Sendeling-wees in Japan (18 Mei 2022)

Vroue by die broodbak klas wat Carina aangebied het oor die (Bybelse) geskiedenis van brood

Carina van der Watt is die op-en-wakker vrou aan die sy van dr Stephan van der Watt, predikant en dosent in pastoraat aan die Kobe Reformed Theological Seminary
 
Vrypos wou meer weet oor haarself, hul bediening en hul lewe in Japan sedert hul gesin in 2009 daar begin werk het.
 
“Ek was ses maande swanger met ons tweede-oudste kind, Cornelius, met ’n woelige 18-maande oue peuter, Annlie, toe ons by die Reformed Church of Japan(RCJ) aangesluit en in Tokushima, Shikoku saam met ’n plaaslike Japannese gemeente begin werk het,” vertel Carina. Hulle was ses jaar daar in diens en hul drie seuns is ook daar gebore.
 
“In hierdie tyd is daar nie veel van my verwag nie,” vertel Carina, “aangesien ek óf swanger óf pap babatjies gehad het. Aangesien daar geen buitehulp in Japan is nie, is die gemeenskap gewoonlik baie simpatiek teenoor ’n ma. Daar was dus nie ‘buite’-verwagtinge nie. Ek het egter wel saam met Miwasan (die dogter van ’n baie betrokke ouderling in die kerk) van Tokushima ’n groep vir mammas en kinders gestig sodat die ma’s elke tweede Sondag die erediens kon bywoon terwyl ons ander ’n boodskap vir die kinders gebring het. (Die ma’s kon dus die opsie hê om soms die erediens en soms die boodskap vir die kinders by te woon.) Gedurende daardie tyd was daar dikwels 20 tot 30 nie-Christene wat dit bygewoon het. Ek het ook in Tokushima baie gaste ontvang.”
 
In 2015 is die Van der Watts na die hawestad, Kobe, waar Stéphan pastoraat klasgee.  “Vandat ons in Kobe is, word daar egter van my verwag om ’n aktiewe lidmaat in die kerk te wees,” vertel Carina. “Die Japannese kerk het baie min lidmate. Ek huiwer egter om te sê dit is ’n rolverwagting. Ek dink almal doen, volgens hul talente of wat fisies moontlik is, hul bes in die kerk in Japan. Die meeste van die rolle wat ek vervul, is wat ekself óf geskep, óf die belangrikheid daarvan terdeë besef het. Ek het dus nooit spesifiek gevoel iets word van my, as Stéphan se vrou, verwag nie. Ons reis wel soms saam met hom as gesin as hy ander gemeentes besoek en af en toe moet ek selfs ’n aanbieding doen.”
 
Dit is seker nie aldag maklik om in ’n ander kultuur jou voete te vind en in die bediening te staan nie. Carina vertel: ”’n Mens is nooit seker of jy reg optree nie. Daar is soveel ongeskrewe reëls in Japan. Natuurlik kan ’n mens jouself voorberei en behoort jy as sendeling dit ook heelhartig te doen, maar nie eers die boeke berei jou ordentlik voor vir die fyner nuanses van optrede in Japan nie. Na amper 13 jaar hier sal ek en Stéphan nog steeds laggend met mekaar spot as ons onvanpas opgetree het; ek is gewoonlik die een wat meer hiermee sukkel. Die enigste antwoord is om laag te buig, en vir jouself na die tyd te lag. 
 
“Elke keer as ons na ‘n lang tyd in Japan weer in die Weste kom, is onsself verbaas (en verlig) oor die gevoel van vryheid en die moeitelose interaksies met ander mense; selfs in ’n land soos Suid-Afrika met die baie verskillende rasse en kulture. Japannese wat na ander lande reis, merk dit ook baie duidelik op en hul optrede verskil partykeer dramaties van hul optrede in Japan. Ons, wat met moedersmelk die Westerse vryheid ingekry het, sukkel soms om reëls blindelings te volg, veral as dit soms langdradig of onlogies blyk te wees.  
 
“Dit is ook bykans onmoontlik om in Japan ordentlik oor die weg te kom as jy nie Japannees kan praat nie. Die taal bly een van die moeilikste uitdagings, want Japannees word beskou as die moeilikste taal om aan te leer vir ’n Westerling.  Daar is soveel vlakke van taalgebruik in Japannees en boonop het dié taal kanji sowel as twee aparte fonetiese alfabette – hiragana en katakana. Taalgebruik verander volgens die situasie waarin jou jouself bevind. Dit wissel van formeel, informeel, mans, vroue en nog vele meer. Ook is daar baie set phrases. Hoe langer jy hier bly, hoe meer besef jy dat die pad nog lank en swaar is.”
 
