseer die boek op Openbaring 10:9-10 waar die engel vir Johannes die boekrol gee, nie om te lees nie, maar te eet en verteer (“Neem dit en eet dit op. Dit sal jou maag bitter maak, maar in jou mond sal dit so soet soos heuning wees”). My verstaan: dit sal mooi klink en lekker wees om te lees, maar moeilik wees om te leef!

Peterson skryf: “He (John) eats the book – not just reads it – he got it into his nerve endings, his reflexes, his imagination…”, en dan verwys hy ook na Jesus se woorde in Johannes 6:48-50, “Ek is die brood wat lewe gee. Julle voorouers het in die woestyn manna geëet en tog gesterwe. Maar hier is die brood wat uit die hemel kom sodat ‘n mens daarvan kan eet en nie sterwe nie.” ‘n Eenvoudige insig: om jouself in die Woord van God (Jesus self, volgens Johannes 1:1-5) volledig te verloor, is om ware lewe te ontdek. Ek het opnuut (en dieper as ooit tevore) besef: God praat nie sommer net tydloos en vaagweg in die lug nie, maar Hy praat veral op spesifieke tye en plekke met spesifieke mense (en vir ons elkeen is die plek en tyd anders)…maar dit nou eers daar gelaat, voor ek te erg aan die preek raak!

Die kort van die lank is: ek het einde Desember 2007 vir die eerste keer (geskok) myself afgevra: praat die Here nou met my oor evangelisasie aan die wêreld? Moet ek gaan na die (donker) nasies, die eilande wat ver is, om daar ‘n lig te wees vir God? Is ek gestuur na Japan (die enigste heidennasie waarvan ek goed kennis dra), waar God klaar aan die werk is deur my skoonfamilie, wat nie toevallig op my lewenspad gekom het die afgelope 4 jaar nie. Hierdie tipe vrae het ek vir die eerste keer ook ‘n dag of twee later met Carina gedeel, toe ons oppad is met vakansie…sy was, om die minste te sê, uit die veld geslaan! Sy het eers gedink ek maak ‘n grap, maar dit was toe nou nie so (maklik) nie!

Wagtend op bevestiging

Wat hierop gevolg het, was nou die afgelope 4 maande se wag op die Here: vir helderheid en duidelike bevestiging op die vraag of ek (en Carina) besig is om die kolletjies in God se roeping vir ons lewens sinvol te verbind. Ons het natuurlik baie gepraat (en praat steeds) oor al die praktiese implikasies en oor die geweldige eise wat ‘n moontlike skuif na Japan sou beteken ens. Maar ons diepste gesprekke was oor God en oor hoe ons God se pad met ons hele lewe tot hiertoe verstaan. En nog belangriker, ons het individueel en saam gebid en met God hieroor geworstel.

Om te vertel wat die inhoud is van al die insigte wat ons in dié tyd gekry het, is onmoontlik (en sal die reeds lang brief heeltemal te lank maak). In kort: ek en Carina het op ’n klomp unieke maniere beleef dat God met ons besig is oor ons roeping na Japan. Ons het dit nie gekies nie, dit het net keer op keer oor ons onderskeie en gesamentlike geloofspaaie gekom – veral in en deur ons stiltetye en verskeie Skrifgedeeltes, maar ook in ons harte en gedagtes en konstant in ons gesprekke – selfs deur ander (niksvermoedende en niksbedoelende) mense wat op “vreemde” maniere die saak op ons tafels laat beland het. Ek noem enkele voorbeelde om dit wat ek hier sê te verduidelik.

Op 11 Januarie 2008 het ek deur my stiltetyd-dagboek by Abram se roeping in Genesis 12 uitgekom. God het hom geroep om sy familie en vaderland en als wat vir hom bekend was agter te laat en God te volg, sodat hy ’n seën kon wees vir al die volke van die aarde (Gen. 12:1-3). Ek het weer diep aangespreek gevoel toe ek die radikale implikasies vir Abram (persoonlik) opnuut besef het. Hy moes die volle prys betaal om God te volg. ’n Paar dae later (19 Januarie) het Carina as deel van haar stiltetyd op ’n heel ander manier by dieselfde boodskap uitgekom. Sy het op daardie stadium ’n boek van Ferdinand Deist (Nagdissipels) gelees, waarin hy die volgende sê: “Abraham moes pertinent sy land, waarvan hy alles geweet het verlaat, om weg te trek sonder om te weet waar hy sou kom…” Ons het hierdeur besef God bevestig dalk reeds iets aan ons deur ons aandag te vestig op die offer wat dit gaan vra om Hom hierin (na Japan) na te volg.