Daar is natuurlik ook baie positiewe aspekte ten opsigte daarvan om in ’n ander kultuur jou lewe te moet lei. Carina vertel: “Aan die ander kant is Japan, na al die jare, vir my steeds diep-fassinerend. Dit verras my dat ek, al het ek al soveel oor Japan gelees en bestudeer, met elke nuwe gesprek, boek en dag net nog nuwer dinge van Japan leer. Ek besef dan net dat Japan wêrelde van Suid-Afrika verwyderd is.  
 
“Ek is so bly dat die Heilige Gees, te midde van krapperige kultuurverskile en soms ’n tam lyf en siel, my toenemend lief maak vir die kerk in Japan en ek met meer passie en toewyding doelgerig my lewe vir die Here hier kan gee. Ek is opnuut dankbaar vir hedendaagse tools wat dit vir my moontlik maak om daagliks Japannees te kan leer met behulp van lesse oor die internet. Ek is regtig diep dankbaar vir al die hulpbronne in ons moderne wêreld tot beskikking van ‘n sendeling.”
 
Vra jy vir Carina wat vir haar soms swaar is in die sendelingskonteks en wat vir haar moed gee, antwoord sy as volg: “Dit is vir my soms swaar as ek na al die balle wat ek in die lug probeer hou, kyk. Daar is so baie dinge wat ek wil doen en moet doen en nog graag sou wou doen, en daarom voel ek dikwels oorweldig – sommige daarvan is verseker selfopgelegd! Dit is ’n alleenwerk met min terugvoering en met min geleenthede om asem te skep of om bemoedig te word. Die kultuur in Japan is een van BAIE HARD WERK, min vakansies, en min geleenthede om te ontsnap.
 
“Ironies genoeg is dit egter juis in hierdie klaarblyklike swaarkry waar my nuwe moed ook gebore word. Die Here het nog altyd voorsien. En ek leer en leer en leer… om minder bekommerd te wees oor môre en net te fokus op vandag en wat vandag van my verwag word. Ek sukkel nog baie. Ek protesteer nog baie. Maar ek weet ook, al stry ek soms daarteen, dat dit juis hier is wat die Here die hardste in my werk. 
 
“Ek word ook baie bemoedig deur te lees of te praat met ander sendelinge wat ook dieselfde as ons in Japan ervaar. En ’n sterk koppie swart koffie, ’n gegeurde kers, vroeg na vyf in die oggend, terwyl almal slaap en ek kan Bybel lees en dink, is vir my broodnodig. En soos wat my Japannees ook beter raak, skep ek nuwe moed omdat soveel nuwe deure juis nou oopgaan en vir my geleenthede gee waarvoor ek in die verlede nog nie reg was nie.”
 
Carina is lief vir donker-geroosterde koffie en lees en beplan graag. “Ek voel baie energiek as ek iets beplan of voorberei en in die proses konneksies maak tussen teenoorgestelde velde wat ek weet vir iemand miskien ’n liggie sal laat opgaan of ‘n vars perspektief sal gee. Hoe langer ek Japannees leer en myself in die kultuur ingrawe, hoe meer passievol raak ek oor nuwe moontlikhede om met Japannese te kan praat oor die Groot Vrae van die lewe. Dit beteken vir my baie as ek weet ’n ontmoeting in my huis, of ’n aanbieding by die kerk, het iemand diep aangeraak of getroos of laat nadink.” 
 
Dis belangrik dat ons as gemeentes, en veral vroue in gemeentes, Carina sal ondersteun. “Ek dink die meeste vroue weet sommer instinktief waarmee ek as ma en vrou worstel,” sê Carina. “Die meeste vroue moet daagliks baie verwagtinge balanseer en uiteenlopende rolle inneem, terwyl hulle ook ’n tuiste wil skep waar daar liefde, sekuriteit, genade en warmte is – nie net vir hulle eie gesin nie, maar ook vir vriende en buitestaanders. 
 
“Daarom is dit regtig baie bemoedigend om te weet julle bid vir my – met empatie. Ek het deur die jare soms in nuusbriewe baie eerlik oor my eie worstelinge gedeel. Die reaksie was altyd betekenisvol en vol versekering dat julle verstaan en dat julle vir my bid. Baie dankie vir julle deernis. Asseblief bly bid. 
 
“Ek hoop om in die toekoms nog meer direk inligting met julle te deel en miskien sal julle my toelaat om ’n brug te wees tussen julle in Suid-Afrika en die vroue en mans en kinders in die Japannese kerk.”
 
Gedeel met toestemming van Mariëtte Odendaal (skrywer) en
NG Kerk Vrystaat 
– 
https://www.ngkerkvrystaat.co.za/blog/afr/om-n-sendeling-in-japan-te-wees.php 

WEBLINK: https://mailchi.mp/12acdc38a5e8/missie-japan-nuusflits-18-mei-2022?e=4ac86c7ae6