Drie dae later (22 Januarie) het oom Mike La Grange (wat kort daarna oorlede is in ons gemeente) heel onverwags by my voordeur opgedaag (soos soms sy gewoonte was om te doen), en met my kom gesels oor ’n vraag van die Benjaminiete-stam in die Bybel, vanuit sy navorsing oor opgrawings wat in die Midde Ooste gedoen is oor hulle bestaan. Ek kon nie sy vraag heeltemal beantwoord nie, en ons gesprek het in ’n ander rigting gedraai deurdat hy herhalend en opgewonde begin vertel het van Abram se roeping. Oom Mike het gelees dat (o.a. op grond van onlangse opgrawings) Abram al sy bekende en gemaklike lewens-omstandighede –  groot huise met baie vertrekke in Ur, waar hy waarskynlik eers gebly het, asook slawe en besittings ens. – moes prysgee t.w.v. van sy roeping na ’n onbekende land. ’n Land waarin hy as tentbewoner moes rondswerf en met baie minder moes klaarkom. Heel uit die bloute (sonder dat ek iets daaroor genoem het), sê hy toe ook: “Is dit nie juis wat mense soos jou skoonouers ook moes doen toe hulle na Japan toe moes skuif uit Suid-Afrika nie?” My mond het oopgehang! God het duidelik die saak direk op ons tafel geplaas.

Net ’n paar dae voor hierdie gesprek, nadat ons by die huis gekom het in daardie derde week van Januarie 2008, kyk ek (niksvermoedend) in die leesrooster watter teks voorgeskryf is vir my om oor te preek die komende Sondag. Tot my groot verbasing is dit toe Jesaja 49:1-7! Dit was ’n groot uitdaging om daaroor te preek (en natuurlik sonder om enige iets te noem wat toe al in my hart gegroei het oor Japan)…

Vrydag-oggend 29 Februarie het ek net na 03h00 wakker geraak. Ek kon nie verder slaap nie en besef net na 04h00 duidelik dat ek moet opstaan en gaan Bybel lees (ek doen dít – om op te staan en te gaan Bybel lees op ’n ongewone uur van die oggend – nie gewoonlik nie, inteendeel ek doen dit amper nooit, want ek lê nie gereeld wakker nie. My stiltetyd gebeur gewoonlik eers wanneer ek 05h30 of 06h00 se kant opstaan…maar daardie oggend het ek ervaar dat die Heilige Gees dit duidelik op my hart druk om op te staan). Ek was op daardie stadium in my stiltetyd besig met ’n dieper studie van Handelinge, en het dit baie verrykend en interessant gevind om van die begin af stadig daardeur te werk. So ek het toe maar daar begin verder lees die oggend. In die Bybelkommentaar wat ek gebruik het lees ek toe oor ’n verwysing wat Paulus maak na die Ou Testament in Handelinge 13:47. Groot was my verbasing en vrede toe ek sien dat die verwysing (weereens) Jesaja 49:6 is.

Op 18 Maart het ek een van die stilword-dienste in Groot Lydensweek bygewoon. Weer was ek verstom toe een van die twee of drie tekste wat voorgelees is Jesaja 49:1-7 was. Dit het regtig soos ’n refrein geword wat net van alle kante “gesing” is, en ek kan nie die toeval daarin raaksien nie! Die Here het hierdeur (en op nog meer maniere as wat ek hier ruimte het om te noem) bevestig wat Hy al sedert einde Desember duidelik op my hart plaas oor Missie Japan. My roeping is nie primêr om die “stamme van Jakob te herstel en om die Israeliete wat gered is, terug te bring nie”…dit is “nie genoeg nie”. God roep my (ons) nou duidelik om ’n lig vir die nasies te wees sodat die redding wat Hy bewerk “die uithoeke van die aarde sal bereik”. Die inhoud van hierdie roeping, is ek in geloof oortuig, het eintlik alreeds voor my geboorte aanvang geneem, maar ek het eers onlangs die werklike inhoud duidelik en meer volledig besef. Dit alles is die vrug van God se werk, ook veral deur my ouers se toewyding en opoffering.

Carina het ook deur haar eie stiltetyd en nadink en bid oor die saak, keer op keer dieselfde oortuiging gekry. Daaroor sou sy ook heelwat kon vertel en skryf. Haar hele lewensagtergrond (met amper 8 jaar van haar lewe wat sy al in totaal in Japan geleef het, en ook daarom ’n basiese begrip van die taal en kultuur het) is ook ’n betekenisvolle faktor wat ons nie kan miskyk terwyl ons hierdie roepingsvrae vra nie. Die toewyding en mentorskap van haar ouers is ook deurslaggewend in dit als.

Die diepste insigte wat ek en Carina saam (biddend en worstelend in gesprekke) herontdek het die afgelope 4 maande sentreer rondom twee temas.

1.       Om regtig vir God te volg, vra totale opoffering. Navolging van Christus beteken volkome toewyding aan God se opdrag (roeping), maak nie saak wat dit impliseer nie. Ons (as Christene) is veronderstel om as “vreemdelinge en bywoners” te leef midde-in die wêreld, en ons is “afgesonder” om van die “verlossingsdade te verkondig van Hom wat julle (ons) uit die duisternis geroep het na Sy wonderbare lig” (1 Pet. 2:10-11). In die proses om dit te doen, is ons nie van lyding gevrywaar nie, inteendeel “dit is genade as iemand die pyn van onverdiende lyding verduur omdat hy aan God getrou wil wees…Juis hiervoor is julle (ons) ook geroep, omdat Christus self vir julle (ons) gely en so vir julle (ons) ’n voorbeeld gestel het, sodat julle (ons) in sy voetspore kan volg.” (1 Petr 2:19, 21).

2.       God se hart klop vir die hele wêreld. Sy groot opdrag in die Bybel is duidelik en onomwonde: bring die Lig vir almal, oor alle grense! (Handelinge 1:8; Matteus 28:19; Markus 13:10 ens.) Ons as Christene is elkeen op unieke maniere deel van hierdie proses. Ek en Carina is oortuig dat die Here ons roep om juis deel te wees van ’n bediening oor grense aan ’n heidennasie.

Die moontlike pad vorentoe

Op 22 April 2008 het Missie Japan – ’n amptelike kommissie uit die NG-Kerk familie – met 17 verteenwoordigers uit gemeentes regoor die land buite Bloemfontein bymekaar gekom, om belangrike besluite te neem om die toekoms van die sendingwerk daar. By hierdie vergadering is daar besluit dat indien die fondse gevind kan word, nuwe sendelinge gestuur sal word na Japan, maar dat dit eers amptelik geadverteer moet word. Ek en Carina het aansoek gedoen daarvoor – die advertensie het einde Mei verskyn – en onsself beskikbaar gestel vir die proses. Intussen is ons as die geskikte kandidate verkies, maar daar sal nou eers ‘n tyd (dalk 6 maande of langer, niemand is presies seker nie), moet verloop voordat die skuif na Japan kan gebeur.

Dit is alles afhanklik van die Here se voorsiening i.t.v. finansies ens. (en hoe Hy mense daarin gebruik om te help om dit moontlik te maak). Daarom sal ons ook ywerig meewerk aan die daarstel van ‘n volhoubare ondersteuningsbasis in die tyd wat volg.

Ons besef dat ons nie nou die volle prentjie van Missie Japan en die moontlikhede daar rondom kan begryp nie. Daar is baie slaggate en blinde kolle waarvan ons nie weet nie. Maar ons dink nugter daaroor en besef watter moeilike pad dit kan wees om te stap. Juis daarom glo ons dat ons vrymoedigheid kan neem om ons oortuigings met almal wat betrokke is of betrokke wil raak, openhartig te deel.

Ons gebed is dat, deur hierdie brief, iets sal duidelik word van die feit dat in hierdie saak dit nie ons menslike oortuigings is wat die deurslag gee nie, maar God se werk in ons lewens, sonder om “super-geestelik” of “melodramaties” daaroor te klink. Ons bid ook dat almal saam met ons sal beleef hoe God voorsien en vrede gee wat alle verstand te bowe gaan. En dat ons almal saam kan sê: “Here, dankie dat U ons laat deel in u werk!”

Daarom nooi ons jou graag uit om saam met ons te werk om hierdie moontlikheid ‘n werklikheid te maak, en te bid dat God se wil sal geskied. Dat as dit Sy wil is, ons roepingsbesef ‘n werklikheid sal word. Ons wil graag ook van jou hoor as jy enige iets op die hart het en dit met ons wil bespreek. Dit sal wonderlik wees om hieroor verder in gesprek te tree.

Baie dankie dat ons kan staatmaak op jou gebedsondersteuning.

Met vrede en liefde,

Stéphan en Carina.

As jy graag op ‘n meer gereelde basis nuusbriewe wil ontvang uit Japan, stuur gerus vir my ‘n e-pos by stephan@missiejapan.co.za

Comments (3)

TobieApril 5th, 2013 at 15:07

Stephan, het nou “toevallig” weer jou roepingsverhaal gelees en is opnuut diep daardeur geraak… Pa

[…] Daar’s ‘n paar redes. Eerstens, ek (ons as gesin) het intussen (amper 5 jaar gelede) ‘n roeping ontvang om spesifiek in Shikoku te kom dien. Tweedens, ek het die plaaslike Christene leer ken, en is veral […]

Niël PienaarApril 24th, 2013 at 14:24

Jou roepingsverhaal was nou regtig vir my tot grooot seën! Bid elke oggend vir julle!

Leave a comment

You must be logged in to post a comment.